SA Akademie vir Wetenskap en Kuns: Bekronings vir 2020

  • 2

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns maak die gesogte Akademiebekronings vir 2020 bekend.

Die wenners is waar moontlik reeds oor die bekronings ingelig. ’n Aankondiging in verband met die oorhandiging van die pryse sal in ’n later stadium deur die Akademieraad bekendgemaak word.

1. ERELIDMAATSKAP VAN DIE SA AKADEMIE

Erelidmaatskap is die hoogste eerbewys van die SA Akademie en word toegeken op grond van een of meer van die volgende lewenslange prestasies: Erkenning van buitengewone dienste aan Suid-Afrika; en/of dienste aan die Afrikaanse taal; en/of dienste aan die SA Akademie in die besonder met betrekking tot die hoofdoelstelling van die Akademie, naamlik die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en van die kunste, asook die gebruik en die gehalte van Afrikaans.

Die Erelidmaatskap van die SA Akademie word vanjaar toegeken aan Jacques van der Elst, emeritus dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die Noordwes- Universiteit en voormalige hoof van dié universiteit se Kantoor vir Internasionale Betrekkinge. Van der Elst is ook ’n vorige hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie.

2. HERTZOGPRYS VIR POëSIE

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundige wêreld en heet na ‘n groot kampvegter vir Afrikaans, genl. J.B.M. Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa op aanbeveling van die Akademie se Letterkundekommissie.

Die Hertzogprys vir Poësie word vanjaar toegeken aan Johan Myburg vir Uittogboek.

Die prys word geborg deur Rapport.

3. MT STEYNPRYS VIR NATUURWETENSKAPLIKE EN TEGNOLOGIESE PRESTASIE

Die prys word toegeken aan ’n persoon vir sy/haar skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die natuurwetenskap en/of die tegnologie (of ’n vertakking of vertakkings daarvan) en die suksesvolle toepassing daarvan in breër verband, soos in landsbelang. Die prys word gesien as die kroon op ’n lewenstaak en kan daarom net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word vanjaar aan Ben-Erik van Wyk van die Departement Plant- en Plantbiotegnologie, Universiteit van Johannesburg toegeken.

Ben-Erik van Wyk is ’n internasionale leier op die gebied van die benutting van inheemse plante en planttaksonomie en is een van die mees produktiewe planttaksonome wêreldwyd. Hy en sy groep Afrikaanse studente het byvoorbeeld ’n groot bydrae gemaak om die tradisionele kennis van die Afrikaansprekende Nama- en Khoisan-inwoners in Namakwaland na te vors en aan te teken. ’n Verstommende nuwe kennis is hierdeur ontbloot. Dit sluit nie net nuwe gebruike en nuwe name in Afrikaans en Nama in nie, maar die data is met die modernste tegnieke geanaliseer en belangrike resultate is daardeur bekom. Hierdie werk skep die geleenthede vir baie navorsers om verdere werk te doen oor die tradisionele kennis van hierdie groepering wat tot dusver grotendeels onontgin is.

Die prys word deur Sanlam geborg.

4.  HUBERTE RUPERTPRYS VIR KLASSIEKE MUSIEK

Die prys word toegeken aan die operasangeres Carla Pohl.

Pohl word wêreldwyd deur kritici beskou as een van die laaste werklik hoë dramatiese soprane van ons tyd. Sy is in 1965 bekroon met die Mimi Coertse-beurs, wat haar in staat gestel het om ’n sangloopbaan in Duitsland te volg, waarna sy ’n internasionale reputasie verwerf het met haar vertolkings in Duitse operarolle. Sy is wêreldbekend vir haar rolle in operas van Wagner en van Richard Strauss. Die lys operateaters waar Pohl in hoofrolle opgetree het is onder andere die volgende: Aachen, Berlyn, Bonn, Braunschweig, Darmstadt, Dresden, Dortmund, Düsseldorf, Essen, Gelsenkirchen, Giessen, Haltern, Hanover, Karlsruhe, Köln, Kiel, Leipzig, Leverkusen, Mainz, München, Oldenburg, Stuttgart, Wolfsburg, Londen, Bern, Luzern, Wene, Antwerpen, Helsinki, Bordeaux, Nancy, Parys, Moskou, Rome, Turyn, Brisbane, Santiago, Durban, Johannesburg, Kaapstad, Pretoria.

Die prys word deur die Rupert Musiekstigting geborg.

