Volkspeler is terug, met Die Boksburg Bebop

  • 0

Die alternatiewe-rock-groep Volkspeler is terug met ’n nuwe album. Johan Jack Smith, voorman, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Johan. Wat gaan aan?

Nie veel nie. Sit by die werk. Herstel na die langnaweek.

Laas toe ons gepraat het op LitNet, het jy pas ’n solo-album bekend gestel, apart van die Volkspeler-deelname en -loopbaan. Nou is daar ’n nuwe Volkspeler-album genaamd Die Boksburg Bepop. Hoe loop die Johan-solo-loopbaan en die Volkspeler-loopbaan nou saam? Hoe besluit jy watter materiaal wat jy skep vir watter projek moet gaan, en wat geniet jy van die een projek wat jy nie in die ander vind nie?

Die soloprojek is tans geskuif na die agtersitplek. Dit was net makliker om die solostukke op te voer terwyl ons besig was met die album – die logistieke deel is net soveel makliker. Ek is tevrede met wat ek gedoen het: ek het opgetree by heelwat plekke in Gauteng, asook by die Vryfees in Bloemfontein. Ek het gevoel daar is dele wat beter werk met ’n "Spoken Word"-benadering eerder as om dit te herskep in ’n songstruktuur. Baie van die solowerk is egter baie persoonlik, en ek is bly ek het ’n medium gekry om dit ook die lig te laat sien. Kom ons stel dit so: die solowerk het stem gegee aan my meer "donker" en persoonlike dele – en dis wat lekker is, en die Volkspeler-deel bring my rock ’n roll-, rebelse kant na vore.

Vertel ’n bietjie oor die albumtitel: Die Boksburg Bebop ... Die rubrieke wat jy deesdae vir Netwerk24 skryf, getuig van ’n soort verknogtheid (ek weet nie of "nostalgie" die regte woord is nie) aan die geskiedenis en ook hede van myndorpe. Hoe leef die fassinasie vir jou voort, en hoe spesifiek beïnvloed dit Volkspeler se musiek en lirieke?

Wel, die idee vir die titel kom van die "Blitzkrieg Bob" van die Ramones af. Die myn – dit speel beslis ’n groot rol. Ek het nog altyd gehou van die alternatiewe kant van Afrikaner (of Afrikaans)  wees – en waar is ’n beter plek om dit te gaan soek as die myndorpe? Daar is al heelwat stories geskryf oor Johannesburg, en amper te veel met die Kaap as agtergrond. Maar daar is bitter min oor die myndorpe. En dis daar waar jy die "ware" karakters kry. Die brekers, die malletjies, die uitgeworpenes, die sout van die aarde. Hoe meer ek daai stories kan vertel namens dié wat nie kan nie (of te skaam is daarvoor), hoe meer voel ek vervul.

Jou vocals op die album word afgewissel met dié van Wiekie Vega - as ek dit nie mis het nie, is sy ’n relatief nuwe toevoegsel tot die Volkspeler-span. Daardie deadpan oordrag van die lirieke wat julle albei doen, sorg nogal vir ’n kief effek, teen die agtergrond van die industriële rock ... in hoe ’n mate het julle dit beplan en beplan julle dit steeds? Ek verstaan ook Wiekie is die vrou in jou lewe en dat julle binnekort ’n eersteling verwag - hoe werk die skryf- en skepproses tussen julle twee? Is kreatiewe spanning versoenbaar met "gewone" verwagtinge in liefdesverhoudings?

Wiekie het haar eie liedjies geskryf, en nadat ek van dit vir haar "gesample" het, het ek agtergekom sy pas eintlik heel goed by Volkspeler. Ek het ook al lankal met die backing vocalist idee gespeel. My stem kom af en toe bietjie monotoon voor, so haar bydrae vul die gate. Wel, haar proses het dieselfde gewerk as myne: skryf ’n song, struktureer of "sample" ’n liedjie, en vat dit na die producer om te "fix".  Gelukkig is ons styl nogal baie dieselfde. Ons sit wel af en toe vas gedurende die proses, die een weet mos altyd beter as die ander, maar ons sorteer dit maar uit mettertyd, sonder om te veel glase stukkend te gooi of die bure wakker te maak.

