Die volkspeler agter die Taalgenoot se sukses

  • 3

Ná 90 jaar in druk gaan die Taalgenoot nou ook aanlyn gelees kan word. Wat het julle dié besluit laat neem?

Ons het besluit dis tyd dat meer mense moet weet wat die ATKV ten opsigte van projekte en werk in die gemeenskap doen. Almal is besig om te diversifiseer en die aanlyn paadjie te loop en aangesien Taalgenoot die mondstuk van die ATKV is, het ons gereken dis ’n goeie skuif.

Julle persverklaring maak dit egter duidelik dat die gedrukte tydskrif nie gaan verdwyn nie. Waarom albei behou in ’n tyd waarin die drukmedia ... wel,  onder druk is?

Ons het heelwat ouer lesers wat steeds die gedrukte weergawe verkies – en as ek moet bieg, ek verkies ook steeds die reuk van ink en papier. Baie moeite word gedoen tov illustreerders, fotograwe en uitleg en dit kom die beste na vore in die gedrukte weergawe.

Negentig jaar is ’n baie lang tyd. Hoe het die eerste Taalgenoot gelyk?

Hoe gereeld is die formaat oor die jare aangepas?

Die formaat het verander namate nuwe redakteurs oorgeneem het en hul stempel afgedruk het. Gedurende die eerste uitgawes was die tydskrif nog in wit-en-swart, met illustrasies van sigarette en veilings as advertensies. Ons het intussen wegbeweeg van ’n leefstyltydskrif-formaat en die klem word op die kunste, literatuur en kultuur geplaas. Ek verkies om stories te publiseer wat elders nie te sien is nie en ek probeer wegbly van sensasie.

Die afgelope aantal jaar het jy en jou (redelik klein) spannetjie, enorme pryse gewen vir die werk wat julle doen, en sommer baie van hulle. Spog so ’n bietjie?

Sedert 2017 het ons drie keer die Suid-Afrikaanse Publikasieforum se prys vir beste interne tydskrif, asook die gesogte toekenning vir beste korporatiewe publikasie, gewen. Die afgelope vier jaar het ons al weggestap met die pryse vir beste koppe (headlines), beste skryfwerk, beste kommunikasie, beste ontwerp, asook beste voorblad. Dis nog net die redakteur van die jaar wat kort …

Die pryse gaan onder meer vir die inhoud en die beeldskone manier waarop julle die tydskrif uitlê. Hoe lank werk julle aan elke uitgawe?

Die vryskutskrywers het ’n week om stories voor te stel en twee weke om dit te skryf, en die uitleg van die tydskrif neem ongeveer ’n maand, wat nog proeflees en redigering insluit. Daar is genoeg tyd om te verfyn. Vir my en van die redaksie wat by dagblaaie gewerk het, is dit hemels.

Vertel ons van die mense in jou span wat dit als moontlik maak?

Martie Swart is ons produksieredakteur en sosialemediaboffin; Marelise Scholtz doen die ontwerp en uitleg; en Reza Clifford proeflees vir ons en gooi ’n laaste oog. Ons almal besluit saam watter stories ons gaan plaas. Die vryskutte (skrywers en illustreerders) het egter ’n baie groot aandeel in die tydskrif se sukses.

Die Taalgenoot is ’n mondstuk van die ATKV. Maar dit is ook ’n tydskrif uit eie reg. Hoe bepaal julle die balans tussen korporatiewe stories en addisionele inhoud?

’n Spesifieke aantal blaaie word vir ATKV-nuus geoormerk. Dit sluit in stories oor vlagskipprojekte en die wonderlike werk wat die takke doen. Uit die aard van die saak sal ons plek maak vir ons eie nuus as dit moet. Dis ook belangrik om stories aan te bied wat met lesers sal resoneer.

Sedert jy beheer geneem het van die Taalgenoot is die inhoud beslis uitdagend, maar nie skokkend nie. Hoe bepaal jy die hitte van jou kooksel?

’n Mens leer maar deur die jare wat mense ongemaklik maak en waar om die streep te trek. Enige onderwerp is egter bruikbaar, solank jou redenasies, bronne en motivering net gebalanseerd is. Dis maklik om te skok, maar dis moeiliker om in te lig sonder om te skok. Soms moet ’n mens egter ’n bietjie die hok skud. Dit was egter nog nooit my doel nie – ’n goeie storie bly ’n goeie storie, ongeag die onderwerp.

Jy is bekend vir die puik voorblaaie wat jy laat skiet. Wat is jou gunsteling(e)?