5.  BESONDERE EREPENNING

’n Besondere Erepenning word toegeken aan Antony Melck, tans woonagtig in Oostenryk.

Melck se leierskapsrol op akademiese en intellektuele gebied in die Suid-Afrikaanse samelewing gedurende sy loopbaan is divers en omvattend; aanvanklik as professor in Ekonomie by Stellenbosch, en later as rektor van Unisa en hoofbestuurslid van die Universiteit van Pretoria.

Melck se betrokkenheid in verskeie gemeenskappe en sy veelsydigheid as persoon blyk uit die wye verskeidenheid ander leierskapsrolle wat hy oor vele dekades vervul het, onder meer - maar nie beperk nie tot - as direkteur van Kamermusiek van Suid-Afrika, raadslid van die Pretoria Kunsvereniging, trustee van die ‘South African Institute for Distance Education’ en beskermheer van die Staatsteater se Jeugkunsfees.

6.  BESONDERE EREPENNING

’n Besondere Erepenning word ook toegeken aan Tommie van Zyl.

In die 20 jaar sedert Tommie van Zyl hoofbestuurder van ZZ2 geword het, het die omvangryke boerdery wat sy vader uit ’n beskeie familieplaas ontwikkel het, verder eksponensieel vergroot. Hy het ’n revolusionêre “oop sisteem” bestuursmodel ingevoer om al die belanghebbers van ZZ2, wat insluit meer as 10 000 werknemers, saam te  snoer in ’n geïnspireerde sisteem wat fuksioneer soos ’n spreekwoordelike miernes, of natuurlike ekosisteem, van bedrywighede. Dit strek van produksie, verpakking en bemarking tot diensdepartemente soos finansies, korporatiewe dienste, logistiek, landboukundiges, ingenieurs, inligtingstegnologie, sekuriteit en vervoer.

Met sy soeke na beste wetenskap en tegnologie en sy eie stewige akademiese agtergrond word ZZ2 onder Van Zyl ’n sentrum van landbouwetenskaplike uitnemendheid. Sy direksie bestaan deurgaans uit 25% akademici. Hy werf konsultante en inisieer navorsingsprojekte by agt Suid-Afrikaanse universiteite, waarby tot op hede 27 vooraanstaande navorsers betrokke is en daarby baat. Hy bou ook sy kontakte met Amerikaanse universiteite uit, bv. Cornell vanwaar verskeie navorsers projekte by ZZ2 uitvoer, en betrek verder akademici van die universiteite van North Carolina, Florida, California, Washington en Oregon. Hy werf ook verskeie konsultante van die beroemde Volcani-Instituut in Israel.

7. EREPENNING VIR DRAMA EN DIE GERHARD BEUKESPRYS

Die prys word toegeken aan Nico Luwes, emeritus professor van die Departement Drama en Teaterkuns, Universiteit van die Vrystaat.

Luwes is een van die mees vooraanstaande figure in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. Dit is uitsonderlik dat hy binne hierdie bedryf, met die klem op opvoering, óók ’n stewige akademies-wetenskaplike bydrae gelewer het. Hy het in sy loopbaan verskeie rolle vertolk: dié van speler, regisseur, skeppende en akademiese skrywer, dosent, entrepeneur en beskermheer.

In ’n uitsonderlike loopbaan staan sy skryfwerk egter uit. Luwes het reeds ’n groot aantal dramas en verhoogstukke geskryf en vertaal, sowel as 18 ander stukke verwerk. Al sy werk is nie net by die belangrikste Kunstefeeste (soos die KKKNK; Vrystaatse Kunstefees, Woordfees, Aardklop, Grahamstadse Kunstefees, ensovoorts) opgevoer nie, maar ook in die buiteland (soos in die Tjeko Teater in Pavlodar, Kazakstan en die Rose & Crown Teater in Engeland). Luwes is ’n veelsydige teatermens wat ook die musiek gekomponeer het vir ’n musiekblyspel wat hy self geskryf het. Daarnaas is hy die uitstekende regisseur van meer as 100 produksies.

8. EREPENNING VIR DIE BEVORDERING VAN GESKIEDENIS

Hierdie Erepenning gee erkenning vir ’n besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van die geskiedenis of kultuurgeskiedenis as dissiplines in Suid-Afrika.

Die Erepenning word vanjaar toegeken aan Matilda Burden, ’n kultuurhistorikus, verbonde aan die Universiteitsmuseum van die Universiteit Stellenbosch.

Burden se werk en bydraes in die vakdissiplines kultuurgeskiedenis, erfenisstudies en bewaring strek oor ʼn tydperk van 43 jaar. Loopbaangewys word haar werk gefokus op navorsing, doseerwerk, en die ontwerp en inrig van museumuitstallings. Haar werk dek verder die totale spektrum van kultuurgeskiedenis wat die subterreine volkskunde, museologie, erfenisstudies en bewaring insluit.

9. EREPENNING VIR VISUELE KUNSTE

Die Erepenning vir Visuele Kunste word toegeken aan Esther Nikwambi Mahlangu.

Die 85-jarige Esther Nikwambi Mahlangu is dwarsoor die wêreld bekend vir die monumentale muurskilderye wat sy al geskilder het in kunsmuseums van Italië tot Amerika; vir uitstallings van haar werke op doek in meer as 25 lande en selfs vir die

beskildering (en verheffing tot kunswerk) van meer as een model BMW vir the BMW Art Car Series wat sedert die 1990's ander groot name soos Andy Warhol, David Hockney en Roy Lichtenstein ingesluit het. Esther Mahlangu is absoluut gewortel in haar Nzunza Ndebele gemeenskap, in die klein dorpe Mthambothini, Mpumalanga, setel van die koninklike Nzunza Ndebele familie. Hoewel beroemd en ’n globale sukses, word Mahlangu en haar werk uitsluitlik gemotiveer deur haar Ndebele erfenis en die oordra daarvan aan geslagte na haar.

Die toekenning van ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Johannesburg aan Mahlangu op 9 April 2018, en later ’n tweede ere doktorsgraad toeken deur die Universiteit van KwaZulu Natal, verteenwoordig slegs twee hoogtepunte in die lewe van hierdie beskeie kunstenaar. Sy het tentoonstellings aangebied in vele lande dwarsoor die wêreld wat insluit Meksiko, Switzerland en Australië, en haar werke pryk vandag in kunsversamelings in Suid-Afrika, Duitsland, Frankryk, die VSA en Japan. Sy is reeds bekroon met verskeie noemenswaardige toekennings, onder andere die Orde van Ikhamanga in die silwerklas in 2006, die Mpumalanga Kuns- en Kultuurtoekenning, en ’n toekenning van die Ministerie van Kultuur van Frankryk.

10. LW HIEMSTRAPRYS VIR NIEFIKSIE

Die toekenning van die prys word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot vakspesialiste nie.

Die prys is vanjaar toegeken aan Elsa Joubert vir Spertyd.

Die prys word geborg deur die Louis Hiemstra Trust.

11. ELIZABETH C STEIJNMEDALJE

Hierdie medalje is ingestel om ’n leerkrag te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne sowel as buite die klaskamer. Die medalje is vernoem na Elizabeth C Steijn, ’n voormalige hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.

Die prys word vanjaar toegeken aan JM (Johan) Bezuidenhout, Uitvoerende Hoof, Leeuwenhof Akademie.

Bezuidenhout is die afgelope 45 jaar verbonde aan die onderwys, waarvan hy 25 jaar die skoolhoof en die afgelope sewe jaar die uitvoerende hoof van Leeuwenhof. Hy stel deurlopend belang daarin om ’n hoë vlak in die onderwys te handhaaf en voortdurend te verbeter. Sy vakgebied is Afrikaans, maar daarbenewens het hy deur sy loopbaan hom beywer om die wetenskappe ook uit te bou en ’n liefde daarvoor by leerders te kweek. Die moderne wetenskaplaboratium van die skool het deur sy toedoen tot stand gekom wat sigbaar die waarde van die wetenskap toon.

12. HAVENGAPRYS VIR FISIESE WETENSKAPPE

Die Havengaprys is ’n jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied. Die prys kan net een maal aan ’n persoon toegeken word.

Die prys word toegeken aan JAC Weideman, verbonde aan die Departement Wiskundige Wetenskappe, Universiteit Stellenbosch.

Vir die afgelope 30 jaar was Weideman een van die mees kreatiewe figure by die koppelvlak van komplekse analise en numeriese algoritmes vir oplossings van parsiële differensiaalvergelykings, met spesifieke temas wat kwadratuur, kontoerintegrale en rasionale funksies insluit.

’n Kenmerkende eienskap van sy werk is ’n nougesette teoretiese basis tesame met die ontwikkeling van praktiese algoritmes en gevolglike impak deur sagteware.

