
Skrywers oor hul nuwe boeke: Henry Jack Cloete gesels oor Draalnoot vir 'n janfiskaal.

Waarom het jy Draalnoot vir 'n janfiskaal geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?
Waarom het ek dit geskryf? Man, seker maar omdat ek wou. Ek kan nie regtig aan ’n beter rede dink nie – daar is nie werklik ’n agenda van protes, aankla of iets in dier voege by Draalnoot betrokke nie. Dis maar net ’n storieboek wat hopelik ’n paar relevante vrae vra en op meer as een vlak stimulerend is.
Ja, die storie het maar ontspring uit een idee – waar daardie idee vandaan gekom het, weet ek nie werklik nie. Dit is nou die idee van ’n webwerf waarop selfmoordvideo’s gelaai word, en die bestuurder van die webwerf wat dit vir geldelike gewin versprei (en vir aansien, maar dit is meer gekompliseerd). Talle idees kom so uit die bloute vorendag, maar nie almal is die moeite werd om te verken nie.
Faktore as inspirasie? Hmm. Die digitale wêreld is nou maar al lank deel van my bykans daaglikse bestaan, soos seker maar met die meeste van ons, maar ek werk ook al lank spesifiek aan webwerwe, as inhoudsvervaardiger en sulke dinge, so Daniël se daaglikse take van video’s modereer, plaas en “rank” was nie te moeilik om te verbeel nie.
Die kwessies van kits-aansien (of stadige reputasievernietiging!) wat sosiale netwerke bied, asook die oorstimulasie daaraan verbonde vir die deursnee-gebruiker, was ook nie ’n erg moeilike ding om uit te wys en op voort te bou nie.
O, en musiek. Altyd musiek.
Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?
Daar’s beslis twee wat uitstaan. Die eerste is tyd – ek kon in geen stadium “voltyds” aan die storie werk nie, so dit was nie aldag maklik om die dissipline te handhaaf wat nodig is vir die voltooiing van so iets nie. Die tweede is seker maar vertroue in die projek. Daar was (en is) geen waarborg dat ek “kan skryf”, soos mense dit graag noem, nie. Ek dink nie ek het al ooit eens die eerste ronde gehaal van goeters soos Nuwe Stemme of Nuwe Stories nie, al het ek meer as een keer ingeskryf! Daardie element van deurdruk want jy wéét dit gaan die moeite werd wees, het eers redelik laat in die proses begin verskyn. Voor dit was dit maar ’n kop aan kop wedren tussen die toetsbord en die selfvertroue om te sien wat eerste vernietig gaan word.
’n Mens moet darem noem dat alle jong skrywers – en ook waarskynlik die gevestigdes – bes moontlik met hierdie twee faktore sukkel. So dis bloot ’n waarneming.
Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?
Sjoe, ja. Beslis dikwels voor dit die groen lig ontvang het. Dan is geduld seker maar die oplossing – of jy die oplossing soek deur die storie net ’n ruk te laat marineer, en of jy verwoed voortwerk met die wete dat daar dalk een sin uit ’n duisend sal kom wat verdere verkenning regverdig, geduld is belangrik.
Nou kan ek nie spesifiek onthou watter “dooie punte” bereik is nie, maar ek kan wel noem dat daar hele hoofstukke weggeval het in die herskryfproses, en dit is maar hoe dit gaan met deeglike herskryf. Hulle praat van “kill your darlings”. Nie net darlings nie, maar hele kolonies smekende, mooi, weerlose darlings is afgemaai. En as dit nie gebeur het nie, sou die storie swakker wees, so dis nodig.
Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?
Ek weet nie of ’n mens hierdie elemente in ’n rangorde van belangrikheid kan plaas nie. Trouens, ek weet nie wat die meeste daarvan beteken nie.
Dis jammer dat dit nou so ’n sif corporate buzz word geword het, maar “sinergie” in hierdie opsig is tog maar belangrik – dat die geheel groter as die som van die dele word. Dit kom maar met wisselwerking, soos met ’n ordentlike song. Jy kan ’n heerlike melodie hê, maar as jou tromspeler uit tyd is, het die song nie hoop nie.
Ek sal wel bieg dat ek een van daardie elemente, naamlik ruimte, dalk beter moes ontgin – dit voel of veral Muizenberg sterker as “karakter” in die storie kon optree. Dit het nie regtig nie, omdat my gevoel juis was dat die storie doelbewus omgaan met die digitale leefwêreld en die fisiese leefwêreld dus verbrokkel. Ek weet nie nou meer of dit die regte koers was nie. Oh well.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Ek twyfel of alle redigeerders/uitgewers so oopkop, geduldig en downright cool is soos Etienne Bloemhof. Voor ek en hy om die tafel gaan sit en die manuskrip van begin tot einde deurgewerk het (dit is nie ’n kitsproses nie), was daar reeds terugvoer van ’n anonieme keurder wat geweldig waardevol was. Toe ek en Etienne op die ou end gaan sit, was dit toe alreeds deur ’n hele klomp herbewerkings. So in daardie stadium kon ons sit en waar dit duidelik was iets moet beslis anders gestel of vertel word, het ek dit gaan verander. Met ander gevalle is daar gedebatteer en ek glo die beste oplossing het elke keer gewen, van wie af dit ook al gekom het. Dit was harde en heerlike werk.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Kan nie met sekerheid sê nie ... maar ek vermoed in die algemeen is mense wat dít wat in hulle brand, navolg, mense wat meer uit die lewe put as dié wat pensioen en rykword nastreef (cue die klankbaan van Into the wild, haha). Aan die ander kant is ’n mens ook nie naïef nie en dis nie asof ek nou uit my werk kan bedank, al die vryskutprojekte laat vaar en net voltyds timmer aan die volgende een nie. Wat die ideale balans gaan wees, weet ek nog nie. Ons sal maar sien.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Ja, daar’s maar altyd ’n klomp projekte en idees aan die broei hierdie kant. ’n Nuwe musiekprojek, nuwe romanmanuskrip (in Engels) wat reeds so ’n veraf-flikkerende groen lig ontvang het, nuwe dit, nuwe dat … Sal maar moet sien wat daarvan realiseer en, meer belangrik, wanneer dit sal kan realiseer, so ek wil nie beloftes maak nie.
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Oh man, daar is heelwat. Hermann Hesse bly vir my ’n grote. Die trefkrag en langdurige relevansie van ’n goeie roman het ek beslis eers besef toe ek (gelukkig op ’n betreklik vroeë ouderdom) met hom kennis gemaak het. Dan is mense soos Kurt Vonnegut, Douglas Adams, Robert Pirsig, ag, te veel om te lys, mense wie se werke ek verslind het en weer sal verslind. Plaaslik: Etienne Leroux, beslis, en Eben Venter, en Lauren Beukes, en Willem Anker, en en en. Enigiemand wat iets kan lewer wat oorspronklik, onvoorspelbaar en nie vervelig is nie, basies, verdien heldestatus.
Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Poolshoogte op LitNet probeer ek volg – ek het selfs daartoe bygedra. Al die bydraes het ek nog nie gelees nie, maar ek probeer veral om al die “jonger” mense se stukke te lees en daaroor na te dink.
As ek terugkyk? Ek’s nou maar dertig jaar oud, so hierdie vraag is dalk meer gepas vir mense wat deur die sestigerbeweging en sulke goed geleef het. Ek wonder waarom musiek-“revolusies”, soos die gebeure rondom Voëlvry, Karen Zoid, Fokofpolisiekar, Bittereinder en dies meer, nie ’n mate van ’n parallel in Afrikaanse literatuur gevind het nie. Nie dat dit spesifiek goed of sleg is dat dit nie so gebeur het nie; dit is maar net interessant.
Geweldig cool literatuur het al in Afrikaans verskyn, en dis ’n avontuur om dit te herbeleef en ook te ontdek. Ek het byvoorbeeld onlangs eers begin kennis maak met die werk van ’n skrywer soos RR Ryger. So, nee, nie alle Afrikaanse literatuur is Fiela se kind en Fiela se kind-nadoeners, soos ons dikwels op skool gevoel het, nie.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?
Daar’s iets aan die broei.
Naskrif: Wat is die sin van die lewe?
Ek weet nie, maar om 'n volsin te wees, moet dit 'n werkwoord inhê.
Só lyk Henry Jack Cloete se werkspasie:



Kommentaar
Nice. Dankie.