Die gees van Volkspeler is beslis antihoofstroom, of dit nou gaan oor dinge in die "Afrikaanse diskoers" (ek hoor dit veral op die snit "Akkedis"), of in die aard van jul musiek. Is hierdie waarneming akkuraat? Wat sou jou opsomming wees van waar Afrikaanse musiek en die Afrikaanse media ditself op die oomblik bevind, en wat is daar om teen op te staan? En dan ook: Wat is die goeie tekens, die dinge waarmee ... die volk moet aanhou speel? (Sorrie ...)

Ek glo so, ja... Maar dan weer, dit is nie moeilik om antihoofstroom te skryf nie. Skryf net iets met substance, of gebruik die dubbele-ontkenning-reël as jy rym, óf versuim om die woord "hart" in die liriek te gebruik, dan is dit klaar antihoofstroom. Daar moet konstante vernuwing plaasvind, en dit is skaars in Afrikaanse musiek. Dieselfde reseppie word herhaal, met ’n nuwe bestanddeel af en toe. Maar daai dis is al lankal vrot, maak nie saak hoe jy hom voorsit nie. Mense kla konstant oor die bedryf, maar niks verander nie. Die mense wat Afrikaans luister, is min. Die groter meerderheid loop die kommersiële paadjie. Want dis wat die media vir hulle vertel is cool – individuele smaak was nog nooit ’n sterkpunt as dit kom by die Afrikaanse luisteraar nie. MK89 is dood. Die radiostasies speel nie alternatiewe musiek nie. Mense kom skaars meer na gigs toe, want hulle is bang om toegesluit te word vir dronkbestuur. Gelukkig is daar ouens (joernaliste) wat nog die vlammetjie aan die brand probeer hou. Dis die media se rol om te besluit na wat mense moet luister – nie die luisteraars wat moet besluit wat die radiostasies speel nie. Het hulle nie verantwoordelikheid om die mense nie verder te vervlak nie? Maar kom ons los dit daar.

Volkspeler skroom nie om dinge te doen en sê wat as "un-PC" voorkom nie ... ek onthou spesifiek 2013 se Oppikoppi, waar jy (op Vrouedag!) ’n dansende, ontkledende Voortrekkerdame met ’n leiband op die verhoog rondgelei het terwyl jy sing "Ek gaan jou breek soos ’n bitch". Wat is Volkspeler se – en jou – algemene benadering met die "skokfaktor"-soort elemente? Is julle bloot lief vir knuppels in die duiwehokke gooi, of voel jy daar moet konkrete boodskappe of temas aan optredes wees, en indien wel, hoe duidelik moet dit geartikuleer word? Of dink jy bloot daar's te min kunstenaars wat nog kans sien vir kakmaak?

Kyk – ek nie geweet dit was Vrouedag nie (blameer die Koppi-malligheid daarvoor). Daar was ’n flipside: mense het die show onthou as gevolg van die poppie in haar La Sensa-onderklere, maar hoeveel het die show onthou vir die musiek? Ek het nooit daarvan gehou as ek ’n band gaan kyk het en vier laaities staan daar in hulle jeans en T-shirts nie – kaartjies is duur – probeer ten minste iets wat mense nie maklik sal vergeet nie. As mens op Koppi speel, is daar 200 ander bands wat net so goed is, so ’n ou moet maar iets doen wat jou gaan laat uitstaan. Ek voel skok die kak uit die crowd uit – rock ’n roll is tog een van die min mediums waar jy jouself soos ’n barbaar kan gedra en kan wegkom daarmee. Mits die musiek darem genoeg is – dit moet ’n kombinasie van die twee wees.  Seks, drugs en rock ’n roll loop nie verniet hand aan hand nie. Hou asseblief op met teem. Kweek ’n paar. Mense gaan kyk Rammstein oor die show én die musiek. Dis hoekom dit entertainment genoem word. So dit gaan vir my meer oor die entertainment value as die boodskap.

