Titel: Draalnoot vir 'n janfiskaal
Samesteller: Henry Jack Cloete
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780795800832
Koop Draalnoot vir 'n janfiskaal by Kalahari.com
Henry Jack Cloete vertel vir Jonathan Amid omtrent sy boek, sy musiek, en die kontroversiële tema van selfmoord.
Draalnoot is jou eerste roman, alhoewel jy al jare lank onder andere oor die (plaaslike) musiekbedryf skryf as resensent en ook een helfte van Die Skynmaagde is. Hoekom die besluit om die roman te skryf, en hoe lank ongeveer het die oorspronklike konsep van die roman geneem om vorm aan te neem?
Man, dis moeilik om te sê hoekom die besluit om die roman te skryf. Stel dit so: wat jy genoem het, is maar enkele van die goed waarmee ek my besig hou (hoewel ek meer ’n musiekverslaggewer en -onderhoudvoerder as resensent is), maar daar’s heelwat ander projekte ook, en dan voltyds werk. Verskillende idees en konsepte vind vrugbare grond in verskillende gebiede. Die heel, heel aanvanklike bou van die storie wat op die ou end Draalnoot sou word, het in draaiboekformaat geskied. Hoe meer die idee aan my gegroei het, en hoe meer dinge ek ontdek het wat ontgin kon word, hoe meer het dit duidelik geword dat dit wat my vermoëns en belangstelling betref, eerder as roman aangepak moet word. Ek is natuurlik nou bly dat dit in dié rigting gegroei het. So, om jou vraag te beantwoord, daar was nie werklik ’n besluit dat “’n roman” geskryf moet word nie, maar eerder hoe hierdie storie ten beste tot lewe sou kom. Dit het lank gevat – sjoe, ek dink van die heel eerste woord (in die draaiboekformaat) geskryf is tot nou het daar seker ongeveer drie jaar verloop. In sommige opsigte is dit frustrerend wanneer dit so lank vat – veral wanneer ’n mens nie werklik voltyds daaraan kan werk nie, weens ander verpligtinge wat ’n mens huur laat bekostig en so aan – maar aan die ander kant kry die storie kans om te marineer en te ontwikkel, en mens ontdek gedurig nuwe strate om te verken. As daardie eerste weergawes die laastes moes wees, sou dit aansienlik vrotter wees as wat dit op die ou end is.
Op bladsy 49 word fermata soos volg beskryf: “’n Noot wat langer aanhou as wat die notasie sou aandui. Die lengte van die volhoude noot word oorgelaat aan die diskresie van die dirigent of die kunstenaar wat dit uitvoer.” Hierdie definisie leen hom dan natuurlik ook uitstekend tot die beskouing van die roman as kunswerk en jou skeppingsrol as die outeur – en Draalnoot is om verskeie redes die tipe roman wat lesers lank sal bybly. Veral die vermenging van die absurde, komiese en groteske elemente met die meer alledaagse val ’n mens sterk op. Watter skrywers dien as inspirasie vir jou skryfwerk, en hoe groot was die inspirasie van Leroux Burroughs, Palahniuk en Pynchon, onder andere, vir die roman as geheel?
Ek’s bly jy het dit so ervaar – dis goeie nuus. En ja, ek het nog nie werklik aan die fermata en die beskouing van die roman in daardie opsig gedink nie, maar Joan Hambidge het in haar resensie genoem Draalnoot is “’n roman wat soos ’n Playstation-speletjie sy eie reëls neerlê.” Ek hou nogal daarvan, en dit sluit aan by hoe jy die fermata by die skryfproses uitbring. Maar jy vra oor die inspirasies … sjoe, daar’s baie. Interessant dat jy Palahniuk noem – ek is nogal ’n aanhanger. Daar’s nie noodwendig veel invloed van sy werk te bespeur in die roman nie, hoewel die wyse waarop hy “groteske elemente” soms as niegrotesk en weliswaar wenslik uitbeeld (hy’s natuurlik nie die enigste wat goed is hiermee nie … dalk wel een van die mees eksplisiete), was moontlik ’n inspirasie op ’n onderliggende vlak. Watter verdere inspirasies daar was … seker maar heelwat. Nie noodwendig invloed nie, maar inspirasie. Daar’s meer as een subtiele kopknik in die storie in die rigting van ’n inspirasie. Vonnegut, Douglas Adams, Hermann Hesse … ja, en so aan.

Hoe sou jy die roman vir die oopkop leser beskryf? Het jy enigsins met ’n teikenleser in jou agterkop geskryf?