13. HAVENGAPRYS VIR LEWENSWETENSKAPPE

Die prys word toegeken aan Bernard Slippers, wat verbonde is aan die Departement Biochemie, Genetika en Mikrobiologie, Universiteit van Pretoria. Hy is ook die direkteur van die Instituut vir Bosbou en Landboubiotegnologie (FABI) en die stigter van die Future Africa Institute.

Slippers se navorsing fokus op die ekologie en evolusie van insekte en mikro- organismes wat plantgesondheid beïnvloed, asook die ontwikkeling van instrumente om die impak daarvan te verlig. Hy het reeds wye erkenning vir sy navorsing ontvang, waaronder ’n presidentstoekenning. Benewens sy navorsingsbelangstelling is hy ook passievol oor wetenskapsontwikkeling en die rol van die wetenskap in die breër samelewing. In hierdie verband was hy betrokke by die wêreldwye Young Academy- beweging, ’n stigterslid van die Global Young Academy (GYA) in 2010 en die South African Young Academy of Science (SAYAS).

14. STALPRYS VIR MAATSKAPLIKE WERK

Die prys word toegeken vir ’n hoogstaande publikasie of ’n reeks hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte wat ‘n buitengewone bydrae tot die wetenskapsbeoefening lewer.

Die prys word toegeken aan Antoinette Lombard, die hoof van die Departement Maatskaplike Werk en Kriminologie, Universiteit van Pretoria.

As hoof van Maatskaplike Werk en Kriminologie is Lombard een van die langsdienende departementshoofde by die Universiteit van Pretoria – ’n pos wat sy reeds meer as vyftien jaar met groot sukses beklee. Sy geniet veral internasionaal erkenning vir haar werk en is die programdirekteur vir die Ubuntu Study Abroad Programme saam met die Fordham Universiteit in New York, wat vir Suid-Afrikaanse studente die geleentheid bied om internasionaal ondervinding op te doen, en ook vir VSA-studente blootstelling aan die Suid-Afrikaanse konteks bied.

15. STALPRYS VIR OPVOEDKUNDE

Die prys word vanjaar toegeken aan Bettie Wiechers, emeritus professor van die Departement Opvoedkundige Studies, Unisa.

Wiechers was aktief betrokke by die vestiging van die vakgebied en professie van Opvoedkundige Sielkunde in Suid-Afrika. Tydens haar lang loopbaan in die opvoedkunde en sielkunde was sy onder meer hoogleraar by Unisa, sielkundige by die Kinderleidingkliniek van die Universiteit van Pretoria, en ook by die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal werksaam. Benewens haar omvattende akademiese kwalifikasies het sy haar ook as meesterpraktisyn in neurolinguistiekprogramme in Londen gekwalifiseer.

16. STALPRYS VIR STADS- EN STREEKSBEPLANNING

Die prys word toegeken aan JJ (Das) Steÿn, emeritus professor van die Departement Stads- en Streeksbeplanning, Universiteit van die Vrystaat.

Die prys is aan Steÿn toegeken op grond van sy talle publikasies in Afrikaans, die belangrike rol wat hy in die beplanningsprofessie in Suid-Afrika gespeel het, en sy groot bydrae tot die beplanningsliteratuur en akademiese ontwikkeling van Stedelike en Streeksbeplanning.

17. EREPENNING VAN DIE FAKULTEIT NATUURWETENSKAP EN TEGNOLOGIE

Hierdie Erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

Die prys is toegeken aan DG Hattingh, direkteur van eNtsa en professor in Meganiese Ingenieurswese, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth.

Hattingh word vereer vir sy bydrae op die gebied van wrywingsweistegniek en gepaardgaande ontwikkeling van die ontleding van metaalturbines en hoëdruk-/ hoë temperatuurpype. Hierdie tegnieke word tans as standaardprosedures toegepas deur beide Eskom en Sasol. Die tegnologiese bydrae van Hattingh en die eNtsa-groep is van kardinale belang vir die veilige voorsiening van elektrisiteit in Suid-Afrika deur  Eskom.

18. EREPENNING VIR ROLPRENTKUNS

Die Erepenning is vanjaar aan Hans Strydom toegeken.

