Jonathan Jansen is korrek: Hy verstaan nie die "bohaai oor Afrikaans" nie

  • 13

Foto van Jonathan Jansen: Facebook

Dit is raaiselagtig dat iemand van die Goethe Instituut in Johannesburg besluit het om Jonathan Jansen vir ’n Moedertaaldaggesprek te nooi. Die man se gedrag het immers in die onlangse verlede reeds bewys dat hy nie ingewikkelde en onvoltooide openbare gesprekke oor taal-etiek en taaldiversiteit in Suid-Afrika wil voer nie.

Jonathan Jansen is bekend vir sy uitstekende ontledings en vurige kritiek van Suid-Afrika se basiese- en hoëronderwysstelsels. Hy is ook bekend vir belangrike boeke oor die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke omgewing, soos We need to act (2013). Hierdie waarde wat hy tot die openbare diskoers toegevoeg het, is kosbaar en broodnodig in ’n onderwysstelsel wat effektief reeds in duie gestort het.

Maar Jansen is geen gesagsfiguur of kundige as dit by die Suid-Afrikaanse taalomgewing kom nie. In skrille kontras met sy gesaghebbende bydrae oor die onderwysomgewing, het hy op geen geleentheid nog ’n opbouende opmerking oor Suid-Afrikaanse veeltaligheid gemaak nie.

Tydens sy paneelbespreking aan die Goethe Instituut se geleentheid op Moedertaaldag (21 Februarie) het hy na bewering gesê dat hy nie die “angstigheid wat konserwatiewe Afrikaanssprekendes oor hul taal ervaar” verstaan nie.  

Hy het ook gesê dat hy nie met Afrikaans as ’n liefdevolle taal grootgeword het nie, en dat alle tale nie gelyk is nie, al “sit ons hier en maak so”.

Nou ja, kom ons ontleed hierdie soveelste geval van verwarrende Janseneske galbraking.

Eerstens is dit ’n groot jammerte dat ’n selfgenomineerde kritiese denker hom beroep op die gelaaide etiket “konserwatief” om Afrikaanssprekende mense se besorgdheid oor Afrikaans in Suid-Afrika te beskryf. Deur daardie woord in te gooi, plaas Jansen alle Afrikaans-besorgde Afrikaanssprekendes in een politieke boksie. Hy impliseer ook een van twee dinge: óf dat alle Afrikaanse taalbesorgdes deel is van die ou konserwatiewe etiket wat om die nekke van apartheidsverlangers gehang kan word óf dat alle Afrikaansbesorgdes nie “behoorlik” wil inkoop by ’n transformatief-grondwetlike nasionale orde nie.

Beide hierdie implikasies is onredelik. Die Afrikaanse taal huisves ’n ongelooflik breë spektrum van politieke oortuigings en kulturele identiteite. Om Afrikaans as steeds alleenlik in die laer van Afrikaners te beskou, is uit pas met die verwikkelinge en transformasies van Afrikaans as taalidentiteit oor die laaste 20 jaar. Jansen hoef net tien tree uit sy kantoor te stap en die jaarlikse Stellenbosse Woordfees by te woon om die ongelooflike swart, bruin en wit Afrikaanse kunstalent in die Adam Small-teater te sien. Hier praat ek onder andere van jong Afrikaanse akteurs soos Cantona James en die briljante regisseurs Mercy Kannemeyer en Herschelle Benjamin.

Jansen, ’n voorstander van vrye meningsuitdrukking en debat, kan hom gerus vergewis van die uiteenlopende en hoogs intelligente debatte in Afrikaanssprekende geledere verlede week oor FW de Klerk se uitlatings voor die parlement tydens die Staatsrede. Dit is tekenend van ’n selfbewuste en etiese taalomgewing, bevolk deur mense wat oor hul taal as ’n hoë funksie arena besorg is en nie deur apartheidsverlangende halsstarrige Boere nie.

