Lees die volgende twee bydraes ter agtergrond:
Jonathan Jansen: Afrikaanse taalaktivisme beduiwel gesprek oor moedertaalonderrig
Jonathan Jansen is korrek: Hy verstaan nie die "bohaai oor Afrikaans" nie
Merlyn van der Rheede reageer hier onder in haar persoonlike hoedanigheid:
Ek reageer graag op Jonathan Jansen se uitspraak tydens sy deelname aan ’n gesprek wat op 22 Februarie, die dag ná Internasionale Moedertaaldag, deur die Goethe-instituut in Johannesburg aangebied is.
Ek stem met hom saam “dat om oor moedertaal te praat, is om oor politiek en ras te praat”. Ek verskil egter met hom oor sy siening dat “die aandrang op moedertaalonderrig skynbaar nie iets is wat studente van vandag veel pla nie”. Vir die middelklas, ja sekerlik, want ons kan die beste skole en opleiding vir ons kinders bekostig. Hulle grondlegging is goed; tweetaligheid is dus geen probleem vir hulle nie.
My bekommernis is egter die massas – vir wie dit wel pla! Hoe kan ons hulle hul moedertaal ontsê? Daar is duisende leerders, veral bruin leerders in die Wes-Kaap, wat Afrikaanssprekend is. Dis hul identiteit en hul hartstaal. Dis die taal waarin hulle leer en wat hulle verstaan. Wat van hul grondwetlike mensereg om opvoeding in hul moedertaal te ontvang? Daar word nou vír hulle besluit dat hulle nie meer nodig het om in Afrikaans te leef nie.
Ons moet die politiek vir ’n oomblik van die taal skei en die realiteit in die gesig staar. Die realiteit is dat taal nie slegs ’n identiteitsmerker is nie, maar ook ’n onontgonne bron van ekonomiese, opvoedkundige, sosiale, kulturele en spirituele waarde. Dat taal misbruik word vir etnies-nasionalistiese doeleindes, is gewis, en Afrikaans was ongelukkig ’n slagoffer daarvan. Dit geld egter ook vir Engels, Duits, Frans, Zoeloe en vele ander tale wat deur eeue heen op mense afgedwing is vir koloniale, imperialistiese en nasionalistiese doeleindes. In ’n moderne wêreld speel taal egter ’n bemagtigingsrol, en in die Suid-Afrikaanse konteks, waarin ons menswaardigheid vooropstel en die ideale van ’n grondwetlike staat probeer verwesenlik, moet ons nie mense se vryhede beperk nie.
Vryheid in hierdie land van ons is duur gekoop en waar Afrikaans hierdie vryhede ondermyn en as struikelblok dien wat mense se vooruitgang belemmer, moet die nodige aanpassings gemaak word. Sulke aanpassings kan egter nie gereduseer word tot oppervlakkige en lukrake uitsprake nie. Dit moet gedryf word deur ’n ryke verskeidenheid van idees en strategieë wat mense ’n geleentheid tot ’n beter toekoms bied.
Die grootste gevaar in Suid-Afrika is om ’n essensialistiese benadering tot pluralisme te hê en die ryke verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse kulture en tale en die rol wat dit speel om mense se lewens te verryk, te misken. Ons moet tog waak teen die vervlakking van komplekse debatte en veralgemening.
- Merlyn van der Rheede skryf hierdie bydrae in haar persoonlike hoedanigheid.
- Lees ook:
Reaksie op Jonathan Jansen se bydraes by die onlangse gesprek by die Goethe-instituut
Kommentaar
Goed gestel Merlyn.
Is ons werklik vry met ‘n ANC-regering en akademici soos Jansen. Lyk nie vir my so nie.
Nee Sarie ons is nie vry nie, GLAD nie.