Reaksie op Jonathan Jansen se bydraes by die onlangse gesprek by die Goethe-instituut

  • 11

Mens kan Jonathan Jansen se waarskuwing by die Goethe-instituut (22 Februarie) oor “kragdadigheid” oor onderwyskwessies aan die kant van taalaktiviste heelhartig ondersteun. Dit is egter ironies dat hierdie boodskap van iemand kom wat juis weens sy eie vorm van “kragdadige” taalaktivisme bekendheid verwerf het. Ook dié wat Engels bevorder geld immers as “taalaktiviste”.

Jansen bied hier in wese ʼn argument vir die terugskaal van moedertaalonderrig (MTO) ná die grondslagfase. Hoewel hierdie standpunt in die verlede onkrities deur sommige akademici beaam is, is die onderbou daarvan aanvegbaar.

Anders as wat Jansen beweer, baat baie swart (bruin ingesluit) leerders wel by MTO en sal hulle erg daaronder ly indien hulle na Engels moet oorskakel. Jansen het egter die onwaarheid dat geen swart (bruin ingesluit) leerders by MTO baat nie, nodig om die kompleksiteit van onderwys tot ʼn eenvoudige wit-swart-digotomie te verskraal. Dit maak dit makliker om alles deur ʼn rassebril te lees.

Dat die swak prestasie van swart skole die gevolg is van swak onderrigkwaliteit eerder as taal, is net so ʼn wilde veralgemening. Daar is immers ʼn magdom studies wat op die teenoorgestelde of op ʼn meer genuanseerde samehang tussen taal en kwaliteit wys. Die oorvereenvoudiging maak dit egter makliker om die waarde van spesifiek Afrikaanse MTO te bevraagteken.

Jansen se hele konstruksie mik natuurlik op die argument dat “duur” wit MTO opgeoffer moet word vir beter kwaliteit vir almal deur Engels. QED, soos my Engelse onderwyser altyd gesê het, en mens kan reeds sien hoe die oë van sekere provinsiale ministers van onderwys begin blink.

Jansen het hier egter weer eens ʼn halwe waarheid beet. Omdat die owerhede blykbaar nog nie verstaan waaroor dit gaan nie, moet meer aandag inderdaad aan ʼn voordele-koste-ontleding van MTO en ander opsies gegee word. Intussen kan ons wel staatmaak op die navorsing van Wolff en Heugh en Unesco se waarskuwings oor die enorme verborge sosiale en ekonomiese koste van die mislukking van onderwyssisteme in Afrikalande as gevolg van die gebruik van koloniale voertale. Hiervolgens is die pragmatiese gebruik van inheemse tale meer koste-effektief en ʼn uitstekende belegging in die ekonomie.

Die afskaffing van bestaande, koste-effektiewe MTO sou nie net onsinnig wees nie, maar op ʼn kragdadige vorm van ekonomiese en kulturele sabotasie neerkom.

Jansen se bewering dat “geen swart (bruin ingesluit) ouer” op MTO aandring nie, is nog ʼn onwaardige wanvoorstelling wat daarop mik om ʼn rasseskeiding te demonstreer. Inderwaarheid kies duisende swart (bruin) ouers en leerders elke jaar Afrikaanse MTO. Daar is ook ʼn nuwe entoesiasme vir die gebruik van die ander inheemse tale in die onderwys tot op tersiêre vlak wat verswyg word.

Die wanvoorstelling oor ras en taalkeuse bevat nietemin ʼn sweempie waarheid in sy kern. Die toenemende hegemonie van Engels skep onsekerheid by inheemse sprekers oor die kulturele en ekonomiese waarde van hulle eie tale, Afrikaans inkluis. Hulle kies dan dikwels ook Engelse eentaligheid ten koste van die moedertaal. Dít is ʼn taalsosiologiese verskynsel en nie beperk tot Suid-Afrika nie, en een van die redes hoekom die Internasionale Jaar vir die Inheemse Tale geloods is.

Jansen se vermaning dat MTO-kinders benadeel word omdat die wêreld Engels verwag, druis in teen die internasionale konsensus en bevorder ʼn misleidende zero-som-digotomie tussen die eie taal en Engels. Daarmee bevorder hy ook die voortgesette geringskatting en marginalisering van die inheemse tale, die aftakeling van meertaligheid en die hegemonie van Engels.

Jansen gebruik retoriese tegnieke soos hiperbool om sy idees teen kritiek te beskerm. So ly Afrikaanssprekendes wat met hom oor die belangrikheid van MTO verskil, byvoorbeeld deur die bank aan ʼn “etnies-nasionalistiese koors” waarvoor daar geen plek aan die tafel is nie. Dit is nóg ʼn kru veralgemening, ʼn ongestaafde bewering wat mense met uiteenlopende motiverings, wêreldsbeskouings en opvattings as groep stigmatiseer. Dit blyk ook dat Jansen wil bepaal wie ʼn stem mag hê en wie nie.

ʼn Nóg leliker voorbeeld van rassestigmatisering is sy ongestaafde bewering dat die bevordering van MTO in inheemse tale deur Afrikaanssprekendes net ʼn manier is om mense terug te druk in hulle “tribalism” en om koloniale beheer te verleng. Met nét so min substansie sou ek Jansen daarvan kon beskuldig dat hy rasseverdeling à la Bell Pottinger aanhits en Engels bevorder om internasionale kapitaliste se beheer oor die ekonomie te beskerm.

