
Foto: Alexander Grey op Unsplash
..........
"Om te sê Kaaps is ’n variant van Afrikaans, is net so belaglik as om te sê dat jou ouma bestaan as gevolg van jou."
..........
Churchil Naude, bekende woordkunstenaar, maak nou onlangs die volgende stelling wat my baie laat dink. Hy sê: “Om te sê Kaaps is ’n variant van Afrikaans, is net so belaglik as om te sê dat jou ouma bestaan as gevolg van jou. #praatsaammy #dieontkakkingsveldtog”
...........
Met Moedertaaldag op hande is dit dalk ’n goeie tyd om hierdie stelling te bekyk. Die stof het nog skaars gaan lê ná Charlize se stelling dat Afrikaans nie regtig nuttig is nie en net deur omtrent 44 mense gepraat word. Nou word daar stellings gemaak dat Afrikaanssprekendes by sommige universiteite benadeel word. Naude se woorde is dalk net die lont wat die kruitvat van Afrikaanse sensitiwiteite weer kan laat vlamvat, behalwe dat die kruit teen hierdie tyd seker nat is.
..............
Met Moedertaaldag op hande is dit dalk ’n goeie tyd om hierdie stelling te bekyk. Die stof het nog skaars gaan lê ná Charlize se stelling dat Afrikaans nie regtig nuttig is nie en net deur omtrent 44 mense gepraat word. Nou word daar stellings gemaak dat Afrikaanssprekendes by sommige universiteite benadeel word. Naude se woorde is dalk net die lont wat die kruitvat van Afrikaanse sensitiwiteite weer kan laat vlamvat, behalwe dat die kruit teen hierdie tyd seker nat is. Hy vra in effek weer die vraag: wie se taal is Afrikaans nou eintlik? Dis nie ’n nuwe vraag nie. Ek het die eerste keer hieroor geskryf so ver terug as 2010, en selfs toe was dit nie ’n nuwe vraag nie. Steeds is ons nie veel nader aan ’n antwoord waaroor daar voldoende eenstemmigheid is nie.
Diana Ferrus meen in haar bekende gedig dat Afrikaans ’n versoeningstaal is.
“Dit is, het hulle gesê
Die taal van die onderdrukker.
Dit kom, het hulle gesê
Uit die mond van Europa.
Dit het, het hulle gesê
’n Enkele styl – net een vir kommunikeer
maar uit die buik van Afrika kom sy
Uit die mond van slawe, Europeërs, inheemse volke,
Dans sy op die maat
Van oer-oue tromme en handgemaakte kitare
Dra sy kostuums van vele kleure
En sing sy in ’n duisend stemme
Nou, na die stormjare,
Dans sy nie meer so flink
Maar sy omhels die skouers van haar susters
En kus versoenend op elke wang
Aan die geveg oor identiteit het sy geen erg
In die Afrika renaissance vind sy haar weg”
...........
As ek Ferrus reg verstaan, sê sy dat Afrikaans groter is as ons gevegte rondom die taal. Waarskynlik is sy reg, maar daar is tog ook ’n gevoel dat Naude ’n waarheidsoomblik raakboor met sy kommentaar.
..............
As ek Ferrus reg verstaan, sê sy dat Afrikaans groter is as ons gevegte rondom die taal. Waarskynlik is sy reg, maar daar is tog ook ’n gevoel dat Naude ’n waarheidsoomblik raakboor met sy kommentaar. Afrikaans het nie ontstaan in die raadsale en skole nie, dit het ontstaan tussen die werkers en die verskillende groepe wat op een of ander manier moes probeer kommunikeer. As taal heeltemal oorgelaat is aan diegene in beheer, het ons waarskynlik vandag nog Nederlands gepraat. Dan maak Naude se stelling sin. Kaaps was eerste, lank voor Afrikaans geformaliseer, gestandaardiseer en afgeforseer is/was.
Maar met Moedertaaldag op hande kan ek nie help om te wonder hoekom daar nog altyd hierdie gestry is oor wie se Afrikaans die regte Afrikaans is nie. Kan ons nie sien ons is besig om meubels te skuif op ’n sinkende skip nie? Is ons almal so blind dat ons nie besef die verknogtheid aan ’n spesifieke weergawe van ons almal se taal is besig om die taal te verstrengel en verwurg nie?
Die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes praat nie Standaardafrikaans nie, lankal nie meer nie.
Afrikaans het ons almal se hulp nodig om te help oorleef. Onder mekaar baklei help nie. Dit help nie die taal nie en dit help nie versoening nie. Ons het mekaar nodig om te oorleef hier aan die suidpunt van Afrika. Hoeveel te meer het ons nie mekaar nodig as ons wil floreer nie? Wie wil net oorleef as ons kan floreer?