Wat is ’n nie-oopkop leser? Hoe beskryf ’n mens iets vir ’n toekop leser, en bestaan daar so iets, is ’n moeiliker vraag. Hoewel, die verromantiseerde neiging dat “lees” sonder meer ’n mens se ervaringsveld en lewensbeskouing verbreed, is ook naïef. Dit gaan tog ook oor wát ’n mens lees – nie net die bekende nie. So ek sou graag vir enige leser wou sê: hierdie storie gaan nie bekend voel nie. Sommige mense gaan dit in daardie opsig betree en geniet, ander nie. So gaan dit maar.
Aansluitend daarby: nee, ’n teikenleser of -groep was nie werklik ter sprake nie. Al maatstaf in daardie opsig was seker maar of dit iets is wat ek sou geniet en waardeer as iemand anders dit geskryf het. Gelukkig is ek nie famous nie en is daar dus nie “verwagtinge” van ’n “teikenmark” nie. Dis nogal skrikwekkend dieselfde as die ietwat bitter dankbaarheid wat ek op hoërskool gevoel het jeens my relatiewe gebrek aan sportvermoëns.
Die roman bring op verskeie fassinerende wyses die dood en die kreatiewe of skeppingsdrang bymekaar. Hoe sien jy die verhouding tussen die twee? Wou jy nog altyd skryf, en hoe beïnvloed die skryf van lirieke en musikale komposisies jou wanner dit by die skryf van prosa kom?
Sonder om nou akademies te probeer klink, daardie dood- en vernietigingsdrang en die skep- en lewensdrang se noue (en gekompliseerde) verhouding met mekaar is nie juis iets wat ek opgetower het nie. Sigmund Freud was een van die manne wat gereken het innerlike konflik en dualiteit het te make met eros (skeppingsdrang) en thanatos (doodsdrang). Maar dis nou ’n oorvereenvoudiging … die punt wat ek wil maak, is ek hoop Draalnoot kon voortbou op, en ja, afbreek aan dit wat reeds gewonder en gepleeg is oor die konflik en samesmelting van die twee. Daardie konflik maak geheel en al sin en is tog so moeilik om te verstáán … en natuurlik onmoontlik om te tem. So dit is beide pynlik en genotlik om te sien hoe die mense in Draalnoot daarmee worstel sonder dat hulle dit eens besef.
Prosa, lirieke en musikale komposisies is heeltemal verskillend van mekaar, en tog nogal dieselfde. ’n Mens probeer basies ’n storie vertel – nie net woordeliks vertel met lirieke nie, maar ook met die vloei van die komposisie. So ek skat daar is ’n mate daarvan wat vertaal tot die skryf van ’n roman – dat daar ’n onderliggende vloei of wisselende trant is wat die speelveld skep vir die gebeure en dialoog. Dit was egter nie werklik ’n bewustelike oorweging nie – ek raai nou sommer.
Dit is veral die karakters van Daniël en Simon wat op afsonderlike wyses die betekenis van die fermata en musiek as tematiek uitlig. Hoe sou jy die skepping van musiek met die romanskryf-proses vergelyk? Watter een, indien dit die geval is, kom makliker?
|
Henry Jack Cloete
|
Nee, een is beslis nie makliker as die ander nie. Dit is moeilik om te beskryf. Sommige liedjies skaaf ’n mens maande aan voor dit soort van orraait klink, ander skryf jy in ’n middag en verander nooit weer daaraan nie, want dit wérk. Dit is moontlik ook so met hoofstukke, of beskrywings, of gedeeltes dialoog van ’n roman, maar uit die blote aard van die skeppingsproses neem dit fisiek langer om ’n roman te voltooi, so ek dink daar is waarskynlik meer heroorweging en nog heroorweging en twyfel betrokke. Dit is egter maar net my ervaring; dalk is daar mense wat ’n roman in ’n middag skryf en drie jaar neem om ’n goeie liedjie te voltooi. Dit sou my nie verstom nie.
Die karakter van Megan laat jou toe om die rol van die pers en hul etiese verpligtinge te fynkam. Watter uitdagings was daar om die moontlik sensasionele gegewens met die werklike verlies en trauma van sekere karakters te versoen?
