Musiekonderhoud met Andries Bezuidenhout: “Elke Suid-Afrikaanse album behoort ’n hadeda iewers te hê”

  • 1

Die musikant, skrywer en kunstenaar Andries Bezuidenhout het pas sy derde solo-album, Onplaats, bekendgestel. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Foto van Andries Bezuidenhout: verskaf

Goeiedag, Andries. Hoe’s dinge?

Hallo Henry, ek’s bly ons kan praat! Dinge voel vreemd. Tipies sou mens mos nou ontmoet het vir ’n koffie of bier, maar hier praat ons van huis tot huis deur ons rekenaars. Hierdie hele drama met die pes is seker hoe dit voel om deur ’n hoofstuk in ’n geskiedenisboek te moet leef. Nie dat dit juis as ervaring nuut vir Suid-Afrikaners is nie – die meeste van ons geskiedenis was mos maar effe dramaties. Laat ons maar met hierdie skriftelike heen-en-weer begin, solank jy net nie vrae oor die sin van die lewe of die dood vra nie!

Ek sal my bes doen! Baie geluk met jou nuwe album, Onplaats. Dit is werklik ’n meesleurende album op soveel maniere … Storytelling soos mens dit selde deesdae hoor.

Dankie Henry. Ek’s bly jy kon dit darem deurluister. Ek hoop daar is darem genoeg om die ore oor ’n langer tydperk geïnteresseerd te hou. Vir my is dit die toets vir ’n album: as jy weer daarna wil luister en elke nou en dan daarna wil terugkeer. Ek hoop dis dáárdie tipe album, nie die tipe wat jy nooit weer optel as jy dit eers neergesit het nie.

Dit is ook jou derde solo-album. Wat wou jy graag met Onplaats doen wat jy nog nie op vorige albums of met ander musiekprojekte aangepak het nie?

Ek het die groot stap geneem om ’n liefdeslied op te neem. My vrees vir soetsappigheid is groter as my vrees vir die dood, so ek kon nog nooit so ver kom om oor die liefde te skryf nie. “Somer” is my eerste poging om daardie vrees te oorkom.

Musikaal gesproke sit die album tussen twee vure, omdat ek nog altyd ’n tipe gesplete persoonlikheid as musikant moes handhaaf. Daar’s Roof van die Brixton Moord & Roof Orkes en dan’s daar Andries as die solomusikant. Die een is ’n rocker en die ander een meer singer-songwriter, of dalk folksanger. Die orkes is al ’n tyd lank van die baan, ná die dood van Drikus Barnard, my medevocalist en die band se baskitaarspeler. Drikus was ’n liedjieskrywer van formaat en daar was ’n gemoedelike tipe kreatiewe kompetisie tussen die twee van ons. Ek het energie en inspirasie daaruit geput. Hy het ook my vorige solo-album opgeneem. Na Drikus se dood het dit my baie lank geneem om terug te keer studio toe. So hierdie is my eerste album sedert daardie skok. Wat musikale verwerkings betref is Onplaats waarskynlik my solo-album wat die naaste aan  ’n band se klank is. Ek het besluit om skop in die verwerkings te sit – meer Nick Cave saam met die Bad Seeds as daarsonder. Dis egter ook weer heel anders. Daar is meer bedeesde oomblikke, musikaal gesproke.

Iets wat miskien ook anders as vorige albums is, is dat ek meer sing. Dis nou teenoor mompel of grom. Ek het dit aanvanklik nie besef nie. Aan die einde van verlede jaar het Ockert Greeff, wat destyds die Brixton Moord & Roof Orkes saam met my begin het, uit Montreal kom kuier. Ons het besluit om sy besoek as ’n geleentheid te gebruik om ’n tipe eenmalige reünie-gig te doen, deels om Drikus te onthou. Ná een van ons repetisies ter voorbereiding het ons in Gerhard Barnard se agterplaas gebraai. Gerhard is Drikus se broer, wat ook as Kapelaan Pat Plank in die band bekendgestaan het, ons lead guitarist. Na genoeg biere het ek vir hulle die album gespeel soos dit toe geklink het – ’n tipe amper finale draft. Gerhard het heel verbaas opgemerk: “Maar jy sing dan! Amper soos Coenie de Villiers.” Hy’s reg, behalwe net dat ek nie so goed soos Coenie de Villiers sing nie. Ek dink ek was minder selfbewus met die opneemproses, omdat ek dit op my eie gedoen het. Ek kon meer met my stem eksperimenteer.

