
Foto’s van Henry Cloete en albumomslag: voorsien
Henry Cloete praat met Naomi Meyer oor skryfwerk en voortbestaan. Hy praat ook oor musiek en sy nuwe skepping, Jean’s Hill.
Henry, ek wou net nou die dag vir jou vra wanneer skep jy weer iets. Toe praat ons oor Jean’s Hill. ’n Skepping sonder woorde. Vertel asseblief vir ons lesers van Jean’s Hill se musiek?
Haai, Naomi, lekker om van jou te hoor. Ek skryf nog vir ’n bestaan – tekste vir televisiereekse en dies meer – maar ek beleef al vir baie lank ’n krieweling om weer iets met musiek te doen.
Verlede jaar het ek en my ou kameraad Wilken Calitz ’n nuwe EP vrygestel as Die Skynmaagde, waarvoor ek die meeste van die digitale musiek gebaar het, met bykans geen ervaring in daardie veld nie.
Ek het die proses geweldig geniet, en nog dieper ingeduik in die proses van digitaal musiek skep, en daarmee rondgespeel in die bietjie vrye tyd wat ek het tussen die "day job" en ouerskap.
..........
Dit het vir my beide ’n passion project en ’n uitdaging geword – soos jy sê, om ’n storie te vertel, sonder woorde.
............
Dit het vir my beide ’n passion project en ’n uitdaging geword – soos jy sê, om ’n storie te vertel, sonder woorde.
Is dit net jy wat hierby betrokke is? Jy en die elektronika? Dis mos deesdae ’n ding, of hoe - die elektronika wat saam met mense goed doen. Laat ek dit so formuleer: het jy vir die masjien gesê wat om te doen? En hoe het dit prakties gewerk?
Ek neem aan jy probeer vra of kunsmatige intelligensie betrokke was? Haha, nee, glad nie.
Ek werk in Ableton (’n DAW, of Digital Audio Workstation) waar ’n mens jou stukke komponeer met verskeie vorme van digitale instrumentasie. Jy het basies ’n hele rits tracks waarin jy jou verskillende melodieë / bass lines / drums pleeg, en dit kan wissel tussen 10 en 30 tracks, afhangende van die tune. Dit is dikwels nogal uitmergelend om die perfekte samewerking tussen hulle almal te vind, maar dis deel van die uitdaging.

Skermgreep: voorsien
Ek begin gewoonlik met basiese klavier-tracks vir die melodie en die ondersteunende akkoorde, en bou dit dan uit met verdere komponering en eksperimentering met die digitale instrumente tot by beskikking, tot ek hou van hoe dit alles klink. Dis nogal ’n moerse proses!
Dus: Goeie sagteware? Ja. Kunsmatige Intelligensie? Fok nee.
So, hierdie proses werk vir my – om dinge te komponeer (oftewel "draw") en dinge te toets en verfyn tot ek tevrede daarmee is. Ek besef musikale puriste sal moontlik neerkyk hierop omdat dit nie in ’n ateljee opgeneem is nie, maar nou ja, dis al hoe ek geboorte kan gee aan die deuntjies wat in my gedagtes leef, en ek hoop andere geniet dit ook.
Dan moet ek natuurlik dankie sê aan Ben Ludik vir die klankmeng / klanktontwerp, en Tim Lengveld vir die "mastering".

Henry Cloete: foto voorsien
Hoekom het jy besluit om musiek te skep? En is dit die soort musiek waarna jy self wil luister?
Musiek is al deel van my bestaan vir langer as wat ek kan onthou, al kon ek eers in my studentejare werklik diep begin verken toe ek deeltyds by die musiekwinkel in die Neelsie gewerk het. Die betaling was effentjies, maar dit het fokol saakgemaak - ek kon heeldag luister en nuwe dinge ontdek. In daardie tyd het ek ook deurlopend musiek en songs geskryf op ’n akoestiese kitaar, so dan en wan dit in die openbaar uitgevoer (maar selde), en geluister, geluister, geluister.
