Wie word ore aangesit? Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal

  • 1

Volgens ’n aankondiging op 14 Julie 2023 deur die nasionale direkteur van DoweSA, Bruno Druchen, sal president Ramaphosa op 19 Julie om 16:00 die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp tydens ’n ondertekeningseremonie bekragtig.

https://www.realsasl.com/

Hierdie geleentheid is om minstens twee redes uitsonderlik. Met die promulgering van hierdie 18de Grondwetwysiging (aanvanklik bedoel as ’n wysiging aan die grondonteieningsklousule van die Grondwet totdat die poging weens ’n gebrek aan voldoende steun gesneuwel het) word Suid-Afrika die eerste land ter wêreld wat sy nasionale gebaretaal (Branson en Miller 1997) grondwetlik as ampstaal erken. Terselfdertyd word Suid-Afrika volgens Wikipedia se lys van amptelike tale per land en streek[1] slegs die sewende land ter wêreld wat sy nasionale gebaretaal as amptelike landstaal erken. Die ander lande is Uruguay (vanaf 2001), Nieu-Seeland (vanaf 2006), Pole (vanaf 2012), Papoea-Nieu-Guinee en Suid-Korea (beide vanaf 2015) en Malta (vanaf 2016) (Wikipedia 2023). Vier van hierdie lande, Nieu-Seeland, Pole, Suid-Korea en Malta, het die verampteliking van hulle nasionale gebaretale deur middel van ’n nasionale gebaretaalwet bewerkstellig. Uruguay het dit deur middel van gestremdheidswetgewing gedoen en Papoea-Nieu-Guinee deur middel van ’n dekreet van die land se Nasionale Uitvoerende Raad.

Die World Atlas maak egter daarop aanspraak dat altesaam 41 lande hulle nasionale gebaretale as amptelike tale erken (Kiprop 2019). Uit nadere ondersoek blyk dit dat hierdie aanspraak nie deur kontroleerbare gegewens gestaaf kan word nie. Waarskynlik lê die antwoord hiervoor by ’n semantiese probleem. Oënskynlik tref Kiprop nie ’n onderskeid tussen “die amptelike erkenning van gebaretaal” en “die erkenning van gebaretaal as amptelike taal” nie.

Die Wêreldfederasie van Dowes (WFD) verkies om in navolging van die baanbrekerswerk van De Meulder (2015) eerder te konsentreer op die “wetlike erkenning” van die nasionale gebaretale van verskillende lande. Volgens hulle infografiese voorstelling hieromtrent (waarvan die egtheid deur hierdie outeur geverifieer is) verleen altesaam 74 uit 193 lidlande van die Verenigde Nasies (VN) een of ander vorm van wetlike erkenning aan hulle nasionale gebaretale: 27 lande deur middel van algemene wetgewing (meestal gestremdheidswetgewing), 23 deur middel van ’n nasionale gebaretaalwet, 11 deur grondwetlike erkenning en een land deur middel van ’n nasionale taalwet. In 11 van die 74 gelyste gevalle kon geen stawende getuienis omtrent enige wetlike erkenning van die betrokke lande se nasionale gebaretale gevind word nie.

Dit is belangrik om daarop te wys dat die WFD se gegewens die klem laat val op die wetlike erkenning van ’n land se nasionale gebaretaal as volwaardige taal, dit wil sê die “amptelike erkenning” van die taal. Die WFD sonder nie die erkenning van die nasionale gebaretaal as amptelike taal as spesifieke kategorie uit nie. Sodoende vermy die WFD die probleem waarmee die World Atlas te kampe het, maar skep die Federasie ongelukkig terselfdertyd die moontlikheid tot ’n misverstand omdat daar nie op die hier bo genoemde semantiese nuansering ag geslaan word nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die opvatting dat die Zimbabwiese grondwet daardie land se nasionale taal as amptelike taal erken, terwyl die bewoording van artikel 6(1) van die betrokke grondwet baie duidelik na die altesaam 16 “amptelik erkende tale van Zimbabwe” verwys (Constitute 2013), dit wil sê nie na amptelike tale nie. Trouens, Zimbabwe se erg egalitaristiese grondwet maak nie voorsiening vir amptelike tale nie.