In sy lang loopbaan van 47 jaar as rolprentakteur sedert die 1973-rolprent Môre Môre het Hans Strydom bewys dat hy ’n gesaghebbende akteur is wat bekroning deur die SA Akademie waardig is. Reeds met sy eerste rolprent was daar ’n onmiddellike aanvoeling vir die kamera; ’n onderspeelde gesag wat destyds maar selde voorgekom het, ’n akteur wat die visuele medium intuïtief verstaan, wat bewus is van waarna die kamera soek, en wat soepel met selfs moeilike dialoog omgaan. Verskeie rolle het gevolg waarin hy gewoonlik die stil, stewige held gespeel het met die vonkel in die oog en ’n charisma wat gehore in rolprente soos Ter Wille van Christine en Liefste Veertjie oorweldig het. Hy het diepte na rolle gebring wat dikwels nie in die draaiboek voorgekom het nie. Hy was ook nooit huiwerig om aan dialoog te verander of meer diepte na ’n karakter te bring wat ’n skrywer dalk sou misgekyk het nie. Strydom word vereer vir die reusebydrae wat hy tot die vermaaklikheidsbedryf gelewer het.

19. EREPENNING VIR RADIODRAMA IN AFRIKAANS

Die Erepenning word toegeken aan Eben Cruywagen.

Eben Cruywagen se werk het oor die jare ’n groot impak gehad op die ontwikkeling, uitbou en bevordering van radiohoorspele. Nie net is hy ’n gereelde aanbieder van RSG se radiodramaslypskole nie, maar ook ’n gevestigde beoordelaar en mentor vir die RSG Radiodramakompetisie. Hy is ’n uitmuntende radioregisseur, keur tekste vir uitsending en verwerk prosa en verhoogdramas vir uitsending. Cruywagen se verwerkings getuig van ’n besonderse gevoeligheid vir die radioformaat. Sy keurige dialoogverwerkings en klanklandskappe wat hy in die verwerkings skep, tower ’n ryke verbeeldingswêreld by die luisteraar op. Hy bewerkstellig ’n fyn balans tussen humor, drama en patos en die karakters wat hy skep, léwe binne die beperkte en soms belemmerende grense van radio as medium. Die prys word toegeken vir die voorafgaande, insluitend die tekste wat hy vir drama die afgelope drie jaar verwerk het.

20. DELEEN BEKKERPRYS VIR DIE BESTE DOKUMENTêRE TV-DRAAIBOEK IN AFRIKAANS

Die prys word toegeken aan Carien Loubser vir die draaiboek Madiba: ’n Uitsonderlike roeping, Episode 1.

As die teksskrywer, regisseur en vervaardiger van Madiba: ’n Uitsonderlike Roeping, neem Loubser die kyker in hierdie nostalgiese en roerende dokumentêre reeks saam met die aanbieder, Zelda le Grange, terug na Nelson Mandela se jeugjare in die landelike landskap van die Oos-Kaap, van sy geboortedorp, Mvezu tot by Qunu. Carien Loubser het hierdie historiese dokumentêr oor die kinderjare van een van die grootste leiers in Suid-Afrika in Afrikaans vervaardig en ’n sterk en uiters gepaste Afrikaanse teks daarvoor geskryf.

Die prys word bekostig uit die Deleen Bekkertrustfonds.

21. EREPENNING VIR ’n DOKUMENTÊRE TELEVISIEPROGRAM IN AFRIKAANS

Die Erepenning word toegeken aan die vervaardiger en regisseur, Susan Scott vir Stroop.

Stroop is ʼn dokumentêr, wat as argiefmateriaal die uiters belangrike saak van renosterstropery op nasionale en internasionale vlak belig. Die dokumentêr is onder uiters gevaarlike omstandighede plaaslik in wildtuine, privaatwildplase en op internasionale sluikhandelmarkte verfilm. Die navorsing is uniek, wydlopend en van kritieke belang. Ook die visuele en ouditiewe aanbiedingswyse, die kamerawerk, redigering en uitstekende strukturering van die dokumentêr is van uitstaande gehalte. Stroop slaag daarin om op nasionale en internasionale vlak ʼn blywende impak uit te oefen. Erkenning word ook gegee aan Bonné de Bod, vervaardiger en aanbieder van Stroop.

22. SA AKADEMIE PRYS VIR VERTAALDE WERK

Die prys word toegeken vir vertaling in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie letterkunde geniet en op die juistheid en algemene geslaagdheid van die vertaling.

Die prys word toegeken aan De Waal Venter vir Vandag is boordensvol, ’n vertaling van die gedigte van Pablo Neruda.

