...
As daar omstredenheid was, het Johan pa gestaan. As daar eer uitgedeel is, het Johan rojaal daardie eer op ander gesprinkel. In talle onderhoude prys hy die vryskutters en sy lojale span medewerkers.
...
Die lang, maer man gaan nooit weer soos ’n skelm seun om die hoekie van die ATKV se hoofkantoor staan en rook nie.
Sy dood maak nie vir my sin nie. Hy is te jonk.
Maar terselfdertyd ... Johan Jack Smith het in die lewe ook geweet dat baie goed nie sin maak nie. Daaroor het hy geskryf en musiek gemaak.
As musikant was hy betrokke by die groep Volkspeler. Hulle was alternatief en bereid om kommentaar te lewer. Bestudeer gerus hulle speellys op YouTube: https://www.youtube.com/user/Volkspeler.
Johan die skrywer
Johan was lief vir speurverhale en sy werk is in 2017 opgeneem in Op die spoor van, ’n bloemlesing speurverhale deur Rudie van Rensburg saamgestel. Sy verhaal is geplaas naas dié van gerekende name soos Karin Brynard, Kerneels Breytenbach, Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard, Martin Steyn, Nathan Trantraal en Deborah Steinmair.
In dieselfde jaar is sy digkuns opgeneem in Nuwe Stemme 6, wat saamgestel is deur Charl-Pierre Naudè en Bibi Slippers.
Dit was egter Zola, sy debuut-, en nou skynbaar enigste, roman wat mense laat regop sit het.
Zola is ’n intense, bloederige roman, maar dit stop nie by die bloed nie.
Zola het gaan krap in die psige van die buitestander, die soort persoon wat om verskeie redes sukkel om in die gewone samelewing aan te pas.
Vir Zola is Johan met die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon.
In ’n onderhoud met Naomi Meyer en Remona Voges het hy gesê: “Ek was nog altyd lief vir die ‘alternatiewe’ deel van Afrikaans – ek dink dit het begin met Johannes Kerkorrel, later RR Ryger en Tom Dreyer.”
Johan die uitgewer
In 2019 het ek die voorreg gehad om ’n nuwe druknaam te open om juis hierdie alternatiewe tipe boek te akkommodeer. Wenkbrou is in die lewe geroep met Johan as die hoof.
Daar het wonderlike boeke by Wenkbrou verskyn.
Reney Warrington se Smit Motors byvoorbeeld bly ’n fantastiese werk.
Die tweede Wenkbrou-teks, Sypaadjie, is ’n absoluut tradisionele romanse, geskoei op LAPA se Romanza-reeks. Die enigste verskil is dat dit twee vroue is wat mekaar liefkry. Beide is boonop baie Christelik, iets wat nie te algemeen is in die tradisionele reeks nie.
Dit was Johan se sterk punt: Hy kon insien dat ’n gayromanse nodig is. Hy het nie probeer skok met Wenkbrou nie. Hy wou vir die mense wat buite die ligkring staan, ook tekste gee om hulself in raak te sien.
Hannes Barnard se sonderlinge Halley se komeet het gevolg. Daarna André Krüger se ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid. Buitestanders is gehuldig.
Daar was nog drome, maar korporatiewe dinge het ingemeng en Wenkbrou het van bestuur verander. Daardie paar maande saam met Johan aan die konkel en beitel was spesiaal.
Taalgenoot
Die meeste mense sal Johan Jack Smith egter ken as die redakteur van Taalgenoot. Met reg.
Taalgenoot is die ATKV se amptelike mondstuk, maar ook meer as dit. Onder Johan se leiding en met sy visie het Taalgenoot ’n glanstydskrif geword wat een prys na die ander ingepalm het.
’n Deel van Johan se sukses met hierdie blad het te doen gehad met sy eie visuele kreatiwiteit. Hy het grafiese kuns en ontwerp studeer voor hy in die joernalistiek beland het.
Hy het die fotograaf André Badenhorst raakgeloop en sedertdien het die Smith-Badenhorst-kombinasie vir van die beste voorblaaie ooit in Suid-Afrika gesorg. Elkeen is ’n kunswerk, nie bloot ’n kiekie nie.
Van hulle werk was kontroversieel. Bibi Slippers in ’n Voortrekkerrokkie en Mielie Senekal in ’n leotard het die ooms en tannies na hul penne laat gryp.
Tog wou Johan nie skok nie. In ’n onderhoud wat ek met hom gedoen het, het hy gesê:
’n Mens leer maar deur die jare wat mense ongemaklik maak en waar om die streep te trek. Enige onderwerp is egter bruikbaar, solank jou redenasies, bronne en motivering net gebalanseerd is. Dis maklik om te skok, maar dis moeiliker om in te lig sonder om te skok. Soms moet ’n mens egter ’n bietjie die hok skud. Dit was egter nog nooit my doel nie – ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag die onderwerp.
As daar omstredenheid was, het Johan pa gestaan.
As daar eer uitgedeel is, het Johan rojaal daardie eer op ander gesprinkel. In talle onderhoude prys hy die vryskutters en sy lojale span medewerkers.
