Die aktrise en musikant Devonecia Swartz het nie net onlangs ’n Fiësta-toekenning vir beste vroulike byspeler losgeslaan nie, maar ook ’n eerste musiekvideo vir haar groep Devonecia + Wilken bekendgestel. Sy beantwoord ’n paar vrae, ’n fokus op die musiek.
Goeiedag, Devonecia. Hoe’s alles?
Hallo Henry! Alles is goed, dis alles lekker. Die begin van ’n nuwe jaar voel altyd so opwindend.
Baie geluk met die eerste musiekvideo deur Devonecia + Wilken vir Mzansi lullaby, wat onlangs uitgereik is. Dit lyk of dit ’n uitdagende “shoot” moes gewees het, met al die kostuumveranderings! Wat was jou ervaring van die skietproses – sover ek weet was dit jou eerste professionele musiekvideo? Wat was die lekkerste elemente daaraan, en wat was die moeilikste? Wat is die gevoel waarmee jy kykers wil laat ná hulle die video gekyk het, en hoe het dit jou spel in die video geïnspireer?
Baie dankie! Ons is vreeslik trots op wat ons geskep het
Dit was beslis uitdagend, maar almal het so goed oor die weg gekom dat dit die werk baie makliker gemaak het. Die kostuumveranderings was my gunstelingdeel – ek het dress-up gespeel die hele dag!
Soos enige ander skietproses vat dit maar ’n tydjie en mens moet dieselfde ding oor en oor skiet, maar dis deel van die magic daarvan- jy kry kans om weer met jou eie werk te speel en om nuwe goed te ontdek.
Ons wou ’n eenvoudige video sonder gimmicks maak, want ons wou hê die musiek moet selfstandig wees. Daar's nie ’n spesifieke gevoel wat ek wil los nie, maar ek wil hê kykers moet sien hoeveel ons onsself geniet.
Die lied “Mzansi lullaby” is natuurlik self treffend, wat die melodie en lirieke betref. ’n Mens wonder onwillekeurig oor die essensie van die lied – is daar ’n politieke element betrokke, of is dit meer ’n geval van ’n individu se ervaring (en uitlewing) van Suid-Afrika? Hoe het die skep van die lied ontstaan, en wat is volgens jou die boodskap daarvan (as daar een is)? ’n Mens mag dalk dink die lirieke is die “vehicle” van die lied, maar die oordra daarvan deur melodienuanses het sekerlik ’n ewe sterk invloed op die luisteraar ... Of hoe beskou jy die saak?
Elke ding wat ’n mens skep, is polities. Hierdie lied is vir ons ’n simbool van ons werk saam, 'n tipe anthem vir en oor Suid-Afrika. Ons het baie gepraat oor wat dit vir ons beteken om saam te bou in ’n land met ’n stormagtige geskiedenis, sonder om naïef te wees oor hoe dit die hede beïnvloed. Ek glo daar's ’n les wat ons van die natuur kan leer oor hoe om saam te werk en na mekaar te kyk. Suid-Afrika is vir my een van die mooiste lande, so daar's baie lesse om te leer.
Alle elemente van die lied dra by tot die oordra van sy boodskap. Die meeste van die lied is gemik op die land self en die feit dat dit so jolig klink en 'n lullaby is, wat dit eg Suid-Afrikaans maak.
Op ’n ligter noot (of miskien nie?) ... Jy het onlangs gegradueer met ’n honneursgraad in drama- en teaterstudies. Bitter baie geluk! Hoe het jy tyd gevind om musiekprojekte soos Devonecia + Wilken te begin tussendeur veeleisende studies? En, noudat jy graad gevang het, wat dink jy is die ideale professionele bestaan vir ‘n kreatiewe persoon wat in verskeie mediums (soos musiek en teater) werk, en hoe dink jy kan dit behaal word?
Vreeslik baie dankie! Mens maak maar die tyd om fantastiese projekte te doen. Sommige tye is makliker as ander, maar daar is altyd ’n uitweg wat werk.
Die ideaal wissel van persoon tot persoon, maar vir my is dit belangrik om myself te geniet en so veel as moontlik te leer. Om bright-eyed and bushy-tailed te wees help met die leer-deel, waar die evaluering oor hoe ek voel (oor die projek, my deelname daarin, ens) bepaal of ek ’n projek aanpak. Op die ou einde moet dit vir jou die moeite werd wees.
Terug by die album: Jy en Wilken het ’n EP van vyf liedere opgeneem – ’n paar in Afrikaans en ’n paar in Engels. Vloei die woorde en melodie makliker vir jou in een taal of die ander, en indien wel, hoekom? Hoe het jy die opneemproses ervaar? Ek verstaan julle was by Sunset Studios, met Jürgen von Wechmar, ’n ou hand in die bedryf. Dink jy dit stel ’n jong musikant soos jy gerus om met so ’n klankingenieur te werk, of moes jy soms instinkte en aanvoelings prysgee of “compromises” skep? En ook, hoe baie skaafwerk het in die ateljee gebeur, of was julle reg van die oomblik toe julle daar ingestap het?
Ek skryf makliker in Engels, want dit is my huistaal, maar ’n melodie het nie 'n taal nodig nie.
