Johan Jack Smith van die groep Volkspeler het ook ‘n solo-projek van stapel gestuur. Hy beantwoord enkele vrae.
Goeiedag Johan, hoe’s dinge?
Môre Henry, heel goed dankie. Die winter is hier in Johannesburg, maar dis steeds aansienlik beter as die ysige Bloemfontein-dae.
Vertel bietjie van Volkspeler se geskiedenis – die groep het ‘n moerse innoverende vibe gehad wat nou nie juis sinoniem is met deursnee Afrikaanse musiek nie, tog was daar ‘n lojale cult following wat oor die jare gegroei het …
Ek het begin om van my gedigte en songs te toonset in 2009 nadat ek teruggekom het van Engeland. Gedurende my jeug het ek baie geluister na AC/DC en Nine Inch Nails, asook The Smashing Pumpkins en Prodigy. Ek het nog altyd gehou van die elektroniese element in rock songs. Ek het nie regtig veel geluister na Afrikaanse musiek nie, met die uitsondering dalk van Johannes Kerkorrel en Koos du Plessis. Ek en Henry Davis, ‘n klankingenieur van Bloemfontein, en ook Volkspeler se eerste guitarist, het saamgesit en nege songs uitgewerk vir die EP. Daarna het Francois Vermeulen van Walrusband bygekom op bass, en Andrew Spencer op drums. Ons het die meeste van die tyd net in Bloemfontein gespeel. Van die begin af was die reaksie gemeng – van die mense was mal oor die projek en sommige het uitgestap by die shows. Ons het egter redelik radiolugtyd gekry vanaf die EP. Twee van die songs, "Metamorfeer" en "As die hart breek", was nommer een by Pukfm. Die liedjie "Rakpakker (2 Jaar Visa)” was die eerste song wat op RSG gespeel is op Ettienne Ludick en Deon Maas se show sonder dat die vloekwoorde uitgehaal is. In 2009 het Tempo-luisteraars Volkspeler gestem as die beste groep/projek gesamentlik met Die Heuwels Fantasties en Bellville Rock City. In 2010 het ons die vollengte-album 11 Dodelike Sondes uitgebring, met "Spook en Diesel Bandiet" wat redelik baie lugtyd gekry het. Ons het ook ’n nuwe guitarist bygekry – Roelof Kotze vanaf die destydse Bloemfontein-groep DieVersion, en ons het ook die drummer vervang met tracks. Einde 2012 het ek Johannesburg toe verhuis. Francois Vermeulen het gebly by Volkspeler, en Roelof Kotze is op guitar vervang deur Johan Vos.
Volkspeler se musiek was/is ‘n kombinasie van industriële rock en spoken word … Hoe het dit tot stand gekom dat jy besluit het om jou lirieke/gedigte in hierdie genre te laat leef?
Blote necessity. Ek kan skaars drie chords op die guitar speel, so ek moes leer sample met musiek-sagteware, en dan agterna professionele ouens inkry om die tracks oor te doen. En die eenvoud van sampling het my ook aangetrek – dit maak die logistieke deel baie makliker, nie vyf werkende ouens wat moet probeer saamkom en musiek probeer maak nie. Jy skep die musiek, kry dan iemand om dit te "fix" en van die dele oor te doen. Die Depeche Mode, post-Violater era het my ook aangetrek – die vermenging van guitars en synthesiser het my nog altyd geamuseer. Omdat die lirieke redelik donker is, was die Industriele genre vir my gepas.
Onder die “Hydraulic Boor”-video van Volkspeler op YouTube het die band verlede jaar dié opmerking gemaak: “Dis maar ’n frustrerende, kak bedryf hierdie ...” Watter elemente van die bedryf het jou frustreer / frustreer jou steeds in terme van die speelveld? Dink jy dit is enigsins aan die verander?
Dis steeds moeilik. Dit word al hoe moeiliker om live te speel – daar is skaars plekke oor in Johannesburg, want almal maak toe (ek dink die mense is te bang om dronk te bestuur), alternatiewe musiek kry skaars, of niks, lugtyd nie, en daar is net een kanaal op TV wat alternatiewe musiekvideo’s speel, en net om daar in te kom is ’n stryd op sigself. Mens sien nie regtig veel bands in hul mid-thirties op daai spesifieke kanaal nie.
Wat die radiostasies aanbetref, is dit ’n vreemde, bose siklus. Hulle speel wat mense wil hoor om meer advertensies te verkoop, mense wil hoor wat die radio speel, want dis feitlik die enigste blootstelling. Ek dink baie bands het al hul "dreams of grandeur" laat gaan, en doen dit maar net deeltyds vir die liefde vir musiek. Maar dit kos geld - opnames, verspreiding, toerusting, ens. Geen wonder so baie bands gooi maar handdoek in nie. Die mark is net hopeloos te klein. Soos ons almal weet, en dis al ’n drooggemelkte argument, is die deursnit en oorgrote meerderheid van die Afrikaanssprekendes se musieksmaak maar redelik kak. Om die minste te sê. As jy nie daarop kan braai, sokkie of bliksem nie, is dit te "donker" en jy "wroeg".