Tot hoe ’n mate is Onplaats dus vir jou ’n verkenning van nuwe grense, of is dit dalk eerder ’n voortsetting van die elemente waarby jy tuis voel? En wat sou daai elemente wees?

Gepraat van grense, ek probeer nog my hele lewe om uit Johannesburg en Pretoria te ontsnap en ek het dit uiteindelik reggekry – woon nou in ’n klein universiteitsdorpie genaamd Alice in die Oos-Kaap, op wat eens as die Oosgrens bekendgestaan het. Wat die temas betref is daar steeds karakters en plekke uit Johannesburg en Pretoria op Onplaats. Ek dink nou byvoorbeeld aan die laaste een op die album, oor Lukas op sy skaatsplank in Johannesburg. Dis my antwoord op Koos du Plessis se “Sprokie vir ’n stadskind”. Die regte Lukas is toevallig ook Koos du Plessis se kleinseun en hy speel keyboards op die album. Dan is daar ’n karakter genaamd Elvis du Preez wat in die nag deur Pretoria se strate stap. So op ’n manier verwerk ek nog waar ek vandaan kom – daardie twee stede wat Valiant Swart lank gelede Sodom en Gomorra genoem het. Wat die verkenning van nuwe grense betref kan ek dalk maar noem dat ek ’n meer landelike fokus het – ’n stasiedorp waarvan die stasie toegemaak is, maar ook iets soos “Tussen Platvoet en Stoompomp”, wat handel oor iemand se verlange na ’n plaas wat nie in werklikheid bestaan nie, oor die onmoontlikheid van ’n tuiskoms. O ja, en die liefdeslied.

Die omgewingsklanke wat saam met (of voor, of ná) die musiek gehoor word, is ook besonder lekker (en dan ook die onverwagse sound bytes!). In ’n mediaverklaring sê jy mense moet ook die landskappe kan hoor wat in die lirieke beskryf word. My vraag is, hoe het jy te werk gegaan om hierdie klanke vas te vang? Is dit soos ’n wildfotograaf wat ure en ure wag vir die perfekte kiekie, of het jy dit redelik maklik gevind om daardie klanke te vind wat die lirieke weerspieël? Of dalk selfs lirieke rondom die klanke wat jy onverwags gevind het, gebou? En hoe het jy geweet wanneer jy wel die regte klanke vasgevang het?

Voor ek met die opname begin het, het ek myself afgevra: Wat, benewens die feit dat ek in Afrikaans sing, maak dat hierdie album van hiér is, hier waar ek vandaan kom? Musikaal gesproke kon ek net sowel in die VSA of iewers in Noord-Europa wees. Singer-songwriter sonder ’n gehoor. Stem, akoestiese kitaar, baskitaar, drums. Vers, refrein, vers, refrein, brug, refrein. Elk ’n cliché. So wie saam met my sing is belangrik, en so ook wat jy in die agtergrond hoor. Dit verskuif geen grense nie, maar vir my is dit belangrik as baken vir waar die album vandaan kom. Die opneem van klanke uit die omgewing was een van die lekkerste prosesse van die opname, al moes ek deur ure se opnames sif.

Ek het ’n klankopnemer wat mense in die filmbedryf gebruik wat deesdae orals saam met my reis. Dis ongelooflike klankkwaliteit, in stereo. Met road trips hier deur die Oos-Kaap stop ek net so gereeld om klankgrepe op te neem as wat ek stilhou om foto’s te neem. Die meeste van die klankgrepe op die album kom van sulke toere af. Daar is ook klanke van Nieu-Bethesda, waar ek van die instrumente opgeneem het, asook van ’n plaas genaamd Lowlands langs die Groot Visrivier naby Cradock. Die grootste deel van die album is in ’n tydelike studio in Lowlands se ou herehuis opgeneem. Ek voel elke Suid-Afrikaanse album behoort ’n hadeda iewers te hê, anders is dit nie outentiek nie. Ek wil hê mense wat na die album luister moet iets hoor wat aan hulle bekend is, soos ’n suksesvolle landskapskildery wat die kyker aan ’n plek herinner wat hulle baie goed ken, al is dit dalk van ’n plek waar hulle nog nooit voorheen was nie.