23. EUGèNE MARAISPRYS

Die prys word toegeken vir ’n eerste of vroeë letterkundige werk en word eenmalig aan ’n persoon toegeken.

Die prys word toegeken aan Johan Jack Smith vir Zola.

Die prys word hoofsaaklik geborg deur Rapport.

24. PROTEA BOEKHUISPRYS VIR DIE BESTE GESKIEDENISVERHANDELING IN AFRIKAANS EN DIE GENERAAL CHRISTIAAN DE WETBEURS

Die prys word toegeken aan Ruhan Fourie, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch vir sy MA-verhandeling met die titel: Beyers Naudé 1915‒1963: Die vorming van ’n dissindente Afrikaner.

Dit is verbasend dat daar nog nie ’n volledige biografie van Beyers Naudé geskryf is nie. Ruhan Fourie het hierdie uitdaging krities en met goeie historiese oordeel aangepak en ’n verhandeling geskryf wat fokus op Beyers Naudé se vroeë jare. Deur Naudé se jeugjare te herbesoek het hy daarin geslaag om ’n nuwe en beeldende narratief daar te stel wat Naudé as ’n veelkantige individu uitbeeld en ’n belangrike bydrae lewer om sy lewe meer volledig in te kleur. Gegewe die beleg waaronder Afrikaanse akademiese geskiedskrywing deels as gevolg van huidige politieke 'transformasie'-voorkeure verkeer, is hierdie ’n uitstekende voorbeeld van die gehalte akademiese werk wat nog deur Afrikaanssprekendes gelewer kan word.

Die prys word geborg deur Protea Boekhuis.

25. DOUW GREEFFPRYS

Die prys word toegeken vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

Die prys word vanjaar toegeken aan JH van Vuuren, verbonde aan die Departement Bedryfsingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, vir die artikel "Die effek van veelvuldige lynverwydering op die onafhanklikheidsgetal van ’n asikliese grafiek" wat verskyn het in die SATNT, 38(1) (2019).

26. ESTHER GREEFPRYS

Die prys word vir ’n navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, toegeken.

Die prys word toegeken aan Pieter J Fourie van die Departement Kommunikasiewetenskap, Unisa vir sy artikel "Die invloed van die digitale medialandskap op mediateorie: Van effekteorie tot mediatiseringsteorie" wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jg. 58, 4(1), Desember 2018, verskyn het.

27. JUNIOR KAPTEIN SCOTT-GEDENKMEDALJE (Dierkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ’n Suid- Afrikaanse universiteit vir die M.Sc.-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

Die prys word vanjaar aan Theo Busschau van die Universiteit Stellenbosch toegeken vir sy verhandeling: Phylogeographic patterning of three co-distributed forest- dwelling reptile species along the east coast of South Africa.

28. POORTPRYS

Toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in grade 10, 11 en 12.

Die prys word vanjaar toegeken aan:

Prosa: Rachelle du Preez van die Hoërskool Bonnievale vir haar werk Daarbo?

Poësie: Suné Mostert van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley vir haar gedig Die ruggraat.

Die wenontwerp van die voorblad vir die Poortbundel is Chrizelle Strydom van die Hoërskool Upington.

  • 2

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Deel van die missie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is "die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans." Hiervan kom bloedweinig in sy bogenoemde toekennings tereg. Sowel die gebruik as die gehalte van Afrikaans het sedert 1994 onrusbarend agteruitgeboer. Die Akademie kan gerus besin oor of daar dalk 'n Afrikaansinstansie, -taalkundige of letterkundige is dat daadwerklik die gebruik en gehalte van Afrikaans bevorder en die dan verkieslik jaarliks met 'n toekenning vereer. Weens die toestand waarin Afrikaans verval het, herhaal ek 'n voorstel wat klaarblyklik op dowe ore geval het: Verander die naam van die Akademie na Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, of bloot Afrikaanse Akademie, as teenhanger vir die English Academy of Southern Africa.

  • Barend van der Merwe

    Ek sien niks fout hier nie. Dit is 'n vertoonvenster van al die wonderlike dinge wat gebeur in Afrikaans. Dalk bietjie baie pryse, baie van dit gaan die aandag vinnig verby, maar almal welverdiend. Dit sal onmoontlik wees om almal tevrede te hou. Generaal Hertzog in 2020? Dalk nie so inklussiewe naam nie maar nou ja, ek verstaan wat die oom alles vir die Nederlandse/Afrikaanse taal in Suid-Afrika beteken het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top