Opsommenderwys dui die nagegaande inligting van die WFD daarop dat altesaam 66 van die gelyste 74 lande hulle nasionale gebaretale wetlik as volwaardige tale erken (met inagneming van die genoemde 11 onsekere gevalle); twee lande, Kenia en (in daardie stadium nog) Suid-Afrika, beperkte amptelike status aan hulle nasionale gebaretale verleen – Kenia in hulle parlement en Suid-Afrika in die onderwysdomein; en ses lande hulle nasionale tale as amptelike tale erken, soos eerder aangedui.

Van die eerste lande wat wetlike erkenning aan hulle gebaretale deur middel van ’n gebaretaalwet verleen het, is Slowakye (vanaf 1995) en die Tjeggiese Republiek (vanaf 1998), en van die jongste lande wat hierdie keuse uitgeoefen het, is Nederland en die Verenidgde Koninkryk (beide vanaf 2022). Van die eerste lande wat wetlike erkenning deur middel van ’n grondwetlike bepaling aan hulle nasionale gebaretale verleen het, is Uganda en Finland (beide in 1995), terwyl Nepal (vanaf 2015) een van die meer onlangse lande is wat sodanige erkenning verleen het. Hierdie lande verleen dus amptelike erkenning aan hulle nasionale gebaretaal as volwaardige taal, maar nie erkenning as amptelike taal nie.

Branson en Miller (1997) wys daarop dat beide die ontwikkeling van nasionale gebaretale en die ontwikkeling van formele regeringstaalbeleide wat met gebaretale geassosieer word, betreklik onlangse ontwikkelings is. Hulle beskou die uitkomste hieromtrent hoofsaaklik as produkte van die verspreiding van nasionalisme en van nasionale en internasionale bewegings op die gebied van menseregte en onderwys. Die WFD, wat in 1951 opgerig is, verteenwoordig een so ’n internasionale beweging. Die WFD is verbind tot ’n filosofie dat die gebrek aan betekenisvolle gebaretaalwetgewing op nasionale vlak 'n ernstige skending van dowe mense se fundamentele regte meebring (WFD 2022) en staan sentraal in die sukses wat al behaal is op die gebied van die wetlike erkenning van nasionale gebaretale. Natuurlik steun die federasie op etlike mylpale wat betref die linguistiese menseregte van dowe persone, soos onder meer die VN se 1975 Verklaring oor die Regte van Gestremde Persone (VN 1975) en sy 2006-Konvensie vir die Regte van Mense met Gestremdhede (VN 2006), asook die VN se 2017-resolusie oor die Internasionale Dag van Gebaretale (VN 2017). Timmermans (2005) se oorsig oor die status van die nasionale gebaretale van Europa wys insgelyks op die invloed van die WFD,  maar ook op die rol van ’n verskeidenheid nasionale rolspelers in die verskillende lande ter sprake. De Meulder, Maartje, Murray, Joseph en McKee (2019) gee ’n onlangse oorsig oor die prestasies wat behaal is op die terrein van die wetlike erkenning van nasionale gebaretale asook met betrekking tot die linguistiese menseregte van dowe persone .

Uit die werk van die gemelde outeurs blyk dit dat die wetlike erkenning van nasionale gebaretaal wat hulle betref, wel bepaalde voordele kan inhou, onder meer die volgende:

* Dit kan help om te verseker dat dowes toegang het tot onderwys, werk en ander dienste in hul “eie taal”. (Eie taal geld in werklikheid net vir ’n baie klein persentasie dowe persone met dowe ouers. Die meerderheid dowes het horende ouers en leer nie noodwendig gebaretaal as eerste taal aan nie.)

* Dit kan die gebruik van gebaretale oor die algemeen bevorder en ook help om die tale te bewaar.

* Dit kan bewustheid omtrent sogenaamde dowe kultuur en die bydraes van dowes verhoog.

