Musiekonderhoud met Riaan Nieuwenhuis: “Dis glad nie ’n loopbaan soos enige ander nie”

  • 1

Die immergroen veelsydige musikant Riaan Nieuwenhuis het onlangs ’n nuwe album, Bleeding moon, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Riaan Nieuwenhuis (Foto: Nicola Kruger)

Goeiedag, Riaan. Hoe’s alles?

Hi Henry, goed dankie. Hoop alles loop mooi daar.

Ag, ja wat. Baie geluk met jou nuwe album, Bleeding moon. Ek sien op sosiale media jy sê jy het die liedere vir die album begin skryf in 2018 toe die bloedmaanverskynsel aan die gebeur was. Was dit toevallig dat dit so gebeur het, of het dié natuurverskynsel inspirasie vir die nuwe tunes gebring? Vind jy in die algemeen dat ’n konneksie met die natuur belangrik of selfs nodig is vir jou skeppingsproses? En/of watter ander bronne van inspirasie soek jy op waarsonder jy nie sou kon skep nie?

Baie dankie, Henry. Die bloedmaan was toevallig. Ek het die albumtitel gekies as gevolg van daardie tydsberekening. Die verskynsel was besonders, en ek onthou dat ons vir lank op die stoep daarna sit en kyk het. Die volgende aand het ek en Mark-Louis Ellis die klavier opgeneem. Dit was ook daardie aand, toe ek die bloedmaanfoto’s van Nelis Kruger gesien het, wat my laat glo het Bleeding moon is ’n geskikte titel. Een van dié foto’s is gebruik vir die album-omslag.

Ja, ek glo sonder natuur is menswees grootliks nutteloos. My grootste inspirasie, van kleins af, bly die Bolandse berge.

Die album bevat nege uiteenlopende snitte wat elk op hul eie manier uiters treffend en meesleurend is. Hoe het jy hierdie album saamgestel? Is daar ’n soort beplanning betrokke dat daar oppe en affe moet wees, of ’n soort goue draad wat daardeur loop, of is dit bloot ’n versameling van nege selfstandige, onafhanklike snitte? Hoe sou jy die “storie” wat Bleeding moon vertel, beskryf?

Die samestelling van die album was ’n geleidelike uitfaseringsproses. Al die liedjies, met uitsondering van twee (“Extradition” en “Boreas”), is eers op die klavier opgeneem, en die ander instrumente later, by Tunes Studio.

Daar is ’n manier om ’n album te benader met ’n begin, middel en einde as oogmerk. Dit is ’n proses vol moeilike keuses, maar ek poog altyd om struktuur in die geheel te bewerkstellig.

Jy het baie samewerkers/collaborators wat ingespring het op Bleeding moon – onder meer Albert Frost, Basson Laubscher en CJ Bergh. Hoe het jy besluit watter kunstenaars jy wil nader vir samewerking op die album, en hoe het jy besluit wie op watter tune(s) moet saamwerk? Het hulle saam geskryf aan die tune, of eerder ingeklok en gedoen wat jy versoek het?

Ja, ook Almuir Botha, Heinrich Wesson en Riku Lätti. Ek het al vantevore met die meeste van die musikante op Bleeding moon gewerk, en weet min of meer wat elkeen se (voorkeur)talent is. Ek het dus die indeling hiervolgens gedoen.

Ek het ná die liedjies geskryf is, gedeeltes aan hulle gewys waar ek glo die insette moet kom. Tog het ek al die musikante se kreatiewe vryheid gerespekteer. Die hoof collaborator-musikante op Bleeding moon is Jean Marais (dromme/perkussie) en Mark-Louis Ellis (baskitaar, akoestiese kitaar en engineer).
 
Die snitte het dikwels titels wat op een konsep dui …“Reminiscence”, “Declaration”, ens. Dit sluit ook aan by jou vorige albums en tunes … Hoe werk jou skryfproses in daai opsig – kom ’n konsep eerste, met ander woorde dat daar ’n spesifieke emosie of aksie is waaroor jy voel jy wil skryf, of kry die tune ’n titel wanneer jy klaar is? Hoe unpack jy hierdie konsepte – weerspieël die musiek ’n universele gevoel (of jou verstaan daarvan) rondom die konsep, of is dit vir jou ’n meer persoonlike omgang daarmee? Dalk kan jy ’n voorbeeld gee van hoe dit werk?

Dit is ’n kombinasie van al die punte wat jy aanspreek in die vraag. Ek luister na die opnames van die onvoltooide musiek gedurende die skryfproses as ek so in die Boland rondbeweeg, wat op sigself idees met betrekking tot titels na vore bring. Baie van die aanvanklike titels word vervang namate ’n liedjie se “persoonlikheid” gevorm word.