Die opname van ons album was ongelooflik en een van die hoogtepunte van my loopbaan dusver! Jürgen is fantasties om mee saam te werk en hy het my soveel vryheid gegee. Hy't ook supersonic gehoor, so ons was in veilige hande.
Ons was reg toe ons daar ingestap het. So reg dat ons tyd gehad het om “On an overcast day” in die ateljee to skep (op my verjaarsdag, wat elke jaar bewolk is). Ons het ook die opname gedoen tydens die semester, so Wilken het die musiek bymekaar gesit sodat ek na klas of voor repetisies in kon kom om my deel te doen.
Die aanslag van die band Devonecia + Wilken is van die begin af interessant – ’n akoestiese duo met een stem en een kitaar. Hoe het julle bymekaar gekom? Hoe het julle besluit op die soort musiek wat julle wil maak? Was daar ooit ’n oorweging om die band groter te maak? En hoe gebeur die tussenwerking in Devonecia + Wilken, om vas te stel hoe ’n song moet klink en wanneer dit “gereed” is, vir optredes of opnames?
Ons is deur Cornelia Faasen van NATi genader om saam op te tree by die Inaugural Africa Day-lesing by die Universiteit Stellenbosch. Daar was iets wat gekliek het en ons het besluit om saam te werk.
Ek en Wilken kon nie rêrig op 'n genre besluit nie, so ons het nie. Ons maak net wat ons wil en na die tyd besef ons dat ons van 'n sekere genre se elemente gebruik gemaak het.
Ons wou nie die band groter maak nie – tussen my en Wilks is daar al baie skedulering wat moet plaasvind, so ons probeer dit so eenvoudig as moontlik hou.
Dit wissel van liedjie tot liedjie. Met Renegade byvoorbeeld het ons oor WhatsApp stemgrepe gemaak, waar ons vir baie lank met 'n semi-rock Afrikaanse liedjie gesit het wat glad nie gewerk het nie. Toe besluit ons een aand om ’n kalm, rou weergawe te doen, en dis hoe “Lourierblaar” bestaan. Ons doen wat ook al werk om die liedjie te maak.
Dis gereed as ons voel dis klaar.
Dit is natuurlik nie ’n maklike tyd om ’n EP of ’n album vry te stel in Suid-Afrika nie. Die ekonomie trek swaar, dit sukkel om mense by gigs te kry ... Tog het julle hierdie EP die wêreld in gestuur. Hoe beskou jy die verhouding tussen digitale vrystelling, musiekvideo’s en fisiese albums, en die impak wat dit het op ’n musikant of band se loopbaan? En, hoe beskou jy die Afrikaanse en/of plaaslike musiekbedryf (die lekker en die eina), en Devonecia + Wilken se plek daarin? Wat is vir jou die ideaal?
Ek moet bieg, my kennis oor die bedryf is maar skraal, maar ek leer ook vinnig.
Devonecia + Wilken het nie ’n spesifieke plek nie. Ons klank is nie net vir een bedryf nie, en dit is wat my die meeste opwen – die potensiaal om in enige rigting in te groei.
’n Vinnige blik oor jou prestasies tot dusver bewys dat jy reeds ’n kleurvolle (en besige!) loopbaan beleef het. Verskeie televisierolle, betrokkenheid by teaterproduksies, benoemings vir toekennings, musiek en natuurlik jou betrokkenheid by die Tygerberg Kinderkoor en die US Koor ... Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte? Enige oomblikke wat jy nie sommer sal vergeet nie? Of enige vreemde oomblikke agter die skerms wat jy eerder wel sal wil vergeet?
Ek is geseën met ’n loopbaan (wat nie eens twee dekades oud is nie) waar daar al baie hoogtepunte was.
My eerste hoogtepunt was toe ek 11 was: Ek was vir die eerste keer oorsee met die Tygerberg Kinderkoor by die Wêreldkoorspele. Ons optrede vir die kinderkoor-afdeling was een van die beste oomblikke van my lewe, en ek het nog nie weer so ’n oomblik op ’n verhoog ervaar nie.
Die laaste hoogtepunt was op 9 Februarie 2020, waar ek in die kategorie beste vroulike byspeler ’n Fiësta gewen het. Dit was totaal en al onverwags!
Ja, baie, baie geluk daarmee! Soos vroeër genoem, het jy onlangs gegradueer en die wêreld wag vir enigiets deur Devonecia Swartz. Wat dink jy hou die nabye toekoms in vir jou as akteur en musikant, in so verre jy dit kan beheer? En die verre toekoms?
Wel, die nabye toekoms is al beplan van Woordfees tot optredes by die Kunstekaap in die Vlooi-kinderproduksie.
Ons sal maar moet sien wat die verre toekoms my inwag.
Wat is die sin van die lewe?
David Viscott het gesê: "The purpose of life is to discover your gift. The work of life is to develop it. The meaning of life is to give your gifts away", en ek glo in die stelling. Ek ’n Christen, so ek glo ook dat niks van jou af kom nie en dat alles aan God behoort. En as dit so is, moet ek my gawes met die wêreld deel.
|