Paul Riekert word op die omslag as vervaardiger gelys – natuurlik ’n legende van industriële rock in Suid-Afrika. Werk jy/julle dikwels saam met hom? In hoe ’n mate voel jy daar moet gestand gedoen word aan die nalatenskap van groepe soos Battery 9, en hoe probeer julle die genre op jul eie manier definieer?

Ek wou ’n swaarder album maak, daarom het ek vir Paul genader. En dit het goed gewerk. Ons het aan die idee gewerk om iets saam te doen (al is dit net een song), maar dis moeilik. Ek werk voltyds. Ek swot hierdie jaar verder. Ek moet boeke resenseer. Daar is ’n laaitie op pad. Soms weet ek nie waar mens die tyd kry nie. Paul is net so besig. Die vraag was egter nog altyd: Is Volkspeler industrieel? Daar is wel songs wat neig in daai rigting, maar dan is daar weer ander wat amper as ballads kan beskryf word. Dis soos om te sê: Erasure klink soos Radiohead, want daar is synthesisers teenwoordig in die musiek. Jy skryf ’n liriek en vind die musiek wat die beste daarby pas. Die song wat op MK89 was, "Metamorfeer",  is so ver van industriële musiek af soos Cora Marie van kwaito af is. Ek dink nie dis nodig om gestand te doen aan B9 se nalatenskap nie, hulle sal nie maklik geëwenaar word nie. Hulle nalatenskap is bankvas en sal altyd wees in Suid-Afrikaanse musiek.

In dieselfde asem: dis natuurlik nie ’n genre wat massavolgelingskap in Afrikaans geniet nie. Probeer julle deur daardie grens breek en Volkspeler op ’n groter verhoog kry, of doen julle dit suiwer vir die genot daarvan? Hoe balanseer ’n mens dit, as daar soveel rekeninge is om te betaal? Hoe hou ’n mens aan om daardie mooi monster binne ’n mens te voed?

Volkspeler het nog altyd die potensiaal gehad om groter te gaan, is al vir my vertel. Daar is kommersiële waarde. Maar dis die tyd. Tans is dit bloot vir my plesier. Dis ’n medium om te voorkom om iemand met ’n byl dood te kap. En dit gaan nou moeiliker gaan met die laaitie op pad. Maar ek glo jy moet aanhou skep. Anders gaan jy dood. Of jy word verveeld en vervelig.

Jy is ook die outeur van ’n fotoverhaalreeks genaamd Malboer. As ek dit nie mis het nie, word die tweede uitgawe daarvan nou versprei. Vertel meer? Wie is Malboer? Waar kom hy vandaan? Hoekom is hy geskep, en waarheen is hy op pad?

Die Avonture van Malboer is ’n moderne fotoverhaal wat afspeel in ’n postapokaliptiese Suid-Afrika. Dinge lyk sleg. Malboer probeer die Volk red van vervlakking. Dit gaan maar donners moeilik. Boek 2 van ses dele is onlangs uitgereik, en is beskikbaar in boekwinkels – meestal in die Kaap, want my verspreider is daar. Daar sal hopelik hierdie jaar nog twee verskyn.

Ons het al hieroor gepraat, maar dit is nou later en dinge verander: Wat dink jy deesdae is die sin van die lewe?

Ek dink nie dit het verander van die vorige keer nie. Maar dalk het iets bygekom. Om net iets goed genoeg te doen waaroor mense kan skryf, of iets skryf wat mense sal onthou. En ’n goeie pa te wees vir ons laaitie. Een van die dae.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top