Gelukkig help die digitale platform (soos Facebook/YouTube) ook aansienlik baie – deesdae is enigiets moontlik, soos Jack Parow en Die Antwoord bewys het. Daar is ’n tendens deesdae dat muso’s hulle musiek verniet vrystel op die net. Almal is egter nie in daai bevoorregte posisie nie, veral nie as jy ’n paar duisend rand moet betaal vir opnames nie.
Jy het besluit om voorts as “solo-kunstenaar” te operate as Johan Jack Smith. Wat het hierdie skuif teweeggebring?
Ek het heelwat materiaal gehad wat nie regtig sou pas in die verse-chorus-verse formaat nie, asook ’n paar kort stories en gedigte wat ek geskryf het. Ek het een aand van die stories vertel en gedigte voorgedra by een van die Dowe Digters-samekomste in Irene en die mense het daarvan gehou. Ek het toe gaan sit en ‘n vollengte-album bymekaar gesit. Musiek is vir my ’n fantastiese medium vir stories of gedigte. Dit help net soveel meer om emosie uit te bring. Kombineer dit dan met sterk visuele elemente, en jy het ’n wenner. Dalk het ek maar net bietjie ouer geword – die laat nagte wat gepaard gaan met ’n band raak bietjie erg deesdae. Ek wou aanvanklik ook eers ’n acoustic album maak, maar die meeste van die materiaal is nou gebruik vir DJJSAM. Ek sal seker weer een of ander tyd moet sit en skryf.
Hoe verskil jou benadering in liriek-skryf/liriek-skep vir die nuwe projek in teenstelling met dit van Volkspeler?
Met Volkspeler word bietjie meer gefokus op die musikale deel, alhoewel die lirieke steeds ’n baie groot rol speel. ’n Ordentlike "hook" is broodnodig in ’n rock song (of enige song) en meeste van die tyd fokus ons daarop om ’n perfekte balans te probeer kry. Volkspeler het meer die rock ‘n roll element – jy moet daarop kan dans, of dit moet jou laat voel of jy deur ’n muur kan hardloop, daardie gevoel van hoendervleis en onsterflikheid as jy daarna luister. Met die nuwe projek gaan alles oor die stories en gedigte. Eers die gedigte, dan die musiek wat dien as ’n vehicle om dit beter oor te dra. As jy nie ’n knop in jou keel kry as jy daarna luister nie, of mense kan hulself nie daarmee assosieer nie, het die song gefaal.
Jou woorde word grotendeels sonder veel emotiewe elemente in die vocals/stemtoon oorgedra – die woorde sorg daarvoor, met beelde wat sterk sny teen aanvaarde norme van kultuur, simbole ens. Hoe vloei die proses van konseptualisering van hierdie inslag en hoe jy dit wil oordra?
Ek dink nie my musiek/lirieke is generasie-gekoppel nie – dit gaan maar oor gebeure en stories oor verlies en frustrasie. As ’n 15-jarige tiener-laaitie van Pretoria daarmee kan assosieer, en ’n afgetrede goudmyner van Welkom, het ek in my doel geslaag. Rock ‘n roll het vir my nog altyd gegaan oor rebellie, die uitlaat van frustrasie en protes. Ek probeer dit universeel hou. Ek is egter nie meer so kwaad soos toe ek jonger was nie, daarom was die tweede album rustiger.
Dis dalk nou ‘n simpel vraag, maar ek dink dis relevant – wat wil jy “bereik” met die Johan Jack Smith-projek?
Ek werk tans daaraan om die eerste stories en gedigte meer tematies te maak, met die gedagte om dit te omskep in ‘n teaterstuk (moontlik in die lyn van Harry Kalmer se Vlieger) met sterk visuele elemente. Daar is egter nog heelwat werk wat gedoen moet word.
Wat is die toekomsplanne met die projek in terme van toer, opnames vrystel en die breër publiek bereik?
Wel, Volkspeler speel hierdie jaar Oppikoppi en ons (ek en Volkspeler se guitarist, Johan Vos) is besig met ’n nuwe album by Paul Riekert van Battery 9-faam. Met die solo-projek wil ek graag die kunstefeeste nader vir moontlike blootstelling teen volgende jaar. O ja, en daar is tans ’n video vir die song "Metamorfeer” op MK89, en op YouTube, saam met ’n klomp ander video’s.
Wat is die sin van die lewe, soos gesien deur Johan Jack Smit?
As jy weet, of dit gekry het, vertel vir my ook asseblief ... Op hierdie stadium wil ek net iets goed genoeg doen waaroor mense kan skryf, of iets skryf wat mense sal onthou. Verder drink ek maar al die tergende vrae weg.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

