Die Heuwels Fantasties het pas hul nuwe album 2021 bekendgestel. Pierre Greeff en Hunter Kennedy van dié groep beantwoord ’n paar vrae.

Foto: verskaf
Goeiedag, Pierre. Hoe’s alles?
Pierre: Ag, ons probeer die blink kant bo hou en liefkoos maar die treadmill daagliks ... Opgewonde om die nuwe tunes vry te laat in hierdie tyd!
Baie geluk met die nuwe album, 2021, wat binnekort vrygestel word. Dit voel met die eerste paar luisterslae soos ’n effense koersverandering vir Die Heuwels, nes met die vorige albums … ’n Paar grade dié kant toe en daai kant toe in terme van melodieë, produksiewerk en ook die temas in die lirieke. Hoe sou jy hierdie groei of evolusie beskryf soos mens dit in 2021 hoor? Wat wou julle graag met 2021 doen wat julle nog nie vantevore gedoen of probeer het nie?
Pierre: Dis moeilik om te antwoord as iemand in die band. Dit voel vir my asof ons op elke album ons eie tydstip probeer vasvang. Dalk op Okay!, die vorige album, was dit heelwat rustiger. Op 2021 is daar ’n bietjie van die debuut se energie, maar ook dalk ’n titsel Wilder as die wildtuin hier en daar, as dit sin maak. 🙂
Ek dink nie ons het noodwendig iets heeltemal nuut probeer nie, maar ek dink ons het wel probeer om wat voorheen al van ons af gehoor is te verfyn en te vereenvoudig. Of ons geslaag het, weet ek nie, maar die liedjies voel reg vir dié tyd van ons lewe.
Die album staan stewig op 15 snitte (insluitende ’n live opname van "Leja"), wat ook lekker uiteenlopend is – daar is heelwat anthems, soos "Ons moet leef" en "Doin’ it right", en ook heelwat ballades soos "Lieg net vir my" en "Kom na my toe", en ’n paar wat eksperimenteel voel, soos die kinders se klanke op "Vat my saam". Wou julle ’n spesifieke balans hiermee, of ’n goue draad, skep op 2021, of hoe het daardie beplanning gewerk?
Pierre: Met hierdie album (en heel moontlik die voriges) probeer ons vir seker ’n balans kry in terme van die energie en hoe die album vloei vanaf track 1 tot 15. "Vat my saam" is byvoorbeeld ’n klein "vinjet" wat ek vir my seuntjie geskep het – dis meer ’n gevoel as ’n lied, dink ek (wie weet hoe ander dit hoor of voel?).
Maar ek dink vir seker al die liedjies hoort saam en vind mekaar as hulle een na die ander geluister word, soos dit hoort met ’n album.
In dieselfde asem: Hoe werk die skryfproses deesdae binne DHF? Is daar skryfsessies waarin byvoorbeeld ’n ballade geskep moet word, of gebeur dit meer spontaan? Hoeveel herbewerking en produksieherrangskikking vind plaas vandat die eerste woorde en akkoorde op papier gesit word, en hoe weet julle wanneer ’n snit gereed of klaar is en hoe dit by die album sal inpas?
Pierre: Ons het heelwat van die liedjies in die pylvak herrangskik soos bo genoem, net om die struktuur reg te kry. Dis gewoonlik om oortollige dele uit te haal en uit te kom by die kern van die lied, soos vroeër ook gesê ... verfyn en vereenvoudig. "Less is more, but extremely tedious to get to."
Wat die temas betref – daar is baie introspeksie te hoor, maar ook ’n groot soeke na eenvoud en suiwer genot (dalk is dit die duidelikste op "Naweek"). Dink jy die feit dat hierdie temas prominent is in die skryfwerk, is tekens van ouer word en rustiger raak? Of is die storm en drang van die vroeë Heuwels eintlik nog net so sterk, net ’n bietjie meer onder die oppervlak? Is dit ’n noodwendige ding dat ’n mens se fokus verskuif met die jare, of moet ’n mens hard daaraan werk, in die musiek en in die persoonlike lewe?
Pierre: "Dis ’n loopbaan, nie ’n renbaan nie," sê hulle mos. Maar ek sou sê "all of the above". Die album voel emosioneel definitief soos die plek waar ek dink ons ons almal bevind, en dis nogal cathartic, maar I guess ons albums was nog altyd vir ons juis dit. Die lekkerste is wanneer ons gehoor die liedjies het, en die liedjies eintlik dan eers hul tweede, derde lewens kry daar buite.
Daar is heelwat collaborations op die album. Om die waarheid te sê, nege uit die 14 (uitsluitende "Leja" se live opname) songs feature kunstenaars buite die kern-Heuwels. Hoe het julle op hierdie spesifieke kunstenaars besluit, en ook watter liedere die beste vir hulle sal werk? Was hulle betrokke by die skryfproses? En beplan julle om hierdie kunstenaars te betrek vir live shows, wanneer live shows weer ’n ding is?
Hunter: Ek is bly iemand het die wiskunde gedoen! Nege!? Arno, Francois, Tarryn, Early B, Jack Parow, Johnny, TeeJay? En Loki (maar dis eintlik vir sy album!) Dis agt? O, en Pierre! So, to be fair, daar is vyf vox collabs en vier instrumental/production collabs.
Om eerlik te wees het ons nie te veel gedink oor die collaborations nie. Van hulle het spontaan gebeur, soos Arno wat net toevallig daai dag daar was. Met Tarryn wou ons al lank iets mee saam doen. Early ook al lankal. Parow was net ’n sure fit vir die song en hy was ook by die studio! Francois was ook sommer maar net daar by Dane langsaan, dink ek, so maybe as jy wil feature op ’n Heuwels-album, record by The Nothing Club. 😀
So dis maar basically as ons ’n brick wall slat in die middel van die proses, is ’n collab ’n lekker opsie om die vibe aan die gang te hou. Johnny speel klavier as sy collab, maar het ook ’n paar songs produce, en TeeJay het pragtig gemaak met daai song van hom, luvvit. En Pierre Pressure (not to be confused with Pierre Greeff) het producer gespeel met "Doin’ it right".
Ja, meestal het die collaborators al hulle shit self geskryf. Ons sou defs gelaunch het met al die collabos live, maar nou moet ons maar check wie sal belang stel om ons te kom join op die 30ste. Wat betref jou vraag: "En beplan julle om hierdie kunstenaars te betrek vir live shows, wanneer live shows weer ’n ding is?" – ons het nie so ver gedink nie.
Gepraat daarvan … Die lockdown het baie slagoffers in die ekonomie, en die musiekbedryf is een van hulle. Hoe beskou jy ’n post-Covid wêreld vir musikante, en dan spesifiek vir die Heuwels? Tot hoe ’n mate moes julle al nuwe planne vir inkomste maak, en ook die dag-tot-dag-werkinge van die band aanpas? Die video vir "Ons moet leef", met al die bydraes deur vriende en aanhangers, is seker ’n goeie voorbeeld van hoe ’n mens dit vír jou kan laat werk, maar dit is ook nie ’n plan wat tot in die ewigheid toegepas kan word nie?
Hunter: Op die oomblik dink ons daaraan om live-streamed shows te doen, om meer thought in ons merchandise te sit en om musiek te maak. Die streaming lyk asof dit baie populêr is sover, en Frannie en Arno en Karen en so het al elk een agter die rug, so ons kan baie by hulle leer.
Mens kan dit nie so gereeld doen nie. Ja, mens sal dit anders moet doen. Ons was gewoond daaraan om om en by dieselfde set te speel vir ’n jaar, maar nou sal ons dit probably met elke show moet flip. Miskien albums op ’n slag, akoesties, storyteller, ens.
Wat ’n positiewe is in hierdie situasie, is dat jou aanhangers regoor die wêreld kaartjies kan koop en daar word voorsiening gemaak vir die tydsones deur die show vir 72 uur beskikbaar te stel.
Post-Covid sal ons doen whatever hulle ons toelaat om te doen. Ek glo nie mens kan met tegnologie die adrenalien-spike van ’n live show namaak nie. So ek glo stelselmatig sal dinge terugkeer normaal toe. Hoe lank dit gaan vat? Who knows? Soos gewoonlik sal ons aanpas.
Terug by die album: Dis interessant dat die eerste twee singles oor ’n redelik lang tyd uitgereik is ("Jy stel my teleur" sewe maande gelede, en "Mejuffrou Sonneblom" vyf maande gelede, en "Ons moet leef" baie onlangs), voor die amptelike bekendstelling van die album. Wat was die denkrigting hiermee? Is dit ’n soort middle ground vir deurlopend singles beskikbaar stel in die digitale era en steeds die uiteindelike doelwit van ’n vollengte-album behou? Daar is verskeie opinies oor wat deesdae die beste strategie is met vrystellings – wat is jou ideale manier om dit te doen, en hoe dink jy sal dit nog verander in die toekoms gaan? Ek sien byvoorbeeld ’n mens kry ’n gratis digitale kopie van die album as jy bespreek vir die aanlyn bekendstelling, of as jy merch bestel … Hoe sluit dit aan by daardie ideale strategie?
Hunter: Weer eens was dit nie werklik beplan nie, maar ja, omdat dit ’n singles-gedrewe mark is en ons gatvol was vir ons ou musiek, het ons soos wat ons klaar gemaak het, nuwe musiek begin uitsit sonder om werklik ’n deadline te hê vir die volle album.
Ons gebruik gewoonlik die physical CD as ’n incentive vir kaartjieverkope by ons launch shows, so hierdie is nou maar net die digital age weergawe daarvan.
Ons weet nie regtig wat ons doen nie – ons check maar wat vir ons reg voel en dan toets ons is dit. Ons leer daagliks baie. Ons het al byvoorbeeld geleer dat om jou album gratis beskikbaar te stel, is net nie so effektief soos wat mens dink dit sou wees nie.
Gepraat van die bekendstelling … Ek het al meer as een Heuwels-bekendstelling bygewoon (die een daar in die German Club in Tuine sal my altyd bybly – mal aand …), maar die aanlyn ding is nuut! Hoe presies gaan dit werk? Ek sien die mediavrystelling praat van groot visuals, wat moerse interessant klink. Kan jy meer vertel daaroor? Word dit byvoorbeeld regstreeks geskep? En die musiek self – gaan daar ’n tipe live uitvoering gestream word, en hoe sal dit werk? Was dit slegs ’n lockdown-verwante besluit, of is dit iets wat julle in elk geval oorweeg het?
Hunter: Yeah, dis ’n regstreekse uitsending. Ons sal speel, en as ons kak aanjaag gaan julle dit agterkom! Basically sal ons optree binne-in die company wat anyway backline doen se warehouse, met ’n klein span wat die klank, ligte, kameras en livestreaming hanteer. Daar is so ’n boks met ’n klomp simkaarte in wat die kak doen, apparently. Daar sal ’n stage opgeset wees, etc. Maar ja, ons wil probeer om LED-panele met visuals op en moving lights, die hele toetie, te organise. Soos ’n normale launch.
Dit is 30 Mei, maar die 22ste het ons ’n listening party op YouTube waar ons die album vir die eerste keer saam met mense gaan kan deurluister. Die mense by Rave Grohl werk aan beeldmateriaal vir die hele album. Daai visuals sal dan ook gebruik word op die screens tydens ons live show.
Die Heuwels Fantasties is nou al meer as 10 jaar aan die gang. Dis dalk ’n onregverdig moeilike vraag, maar as jy vinnig terugdink, op watter snit is jy die trotsste? Met ander woorde, as jy vir iemand één song kan speel om te wys "hierdie is Die Heuwels", wat sal dit wees? En ook, na so ’n lang tyd, en met gesinne en als, wonder ’n mens seker oor kitare ophang? Dink jy dit sal ooit vir die Heuwels sulke tyd raak, en watter soort omstandighede sal tot so ’n besluit lei?
Hunter: Ek dink juis omdat ons al so lank aan die gang is, maak dit minder en minder sin om die kitare op te hang. Mens sal seker maar een of ander tyd minder begin toer, maar daai besluit is nie meer ons s’n nie, lyk dit my.
My favourite song? Dit verander, en dis moeilik. Op die oomblik is dit "Mej Sonneblom", maar dit hang af vir wie ek wil impress.
Wat is die sin van die dood?
Hunter: Pouse.