Dit moet jy maar vir Megan vra! Maar as ek jou reg verstaan … ja, sommige karakters sterf op ietwat komiese wyse, ander gaan dood in ’n warboel wat ryp vir sensasionele beriggewing is, ander sterf glad nie. Moontlik is daardie versoeningselement (of gebrek daaraan) juis iets wat aangeraak word deur die storie – oorstimulasie, die onvermoë om by te hou met die hoofopskrifte en die “click-bait” wat gebulder word en hoe dieselfde dit keer op keer is, ensovoorts. Dan ook hoe die digitale leefwêreld en die fisieke leefwêreld inspeel op mekaar. Is die afsterwe van ’n geliefde maar net ’n ontydige “unfriend”? Dit is die soort dinge waaroor ek gewonder het terwyl die storie gemaak is en ook probeer aanraak het. So, om jou vraag te beantwoord, dalk was daar eerder ’n opsetlike uitdaging, of eerder aanmoediging, aan die leser om dit te probeer versoen en die oënskynlik teenstrydige elemente se verhouding met mekaar te oorweeg.
Hoe organies was die skep van die afsonderlike karakters in die roman – hoe het hulle (besonder diverse) stemme ontwikkel? Was dit ’n voorafgaande besluit dat jy tot so ’n groot mate met taal sou speel, en watter element in die roman het jou die meeste genot verskaf as woordwerker of die sterkste inspirasie gebied?
Ek wens eintlik in ’n klein mate die roman het nie ’n polisiebeampte en ’n joernalis onder die hoofkarakters gehad nie – dit voel so voor die hand liggend en soos iets wat dikwels gedoen word. Maar in Draalnoot se geval sou die storie ietwat leeg gewees het daarsonder. So nadat Daniël Roberts, die skepper en bestuurder van fermata.com, min of meer ontwikkel was, was Chris en Megan (en hul onderskeie motiverings in die verhaal) lekker om te verken. Simon was ’n betreklik laat byvoeging – aanvanklik het ek gedink ’n jong akademikus wat die affêre probeer ontleed, sou interessant wees, maar toe gebeur die ding van sy en Zolani se destydse verhouding en hy slaan ’n heel nuwe koers in. So dit was betreklik organies in die opsig dat ek nooit wou hê dit moes “die joernalis” en “die polisieman” ensovoorts wees nie – die klomp sukkel ordentlik met hul onderskeie bestaanskwessies, op (hopelik) verrassende wyses.
Kosie en Georg se dialoog met mekaar, met Simon en met ander karakters was beslis baie pret wat betref die woordspelings en effens argaïese taalgebruik, veral aangesien dit nie ooglopend by hul persoonlikhede pas nie. Daardie deel van die proses was ook redelik organies – ’n besliste of doelmatige taalspel was nie werklik die oorspronklike plan nie, nee. Dit het maar gebeur soos die karakters dit regverdig of genoop het. Gelukkig het veral Kosie en Georg nooit veel oorreding nodig gehad in dié opsig nie.

Watter druk is daar op jou om tot die mark toe te tree as debutant, en met ’n letterkundige werk wat vir alle praktiese doeleindes as “transgressief” of grensverskuiwend beskou kan word?
Sjoe, geen idee nie. Is daar in die algemeen druk op debuterende skrywers? Die druk wat ek ervaar het, was nie van die openbare aard nie, maar eerder intern: middelmatigheid sal nie deug nie; oorspronklikheid bo alles; en so aan.
Dit is dalk nie heeltemal relevant nie, maar ek het nogal ’n ding of twee geleer uit die Skynmaagde-projek. Voorheen was daar heelwat musiekpogings, toe ek veel jonger was, waarin daar dinge geskep is wat ons gereken het sou werk vir ’n mark, of sou geld maak, of wat ook al. En dit was nooit suksesvol nie. Die Skynmaagde was die eerste musikale projek waarby ek betrokke was waarin ons bloot gedoen het wat ons graag wou doen en wat vir ons vermaaklik, pret, stimulerend, uitdagend en interessant was en is. En ons het nou al op van die coolste verhoë in die land gespeel daarmee, iets wat nooit sou gebeur het as ons die trend probeer volg het of so iets nie. Ja, daar is baie mense wat dit nie vang nie en/of nie daarvan hou nie, maar so what.
So ja, ek skat daardie gewaarwording is in ’n mate oorgedra op die skryfpoging(s).
Jy openbaar ’n heerlike oor vir pittige en spitsvondige dialoog, en baie van die linguistiese kwinkslae het my aan A Clockwork Orange laat dink. Alhoewel dit met tye grusaam en donker is, is daar beslis ’n goue draad van galgehumor en ’n geknipoog vir die leser wat vir my baie plesier verskaf het. Hoe belangrik was humor vir jou gewees in die vertelling, en tot watter mate is die kreatiewe spel tussen skrywer en leser vir jou belangrik, beide as skrywer en as leser?