Dit was ’n voorreg om soms daar in die ATKV se hoofkantoor na Johan se produksiemuur te gaan kyk. Bladsy vir bladsy is die tydskrif beplan en gevul. ’n Mens kon die produk sien groei onder Johan se stil leiding en Martie Swart, die produksieredakteur, se ferm hand. Marelise Scholtz het vir die finale uitleg gesorg.
Johan het verstaan van spanwerk, en het byvoorbeeld vir PEN Afrikaans gevra om vir elke Taalgenoot-uitgawe ’n bydrae van ’n lid in te werk. So het ’n enorme databank van skrywersprofiele ontstaan.
Toe PEN Afrikaans my vra om iets oor Johan te skryf, het ek onder andere gesê:
Hy was die stil ou wat oor ander gepraat het, die een wat ander gevra het vir voorstelle en wat ander stemme ’n kans gegee het. Tog, hy was aan die stuur. Hy het ’n eiesoortige visie gehad. Hy het die tema bepaal. Hy het die briljante voorblaaie laat afneem – onder sy eie regie.
Johan kon ook die raaksien dat ’n span mense meer kon verrig as die individu. Ten spyte van sy sterk leiding en die feit dat hy nie sou skroom om ’n besluit te neem nie, was dit altyd nadat hy met ander gesels het; nadat hy ander die kans gegun het om hulle bydraes te lewer.
RR Ryger was een van die mense wat gereeld vir Johan bydraes gelewer het. Met sy toestemming plak ek hier wat hy op Facebook gesê het.
Verskriklik hartseer om te hoor Johan Jack Smith is onverwags oorlede. So jonk. Hy was ’n besonder talentvolle skrywer en ek het gehoop hy gaan nog baie great boeke skryf. Toe ek vir die Taalgenoot ’n tyd lank rubrieke geskryf het, het ek hom leer ken as 'n eerlike baas wat moeilike besluite op ’n ordentlike manier oorgedra het. Hy was so entoesiasties oor ons taal en die lewe. My hart gaan uit na sy vrou en jong seun.
Hier is ’n YouTube-onderhoud met Johan. Dit beaam nogal Ryger se siening.
Die mens
Johan Jack Smith het in Virginia in die Vrystaat grootgeword.
Hy was ook die pa van ’n lieflike seun, Rijger, op wie hy ontsettend trots was. Johan was ’n seun van Afrikaanse afkoms, iets wat gereeld in sy plasings op Facebook te sien was.
Hy was ontsettend lief vir Almerie, wat later sy vrou sou word.
Almerie het sy dood, aan ’n hartaanval, op Facebook aangekondig en gesê:
Ek verstaan dit nie, ek weet nie hoe of hoekom nie.
Maar ek wou dit graag hier deel sodat ons spasie kan hê om sin te maak.
Wel. In my kop maak dit glad nie sin nie.
Die ATKV se reaksie
Ek was vroegoggend reeds in kontak met die ATKV, en Mercia Eksteen, die hoofbestuurder: kommunikasie, het die volgende vir publikasie gestuur:
Johan Jack Smith was by die ATKV meer as net die redakteur van Taalgenoot. Hy was iemand wie se kreatiwiteit, aweregse sin vir humor en vermoë om geleenthede raak te sien, ons male sonder tal sonder woorde gelaat het. Hy het Taalgenoot uitgebou om jaar ná jaar stof in die oë te skop van ander korporatiewe tydskrifte. Onder sy leiding was dit nie net ’n tydskrif wat besonder mooi was om na te kyk nie, maar dit het uitgedaag, die ongewone in ons samelewing gevier en gewys Afrikaans is nie verstok en vervelig nie.
Johan, ons weet nie hoe ons jou plek gaan vul nie. Jy was vir ons meer as net ’n kollega, jy was ons vriend, ons ware Noord (soos die kommunikasieafdeling graag na jou verwys het). Rus sag en weet dat jy geliefd was en ’n groot verskil gemaak het. Sterkte aan sy vrou, Almerie, hul seuntjie, Rijger, en Johan se naastes. Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd.
Die ATKV het later ook ’n formele persverklaring uitgereik.
Lees ook:
Persverklaring: Johan Jack Smith se afsterwe laat ’n groot leemte
Skrywersonderhoud: Johan Jack Smith oor die Eugène Marais-prys
Kommentaar
Ek het Johan leer ken met 'n manuskrip wat hy vir my beoordeel het. Omdat hy 'n vriend was het hy my nie gespaar nie. Hy was eerlik, opreg, meelewend en empaties, maar die sambok was in sy regterhand! Johan kon kla oor die moeite wat 'n baard veroorsaak, oor die gesukkel om 'n ou Vespa in die hande te kry, om met elke uigawe van "Taalgenoot' 'n grens te skuif (of ten minste kennis te gee dat 'n grens geskuif gaan word). Johan was 'n mens-mens - vir mense, met mense, langs mense, in mense, by mense, ter wille van mense, as gevolg van mense ... Dit is 'n voorreg om hom te kon ken!