Veral laasgenoemde word as belangrik geag. De Meulder (2015:499) wys daarop dat die stryd om wetgewende erkenning tot hiertoe die klem laat val het op gebaretaalerkenning, maar dat kulturele erkenning voorlopig nog uitbly. Volgens haar is dit natuurlik deels te wyte aan die feit dat dowe gemeenskappe se stryd om erkenning in die eerste plek die kollig laat val op hulle status as linguistiese minderhede, waardeur hulle die gestremdheidsaspek onderbeklemtoon. Taalerkenning staan voorop, maar gestremdheid word wel meermale as bykomende drukmeganisme bygesleep (Reagan 2020).

...........
Ons sal maar moet sien of die betrokke kollegas se ideale in die geval van die verampteliking van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) gerealiseer gaan word. Danksy die georkestreerde vroeë stryd om die wetlike erkenning van SAGT wat ná die aanvaarding van Suid-Afrika se oorgangsgrondwet in 1993 afgeskop het (Parlementêre Redaksie 1995), geniet Suid-Afrikaanse dowes reeds sedert die aanvaarding van ons 1996-Grondwet in terme van die Handves van Menseregte reeds dieselfde linguistiese menseregte as horendes.
.............

Ons sal maar moet sien of die betrokke kollegas se ideale in die geval van die verampteliking van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) gerealiseer gaan word. Danksy die georkestreerde vroeë stryd om die wetlike erkenning van SAGT wat ná die aanvaarding van Suid-Afrika se oorgangsgrondwet in 1993 afgeskop het (Parlementêre Redaksie 1995), geniet Suid-Afrikaanse dowes reeds sedert die aanvaarding van ons 1996-Grondwet in terme van die Handves van Menseregte reeds dieselfde linguistiese menseregte as horendes. Dit sluit die reg op onderrig in die amptelike taal of tale van keuse in artikel 29 van die Grondwet in. Hierdie reg is bewerkstellig deur die verampteliking van SAGT in die Skolewet van 1996 wat die taal as amptelik vir die doeleindes van onderrig in openbare skole (let wel nie eksklusief skole vir dowes nie) geproklameer het. Ook het artikel 6(5)(a)(iii) van die Grondwet “gebaretaal” (weliswaar nie per definisie SAGT nie) by die groepie tale ingesluit wat deur die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) ontwikkel en bevorder moet word. In 2012 is ’n bykomende taalreg aan dowes toegeken deur ’n bepaling in die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale wat van staatsinstellings vereis om voorsiening te maak vir kommunikasie met persone wat SAGT as voorkeurtaal verkies – horendes geniet nie so ’n voorkeurtaalreg nie en moet maar hoop hulle kan darem kommunikeer in een van die minstens drie tale waarin staatsinstellings veronderstel is om te funksioneer. Meermale funksioneer hulle hoofsaaklik in Engels.

............
Die feit dat dowes hulle stryd voortgesit het om SAGT nasionaal as ampstaal erken te kry, impliseer dat al die vanaf 1996 toegekende regte en voorregte skynbaar nie gerealiseer word nie. Of verampteliking die antwoord op sodanige versuim is, bly ’n ope vraag. Horende Suid-Afrikaners het tot hiertoe nog nie veel gesien van die land se ander amptelike tale benewens Engels nie.
.............

Die feit dat dowes hulle stryd voortgesit het om SAGT nasionaal as ampstaal erken te kry, impliseer dat al die vanaf 1996 toegekende regte en voorregte skynbaar nie gerealiseer word nie. Of verampteliking die antwoord op sodanige versuim is, bly ’n ope vraag. Horende Suid-Afrikaners het tot hiertoe nog nie veel gesien van die land se ander amptelike tale benewens Engels nie. Dit is moeilik om in te skat hoe die staat, die nasionale regering, provinsiale regerings, munisipaliteite en Pansat oornag die betreklik disfunksionele huidige taalbestel suksesvol gaan omvorm tot ’n funksionele taalbestel, veral waar die nuut toegevoegde twaalfde ampstaal boonop nog ’n ruimtelik-visuele taal is. ’n Mens wonder dus wie hier ore aangesit word.

