Call girls maak nie lekker ontbyt nie

  • 1

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

So drie of vier jaar gelede het ek en die bestuurder van ’n uiters gewilde Afrikaanse blog-webwerf ’n literêre/sake-eksperiment geloods. Die plan was eenvoudig: weekliks sou ’n nuwe aflewering van ’n vervolgverhaal uit my pen, Vrees Fokol, op Watkykjy.co.za geplaas word (onder die skrywersnaam Vent Venter). Die eerste vier aflewerings sou verniet aflaaibaar in pdf-formaat wees, met “teasers” wat as inskrywings op die blog se tuisblad geplaas is. Die volgende ses aflewerings (daar was 10 altesaam) sou teen ’n klein prys gekoop en afgelaai kon word. Die hoop was dat die eerste vier aflewerings genoegsaam prikkelend en snaaks sou wees dat lesers bereid sou wees om sewe rand (R7) vir elke volgende hoofstuk te betaal.

Ons het glad nie geweet of dit sou werk nie, maar was lus om te sien wat gebeur. En terugskouend – behalwe die enorme, ooglopende probleem wat ons misgekyk het, naamlik dat een persoon dit bloot kan koop, aflaai en dan per e-pos aan almal anders kan stuur – was dit ’n geslaagde eksperiment, in dié opsig dat daar darem ’n paar mense was wat wou aanhou lees. Ek kan nie nou die getalle onthou nie (en Watkykjy se aanlyn winkel het een keer gecrash tussen die Vrees Fokol-tyd en nou, so die syfers is nie beskikbaar nie), maar die eerste vier aflewerings het baie goed gevaar. Die ses hoofstukke wat te koop was, het elk hier om en by 10 “eksemplare” verkoop … nou nie Stephen King-syfers nie, maar hei, dit was ’n eksperiment.

Nou, vier later, in Junie 2014, is dit nog so twee maande voor ’n debuutroman onder die veel minder interessante skrywersnaam Henry Jack Cloete verskyn. Dit word uitgegee deur Quellerie (’n afdeling van NB-Uitgewers) en dit het veel meer bloedsweet geverg as daardie, of enige ander, aanlyn skryfstukke waarby ek al betrokke was. Die eerste konsep is byvoorbeeld nie goedgekeur nie. Ek moes teruggaan en nog baie ure insit om dit reg te ruk – ’n beginsel wat darem by my ingedril is onder die wakende oë van geharde joernaliste by Volksblad in Bloem, waar ek my eerste voltydse skryfagtige werk gehad het, so dit was nie te veel van ’n skok nie. Toe ’n volgende konsep van Draalnoot vir ’n janfiskaal (selfs die titel is gebore ná ongeveer vyf vorige voorstelle nie wou werk nie) goedgekeur is, was dit nog ver van klaar. Ek en die uitgewer, Etienne Bloemhof, het ure en ure en ure om ’n tafel gesit en elke woord, sin, en paragraaf bespreek. Hier is doodgekrap, daar moes ek gaan oorskryf of byskryf, en vele “darlings” is nie bloot genadeloos galgtou toe gejaag nie, maar sommer op die plek gehalssnoer.

Dít is nie ’n vreemde ervaring vir enige skrywer wat werklik omgee oor sy of haar werk nie – en behoort dit ook nie te wees nie – en dis die punt wat ek met die bostaande twee staaltjies wil beklemtoon.

Selfpublikasie, publikasie op aanlyn gemeenskappe en publikasie op sosiale netwerke van kreatiewe skryfwerk word in sommige kringe hoog aangeprys en beskou as die “toekoms” van literatuur en so aan.

Etienne Bloemhof

Dis bog. Nie noodwendig weens die medium nie, maar weens die algemene aard daarvan.

Publikasie op sosiale netwerke en aanlyn gemeenskappe het die potensiaal om ’n goeie ruimte vir slyp, saampraat en klip-in-die-bos-aanwakkering van gedagtegange te wees. Dit kan, in die teorie, eintlik ideaal wees daarvoor. Plaas byvoorbeeld op Facebook ’n gedig of ’n kortverhaal of ’n essay, kyk na die likes (of gebrek daaraan), en volg die comments (of gebrek daaraan). Daar’s hy, ’n gratis skrywerswerkswinkel, slegs ’n paar klieks weg!

Die volgende stelling gaan waarskynlik nie besonder akademies voorkom nie, maar so what: sosiale netwerke dien in die algemeen vir dié wat hulself as kunssinnig beskou eerder as ’n ruimte vir geldigverklaring (“validation” is ’n mooier woord) as ’n plek waar ’n skryfstuk noukeurig deursoek word. Die aard van die medium laat nie toe vir noukeurige énigiets nie. Hoe kliek ’n mens “like” op ’n eindelose stroom babafoto’s net sodat jou agterkleinniggie jou nie later met ’n hartseer-emotikon in die boodskap moet vra hoekom jy nié het nie, en skakel dan met dieselfde templaat en tipografie van die webblad onmiddellik oor na die ingesteldheid van ’n aanmoedigende, deeglike kritikus? Ek glo nie dis moontlik nie. Sosiale netwerke se krag lê in die spoed van kommunikasie, eerder as die substansie onderliggend daaraan. Natuurlik is die twee elemente nie geheel en al wedersyds uitsluitend nie, but let’s not kid ourselves.

Die belangrikste gebrek van publikasie op sosiale netwerke of aanlyn gemeenskappe lê in die aanloklikheid daarvan. Daar is nie redakteurs wat jou stuk hoef goed te keur voor dit verskyn nie; dit verskyn soos jy dit self geskryf het sonder ’n enkele verandering, en so aan. Die geldigverklaring is onmiddellik en verleidelik. Jy word nie uitgedaag nie.

En sonder uitdaging kan ’n mens nie beter, of selfs bloot goed, word nie. Sonder ’n (ervare) oog of tien wat sonder kwaadwilligheid, maar met zero toleransie vir middelmatigheid, dit wat uit jou pen vloei, bespreek, is middelmatigheid die onafwendbare voorland.

In dieselfde asem verpes ek die neerhalendheid waarmee sogenaamde “kenners” neerdaal op mense wat hul skryfstukke, gedigte of wat ook al op sosiale netwerke plaas. Daar is niks fout daarmee nie. As ’n jong skrywer die water so wil toets en weet wie se opmerkings hy of sy ernstig wil opneem en watter nie, is daar tog nie skade nie.

Die belangrike onderskeid is tussen 1) aanlyn publikasie as deel van die werkproses, en 2) aanlyn publikasie as die eindpunt of bestemming. As dit deel van die werk- of, nog beter, navorsingsproses is, hoekom nie? As ’n skrywer dit egter as die bestemming beskou, sal ek nooit bodder om iets van hom of haar te lees nie, want dis in essensie ’n eerste konsep wat dan die eindproduk is, onmiddellik, bevredigend en geldigverklarend, sonder die terugkeer en terugkeer en terugkeer wat ononderhandelbaar is vir werk van gehalte, of dit nou ’n gedig, kortverhaal, liedjie of marinaderesep is.

Die onus is dus maar onafwendbaar op die skepper om slim daarmee om te gaan. Publikasie op sosiale netwerke is hier; dit gaan nie binnekort weggaan nie.

Die onderskeid tussen hoë gehalte en lae gehalte gaan egter nog minder binnekort weggaan, en hoë gehalte gaan selde hand aan hand met onmiddellikheid. Soos ’n vriend van my sê, call girls maak nie lekker ontbyt nie.

Tant Gerdaline se comment “j’s so tlentvol!!!11!!” gaan nooit so geldig wees as dié van ’n vreemdeling wat duisende kilometer van jou tuisdorp na jou stap en jou meedeel hoe waardevol dit wat jy lewer, vir hom is nie. Dít het ek geleer as lid van Die Skynmaagde … maar dis ’n storie vir ’n ander dag.

Ieder geval … vermy onmiddellikheid, kweek ’n dik vel en mik vir werklik goeie werk, nie ’n swetterjoel likes nie. Ja, ek moet myself dikwels ook met dié woorde berispe. En ja, die aard van kommunikasie en publikasie het onherroeplik verander oor die afgelope tien jaar en sal oor tien jaar sekerlik nog meer verwarrend wees.

Moenie daaragter wegkruip nie.

Vrees fokkol.
 


Volg Henry Jack Cloete op Twitter en Facebook.



<< Gaan terug na Poolshoogte <<

Uit die LitNet-argief
Briewe deur die lug
Hibriditeit en die internet
– Joan Hambidge
2000

Skryfsake
Agter elke storie
– Hennie Aucamp
2007-05-03

Young Voices Conference 2004
Die wetenskap van liefde, en ander maniere om te dobbel
–Nèlleke de Jager
2004-11-23
Menings
Digitaal Afrikaans: Internet en de Afrikaanse literatuur
–Hendrik-Jan de Wit
2014-03-26
Seminaarkamer
Southern African languages, globalisation and the Internet
– Russell Kaschula
Skryfsake
Sanlam NetRaad: Etienne Bloemhof
– Etienne Bloemhof
2007-04-17
Nuwe Skryfwerk
Netdigters 2.0 is gevaarlik
– Rentia Bartlett-Möhl
2013-11-27
Akademies
Hiperteks of hipermark? LitNet en die www
– Etienne van Heerden
2007-06-13
Poolshoogte
Van bromied tot kuber-ink: Die produksie- en leesproses by uitgewers
– Kerneels Breytenbach
2014-06-18

 

  • 1

Kommentaar

  • Jy't nou pretty much gesê wat ek nooit lekker kan verwoord nie. Well done, old boy, jolly good. Sal plan moet maak om jou boek in Bloemfontein te kry... 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top