Verder moet dit atmosfeer skep. Elvis stap in Pretoria se strate. Jy hoor die krieke. Jy hoor karre wat stadig verbyry. Als is nie pluis nie. Iets gaan met Elvis gebeur. Maar jy hoor ook hoe Simon Nkoli in die agtergrond praat as teenpool vir wat met Elvis gebeur. Anders gaan Elvis se storie net oor slagoffers, nie oor mense wat dinge verander nie. So die agtergrondklanke is soms belangrik om ’n teenstrydige betekenis te aktiveer. Elvis se krieke het ek toevallig op ’n mistige, spookagtige aand in Oos-Londen opgeneem. Ek moet egter noem dat ons probeer het om die agtergrondklanke subtiel te hou – dit is aanvullend tot die musiek; dit moet nie oordonder nie.

Luidens dieselfde mediaverklaring is die album tussen September 2018 en April 2020 opgeneem. Eerstens: April 2020 is nogals onlangs vir ’n opname (ek tik hierdie vrae in Mei), met die album wat nou voltooi en vrygestel is! Was daar ’n haas of ’n hunkering om dit af te handel en vry te stel, of hoe het dinge alles so bymekaargekom?

Jy’t ’n stip oog vir detail! Die rede daarvoor is die feit dat Willem Möller, wat die finale meng en meester behartig het, nog ekstra kitaar by een of twee van die tracks bygevoeg het. Als het nog nie mooi in plek geval met een van die tracks nie – ek kan dalk maar noem watter een – dis “Tussen Platvoet en Stoompomp”. Omdat dit die enigste een is waarvoor ek nie die wysie geskryf het nie (dis Herman van Veen s’n), het ek vreeslik gesukkel om dit klankmatig by die res van die album te laat aansluit. Willem is ’n musikale towenaar, so hy’t dit tjoeftjaf reggeruk met ’n ekstra kitaar hook. Nou’s dit al op twee radiostasies se speellyste.

Tweedens: Dit is nogal ’n lang opnameproses – min of meer ’n jaar en ’n half. Het jy snitte opgeneem soos jy hulle voltooi het, of was daar van die begin af ’n groter plan in gedagte in terme van hoe die snitte inmekaar sal vloei of op mekaar sal volg? Wat sou jy as die goue draad in die album bestempel, indien daar een is?

Al 12 tracks was reeds geskryf toe ek begin opneem het. Oor ’n goue draad? Ek dink tematies handel dit oor plekke wat baie vinnig verander, oor mense se verhouding met mekaar en die plekke waar hulle hulself bevind. David Kramer stel dit so mooi: “Hoekom sal ons nou hier bly? Want die Here het ons hier gegooi.” Ek skilder landskappe en die meeste van my gedigte en musiek handel ook oor mense en die landskappe waar hulle vandaan kom, maar nooit noodwendig tuiskom nie.

Die opneemproses was lank omdat dit die eerste album is wat ek meestal self opgeneem het. Ek het in die verlede by Paul Riekert opgeneem, maar hy woon in Johannesburg. Wyle Drikus het die Brixton Moord & Roof Orkes se laaste album opgeneem, asook my vorige solo-album. Ek bevind my toe in die Oos-Kaap, sonder enige musikale netwerke om te help. Gelukkig het Oos-Londen ’n uitstekende musiekwinkel. Met my aankope vir ’n studio het ek hulle hopelik so ryk gemaak dat hulle aan die einde van die grendelstaat weer sal kan oopmaak.

Ek het aanvanklik self baskitaar gespeel en ritmes geprogrammeer. Ek moes leer om dit als te doen – “Bass guitar for dummies”. Ek was heel onseker oor die resultaat en het dit toe vir Riku Lätti gespeel, omdat ek sy oordeel vertrou en ons ’n lang pad saam geloop het, al van Brixton se dae af toe ons albei begin het om voor mense op te tree. In gesprek met Riku het ek toe my dummy baskitaar en rekenaartromme eenkant laat lê en professionele hulp ingeroep. Dis ook Riku wat my na Willem Möller verwys het en aan hom voorgestel het. Ek sal Riku ewig dankbaar bly dat hy my van daardie eerste weergawe van die album gered het.

Soos verwag sal word deur enigiemand wat bekend is met jou oeuvre, is die liriekwerk op ’n uitsonderlike vlak. Ek wonder oor die name in jou stories – Laeticia in “Verskonings”, Elvis in “Die spoorlose verdwyning van Elvis du Preez”, en dies meer, en ook die karakters wat naamloos geskets word. Tot hoe ’n mate is dit regte mense met hul regte name oor wie jy sing, of geïnspireer deur mense wat jy ontmoet het? Of is dit geheel en al fiktief? Ek vermoed dis iewers tussen die twee … Hoe beskou jy die kunstenaar as waarnemer se verantwoordelikheid (indien enige) in hierdie opsig, of ervaar jy ooit interne of eksterne druk hiermee?