Dan is daar ook ander oorwegings, wat moontlik nie vir almal sin sal maak nie. “Clarksdale” byvoorbeeld is vernoem na een van my gunstelingdorpies in die Mississippi-delta. “Extradition” het ’n harder edge en persoonlikheid as die ander snitte, en het ’n ander skryfproses ondergaan, en is laaste geskryf. “Declaration” is stadig maar seker besig om vorentoe toe te beweeg in progression en krag. So asof daar ’n toekomstige verklaring op pad is.

Met instrumentele musiek is dit natuurlik ’n ander proses wat gevolg word om titels te laat gebeur as wat dit is ten opsigte van liedjies met woorde. Daar is die titel reeds vervat in die konteks van die woorde.

Ek het in ’n resensie gesien die album word as semi-eksperimenteel beskryf. Sou jy hiermee saamstem? Dink jy dit is meer of minder eksperimenteel as vorige vrystellings, en in watter opsigte? Watter onverkende waters wil jy nog graag in die toekoms betree in terme van instrumentele eksperimentering – beide wat betref die instrumente wat gebruik word en ook hóé hulle gebruik word?

Ek glo ek eksperimenteer altyd met die musiek wat ek skryf. Bleeding moon is divers in genre, klank en samestelling. Ek sou kon sê dat ek met die albums Mediator 2 en Reminiscence ook hierdie tipe van variëteit gekry het. Mediator 1 (solo- klassieke klavier), Instigator (hard rock) en Collaborator (desert rock) het elk weer ’n eiesoortige klank.

Ek werk aan ’n rap-rock Afrikaanse album met swaar kitaar hooks en rifs. ’n Projek van gekombineerde klassieke kitaar en klavier is ook deel van my planne.

Soos ek hierdie vrae opstel, is Suid-Afrika nog in level 4 lockdown, en die musikante ly natuurlik ook finansieel moerse hard onder die inperking. Hoe survive jy die lockdown, en hoe dink jy gaan die musiekbedryf, en jou eie loopbaan, vir die voorsienbare toekoms lyk as gevolg daarvan? Wat is jou raad aan ander musikante wat sukkel om inkomste en/of inspirasie te vind in hierdie tyd?

Oukei, ek gaan hier ’n bietjie die tale moet meng, so verskoon maar. Ja, baie ander ly saam met die musikante. Tans moet musikante ’n streaming platform deel met onder andere sogenaamde muso’s wat ook livestream om hul liedjies in te werk. Saam met katvideo’s en COVID-grappies veroorsaak dit ’n online clutter wat nadelig is vir die ouens wat al lankal aan die gang is in die musiekbedryf.

Maar die busking-for-money-online konsep wat deur COVID meegebring is, kan ook reg gedoen word. Tog stroop dit ’n live musikant steeds van ’n tipe waardigheid, om ooglopende redes. Dit vermeerder ook die reeds bestaande pity van die publiek teenoor musikante.

Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, en ek weet nie wat die oplossing is nie. Ek het wel die vraag aan musikante op sosiale media gestel, maar ek het grotendeels ’n baie negatiewe reaksie ontvang.

Ek weet net dat ek sal aanhou met musiek en musiekverwante projekte as beroep. Ons gaan eendag hier uitkom.

Riaan in aksie by Up the creek 2020 (Foto: Henry Engelbrecht)

Jy het al ’n hele rits solo-albums vrygestel, en is natuurlik bekend as een van Suid-Afrika se kanniedoodmusikante wat nooit te ver van ’n stage af is nie. Hoe vind jy deurlopend nuwe energie om aan te hou skep, vrystel, toer en optree? Tot hoe ’n mate is dit maar ’n loopbaan soos enige ander, of eerder musiek wat by jou móét uit, en is daar ’n ideale balans wat jy al kon handhaaf, of probeer nastreef?

Die energie kom direk van die musiek af. Ek word deurlopend gestimuleer en gefassineer deur die onbeperkte moontlikhede van ’n toekomstige liedjie. Die balans tussen die stage en skryf is ’n lekker een, alhoewel dit tans versteur is.

Dit is glad nie ’n loopbaan soos enige ander nie. Jy moet baie meer doen en dink as ’n salarispersoon om te oorleef.

Ons het al gepraat oor die nabye toekoms, maar wat hou die verre toekoms vir Riaan Nieuwenhuis in, in so verre jy dit kan beheer? Wat wil jy nog graag kan af-tick as musikant en in jou persoonlike lewe?

Soos genoem, die Afrikaanse rap-rock konsep wat ek graag wil voltooi, en dan ook die genoemde kitaar-en-klavier-projek met Mark-Louis Ellis.

’n Europese musiektoer ná COVID, en reise, asook tyd saam met my gesin.

Wat is die sin van die dood?

Strikvraag.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top