Theodorus du Plessis

Emeritus professor van die Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein

[1] Deur die outeur vir geldigheid geverifieer.

Bibliografie

Branson, J en D Miller. 1997. National sign language and language policies. In Wodak en  Corson, Encyclopedia of language and education: language policy and political issues in education, 1:89–98). Dordrecht: Kluwer Academic Publishers.

Constitute. 2013. Zimbabwe 2013 (2017 hersien). https://www.constituteproject.org/constitution/Zimbabwe_2017.

De Meulder, M. 2015. The legal recognition of sign languages. Sign Language Studies, 15(4):498–506.

De Meulder, Maartje, J Murray en RL McKee. 2019. Introduction. The legal recognition of sign languages: advocacy and outcomes around the world. In De Meulder,  Murray en McKee (2019), The legal recognition of sign languages: advocay and outcomes around the world. Bristol: Multilingual Matters.

Kiprop, V. 2019. Which countries recognize sign language as an official language? World Atlas: https://www.worldatlas.com/articles/which-countries-recognize-sign-language-as-an-official-language.html (9 Mei 2023 geraadpleeg).

Parlementêre Redaksie. 1995. Gebaretaal dalk gou SA se 12de amptelike taal. Die Burger, 8 Mei, bl. 9.

Reagan, T. 2020. Linguistic human rights and the deaf: implications for language policy. Hooftoesprak, 2nd Language Diversity in Educational Settings Workshop 2020: "Making a change through sign language". Gereël deur die Departement Suid-Afrikaanse Gebaretaal en Dowe Studies, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, 9–20 November 2020. Virtuele byeenkoms.

Timmermans, N. 2005. The status of sign languages in Europe. Strasbourg: Council of Europe Publishing.

VN (Verenigde Nasies). 1975. Declaration on the Rights of Disabled Persons adopted 9 December 1975 by General Assembly resolution 3447 (XXX). United Nations Human Rights Office of the High Commisioner. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/declaration-rights-disabled-persons (17 Julie 2023 geraadpleeg).

—. 2006. Convention on the Rights of Persons with Disabilities adopted 13 December 2006 by Sixty-first session of the General Assembly by resolution A/RES/51/106. United Nations Human Rights Office of the High Commissioner. https://www.ohchr.org/en/instruments-mechanisms/instruments/convention-rights-persons-disabilities (10 April 2023 geraadpleeg).

—. 2017. International Day of Sign Languages, Resolution adopted by the General Assembly on 19 December 2017 A/RES/72/161. United Nations General Assembly.  https://undocs.org/Home/Mobile?FinalSymbol=A%2FRES%2F72%2F161&Language=E&DeviceType=Desktop&LangRequested=False (17 Julie 2023 geraadpleeg).

WFD (Wêreld Federasie van Dowes). 2016. Our story. World Federation of the Deaf. http://wfdeaf.org/who-we-are/our-story (Julie 2023 geraadpleeg).

—. 2022. The legal recognition of national sign languages (Update: 10 January 2022). World Federation of the Deaf. https://wfdeaf.org/news/the-legal-recognition-of-national-sign-languages (8 November 2022 geraadpleeg).

Wikipedia. 2023. List of official languages by country and territory.  https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_official_languages_by_country_and_territory (24 Mei 2023 geraadpleeg).

Lees ook:

Lees hierdie artikel oor meertaligheid, tolke en gebaretaal op OuLitNet (een van LitNet se argiewe).

Lees Moedertaal, vingertaal deur Deborah Steinmair (in een van LitNet se argiewe)

Wie se taal? Al weer, of nog steeds?

Wie is ons sonder ons tale?

 

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dis mooi, prof. Dankie vir die uiteensetting. Ek deel die sinisme, maar die simboliese waarde van 'n amptelike status is wel verreikend, wil ek glo. Feit is egter, dis 'n afskop met 'n reuse groot agterstand om in te haal, een wat dalk nooit uitgewis sal word nie. Veral nie met onse soort regerings nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top