Jy’s heeltemal reg oor die ontstaan van karakters. Vir my is dit iewers tussen die twee. Antjie Krog skryf byvoorbeeld soms nogal genadeloos oor haar eie familie. Op ’n keer het sy twee broers saamgevoeg om een karakter op te maak, omdat dit as vertelling beter werk. Sy’t ook nooit haar seun Ronsard genoem nie. Met my laaste digbundel se publikasie moes my jongste suster my ma al die pad uit Australië via Skype deur een van die gedigte praat. Ek het lank daaroor gewonder, ook voor ek die bundel gepubliseer het. Maar as ons onsself gaan sensureer oor mense se gevoelens, kan ons nie maar net sowel ophou skryf nie? Aan die ander kant, as ons ander mense se gevoelens verontagsaam, moet ons dalk júis nie skryf nie.

My verweer is dat die digkuns en liriek ook fiksie is. So alhoewel die karakters soms deur regte mense geïnspireer word, is hulle fiktief. Die ek-verteller in die meeste van die lirieke is ook fiktief – dis nie ek nie. Ek dink ek skryf dalk met die heel minste simpatie oor daardie karakter, in byvoorbeeld “Verskonings”, waarin die genoemde Laetitia weer figureer. Daardie een is toevallig deur Julian Barnes se “Sense of an ending” geïnspireer – kan ons oorleef as ons als wat ons al aan ander mense gedoen het, korrek onthou? Is ons voortbestaan nie maar te danke aan die leuens wat ons oor onsself, aan onsself vertel nie?

Jy het ’n swetterjoel medemusikante ingespan vir die album – onder andere Jean Marais, Vangile Bingwa, Mark Ellis en Riku en Jackie Lätti. Hoe het dit so afgespeel dat hierdie spesifieke musikante betrek is, en hoe het jy en die vervaardigers besluit op watter snitte hulle sal saamwerk om die ideale klank(e) daar te stel? Die vroulike agtergrondsang op van die snitte klink byvoorbeeld nogal na ’n Leonard Cohen-kopknik (en dit is heerlik).

Jou opmerking oor Leonard Cohen maak my dag. Ek is ’n paar jaar gelede al die pad Berlyn toe om hom te sien optree. Hy is seker my grootste musikale inspirasie. Ek het netnou na Riku se rol verwys, so hy het gehelp met baie van die keuses oor musikante. Ek het oor middagete met pizza en wyn in Stellenbosch met Jean Marais en Mark Ellis gesels oor die album, verduidelik wat die gevoel moet wees en dit toe aan hulle oorgelaat. Ek is erg tevrede met die tromme en baskitaar op die album. Luister maar na wat Mark met sy fretless baskitaar op “Lukas impossible” doen. Dit maak dat selfs ek, na twee jaar se geworstel met die opname, weer met vars ore daarna kan luister. Daar’s so ’n mooi musikale gesprek tussen die baskitaar en die nylonsnaarkitaar aan die gang.

Ek wou hê die vroulike agtergrondsang moet ’n karaktertrek van die album wees. Ek het versigtig gekies en dis meestal vriende en familie wat op die album verskyn, ook twee kinderstemme op “Ondien se wiegelied” (met die kinderstemme aan die einde van Cohen se “Last year’s man” as inspirasie). Baie van die stemme is in die tydelike ateljee by Lowlands opgeneem, soos Rosa Da Costa-Bezuidenhout, Joey Kok en Lathitha Espin s’n – almal in die kategorie van vriende en familie. Vangile is ’n vriendin van Pretoria wat vir twee weke by ons in Alice kom oorbly het. Die twee van ons en Rosa het vantevore Koos du Plessis se “Pretoria, Jakarandastad” in die Musaion op Tukkies se kampus opgevoer. Dink jou in hoe mooi die “doe doe doe dooooeeeee” klink as twee vroue dit in harmonie sing, so al asof die klanke uit ’n sendingkerk in ’n vallei iewers in die Amatholeberge kom. Ek het toe al besluit dat ek iets saam met Vangile en Rosa wil opneem.

Onplaats is in sy geheel aanlyn beskikbaar gestel, sonder enige druk in CD of vinyl (of tapes, for that matter). Was dit vir jou ’n dis-nou-maar-hoe-dit-deesdae-is-besluit? Is dit vir jou vreemd om ’n album vry te stel sonder iets fisies tasbaar in die hand? Hoe beskou jy in die algemeen die effek van die oorslaan-na-digitaal op hoe mense musiek luister, en hoe mense musiek skep?