Jansen kan ons met geen gesag probeer wysmaak dat die Afrikaanssprekende gemeenskap se besorgdheid oor hul taal ’n teken is van blinde konserwatisme of ’n weiering om saam te werk aan ons grondwetlike waardes nie. Inteendeel, taaldebatte oor Afrikaans manifesteer vandag telkens as ’n beginselvaste staatmaak op die Grondwet en dié se verbintenis tot ’n veeltalige Suid-Afrika, waar artikel 6-taalstatus deur staatsoptrede uitgebou moet word.

Daar is al ’n lang pad gekom met Afrikaans, en daar gaan nog harde bene gekou en ver gestap word. Jansen se onvermoë om ’n genuanseerde prentjie van die Afrikaanse gemeenskap te aanvaar is kortsigtig en bevooroordeeld, want hy versuim herhaaldelik en nougeset om sy posisie oor Afrikaanstaligheid in die lig van die feite te hersien.

Tweedens, anders as wat Jansen blykbaar nie verstaan nie, is daar genoeg rede tot kommer oor Afrikaans se rol in die openbare omgewing. In ’n land wat in sy Grondwet verbind staan tot veeltaligheid, is ons oormatig afhanklik van Engels. Dit word gedeeltelik gedryf deur die regerende party se affiniteit vir die taal wat diep die strugglegeskiedenis in strek.

Gelukkig is ons  ’n grondwetlik-demokratiese staat wat slegs aan die Grondwet verantwoordbaar is, nie aan die ANC se weergawe van vensterversiering-veeltaligheid nie. Afrikaans se amptelike status en wye verspreiding is genoeg om daarop aan te dring dat belastinggeld en regeringsinsette op ’n proaktiewe wyse vir haar sprekers se taalbelange aangewend word. Die Grondwet verskans moedertaalonderrig op skoolvlak en maak ruimte daarvoor op tersiêre vlak. Regeringskommunikasie, navorsing, joernalistiek en plekname moet in ’n veelheid van amptelike tale voorsien word en sodoende aan taalgemeenskappe status gee.

Jansen se aandrang op Engels mis blykbaar die gevaarlike bevoorregting wat hierdie taal weens die feitlik wêreldwye Brits-koloniale era geniet het, en waarvan hierdie taaloorheersing steeds voortbestaan as moderne Anglokapitalisme. Hierdie oorheersende kapitaalorde het vernietigende uitwerkings op gemeenskappe oraloor deur ongebreidelde uitbuiting en roekelose beleggingspeletjies met slegte skuld, soos die finansiële krisis van 2008 ons geleer het. Dit is daarom verstommend dat Jansen die vermetelheid het om by die Goethe Instituut te beweer dat wit Afrikaanse studente glo vir hom sê: “Nee man Prof, praat net Engels.” Dit is laakbaar dat Jansen hierdie “voorval” as iets positiefs beskou. Binne die samehang van sy houding oor Afrikaans kan die enigste verklaring wees dat hy in ’n toekoms glo waar Afrikaans, soos in sy weergawe van taalaanwending deur ’n Kovsie-koshuis in 2013, slegs vir informele openbare gebruik gereserveer word terwyl Engels die amptelike en formele ruimtes vul.

Indien mens Jansen se bewering met ’n knippie sout neem, dan is die storie ’n stuk infame propaganda. Sou ’n Afrikaanse student so iets aan hom geuiter het, is dit bloot tekenend van die gevolge van Anglokapitalisme: dat mense geen werklike keuse oor taal het nie, want inheemse bates soos tale en kultuurgebruike word voor die voet geslag ter wille van ’n aggressiewe hegemoniese Engelstalige wêreldstandaard. Soos sy werkgewer, die Universiteit Stellenbosch, koop ook Jansen met smaak hierby in:

No matter what politicians might say about indigenous education, or PanSALB about language rights, black parents make the correct calculation that the entire economy is organised on English terms and therefore the chances of success are much greater in the colonial language. (Percy Maneshik-gedenklesing 2013)

Laastens bespreek ek Jansen se bewering dat die indruk dat tale gelyk is, ’n onwaarheid is wat ons onsself vertel. Indien hy bedoel dat tale dalk grondwetlik en dus formeel gelyk geag word, maar dit in wese weens ons koloniale en apartheidsverlede nie is nie as gevolg van die voortrekkery van Afrikaans en Engels, het hy wel ’n punt beet. Dit beteken egter nie hy kan eis dat Afrikaans uit openbare ruimtes moet verdwyn ten gunste van algehele Engels nie, omdat dit die rasionaal van postapartheid taalregstelling belaglik sal maak. Vervanging van een bevoorregte taal met ’n ander is onsinnig!

Indien hy bedoel dat tale nie in wese gelyk is nie, wonder ek nie eens watter taal hy meen inherent beter is nie. In die samehang van sy uitsprake is dit beslis Engels. In welke geval dit van Jonathan Jansen niks meer as ’n inkoper van globale Engelse kolonialiteit maak nie; ’n askari vir voortgesette Engelsheid wat ’n heimlike afkeer van inheemstaligheid het omdat die postkoloniale hegemonie dit van hom verwag – en hom boonop daarvoor eer en beloon.

Die Afrikaanssprekende gemeenskap behoort in ’n verdere daad van samewerking hierdie man se taalverwante uitsprake te kritiseer. In ons politieke landskap van windlawaaiers is die skrywer Jonathan Jansen, wat preek vir empatie en ’n rykheid van kulturele ervaringe in Letters to my children, toe net nog ’n leë kruik.

Lees ook

Jonathan Jansen: Afrikaanse taalaktivisme beduiwel gesprek oor moedertaalonderrig

  • 13

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Mens kan volstaan met hierdie gepaste uitdrukking van die skrywer wat op die professor van toepassing gemaak kan word: "Jonathan Jansen is inderdaad niks meer as ’n inkoper van globale Engelse kolonialiteit nie; ’n askari vir voortgesette Engelsheid."

    En dan: "In ons politieke landskap van windlawaaiers is die skrywer Jonathan Jansen, wat preek vir empatie en ’n rykheid van kulturele ervaringe in Letters to my children, toe net nog ’n leë kruik." Kras dalk maar deur die Prof se toedoen, naby aaan die kol.

    Dit is verseker ook so (soos die skrywer tereg opmerk) dat daar ’n lang pad gekom is met Afrikaans en dat nog harde bene gekou en ver gestap gaan word. Ons is geensins volmaak met al die antwoorde oor die pad vorentoe nie. Ons gee ook nie voor dat alle Afrikaanses dieselfde dink en dieselfde voel oor hulle taal nie. Ook polities is daar verskille maar met inagneming van hierdie verskille, is ons is bome met vrugte van dieselfde boord aan die suidpunt van Afrika. Ons sal mekaar hupstote moet gee, rem en ook dra soos die behoefte bestaan. Wat 'n voorreg om op te kan staan vir dit wat belangrik is.

  • Johannes Comestor

    Diegene wat met Jansen se uitlatings bekend is, weet dat een van sy truuks is om onkontroleerbare insidente uit te dink wat sy standpunt ondersteun.

  • Ons verstaan ook nie sy gesplete tong en sy afsin in die Afrikaner nie. Miskien het hy 'n minderwaardigheidskompleks wat hy tenspyte van al sy grade en voordele wat die Nuwe SA vir hom gebring het nie, nie kan afskud nie. Om 'n bietjie nedergheid aan te leer sal dalk help.

  • Dietloff van der Berg

    Iemand wat sulke onsin kwyt raak "Taal kom saam met ras, en die twee kan nie geskei word nie." kan 'n mens regtig nie ernstig opneem nie.

  • "Omdat Afrikaans so lank dominant in Suid-Afrika was, heers daar ’n eksistensiële vrees onder baie sprekers dat die taal sal uitsterf. Taal kom saam met ras, en die twee kan nie geskei word nie.”
    Ek stem saam.

  • Francois Verster

    Jansen (ook bekend as "Isjydaaiprofessor :-)) het inderdaad al uitstekende kommentare oor die onderwys en 'n paar ander kwessies gelug. Dit is net jammer sy geloofwaardigheid as akademikus is daarmee heen. Hy sal nooit weer onder krities-denkende Afrikaners - en ek go 'n hele paar ander ook - as gesaghebbend, of eens eerlik, beskou word nie. En hy het daarna gemaak, niemand anders kan die blaam kry nie. Hy kan egter nog beduidende bydraes maak op veral die onderwysgebied. Hopelik fokus hy daarop.

  • Hannatjie Vorster

    Met al die opstand teen kolonialisme is die innige liefdesverhouding met Engels, die groot koloniale taal vir my onverstaanbaar. Die persepsie bestaan nog dat jy IETS is as jy Engels alles Engels voorstaan. Dankie vir jou bydrae Frederik.

  • Taal kom met ras? Wat is Engels se ras? En Spaans se ras?
    Taal kom met gevoel, met hart, met houding, met klas, met identiteit, met emosie, met siel.

  • R. van Druten

    The Afrikaner, with many decades of struggle and sacrifice to find a place to take root and prosper resorted to a bit of social engineering by ringfencing his aspirations in the hope of keeping any further onslaught at arms length. That's human nature and so the system went ballistic with the entire world giving it a definite thumbs down. The Afrikaner is my favourite South African, and with maximum hindsight I'd sure not say warts and all. Gert is absolutely right with his short description of Afrikaans as a language. Inextricably linked as it is to a very special group of folk, for whom I've much respect and hope that eventually they'll all rise way above the absurd vilification faced from so many who have little idea of the real guts and gumption Afrikaners have. Frankly, the longer I live the easier it is to understand those who chose partition, rather than the very clear abandonment of standards and order in a once proud country. There should be a hallowed space for the collective to regain its direction, pride, hope, and so much more wrenched from the soul Gert speaks about.
    So there, never thought I'd ever say that so blatantly, but it's a very true reflection of my state of mind after twenty five or so years of immense disappointment watching the country fracture. Perhaps I'll feel better tomorrow, because as sure as Godzilla made little green apples I'm suffering from cognitive dissonance here in SA in much the same way as millions of Jews felt in the run-up to the holocaust. Which way to turn?, or rather just sit and wait it out until the proletariat rise and revolt with real purpose. Then run for cover, if it's still possible.

  • Theodorus du Plessis

    Dalk moet ons begin ag slaan op Max du Preez se voorstel omtrent onse Julius en sy Rooikappiebende - waarom bly dekking verleen aan openbare figure wat nie werklik meer ’n bydrae wil of kan maak nie? Frederik Dudolph van Dyk se nugter ontleding van die jongste stormram bydrae tot ons komplekse taalgesprek in Suid-Afrika bevestig Max se wyse raad.

  • Nou hoe lank gaan ons nog aan die man se obskure sotlike uitlatings blootgestel word. Ek gaan my nie verder verwerdig om enigsins 'n relaas oor die man te lewer nie. Sy skip is verby, oor die horison en hy is naarstigtelik besig om aandag te soek. Onvolwasse optrede.

  • Ronee Robinson

    Danksy hierdie man Jansen, voel ek myself bevry. Ek dring aan, soos hy, om die taal van my voorkeur te praat in Stellenbosch. So, Jansen, sorg dat jou kinders, geskool in imperialistiese eentaligheid, nie op my pad kom nie. As klant praat ek Afrikaans (dis nou tensy ek ’n Zimbabwean teekom, of ’n Kongolees (Frans) ens.) Maar jou kinders sal met my Afrikaans praat of ek laat hulle afdank. (verskoning, ek kry nie die aksente gedoen nie.) En as ek merk dat hulle Afrikaanssprekende mense (van enige kleur) met disrespek behandel, laat ek hulle dadelik aankla.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top