...........
Daar is soveel wat ons as Afrikaanssprekendes het om mekaar te bied, maar ons almal moet saamwerk. Terwyl ons baklei oor wie die taal op die regte manier praat, sterf ons taal. Ander tale gedy, want hulle kan hul energie bestee aan ontwikkeling in plaas van baklei.
............
Hier is my persoonlike stelling. Daar is soveel wat ons as Afrikaanssprekendes het om mekaar te bied, maar ons almal moet saamwerk. Terwyl ons baklei oor wie die taal op die regte manier praat, sterf ons taal. Ander tale gedy, want hulle kan hul energie bestee aan ontwikkeling in plaas van baklei. Kom ons probeer dieselfde, vir eens in ons lewens.
Kom ons maak hierdie Moedertaaldag een waar ons ons liefde vir ons moedertaal in al haar skakerings wys.
Lees ook:
Internasionale Moedertaaldag: Wat is die belang van moedertaal?
Kommentaar
As ek iets wil weet van musiek, dan sal ek luister wat Naudé te sê het. As ek iets wil weet van linguistiek, dan luister ek maar eerder na linguiste, oftewel, taalkundiges, wat hulle hele lewens wy aan die studie van taalkunde en sosiolinguistiek, en iets daarvan weet. Maar nou ja, ons is mos ’n spesie wat al te graag ons eie geskiedenis gaan leer by die politikus en die pastoor. Nie by die historikus nie, nee.
Ek dink eerlikwaar daar is niks kwaadwillig aan die stelling dat Kaaps ’n variant van Afrikaans is nie. Die standaardvorm van Afrikaans is in elk geval ook net ’n hipotetiese taal. Daar is geen enkele mens wat in elke situasie 100% standaardafrikaans gebruik nie. Die sogenaamde standaardweergawe van Afrikaans is eenvoudig die vorm wat die mees algemeenste verstaanbaarste vorm is. En dit is presies wat sogenaamde standaardafrikaans is. En as mens nie ’n taal presies kan definieer nie, en nie reëls het nie, dan het die taal nie juridiese bestaansreg nie. 2025 is juis die jaar waarin Afrikaans se 100-jarige wetlike bestaan herdenk sal word.
Maar kom ons noem iets ongewild oor die onderwerp van taal en die wet. Ek loop al baie jare met iets anders, ietwat ongewild, in my kop rond. Die artikel wys op die eindelose toutrekkery oor taal en verwyt van die sprekers van Afrikaans vir die Afrikaanse taal se agteruitgang; dït weens onderlinge dwarstrekkery, volgens die skrywer. Hierdie taaltwiste is vir my veel minder opsigtelik in byvoorbeeld ons buurland Namibië. Nou moet mens seker ook darem byreken dat Namibië aansienlik minder mense het. Maar anders as die artikel, sien ek nie die probleem by die sprekers van Afrikaans nie, maar by ons owerhede. Ons 11 amptelike tale is maar net versiersels op die groot Engelse koek. As ons eerlik met onsself wou wees, onsself veel kopsere wou spaar, dan moes ons in die 1990's met die onderhandelinge slegs een amptelike taal aanvaar het, net soos Namibië. Dan het ons geweet waar ons staan met taal. Dan is dit uitgemaak en finaal. Binne so sisteem beteken dit nie daar is nie ruimte vir ander tale nie, inteendeel; wanneer dit uitgemaak is dat een spesifieke taal die amptelike taal van administrasie is, dan kan daar veel meer tyd en energie spandeer word op projekte wat inheemse tale ontwikkel, vaslê en vier. In stede van hierdie eindelose toutrekkery oor wie se taal moet gebruik word, waar en wanneer en hoe.
Maar dit sal nie gebeur nie. Ons historiese realiteit was president De Klerk met sy dagdrome van 'wigte en teenwigte', waarmee Afrikaners die leuen gesmous was dat hulle taal en kultuur ’n plek sal hê in Suid-Afrika. En dan is ons boonop tog te lief vir versiersuiker hier in sonnige Suid-Afrika. Dit gee ons ’n thrill om te hoor ons taaltjie is ’n amptelikte taal. So ons gaan eerder nog tale byvoeg by die 11, net om nog meer lippediens te verskaf.