Dit is maklik om dubbelsinnig te voel oor die waarde van Jansen se bydraes oor taal en onderwys. Sy stelling dat Afrikaans nie ʼn wit taal is nie en aan almal behoort, kan mens byvoorbeeld net verwelkom – hoewel hy terselfdertyd baie doen vir die voortgesette stigmatisering van die einste taal en sy sprekers. Mens kan ook met hom saamstem dat Engels ʼn belangrike en nuttige taal is – maar nie dat dit ten koste van die inheemse tale as die draers van ons kulturele verskeidenheid bevorder moet word nie.

Engelse hegemonie in ʼn meertalige land versterk noodwendig die posisie van die elite en marginaliseer terselfdertyd diegene wat die taal nie beheers nie, ʼn sosiologiese werklikheid wat skynbaar by hom verbygaan.  

Jansen se voorskriftelikheid en retoriese tegnieke vertroebel noodwendig die gesprek. Hy sorg daarvoor dat ons oor beuselagtighede stry pleks van konstruktief oor oplossings vir werklik moeilike probleme in die onderwys te praat. Dit sluit in kwessies soos die hantering van meertaligheid in klasse, onderwysers en leerders wat nie die onderrigtaal beheers nie, hoe om skakels tussen ras, taal en ongelykheid te hanteer, en baie meer.

Sy grootste bydrae tot ʼn reeds moeilike gesprek is dus dat hy dit nog moeiliker maak.

Lees die volgende twee bydraes ter agtergrond:

Jonathan Jansen: Afrikaanse taalaktivisme beduiwel gesprek oor moedertaalonderrig

Jonathan Jansen is korrek: Hy verstaan nie die "bohaai oor Afrikaans" nie

 

  • Lees ook:

Die vryheid van jou moedertaal

 

  • 11

Kommentaar

  • Watter taal in Suid-Afrika is die geskikte vir MTO en wie bepaal dit: statistiek en individuele voorkeur, of die propagating van ’n bepaalde taal? Wat van onderrig in ’n verteenwoordigende kultuur- historiese, geografie; met ander woorde dat mense hul vryheid van hul unieke sosiokulturele opset ongedwonge mag beoefen inaggenome die gelyke beregtiging van die 11 (of meer!) tale in ons land. Wie sê tog Ingels is die alfa en die omega van die akademiese tale? Wie op seedless aarde dwing ’n bepaalde narratief af die sogenaamde status quo-qui Vadis?

  • Die prof moet voortaan na verwys word as Professor Jonathan Johnson.
    Hy haat Afrikaans. Hy doen dit omdat hy Afrikaans onlosmaaklik met apartheid vereenselwig. Dit maak hom irrasioneel en onlosmaaklik bevooroordeeld oor MTO. Hy gebruik sy emosionele bevooroordeeldheid in sy argumenteer, en nie erkende wetendskaplike feite oor MTO nie.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Jansen speel vir die gallery van "polities korrektes" en hulle wat 'n ambivalente soort genot put uit skuld-komplekse. Dis juis by hierdie koor waar hy in aanvraag is, aftrek kry en geprys word vir sy "insig". Mense wat kopkrap oor sy stommighede word as die verstoktes en ongevoeligges uitgemaak wat sukkel om by die realiteite en uitdagings van die dag aan te pas. Dit werk nie meer nie tensy jy een van diegene is wat glo in fiksie en verkies dat feite jou nie verwar en uit jou "progressiewe" en "medemenslike" vriendekring stoot nie.

  • Jonathan se sienings nie van waarde
    nie. Eenogig, eentonig, eenselwig, eienaardig.
    Sy diensrekord vertel die verhaal van iemand wat homself beter(slimmer) as ander ag
    en hard probeer het om 'n daadwerklike verskil in Onderwys in SA te maak. Soos die nuutste poging... slaag hy nie sy eie toets nie.
    Alles in hierdie land van Hoop smag na deernisvolle respek vir eerlikheid en die belange van die ontheemdes.

  • Jansen en sy baas Wim de Villiers is besig om die geveg lag lag te wen... Of is dit nie so nie?
    Hul missile is om Afrikaanse skole in die Kaap te verengels. Dis tog Jansen se job by University of Stellenbosch waarvoor hy goeie belastinggeld, salaris verdien.

  • Avatar
    Stefaans vannie Kaap

    Proffie Taalrassis "Johnson" het hom nie weer eens in die voet geskiet nie, maar sommer in sy mond met sy gevolglike gemompel oor Afrikaanse Moedertaalonderrig! Dat 'n sogenaamde slim mens so dom kan dink, is buite my denkwyse! Ag nee, Johnnny, dis tyd dat jy of verhuis na 'n Engelstalige land (as daar so iets werklik bestaan) of stilweg wegraak en wegsterf! Veeltalige Suid-Afrika het jou anti-wit gekerm beslis nie nodig nie! Sela!

  • Avatar
    Ronee Robinson

    Jansen is totaal oorgegee aan sy emosies. Hy geniet geen geloofwaardigheid nie en ek is skaam om te bieg dat ek ooit enige respek vir hom gehad het.

  • Conrad Steenkamp se knap redenering ontmasker Jonathan Jansen as ’n aktivis met ’n vooropgestelde agenda (druk Afrikaans ondertoe) – en haal sy skynmasker as pedagoog af. Alles wel, maar dan moet Jansen sy hoogere pos by Stellenbosch prysgee en eerder onder sy ware vaandel as anti-Afrikaanse aktivis by ’n meer gepaste instelling gaan werk. As pedagoog het hy geen geloofwaardigheid nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top