Dit klink soos ’n cliché, maar elkeen is vir my besonders. As ek egter moet uitsonder: Die eerste een saam met Andre Badenhorst van Gérard Rudolf lê my aan die hart, asook die huidige een van Tarryn Wyngaard – dis wêreldklas.

André Badenhorst skiet gewoonlik jou voorblaaie. Waar kom hierdie samewerking van julle vandaan?

Ek het hom op Facebook ontdek, hom ontmoet vir ’n bier, en dit gaan steeds voor die wind. Ek hou van die idee dat iemand wat Jack Parow en Fokofpolisiekar se fotosessies doen, nou vir Taalgenoot foto’s neem. Dit was so reg in my kraal.

Daar was ook al voorblaaie wat die tonge los gehad het. Wil jy iets daaroor deel?

Onder my redakteurskap was die een van Bibi Slippers in haar Voortrekkergewaad nogal ’n teer puntjie. Lesers het laat weet ons sleep hul Voortrekkervoorouers se naam deur die modder (seker oor die tatoes op die foto). En dan die een van Mielie Senekal natuurlik – wat ons gedink het, is baie progressief! Wie het al gedurf om iemand met ’n “voller figuur” só te laat poseer? Ek het al geleer: Jy kan nie almal tevrede stel nie.

Jy is ’n joernalis, maar ook ’n romanskrywer, digter en rockster. By Oppikoppi was daar al ronde oë as die volkspele vreemd geraak het. Van waar kry jy jou kreatiewe idees?

Ek was maar altyd lief daarvoor om alternatiewe dinge die lig te laat sien. Afrikaans het so ’n dramatiese, donker kant – maar ook satiries. Ek dink in die beginjare was dit seker maar om ’n bietjie te skok – om ’n standpunt te maak, om te baklei teen die biertentmentaliteit, maar ek is deesdae meer verdraagsaam. Gun almal wat hulle toekom.

Deesdae is jy die pa van ’n pragtige knaap, en daar is ’n trousertifikaat in jou staalkabinet. Volkspeler is tans net die naam van jou Twitter-rekening. Hoe het die gesinslewe jou gehelp, of gestuit, in die rol van ’n praatbuis vir ’n gesinsorganisasie soos die ATKV?

Dit het my rustiger gemaak en meer bedees. Ek skree nie meer nie.

Taalgenoot het nou al soveel pryse gewen – wat motiveer jou om aan te hou nuwe idees uitdink en dit relevant, en mooi, te maak?

Ek wissel gereeld rubriekskrywers af – asook my illustreerders. Dit help om die inhoud vars te hou. Ek kyk ook wat is internasionale neigings en pas dit toe.

Waarna kan ons uitsien in komende uitgawes?

Die digitale formaat bied net soveel meer en maak dit meer interaktief vir lesers. Aan die ander kant wil ek vir Gary Busey aanhaal uit die rolprent Soldier: “My daddy use to say – If it ain’t broke, don’t fix it.”

Taalgenoot is vir jonk en oud; vir mense wat in Afrikaans leef, liefhet en werk. Besoek http://bit.ly/Taalgenoot2021 of https://atkv.org.za/taalgenoot en lees die tydskrif nou aanlyn of laai die PDF-weergawe af.

Lees ook:

Mediaverklaring: Taalgenoot nou vir ’n ieder en ’n elk

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    "Almal is besig om te diversifiseer en die aanlyn paadjie te loop en aangesien Taalgenoot die mondstuk van die ATKV is, het ons gereken dis ’n goeie skuif."

    Allawêreld, in die herfs van 2017 het die deuntjie daadkragtig anders gedraai (en het ek kommentaar gelewer): "Met verwysing na Publishers Weekly argumenteer 'Ink en papier is steeds hier' digitale inboorlinge is skermvoos. 'Hendri Warricker, bemarkingsbestuurder by LAPA Uitgewers, vergelyk hierdie fenomeen met die terugkeer na langspeelplate.' "

    Kyk net wat skryf André P. Brink in Kennis van die Aand: "Een van die jongeres wat die nuwe beeld van hul nasieskap met net soveel oortuiging vertoon as wat die lede van party sektes mens met hulle innerlike blydskap probeer beïndruk deur met chroniese glimlagge hul weg deur die wêreld oop te gryns. Glimlag is ook maar 'n manier van tande wys, prefigurasie van die skedel."

    Nietemin lees ek nog altyd al te heerlik aan Taalgenoot.

    NS. O ja, 'n vriend van my het 'n onaangeraakte dosie Essentiale extreme wat hy graag vir 'n lekker bottel Sauvignon Blanc wil verruil - onoopgemaak. Ek luister by die radio.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top