Die titel is deels ’n wrange verwysing na die feit dat hierdie nie ’n plaat is nie. Dis vir my ’n bitter vreemde gedagte en ek sukkel nog om daaraan gewoond te raak dat die produk van soveel werk nie iets is wat jy kan vashou nie. Dit hang iewers in die eter, van waar jy ’n eggo daarvan digitaal kan aktiveer. Die feit dat mense nou musiek stream maak dat populêre musiek ook in formaat verander. Omdat jy tantieme ontvang net as ’n sekere persentasie van die track geluister word, is tracks nou korter. Die refrein kom baie vinniger. Ek het my nie hieraan gesteur nie. Aan die positiewe kant is die oorlog om die hardste moontlike klank vir die CD-formaat uit die opname te pers (“compress”) nou verby – die aanlyn platforms stel almal hul musiek redelik sag, omdat mense met oorfone en deur rekenaarluidsprekers daarna luister. So musiek kan weer asemhaal en tekstuur behou, mits jy dit dan deur goeie luidsprekers luister. Ek het ook ’n piepklein gehoor in Nederland, en dis nou makliker om die musiek daar oorkant te hoor. Self stream ek ook nou as ek na musiek luister, en dis wonderlik wat jy kan ontdek uit ’n onuitputbare internasionale versameling musiek.

Jy het nou al ’n hele klomp jare (kan mens maar sê dekades?) op die musieklandskap / in die bedryf agter die rug. Wat beskou jy tot dusver as onvergeetlike hoogtepunte, of dit nou ’n spesifieke oomblik in die ateljee of op die verhoog of backstage is? Enige laagtepunte, of gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?

’n Ervaring wat ek altyd sal onthou, is ’n keer toe ek “Geraamtes in jou kas” saam met die Brixton Moord & Roof Orkes in Oudtshoorn opgevoer het. Dis ’n swaar liriek en donker melodie wat handel oor onluste in townships in die 1980’s, vanuit die perspektief van ’n dienspligtige. Nie die tipe ding wat verkoop nie. Dit was by een van die oop verhoë wat daardie tyd so gewild was. Most of what we did went down like a lead balloon – ons kon net sowel Engels gesing het. Ek kon sien hoe ’n groep oënskynlik verveelde bruin tieners agterkom waaroor die lied gaan en begin cheer. Na die tyd het ’n wit polisieman na my toe gekom en gepraat oor wat die liriek vir hom beteken. “Dis hoe dit was,” het hy gesê. Dat ek ’n positiewe reaksie oor een van my lirieke uit twee uiteenlopende pole kon kry, was vir my besonders. Daar was baie laagtepunte. Ja, baie. Om obskure musiek in ’n bitter klein taalgemeenskap te maak hou ’n mens nederig. Dis egter ook ’n voorreg – die intieme aard van die paar mense wat na jou musiek luister en betekenis gee aan wat jy doen. Ek is ’n introvert, so dis vir my swaar om op te tree, maar ek mis dit nou.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Andries Bezuidenhout, in soverre jy dit kan beheer?

Ek is reeds klaar met ’n volgende album – toonsettings van gedigte (Antjie Krog, Alfred Schaffer, Gert Vlok Nel, Jolyn Phillips, Ronelda Kamfer, Koos du Plessis) en covers van mense wat ek bewonder se musiek (Anton Goosen, Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Valiant Swart, Riku Lätti, Clarabelle van Niekerk, Albert de Vos). Ek wens ek kon dit nou vrystel, maar Onplaats moet seker eers insink en die niet in verdwyn. Ek werk ook aan ’n volgende album met oorspronklike werk, en ’n digbundel. Ek hoop ek oorleef om dit te kan voltooi.

Wat is die sin van die dood?

Ernstig? Dit maak dat sommige mense kinders kry, om aan te hou leef. Vir kinderloses soos ek maak die vrees vir die dood dat ons aanhou skryf, aanhou skilder, dat ons aanhou om musiek te maak (Freud se idee, nie oorspronklik nie). Ek is bitter bang vir die dood, veral as die pes aan die deur kom klop soos nou. Daar’s nog te veel om te doen. Wel, op daardie noot, om een van my helde aan te haal: “En nou dat ons almal in ’n baie goeie bui is ...”

  • 1

Kommentaar

  • Wonderlike onderhoud. Lekker om agtergrondinligting te hê. Dit maak dit so persoonlik. Wonderlike musiek, verwerkings en lirieke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top