Twee verbyryskietvoorvalle tydens Nuwejaar-feesvieringe in Johannesburg het 2020 op ’n tragiese noot ingelui. LitNet het Afrikaanse skrywers wat ’n verbintenis met Johannesburg het, gevra om hul gewaarwordinge oor dié gebeure met lesers te deel.
Johan Jack Smith is redakteur by Taalgenoot, ’n digter, skrywer en voorstander van hellfires by Hell’s Kitchen in Melville. Sy misdaadroman Zola speel in Johannesburg af.
........
"Hulle noem haar die Goudstad. Sy het baie stories. Baie geskiedenis. Maar dis nie sy wat die hart van goud het nie, dis die mense. Hulle gee die hart.” (uit Zola).
Agt jaar. Dis hoe lank ek myself al ’n Gautenger kan noem. Of eerder: ’n Johannesburger. Want die res van Gauteng sien my maar selde.
Ná 12 jaar in Bloemfontein het ek die sprong na Sodom en Gomorra gemaak. Ek het myself in die noorde bevind, naby aan die werk, tussen die M1 en N1. Baie Bloemfonteiners het my gevra hoe dit is – die aanpassing.
"Watter aanpassing?" het ek gevra.
Dit was eerder "inpassing". Want hier het ek tuis gevoel. In Jozi kan jy met ’n Voortrekkerrok uitgaan en niemand gaan jou vreemd aankyk nie. Jy kan gesprekke hê oor Nine Inch Nails en Johannes Kerkorrel tot in die vroeë oggendure.
In die middelpunt van hierdie "inpasbaarheid” is Melville. Waar joernaliste na ’n week in Mediapark se spookgebou hulle sorge kan vergeet deur hellfires by Hell’s Kitchen in hul kele af te gooi. Of hulle hare gaan laat kap by La Scala. Of op ’n tab gaan pizza eet by Xai-Xai. Of rustig ’n koffie by De la Creme gaan drink, en kort-kort iemand hoor sê: "Kyk, daar is Lochner de Kock.” Of Gerard Rudolf. Of Richard van der Westhuizen. Almal tuis. Almal gemaklik. Almal deel van Melville. Hierdie is immers ’n plek waar jy geselsies kan aanknoop of ’n grappie maak met mense wat jy as ’n kind op televisie gesien het. Of wie se liedjies jy opgevoer het in skoolrevues.
Mettertyd, het ek wel agtergekom, is dinge egter tóg anders as in die States. Vriende en kollegas (nie vriende van vriende nie), het al onder huisrooftogte of gewapende roof deurgeloop. Kapings.
Maar vreemd genoeg, of so het dit gelyk, na ’n bietjie berading soms, gaan hulle aan asof niks gebeur het nie. Na ’n "Ja jong, dis Jozi …" – met ’n effense smile en kopskud. Asof hulle besef: This comes with the territory.
Ek was nog gelukkig tot dusver. Maar dit beteken nie ek parkeer naby ’n geldwa by ’n garage nie. Of bêre nie my selfoon in my sak as ek op die sypaadjie by ’n tafel in Parkhurst sit nie. Misdaad is sinoniem met Mzansi – en soveel meer in Jozi. Maar sy inwoners stap op dieselfde voetpaadjie as die monster. Soms kry hulle genoeg tyd om pad te gee uit sy vaart; soms val hulle van die krans af. En klim dan net weer op, as hulle gelukkig is.
Op Oujaar in Melville was twee vroue nié so gelukkig nie. ’n Simpel bliksem met ’n pistool in ’n swart SUV het hulle nuwe jaar kom steel.
Twee ure later het nog iemand vanaf die M3-brug skote geskiet op mense by die Mary Fitzgerald-plein. ’n Omstander het vertel dat mense net aanhou dans het nadat die skote geklap en mense neergeval het.
Vandag lyk Melville se strate asof daar laas week niks gebeur het nie. Is dit nie maar wat ons geleer het om te doen nie? Om aan te hou dans, al klap die skote? Is daar ’n ander keuse?
Lees die ander bydraes hier:



