Jonathan Jansen: Afrikaanse taalaktivisme beduiwel gesprek oor moedertaalonderrig

  • 10

“Om oor moedertaal te praat, is om oor politiek en ras te praat,” sê Jonathan Jansen aan die begin van ’n paneelbespreking oor die relevansie van moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

Jonathan Jansen, Makhosi Khoza, Samia Chasi en Karien Brits praat oor die relevansie van moedertaalonderrig by die Goethe-Institut in Johannesburg. (Foto: Anthony Dalton)

Jansen het deelgeneem aan ’n gesprek wat op 22 Februarie, die dag ná Internasionale Moedertaaldag, deur die Goethe-Institut in Johannesburg aangebied is. Saam met hom op die paneel was die skrywer en voormalige politikus, Makhosi Khoza, en Karien Brits, deeltydse dosent aan die Universiteit van Johannesburg en die ATKV se Bestuurder: Taal. Die bespreking is gelei deur Samia Chasi, strategie-adviseur vir die Internasionale Opvoedkunde-vereniging van Suid-Afrika (IEASA).

Jansen se boodskap aan Afrikaanssprekendes wat ’n gesprek oor die moedertaal-kwessie wil voer, is ondubbelsinnig: Die ongelykhede in Suid-Afrika kan nie geïgnoreer word nie, en daar is nie plek vir ’n “etnies-nasionalistiese koors” aan die gesprekstafel nie. Afrikaans se geskiedenis van onderdrukking en die taal se bevoorregting deur apartheid plaas dié taal saam met Engels op ongelyke voet teenoor swart inheemse tale.

Jansen, wat Engels grootgeword het, sê hy verstaan nie sommige Afrikaanse mense se angs oor hul moedertaal nie. “Taal is daar om geniet te word, soos wat mense hul kinders en kleinkinders moet geniet.” Hy sê hy het nooit Afrikaans as ’n liefdevolle taal onder wit mense ervaar nie. Vir hom was dit altyd ’n taal van bevele, baasskap en vrees. Toe hy dekaan by Tukkies geword het, het sy siening versag.

Die aandrang op moedertaalonderrig is skynbaar nie iets wat studente van vandag veel pla nie. “Die meeste Afrikaanse studente met wie ek te doen kry, gee nie ’n duit om oor in watter taal hulle hul opvoeding ontvang nie,” sê Jansen. “Dit maak Afrikaans as taal vry om na behore geniet te word.”

Nie alle tale is gelyk nie, herinner hy die gehoor. Engels en Afrikaans se bevoorregting is vir dekades lank in amptelike strukture ingebed, en in die proses is swart inheemse tale gemarginaliseer. “Die taalkwessie is meer as ’n linguistiese aangeleentheid; dit is ’n politieke aangeleentheid. Omdat Afrikaans so lank dominant in Suid-Afrika was, heers daar ’n eksistensiële vrees onder baie sprekers dat die taal sal uitsterf. Taal kom saam met ras, en die twee kan nie geskei word nie.”

Oor die ongelykheid van tale in Suid-Afrika het Makhosi Khoza lank navorsing gedoen. Vir haar is dit belangrik dat mense besef dat taal nie net oor kommunikasie gaan nie, maar oor hoe ’n mens die wêreld interpreteer. Sy is passievol daaroor dat inheemse swart tale in die land behoorlik in die opvoedkunde-struktuur ingebou moet word.

Khoza het begrip daarvoor dat swart middelklas-ouers hulle kinders in goeie Engelse skole wil plaas. “Geen ouer wil hulle kinders laat leer in ’n moedertaal as daardie taal volgens ’n defektiewe kolonialistiese ontwerp onderrig word nie.” Die manier waarop isiZulu op skool vir kinders geleer word, is volgens Europese onderrigmetodes ontwikkel. By die onderrig van swart tale ontbreek die patrone om wiskundige begrippe te verstaan en behoorlik te ontgin. “Inheemse tale sal dus herontwerp moet word sodat die verbintenis met die inherente wiskundige ingesteldheid van dié tale gevestig kan word,” sê sy.

’n Mens hoef net na ’n Engels-isiZulu-woordeboek te kyk om te sien hoe onvoldoende die Europese metodes is. “As jy byvoorbeeld die woord ibala opsoek, kry jy dit nie onder I nie, maar onder B,” sê Khoza. “Engelse verklarings in woordeboeke vir swart tale is beperk en dui byvoorbeeld nie al die betekenisonderskeidings volgens die naamwoordgroeperings van swart tale aan nie. Ook is daar geen waardering of respek vir die nuanses van die gebruik van klinkers in swart tale nie.”

Al die sprekers is dit eens dat moedertaalonderrig onontbeerlik is vir kinders in die vroeë onderrigfase. Makhosi Khoza gee toe dat Engels inderdaad geleenthede wêreldwyd ontsluit, maar dat Suid-Afrikaners baie goed moet verstaan dat taal vir baie lank as onderdrukkingsmeganisme op die kontinent gebruik is. En Suid-Afrika betaal steeds die prys daarvoor. “Die groot druipsyfer onder swart studente is as gevolg van die feit dat hulle met ’n agterstand begin, juis omdat die logika wat ingebed is in die taal waarin hulle moet leer, anders is as die logika wat inherent aan hul moedertaal of huistaal is.”

Karien Brits beklemtoon die belangrikheid van ’n leerdergesentreerde benadering wanneer moedertaal ter sprake kom. Sy waarsku dat ’n Eurosentriese siening van “een nasie, een taal” problematies vir Suid-Afrikaners is. Veeltaligheid is van uiterste belang, sê sy, want internasionalisering ontsluit kennis en burgerskap op globale skaal.

Maar Brits beland in die moeilikheid by Jansen en Khoza wanneer sy verwys na Afrikalande wat, nadat die koloniale juk afgegooi is, Europese tale as amptelike taal gekies het, soos Frans, Portugees en Engels. Dié stap, sê sy, was om stamgebondenheid (tribalism) teen te werk en kommunikasie in die breë te verseker.

Jansen sê dis nonsens en van alle waarheid ontbloot. Hy waarsku dat ’n gesprek oor stamgebondenheid ’n “gevaarlike narratief” is en dat dit niks anders as ’n mite onder Afrikaanssprekendes is nie. Europese tale as amptelike tale in Afrikalande is die gevolg van imperialisme wat op swart tale afgedwing is. Nog ’n mite onder veral verregse taalaktiviste, sê Jansen, is dat Afrikaans ’n Nederlandse taal is. “Dit is bullshit,” sê hy. “Afrikaans is nie ’n wit taal nie; dit behoort aan almal.”

“Stamgebondenheid het inderdaad niks met die saak te make nie,” vervolg Khoza. “Die feit is dat swart tale nooit as tale van uitnemendheid en prestige ontwikkel is nie.” Trouens, tale is deur die onderdrukkers as instrument vir stereotipering gebruik. “In Afrika,” sê sy, “is 90% van mense uitgesluit juis omdat hulle nie die amptelike taal van hulle land behoorlik kan praat nie. Vir dinge om reg te kom, moet die Eurosentriese logika eie aan Engels en Afrikaans vervang word met die logika van inheemse swart tale.”

Jonathan Jansen en Makhosi Khoza aan die woord. (Foto: Anthony Dalton)

Al die sprekers is dit eens dat kinders moedertaalonderrig moet ontvang, veral in die vroegste fase – van graad R tot graad 3 of 4. Ideaal gesproke behoort dit verpligtend in dié fase te wees, en daarná kan oorgeslaan word na ander tale. Volgens Khoza behoort alle leerders verplig te word om tot in matriek ’n swart taal as vak te neem. Dit is ’n voorwaarde vir versoening in Suid-Afrika.

Maar ons leef nie in ’n perfekte wêreld nie, herinner Jansen. “Soos die situasie nou staan, is die probleem dat net wit Afrikaanse en Engelse kinders by moedertaalonderrig baat. Vir swart kinders in die algemeen geld die voordele nie. Navorsing toon dat kinders wat op skool sukkel, sleg geleer word, en nie omdat hulle onderrig in ’n ander taal as hul moedertaal ontvang nie. En die vraag is natuurlik: Waar gaan al die goed gekwalifiseerde onderwysers wat die land nodig het vandaan kom?”

Die hoë druipsyfer onder swart studente, sê Khoza, moet toegeskryf word aan die feit dat hulle met ’n agterstand begin. “Engels het mense van hul identiteit beroof. As ons Engels as globale taal gaan hê, gaan dit ons nie gelyk maak nie. Sprekers van swart Afrikatale gaan steeds uitgesluit bly. Dit gaan hier om ’n sielkundige oorwinning wat koloniale en imperialistiese magte oor swart mense behaal het, en dit is iets waarvan swart sprekers genees moet word.” Taal staan volgens Khoza sentraal in dié genesingsproses.

Maar alhoewel moedertaalonderrig van kardinale belang is, is massiewe investering in skole en die opleiding van onderwysers nodig om die speelveld gelyk te maak. Die kanse dat dit sal gebeur, sê Jansen, is onwaarskynlik omdat die politieke wil daarvoor ontbreek. Tans is daar nie ’n aptyt vir die kragdadigheid waarmee Afrikaners moedertaalonderrig tydens apartheid in die amptelike opvoedkundestelsel opgeneem en gevestig het nie.

Intussen maak die swart middelklas opvoedingskeuses ten gunste van pro-Europese tale. “Geen swart ouer dring aan op moedertaalonderrig nie,” sê Jansen. Hy dink dié ouers is verkeerd, maar dit is nou eenmaal die keuse wat hulle maak. Wanneer dit by werksoektyd kom, is die vraag onder arm mense wat moedertaalonderrig ontvang het: “My fok, wat doen ek nou? Die hele wêreld soek my CV in Engels!”

Khoza stem saam met Jansen dat die uitbou en ontwikkeling van moedertale in Suid-Afrika nie ten koste van die ekonomiese infrastruktuurontwikkeling mag plaasvind nie. Daarvoor is die basiese behoeftes van Suid-Afrikaners eenvoudig oorweldigend.

Ten slotte waarsku Jansen teen Afrikaanse mense wat progressief klink oor die bevordering van moedertale, veral wanneer hulle moedertaalgebruik onder swart sprekers aanmoedig. “Dit is maar net ’n manier om mense terug te druk in hul ‘tribalism’ en sodoende koloniale beheer te verleng.”

Jansen werk tans aan ’n boek wat in Junie 2020 verskyn, waarin die soeklig op ongelykhede in die onderwysstelsel val. Die boek fokus onder meer op die situasie van bevoorregte skole, veral in die suidelike voorstede van Kaapstad.

Vanjaar het die Verenigde Nasies Internasionale Moedertaaldag vir die 20ste keer gevier. Tydens haar inleiding tot die paneelbespreking het Samia Chasi die volgende statistieke aangehaal: Daar is ongeveer 6 000 tale wêreldwyd, waarvan sowat 43% die gevaar loop om uit te sterf. Bykans 400 van dié tale is in amptelike opvoedkundestrukture opgeneem.

In Suid-Afrika is die moedertaal-kwessie ongetwyfeld ’n emosionele affêre, want soos Jonathan Jansen uitwys, is rassepolitiek die fondament waarop dié gesprek gevoer word. Baie water moet nog in die oseaan vloei voordat gespreksgenote mekaar om die tafel gaan vind. En plek vir enige vorm van “kragdadigheid” deur taalaktiviste, waarsku Jansen, is daar nie.

Lees ook

Jonathan Jansen is korrek: Hy verstaan nie die "bohaai oor Afrikaans" nie

  • 10

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    In die artikel hierbo staan: "Jansen, wat Engels grootgeword het, sê hy verstaan nie sommige Afrikaanse mense se angs oor hul moedertaal nie."

    Dis basies op hierdie punt waar mens Jansen gelyk kan gee. Hy VERSTAAN nie! Glo nie hy het, of sal ooit verstaan nie. Terloops geagte Professor, daar's geen angs nie. Net 'n sterk, vasberade wil wat u ook nie sal verstaan nie!

    Gevolglik behoort mens nie verder notisie van die Proffie te neem nie. Hy dra Afrikaans nie op die hart nie en het ook geen voorneme om dit te doen nie. Hy's wel iemand wat geredelik beskikbaar is om hom oor alles en nog wat uit te laat. As hy egter "slae" kry soos onlangs met die dame in die boekwinkel, is hy fyngevoelig en raak ongevraagde onsinnighede kwyt. Speel selfs martelaar as dit hom pas.

    Gelukkig is daar ander in dieselfde artikel wat dinge in perspektief plaas en by die feite probeer hou.

  • Dis jammer dat die geleerde professor hom so weerspreek. Die een oomblik het taal en ras dieselfde grense en dan weer behoort Afrikaans aan almal. Ek stel voor hy gaan lees 'n paar paleontologies/antropologiese navorsingstukke... mens kan nie noodwendig die taal wat mense gepraat het uit hulle gene of selfs hulle materiële kultuur aflei nie. Vandag nog het wie watter taal praat veel meer te doen met politieke dominansie as met etnisiteit en kultuur.
    As wit Afrikaner omhels ek die Afrikaans wat my Griekwa-buurman praat. En ek het geen vrees dat my taal sal uitsterf solank my Kaapse vriende dit met genot en kreatiwiteit aanhou praat nie. Wat my wel tot onrus stem is dat een amptelik taal afgetakel, aangeval en verfoei word en die ander nie ontwikkel word nie. Wat 'n val-val situasie. Almal verloor.
    Dis tyd dat prof Jansen sy stywe politieke nek bietjie begin draai en vuur maak onder die gewilliges en kundiges sodat die ander nege pragtige tale verhef kan word tot skooltale, wiskunde tale. Dis bog en van alle waarheid ontbloot dat dít 'n kolonialistiese slenter is. Hoe kan werklike gelyke status nog onderdrukking wees?

  • Jacques Willem De Wet

    Topaanhanger
    Jacques Willem De Wet Taal en ras loop hand aan hand beweer Jansen. So ek neem aan Jansen stem nie saam met die idee dat daar nie so iets soos ras is nie. Jansen baseer 'n groot deel van sy betoog op hoe bevoorreg Afrikaans in die verlede behandel was. Die man is oningelig, Afrikaans het maar nog altyd aan die agtertiet gesuig en deesdae, met mense soos Jansen se houding, word Afrikaans doelbewus gejag en afgejak. Jansen is toksies vir Afrikaans.

  • Taal en ras loop hand aan hand beweer Jansen. So ek neem aan Jansen stem nie saam met die idee dat daar nie so iets soos ras is nie. Jansen baseer 'n groot deel van sy betoog op hoe bevoorreg Afrikaans in die verlede behandel was. Die man is oningelig, Afrikaans het maar nog altyd aan die agtertiet gesuig en deesdae, met mense soos Jansen se houding, word Afrikaans doelbewus gejag en afgejak. Jansen is toksies vir Afrikaans.

  • Johannes Comestor

    Jansen se moedertaal is Afrikaans. Toe hy 'n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland was, was hy Afrikaanssprekend. Ek was daar om dit eerstehands waar te neem. Tydens sy studiejare in Amerika het hy Engelssprekend geword. Na sy terugkeer het hy begin verkondig dat sy eerste taal Engels is. Deesdae beweer hy dat sy moedertaal Engels is.

  • Hoe kan hulle so'n ou (wat Engels geword het) vra om aan 'n bespreking oor Afrikaans by te woon?

  • Barry Saayman

    Die onderhandelde 1993 ooreenkoms is dat betstaande taalregte en taalgebruik nie afgeskaal sal word nie.Sien artikels 3(9)(f), 32(c), en 107(2) van die tussentydse Grondwet, 1993. Mense wat nie hulle bindende sosiale kontrakte nakom nie is veragtelik en moet indien moontlik liefs vermy word.

    My waarneming is dat Engelsprekendes moedertaalonderrig beskou as 'n lisensie tot eentaligheid en hulle dink dit is hoe Afrikaanssprekendes ook oor moedertaalonderrig redeneer. Hulle is verkeerd. Ons het niks teen Engels nie en die kombinasie van Afrikaans eerste taal en Engels eerste addisionele taal het baie geslagte Afrikaanssprekendes goed gedien. Ons is tradisioneel trots tweetalig (sien artikel 137 van die Uniewet, 1909) en internasionaal kompeterend met toegang tot Amerikaanse, Hollandse en selfs Duitse lektuur/onderrig met 'n bietjie moeite. Ons lewe uitwaarts en akkommoderend in 'n multikulturele wêreld. Ek wonder of ons eentalige Engelse landgenote soos Prof Jansen dieselfde kan sê.

  • Sjoe, nie geweet Jonathan se taal was Afrikaans nie? Ons het almal taalgeskiedenisse vol houdings, afkeure, beywerings, en veranderings, alles baie sosiaal bepaal, volgens winde van verandering; afhangende van die pawiljoen vir wie jy speel, waar, wanneer, en ter wille van watter klas-, finansiele, en gemeenskapsvoordele...

  • Ronee Robinson

    Jansen is ’n imperialistiese eentalige. Hy dwing sy eentalige taalvoorkeur op die hele land af, met geen meegevoel vir die andere nie. Hy raak histeries aan enige suggestie van meertalige multikulturalisme. Domheid, stomheid, jou “denke” word afgedwing op ’n fascistiese wyse.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top