![]() Foto: Izak de Vries
|
Sêgoed van JC Steyn In 1974: “As Afrikaans sou uitsterf, sou daarmee verdwyn ’n sekere beskouingsmanier van die Suid-Afrikaanse werklikheid en by wyse van spreke ’n intellektuele leemte gelaat word.” (Transvaler, 27 April 1974) In 1974: “Behalwe aan vanselfsprekende sake soos militêre weerbaarheid, sal die volk ook moet dink aan die uitbouing van die aantrekkingskrag van Afrikaans. Mense moet hul tuis voel by die Afrikaner omdat ‘de ruimte van het volledig leven’ by hom, die Afrikaner, moontlik is.” (Transvaler, 27 April 1974) In 1977: “Ek glo oordrewe en onakkurate kritiek kan die volks- en taallojaliteit van die jongeres help ondermyn. Jy kan so ’n negatiewe beeld van die Afrikaner skep dat mense onverskillig raak teenoor Afrikaans en skaam om met die Afrikaner vereenselwig te word.” (Volksblad, 22 September 1977) “Taalstryde wat in taalliefde bly vassteek, het geen kans op sukses nie. Die geslaagde taalbewegings is dié waarin die bevordering van die taal gekoppel word aan die bemagtiging en opheffing van die mense wat dit praat.” (Rapport, 24 Julie 2005) “Ek het probleme met enige poging om Afrikaans los te maak van wat ‘Afrikanerskap’ genoem word. Wat moet dit dan impliseer? Dat Afrikaners hulle nie meer vir Afrikaans moet beywer nie? Of dat Afrikaners moet ophou om Afrikaners te wees as hulle Afrikaans wil bevorder? Net asof hulle dan Afrikaans sal bevorder!” (Rapport, 24 Julie 2005) Wat onderskei die aanslae op Afrikaans van vroeër vanuit ’n magsoorwig van waaragter ook die aanslae nou mag sit? “Afrikaanstaliges is ’n getalsminderheid sonder politieke mag, en dit sluit die mag in om wette te maak en uit te voer wat ’n billike behandeling van die taal in die onderwys en openbare lewe verseker. Daardie verlies is permanent. Maar ons kan skadelike beleid en praktyke teëgaan deur aktivisme en eie instellings. Daarvoor is die wil nodig, moed, selfvertroue. Hopelik is die verlies net tydelik.” (Die Burger, 27 Augustus 2008) |
Gebore en getoë
Jacob Cornelius Steyn (Jaap) is op 31 Julie 1938 op die plaas Mara in die distrik Fouriesburg in die Vrystaat gebore.
Jaap se oupa was Piet Steyn (gebore 23 Oktober 1863) wat getroud was met Hannie van den Berg (gebore 8 November 1867) van die plaas Rusfontein in die distrik Reitz in die Vrystaat. Piet Steyn het in die Anglo-Boereoorlog geveg. Hulle was gelukkiger as baie ander, aangesien nie een van hulle vyf kinders (drie seuns en twee dogters) in die hande van die Engelse geval het nie. Koos en Sampie was ook saam op kommando. Die opstal op Rusfontein, waar hulle gaan boer het, is egter afgebrand en verniel.
Na die oorlog het Piet en Hannie nog vyf kinders gehad – saam met die ander dus twaalf, waarvan tien seuns was. Jaap se pa, Jacob Cornelius, is op 3 Oktober 1904 gebore. In 1911 is hy vir die eerste keer skool toe – ’n plaasskool op Anys wat in 1904 opgerig is. In 1912 is die dorp Petrus Steyn in die Oos-Vrystaat gestig, waar daar teen 1913 ’n skool met 60 leerlinge was. In 1914 het Piet se ouers met die gesin na die plaas Houtnek getrek, so twee kilometer oos van Petrus Steyn. Hulle moes weg van Rusfontein as gevolg van die verwoesting van die oorlog en ’n roukoop-transaksie wat skeefgeloop het. Die oudste seun, Koos, het sy pa aangeraai om ’n plek naby Petrus Steyn te koop sodat die jonger kinders daar kon skoolgaan.
Ongeveer in 1918, die jaar van die groot griep, is Jaap se pa uit die skool om ’n ruk lank op die plaas te gaan help. Kort na sy aanneming en voorstelling in die kerk in 1924 is Piet na Durban, waar hy op die Spoorweë gaan werk het, maar Durban se hitte en bedompigheid het nie met hom geakkordeer nie, maar toe hy vir ’n oorplasing vra, het die Spoorweë dit geweier en hy het bedank. Later in die jare twintig het Piet die geleentheid gekry om na Fouriesburg te gaan om sy pa se suster, tant Jaat, te gaan help met die boerdery na haar man se dood. En dit is daar waar Piet vir Marthie Mellet ontmoet het.
Marthie was die dogter van Hendrik Francois Mellet en Maria wat op Grasvlakte naby Kimberley geboer het. Marthie is op 11 Desember 1910 gebore in die omgewing van Reivilo, tans in die Noordwes. Sy het drie broers gehad. In 1917 is Marthie na die plaasskool op die plaas Slypklip en daarna na die skool op Windsorton in die Noord-Kaap. Sy was in standerd sewe toe haar pa haar uit die skool gehaal het om met haar ma se boerdery te gaan help. In sy boek Sonkyker skryf Jaap dat dit ’n groot jammerte was dat Marthie nie verder kon leer nie, want hy dink sy sou ’n goeie joernalis gewees het. “Ek het dikwels gewens ek kon so lewendig en moeiteloos skryf soos sy.”