Ek sal sommer nou al bieg dat ek die boekweergawe van A Clockwork Orange ’n paar jaar gelede aangeskaf het en na die lees van die eerste bladsy besluit het om ’n glossary af te laai en byderhand te hou sodat ek kon verstaan wat de hel aangaan. Hopelik is Draalnoot nie heeltemal so ontoeganklik nie.
Humor is een van die essensiële eienskappe van die menslike ervaring (hoe ’n mens dit ook al sou definieer). Veral op ’n ironiese of selfs wrang wyse is dit maar een van die maniere waarop ons, of minstens ek, sin vind in die sinlose. Dit is dus maar natuurlik dat dit sou oorvloei na die vertelstyl van Draalnoot.
En ja, daar is beslis ’n wisselwerking tussen die teks en die leser wat aangemoedig word. ’n Mens mag nooit ’n leser onderskat nie. Om dinge op oorvereenvoudigde of oorverduidelikende wyse te vertel is nogal neerhalend, en van neerhalendheid is ek nie ’n aanhanger nie (moontlik omdat ek nie goeie rede het om neerhalend teenoor enigiemand te wees nie). Dit is ten minste hoe ek as leser dit soms ervaar. Van oogknippe is daar heelwat in Draalnoot – weer eens: sommiges sal dit geniet en sommiges sal nie, en dit is oukei.

Hoe moeilik was dit om ’n verhaal te vertel wat sy fondament in die selfmoord/selfdood het, maar terselfdertyd nie enigsins probeer om noodwendig antwoorde te bied nie? Was daar met die skryf/herskryf van die roman enige oomblikke waar jy aktief oor die leser se moontlike reaksie op die gegewe van ’n “selfmoordwebtuiste” met ’n kurator gewroeg het, of kon jy sonder die vrees van mislukking voortgaan?
Ek wil graag die tweede deel van jou vraag eerste beantwoord. Ja, uiteraard bring die bestaan van so ’n webwerf verskeie etiese kwessies na vore, en ek wou dit (met die toneel waar Daniël vroeg in die storie op die kletsprogram verskyn) so gou as moontlik opper en uit die weg ruim, sodat daar na die volgende vlak van oorweging en storieverloop aanbeweeg kon word. Ek dink die kletsprogram-aanbieder, Caroline, se reaksies is min of meer dit wat die standaard moreel-oorbewuste burger s’n sou wees (ondanks haar vlietende verliefdheid op Daniël). Of dit suksesvol of ’n mislukking was, weet ek nie, maar ek reken daardie onmiddellike walging wat sommige mense sou ervaar, is darem redelik deeglik hanteer. Van daar af moet die leser maar saamspeel, of nie.
Dan, die selfmoord/selfdood-kwessie: in Draalnoot verskyn dit wesenlik as ’n laaste uitweg in die soektog na egtheid, wat al hoe moeiliker word met die groei en reikwydte van die digitale leefwêreld (dalk is dit net nou meer opmerklik). Dit is hoe Daniël dit verkondig en bemark vir fermata.com, en dit is ook waarom die “pleërs” wat hul video’s oplaai in die algemeen so genotlik daarmee omgaan. Die storie is nie ’n “storie oor selfmoord” nie. Allermins. Daar is ander temas waarmee daar veel meer intens omgegaan word, al is die kwessie van selfdood altyd op die voorgrond of agtergrond, afhangende van die leser se perspektief. Daarom was daar nie werklik ’n drang om antwoorde te bied nie, want selfs al was dit ’n storie wat ’n intensiewe ondersoek na die verskynsel van selfdood was, dink ek nie daar sou konkrete antwoorde wees om te bied nie.
Hoe het jy die verskillende storielyne so gemaklik met mekaar versoen, en hoe het jy gepoog om die roman so geloofwaardig moontlik te hou, te midde van oomblikke van waansin en surrealisme? Ek moet vra: Hoe het die ACVV-tannies se rol in die storie tot stand gekom?!
Dit is goeie nuus dat jy die versoening as gemaklik ervaar het – ’n mens wonder maar of die spronge tussen die karakters se leefwêrelde “pas” met ’n storie soos dié.
Wat die geloofwaardigheid betref: dit het seker ’n bietjie te make met die benadering dat wat ook al die individu ervaar, in beginsel waardevol en betekenisvol is, maak nie saak of dit vir ’n buitestander bisar, surrealisties of simpel lyk nie. In daardie opsig was die elemente van surrealisme of waansin, soos byvoorbeeld Megan se besoek aan haar tuisdorp, nie te moeilik om te verbeel nie, aangesien dit geheel en al sin maak in terme van waar sy is in haar lewe, waarop sy fokus en wat sy – bewustelik of onbewustelik – agtergelaat het en hoe dít haar in die gat byt.