U noem in die artikel dat "ander tale gedy". Kan u miskien vir my voorbeelde gee van hierdie tale wat so 'gedy'? Behalwe die Engelse taal? Dis beslis nie die Khoi- en San-tale wat so 'gedy' nie. Nie eens die sogenaamde "Afrikatale", soos isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Sepedi ens. nie (die regering is mos nou nie juis oorgretig om Afrikaans en Khoi- en San-tale as Afrika se tale erken nie). Nie een van ons tale gedy nie, behalwe Engels. Ons top 20 skole in die land is 60% Engels en 40% Afrikaans. Ons kon maar netsowel eerlik met onsself wees en Engels as ons enigste amptelike taal erken. Dit is wat ons deesdae is.
Naude werk vanaf die aanname dat gestandariseerde vorme van tale outomaties ouer moet wees as ongestandariseerde vorme. Dit is 'n verkeerde aanname. Engels het verskeie dialekte wat eienskappe bevat uit variante wat ouer is as gestandariseerde Engels. Dieselfde kom ook voor in die Arabiese taal. Ons het selfs hier in Suid-Afrika die geval dat 'n vorm Zulu gepraat was voordat die Zulu-identiteit ontwikkel het, en daar is steeds groepe wat 'n vorm van Zulu praat maar dit nie Zulu noem nie. Beteken dit hulle taal is nie ouer as die formele Zulu nie?
Dit bewys net weer dat voordat mens konstruktief te werk kan gaan, moet jy eers die reëls neerlê. Dit is hoekom elke stuk wetgewing ook bepaalde definisies van spesifieke woorde bevat. Om seker te maak almal verstaan dieselfde ding met dieselfde woord. Dieselfde geld vir die standarisering van 'n taal. Dit wil voorkom asof Standaardafrikaans vir sekere mense 'n vyand is wat beveg en ondermyn moet word. Terwyl die standaard-weergawe juis bepaalde moontlikhede vir 'n taal open. Die omgekeerde is ongelukkig ook waar. Daar is mense wat onverdraagsaam is teenoor Kaaps. En dit is ewe verkeerd.
Maar miskien moet ons begin om musikante te kry om ons studente in die linguistiek te onderrig. By ons nuwe universiteit kan Naude dan die sosiolinguistiek behartig en Steve Hofmeyr die semantiek. Ek stel voor ons kry vir Nataniel vir morfologie en sommer sintaksis ook. Hy is tog so netjiese mens. Jy kan hom altyd deur 'n ring trek en sy taal is net so skrander. En dan sal daar natuurlik vroue ook op die personeel verteenwoordig moet wees. Ek dink in die rigting van dalk Juanita du Plessis vir taalfilosofie. Fonologie, leksikografie en taaltegnologie sal eers op ys wees. Ons bied dan ook net 'n basiese eerstejaarskursus aan in die diskoers analise, wat ook deur Hofmeyr behartig sal word wanneer hy 'n tydjie het oor naweke. Daardie klasse sal ongelukkig op Zoom moet plaasvind.
Me Wyngaard skryf: “Nou word daar stellings gemaak dat Afrikaanssprekendes by sommige universiteite benadeel word.”
As dit so is dat Afrikaanse studente in sommige koshuise by Skelmbos verbied word om Afrikaans te praat, selfs met mekaar, dan word Afrikaansspekendes baie beslis benadeel, en daardie verbod kan alleen maar sy oorsprong in nydigheid hê.
Ons lees verder: “Hy vra in effek weer die vraag: wie se taal is Afrikaans nou eintlik?”
Nee, hy vra dit glad nie, hy sê dat dit belaglik is om te beweer dat Kaaps ‘n variant van Afrikaans is. Kaaps is inderdaad ‘n variant, net soos die Afrikaans waarmee ek grootgeword het ‘n variant is en ‘n oorlede vriend van my van die Noord-Kaap se Afrikaans ‘n variant was.
Snotjan se stellings oor Afrikaans is in die kol.
Die laaste deel van die meningstuk is belaglik. Ek sien nie debatte rondom my van wie die regte of watter vorm van Afrikaans praat nie. Ek sien nie Afrikaans sterf nie. Ek sien dat dit onderdruk word, ja. En ek sien dat die taal van die groot kolonialis in almal se kele afgedruk word, ja.
‘n Manifes vir Afrikaans - deur Johannes Comestor
Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat
ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.
https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/
Kaaps is geen bedreiging vir Afrikaans nie; inteendeel. Kaaps is ’n variant van Afrikaans en daar moet ook meer in Kaaps geskryf word. Ek verstaan ook nie lekker hoekom mense so sukkel om te aanvaar dat Afrikaans deur invloede vanuit drie kontinente gevorm is nie, naamlik Asië, Europa en Afrika. Al drie het ’n belangrike rol gespeel. Dit is ook die boodskap van die Taalmonument.