Is Jean’s Hill die soort musiek waarna ek self sal luister? Ek dink so. Ek hoop so. Dis onmoontlik om iets wat jy self gebaar het te oordeel sonder ’n tikkie vooroordeel … Soms luister ek gou weer na die tracks en dink dis cool, soms luister ek en dink dis alles kak.
Mens moet ook nie te hard op jouself wees nie, veral met ’n debuut-album soos dié, en ek bedink bloot heeltyd hoe die tunes beter kan wees.
Ek geniet dit om na die musiek te luister terwyl ek by die werk is. Ek dink nou dis sekerlik ook lekker agtergrondmusiek vir as mens informeel by die huis met mense kuier. Wat het jy in gedagte gehad toe jy dit geskep het? Wie is jou teikengehoor?
Ek hoop so half vir ’n gemengde teikengehoor. Mense wat dit in die agtergrond aan het, of lekker daarmee werk, of swot, of wat ook al. En dan ook mense wat moontlik net vir die plafon staar met oorfone aan en wegraak in die tunes.
Bygesê, post-rock en indie instrumental is genres wat ongelooflik vinnig groei, so … ek weet nie. Ek het maar net shit gepleeg wat vir my reg en goed geklink het in hierdie stadium van my kreatiewe loopbaan (ek raak-raak aan veertig, so dit kwalifiseer seker as ’n mid-life crisis?).
Die lekker ding van woordloosheid (en taalloosheid, uiteraard) is dat bykans enigiemand in die wêreld aanklank daarby kan vind (indien hulle daarvan hou … ek maak geen beloftes of aannames hieroor nie), so dit is ook ’n interessante nuwe rigting om te verken.
...........
Die lekker ding van woordloosheid (en taalloosheid, uiteraard) is dat bykans enigiemand in die wêreld aanklank daarby kan vind (indien hulle daarvan hou … ek maak geen beloftes of aannames hieroor nie), so dit is ook ’n interessante nuwe rigting om te verken.
............
Ons almal moet rekeninge betaal, om van uitgawes vir kinders nie te praat nie. Hoe kan mens deesdae, as musikant, geld maak deur musiek te skep?
Ha! As ek ’n konkrete antwoord daarvoor gehad het, was ek nou al ’n konsultant met miljarde in die bank.
In Suid-Afrika bly die beste manier maar om optredes te doen, al is dit nie iets wat ek met hierdie spesifieke projek wil doen nie (ek sal nie weet waar om te begin nie).
Streaming kan lonend wees as jy genoeg playlisting het (Spotify betaal iets soos R500 per 10 000 streams, so maak maar self die som …), maar ek beplan nou nie juis my vroeë aftrede daarrondom nie. Daar is ook die ding van syncing geleenthede, waar jou musiek vir film / TV / video games gebruik word, maar dit is ook maar ’n dobbelspel. Mens kan jare of dekades wag vir die regte projek wat nommerpas rym met jou musiek.
Kyk, ek gaan nie jok nie, ek probeer dit nog uitwerk soos ek gaan. Ek het al geld gemors op slegte bemarking, en verbasende goeie resultate gekry uit relatief goedkoop bemarking, uit my uiters skrapse begroting vir hierdie goed. Dit bly seker maar ’n "long game".
Ek herinner my aan Steve Martin se raad aan opkomende skrywers / akteurs: "Be so good that they can’t ignore you."
Ek is beslis nog nie daar nie, maar ek werk daaraan …
Lees ook:
Onderhoud: Draalnoot vir ‘n janfiskaal deur Henry Jack Cloete
Tien vrae: Henry Jack Cloete oor Draalnoot vir 'n janfiskaal
’n Onderhoud met Devonecia Swartz: “Elke ding wat ’n mens skep is polities”
Die Heuwels Fantasties oor 2021, die virus en ou versus nuwe liedjies
Musiekonderhoud met Riaan Nieuwenhuis: “Dis glad nie ’n loopbaan soos enige ander nie”
Wie word ore aangesit? Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal