Die rockgroep Tot Stilstand het onlangs ’n nuwe enkelsnit en gepaardgaande video, "Politiek", uitgereik. Juan-Griffith Pollard, voorman van die groep, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Juan-Griffith. Hoe’s alles?
Hi Henry. Wel, alles is ’n fokop op die oomblik, maar met my gaan dit actually befok goed, dankie.
Geluk met Tot Stilstand se nuwe single, "Politiek". Dis ’n kragtige, angsgedrewe snit, met die soort opregte, gestroopte harde rock wat skaars geword het die laaste tyd. Wanneer ’n mens die snit se titel hoor, dink jy onmiddellik dit sal ’n soort protes wees teen partypolitiek … Maar ek kry die gevoel dit gaan oor veel meer, naamlik magspeletjies in die algemeen – interpersoonlik, mens teen wêreld, mens teen self. Is dit korrek?
Yes, jy is 100% korrek, dit gaan oor politiek in elke aspek van mens se lewe vandag.
Hoe het die lied ontstaan, en wat wou jy en julle graag die sterkste daarmee aanspreek? Of anders gestel: Die chorus dui op intense frustrasie – watter frustrasie of frustrasies wou julle met dié lied uitwoed?
Die song het ons letterlik vier dae voor ons studio toe gegaan het, geskryf (was van plan om twee ander songs te record). Rudi Kleingeld, ons lead guitarist, het met die chord progression en hook by rehearsal aangekom en op daardie oomblik was ons almal net heavy gatvol vir die politiek wat in die wêreld en in alledaagse ondervindinge aangaan elke dag.
Daar is politiek in fokken alles. Kerk, skool, werk, verhoudings, ens. So die eerste woord wat deur my gevloei het toe ons Rudi se song begin jam het, was "politiek", en van daar af het die frustrasie net bly kom. Dit was ’n oomblik waar ek net gevoel het hoe siek politieke situasies die mens maak en hoe siek die mens geword het, dat daar vertrou word dat politieke leiers die mens se belange op die hart dra. Dit gaan weird klink, maar die song het óns gekies, om deur óns geskryf te word, en ons het maar net oorgegee en dit toegelaat om te gebeur.
Hoe meer ’n mens daarna luister, hoe meer besef jy daar is wel ’n besliste en sterk ondertoon van protes, of ontevredenheid met die status quo wat deurskemer in die lied. Sou jy die lied as protesmusiek beskryf? Wat is protesmusiek volgens jou, en hoe lyk dit deesdae? Is daar nog plek in die musiekbedryf of -landskap, veral plaaslik, vir musiek met ’n spesifieke boodskap, of musiek wat ’n knuppel in die duiwehok wil gooi? En, noudat COVID-19 almal se wêreldbeskouing ’n bietjie geruk het, hoe dink jy gaan daardie situasie verander in ’n postcovidwêreld?
Ek sal dit eerder as ’n eerlike en egte song beskryf wat direk uit die hart en siel kom, en dit kan seker gesien word as protes, maar ons is nie ’n protes-band nie. En ek dink dat daar altyd ’n oor sal wees wat nodig het om waarheid te hoor wat die emosies ’n bietjie laat vlamvat. Soms moet ’n mens maar sê wat jy voel, en dit is presies wat gebeur het met die song.
Ons gee nie om oor die musiekmark nie. Ons maak nie musiek om in ’n mark te val of om geld te maak nie – ons maak nou al die laaste drie jaar musiek want dit is ons uitlaatklep, ons ontsnapping in daardie rehearsal room van alles af, vir drie ure elke Dinsdagaand, en dit is die beste terapie.
Kom ons kom eers in die postcovidwêreld, want niemand het ’n idee wat daar voorlê en vir ons wag nie. Ons hoop maar vir die normaal om weer sy beurt te kry. Maar musiek is ’n geskenk wat aan ons gegee is, en niks sal dit kan wegvat nie.
Tot Stilstand het … wel ... tot stilstand gekom vir ’n paar jaar wat nuwe musiek betref. Julle musiek van so ver terug as 2011 – onder meer "Skeur my in twee", wat op alle fronte goed ontvang is – is nog aanlyn beskikbaar. Op julle Facebook-blad word gesê julle is gereed om ’n klomp nuwe musiek vry te stel en het die laaste drie jaar uitsluitlik aan die skryfproses afgestaan. Waar het die besluit om dit te doen vandaan gekom? En hoe het die skrywery verloop? Wat is die voor- en nadele vir ’n band om so ’n lang tyd slegs aan die skryf van nuwe musiek te bestee?
Ons het so ’n jaar ná "Skeur my in twee" se release ’n breek gevat. Twee van die members daardie tyd het op ander aspekte van hulle lewens begin fokus en het die band toe verlaat. Ek en Heinrich (drummer) het toe maar besluit om vir so ’n jaar of twee af te skakel. Maar dit was nie lank voor ons besluit het om net weer te jam nie, maar nét jam: niks gigs jaag of enige "moets" nie. Ons het net besluit om oor te begin in die sin van kom rehearsal toe en jam net E minor en G vir ’n uur lank. Wanneer ’n band begin, is daar altyd ’n lekker vloei waar mens net jam, en dan as jy weer kyk, kom daar songs uit dit uit, en daardie songs is gewoonlik lekker om te maak, want dit kom net. Jy sit nie en push om ’n sekere soort song te maak wat klink soos ander nie. Jy laat net toe dat die musiek deur jou werk.
Nogal vreemd dat die dag toe ek vir Heinrich bel en sê ons moet weer begin jam, was dieselfde dag wat Rudi my gebel het, out of nowhere, en gevra het of hy saam met ons kan jam. Natuurlik weens die feit dat ons besluit het om weer musiek te maak sonder strategie en sonder "moet dit en moet dat", en dit het ons drie goed gepas. So ons het nie werklik die tyd afgestaan net om te skryf nie, ons het net gejam, en toe ons drie jaar later sit en begin kyk na die songs wat net gebeur het, het ons besluit om dit song vir song te begin opneem vir fun en vir onsself. En ja, toe besluit ons om dit te deel met mense, en nou sit ek hier en word ge-interview.
Daar is nét voordele daaraan om tyd aan musiek te spandeer, en veral as jy dit doen vir jouself. As mense van ons songs hou, maak dit ons natuurlik bly, maar dit is hoe die song my en Rudi en Wouter en Heinrich laat voel wat werklik die belangrikste is.
Op julle Facebook-blad word Tot Stilstand ook beskryf as ’n band wat bitter ernstig is oor die musiek wat gemaak word (en dit kan gehoor word!). Tog het jy ook in ’n privaat gesprek voor hierdie onderhoud gesê Tot Stilstand is eintlik maar ’n "onder die radar unit". Waarom is dit die geval? Is dit ’n balans tussen verwagtinge bestuur en kuns skep wat julle self probeer handhaaf? Hoe sou jy die ideale balans in hierdie opsig vir Tot Stilstand (en groepe soos julle) beskryf, of dink jy julle het dit reeds behaal?
Ons jaag nie meer nie, ons doen net wat ons love op dié stadium, en hoe ons dit doen, en ons doen dit vir onsself. Ja, dit is die balans, presies soos jy dit noem.
Ek dink ons is nou op ’n plek waar dit net gaan oor songs maak wat vir ons werk, en dan dit by te las met goeie en unieke kuns wat dit visueel uitbeeld.
Dis duidelik dat hoëgehalte-lirieke besonder belangrik is vir julle. Is dit ’n kuns wat besig is om verlore te raak? Hoe werk die liriekskryfproses vir jou spesifiek? Wat kom eerste – die woorde, die akkoorde of die melodie? Wat is jou filosofie rondom hoe hulle met mekaar moet saamwerk, of watter een op die voorgrond moet wees? Hoe weet jy wanneer ’n song "gereed" of afgehandel is?
Die woorde vind altyd self hul plek op die akkoorde en op die tempo. Die meeste songs wat ek skryf, begin met akkoorde en ek kry altyd ’n chorus wat stick. Daarna sal ek sit en die storie rondom die chorus begin skryf. Deesdae, as ek klaar geskryf het, vra ek vir Rudi en Heinrich om input te gee, en dit werk baie goed, want nou is almal deel van die finale skryfproses en dit gee ’n mens ’n ander perspektief waarmee jy na die song kyk as wanneer jy net alleen skryf.
Ek dink altyd ek kon ’n song beter geskryf het, so vir my is ’n song nooit afgehandel nie, maar jy kom op ’n punt waar die band sê die song is ready.
Soos reeds gemeld, belowe julle op sosiale media dat daar binnekort baie nuwe musiek op pad is. Hoe verskil dit wat op pad is, van dit wat reeds uitgereik is? Hoe het julle as ’n groep oor die jare gegroei – musikaal, en ook in terme van die temas wat julle aanpak? Is dit noodwendig so dat ’n mens oor ander dinge begin sing soos jy ouer raak, of tot hoe ’n mate bly die frustrasies en kwelpunte maar dieselfde? En watter groeipunte sou jy nog liriekgewys en musikaal (en as ’n groep vriende-musikante) met Tot Stilstand wou bereik voor julle finaal kitare ophang (as dit ooit sal gebeur)?
Ons is baie meer volwasse in alle aspekte van ons lewens en musiek. Ons het definitief ’n baie harder band geword, en ek het uiteindelik ’n lekker skreestem ontwikkel wat ek nooit vroeër kon doen nie.
Temas kom per song, en die song sê wat die tema sal wees. Dit is nie ’n besluit wat jy maak nie, maar meer ’n besluit wat die song self maak. So die chords en emosie op die oomblik druk die tema deur. Jy sing maar wat jou siel sê jy moet sing en skryf, so dit bly ’n vloei van gebeure wat lei tot songs.
Ek het al probeer om die kitaar op te hang, maar hy los my net nie uit nie, dis in my DNS, so ek kan nie. Ons wil net jam en sê wat ons voel. Dis al. En om te sê wat jy voel, moet jy dit op ’n manier kan uitdruk wat maklik is om te verstaan. Dis soos om ’n venster na my siel oop te maak en te hoor wat die diepste deel van myself te sê het, en soms moet mens daardie gesprek ’n bietjie filtreer om sin te maak daarvan.
Die nuwe musiek is ook nie alles hard nie. Daar is ’n paar ballads wat nog kom, en rustiger songs. Maar ja, deesdae is daar baie waaroor mens kan skryf.
Jy was al voor Tot Stilstand ook by ander groepe betrokke, soos Grensbasis 13, en sit met meer as ’n dekade se ervaring van musiek skep en uitvoer. Watter hoogtepunte staan vir jou uit tot dusver – voor en agter die verhoog, of dalk ver van die verhoog af maar steeds met die musiek te make? Watter laagtepunte is daar, indien enige?
Die vriende wat musiek oor my pad gebring het, is vir seker die hoogtepunt, en die parties ná shows. Daar is niks beter as ’n lekker show met ’n lekker crowd nie. My vriendskap met al die manne van GB13 is steeds nog net so sterk soos toe ons saam gespeel het. En dieselfde met Tot Stilstand.
Musiekmaak is vir my daar om van die alledaagse laagtepunte te vergeet, so dis ’n highlight vir my.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Tot Stilstand en ook vir Juan-Griffith Pollard in, in so verre jy dit kan beheer?
Met "die Totties" (Tot stilstand) is ons besig om ’n kunstige beweging te begin met die nuwe materiaal, en soos genoem, unieke kunswerke vir elke song. Ons record nou net singles, met elk hul eie look en feel per song. Ons doen nie meer volle albums nie. So elke paar maande sal daar ’n nuwe song release met ’n video.
Ek dreig nou al vir jare dat ek weer ’n acoustic solo album wil doen … die teenoorgestelde van Tot Stilstand. Ek sit met baie songs wat ek nog eendag met die volk sal wil deel, maar wanneer dit gaan gebeur, weet ek nog nie.
Wat is die sin van die lewe?
Om net die beste weergawe van jouself te wees te alle tye. Moenie ’n p**s wees nie, wees net befok.