Die gewapende vleuel van die ACVV was ’n lukrake gedagte wat opgeduik het, nes die aanvanklike konsep wat op Draalnoot sou uitloop, en pleks van dit iewers anders in te werk het ek gereken hulle kan nogal ’n rol speel in Simon se sending … en ja, dit was pret om hulle verskyning te skep.
Dis moeilik om deesdae te ontsnap aan die greep wat die tegnologie op ons lewens het. Sonder om ooit te preek het Draalnoot baie indringende kommentaar te lewer op die verhouding tussen die virtuele en die werklike, en die tipes selfnarratiewe wat daar op die internet geskep word. Hoe voel jy oor die rol van tegnologie in jou eie lewe, en watter moontlikhede word daar vir hedendaagse skrywers geskep met die vryhede (maar ook beperkinge) van die aanlyn gemeenskap?
Sjoe, ek dink ons almal het kommentaar daarop te lewer, aangesien dit ons almal raak. Hoe ek self daaroor voel? Deelname en oorgawe is twee verskillende dinge, skat ek. Ek sal nie ontken dat ek die deelname geniet nie, maar die grense is so vaag dat gatslagtrappery altyd net ’n (virtuele) meter weg is.
Oor die vryhede en beperkinge van aanlyn gemeenskappe vir skrywers het ek toevallig ’n ruk terug vir LitNet se Poolshoogte ’n bydrae gelewer. Pleks van om dit nou alles te herhaal (want dit gaan lank vat), deel ek eerder die skakel – kyk hierdie bydrae getiteld “Call girls maak nie lekker ontbyt nie”: https://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-call-girls-maak-nie-lekker-ontbyt-nie.
Verskeie selfmoordruimtes, soos die Golden Gate-brug, die Van Stadensbrug en die Aokigahara-woud in Japan, word geaktiveer soos daar besin word oor die kultuur van selfdood. Was daar enige taboes waaroor jy liefs nie wou skryf nie, of fragmente van die geheel wat eenvoudig nie bevredigend wou integreer in die finale produk nie? Watter navorsing het die grootste deel van jou tyd in beslag geneem?
Aikonagara, ja, soos Chris Grobler sou sê. Oor taboes – nee wat, ek dink as ’n mens ’n ietwat gewaagde storie soos hierdie aanpak, moet jy álles as taboe beskou, of niks. Laasgenoemde was beter. Sekere verskynsels of gewoontes bestaan moontlik wat nie in die storie verskyn nie, maar dit is nie weens “taboe”-geid nie, eerder omdat ’n mens onmoontlik alle elemente kan betrek en omdat nie alle elemente noodwendig werk vir die storie nie.
Die navorsing wat ek gedoen het, was redelik on-the-go. Aanvanklik, toe die idee begin posvat het, het ek nagte en nagte deur op die internet spandeer op soek na relevante webwerwe of gevalle, of bloot sekere elemente wat bloot verdere navorsing sou noop. Die hele konsep van die fermata het byvoorbeeld betreklik laat onder my aandag beland, en dit was so perfek vir die storie dat verdere verkenning en oorweging bloot moes geskied.
Watter onlangse stories het jou in besonder geboei, verras of gewalg?
Met “stories” neem ek aan jy bedoel fiksiewerke of enige gepubliseerde stories … Wel, ek werk daagliks in die nuusmedia en wanneer dit die geval is, is daar nie veel wat ’n mens meer skok nie. Stories waarin kinders slagoffers is, skok my.
Fiksiewerke ... Weet jy, ek het op hoërskool Terry Pratchett probeer lees en om een of ander rede 'n onaangename ervaring daarmee gehad en nooit weer probeer nie. Tot my meisie my onlangs vriendelik verplig het om Good Omens oop te maak. Ek is mal daaroor. So dit is seker verrassend.
Wat kan ons volgende van jou as skrywer/musikant verwag?
Die aktiewe woord in daardie vraag is “volgende”, en daarom kan ek nie ’n bevestigbare antwoord bied nie. Dit hang af van baie dinge (meestal tyd), maar in een of ander volgorde sal nog ’n roman, ’n filmteks, ’n musical teks en ’n nuwe musiekprojek verskyn, solank ons leef. En dan nog goeters.