Die plaaslewe was nie vir Marthie vervelig nie. Sy kon baie mooi borduur, brei, hekel en klere maak en ook koek bak en kos maak. Daarby het sy graag gelees, soos Die Huisgenoot en Die Boerevrou, die eerste Afrikaanse vroueblad, en ook De Kerkbode. Haar pa was ingeteken op Die Burger. Toe sy agtien was, het sy vir Jaap Steyn ontmoet. Hy het haar kort ná hulle ontmoeting twee klein wit Nederlandse psalm- en gesangboekies gegee met die woorde voorin: “Aan ME Mellet van JC Steyn. Ter gedagtenis aan haar 20ste verjaardag.” Op 10 April 1934 is hulle in die NG Kerk Warrenton deur ds JA van Blerk getroud.
Hulle het hulle op die plaas Mara in die distrik Fouriesburg in die Vrystaat gevestig, waar Jaap sr twee vertrekke van hul toekomstige huis van sandsteen gebou het. Hulle eersteling, ’n dogtertjie, is op 31 Julie 1935 gebore, maar is ongelukkig dood by geboorte. En toe, op dieselfde dag net drie jaar later, is Jaap gebore. Sy name moes eintlik Pieter Willem, sy oupa Steyn se name, gewees het, maar sy ma was beslis: “Sy naam is Japie.” En Jacob Cornelius is hy dus gedoop.
Jaap se oudste suster, Maria Elizabeth (Ria), is op 10 Oktober 1941 in die kraaminrigting in Fouriesburg gebore. Jaap se naam vir Ria was Maliela. Die Steyns se derde kind, Hannetjie, is in Julie 1948 gebore.
In 1944 was daar ’n ingrypende verandering in die Steyn-gesin se lewens. Sy pa se neef Koos wou nou self boer en Piet moes dus vir hom en sy gesin ’n ander heenkome vind. In die Petrus Steyn-omgewing was ’n klein plasie, Omdraai-Noord (102 hektaar groot), te huur. Nadat hulle met die eienaars (Grovés) ooreengekom het oor die huur, het die Grovés besluit om die plaas te verkoop en aan Piet die eerste opsie gegee. Piet kon die geld bymekaarmaak en die Steyns het soontoe verhuis.
Jaap skryf in Sonkyker dat dit ’n harder, soberder wêreld as Fouriesburg was, en nog jare ná die verhuising was die plaas Mara vir hom ’n verlore paradys: “sy bloekomblomme, soet manna en die stink, taai blare; sy fonteintjies (met geheimsinnige ‘waters onder die aarde’); ’n plaat veldblommetjies op ’n plekkie waarvan vermoedelik net ek geweet het; ’n braambos in ’n diep sloot; ’n uitsig op pragtige berge”.
Jaap was baie onwillig om skool toe te gaan. Hy is einde Julie 1944 vir die eerste keer daarheen. Een môre het hy omgedraai en teruggegaan huis toe. Koba Venter, wat saam met hom skool toe geloop het, het gaan klik: “Antie, Japie sê ‘ja’ hy wil nie skool toe gaan nie!” Sy ma het hom ’n paar ligte rapse gegee met ’n voorslagriempie wat toevallig byderhand was. “Dit het my permanent van skoolsiekte genees. Tot my vreugde het ek ’n ruk daarna waterpokkies gekry en kon ek wegbly. Tog was skool nie net sleg nie. Somme was nie moeilik nie; die eerste Bybelversies kon ek maklik baasraak: psalm 23 en psalm 121.” (...)
“In die skool moes ons sê watter Hallelujalied ons graag wou sing, en my klasgenote het steeds ‘As Hy weer kom’ en ‘Jesus, min my salig lot’ opgegee. Eendag het die juffrou my gevra, en ek het ’n moeilike titel uitgestamel: ‘Toe moeders na Jesus hul kindertjies gebring het’. Die ‘pêrels’ van ‘As Hy weer kom’ het ek nie geken nie, en van ’n ‘salig lot’ niks verstaan nie, maar ek het agtergekom dat moeder ’n verhewe sinoniem van ma is, en intuïtief besef dat ’n mens altyd seker kon wees dat sy die beste vir haar kind wil hê.”
Jaap het sy eerste skooljare op die plaasskool op Omdraai-Suid deurgebring. Tot in 1947 was daar twee onderwysers – een vir sub A tot standerd twee (graad 1 tot 4) en een vir standerd 3 tot 6 (graad 5 tot 8). Daarna moes een onderwyser agt standerds behartig. Die laerskool is afgesluit met die openbare standerd 6-eksamen.
“Ons vakke was die gewone, maar ons moes eindeloos somme maak, omdat ons self daarmee kon aangaan terwyl die onderwyser iets vir ander standerds verduidelik het. Die verskille tussen die omgangstaal en die skooltaal was betreklik gering, al moes ons mettertyd agterkom dat woorde soos lat, mar, gan, ok, pêre, knelter, meerkaaie en petattas op skrif laat, maar, gaan, ook, perde, kniehalter, meerkatte en patats is.”
Op weeksdae moes die kinders allerlei takies op die plaas verrig. Die jong Jaap moes jong beeste laat water suip, partykeer moes hy help met die ysterwerk waar hy met die blaasbalk en die aambeeld gewerk het. Tyd vir speel of lees was daar altyd. “My lekkerste speel was om paaie te maak, of damme in die spruit te bou – en om aan te hou om die walle te versterk en te verhoog totdat die stroom êrens móés deurbreek. (...)
“My lekkerste leesstof was Die Afrikaanse Kinderensiklopedie waarop Pa en Ma vir ons kinders ingeteken het nog voor ons kon lees. Die eerste twee dele het hulle in 1943 en 1944 ontvang. Ek het ná die koms van deel 3 in 1947 daarin begin lees, want dit het ’n interessante artikel bevat oor die geskiedenis van die trein. Met elke deurblaai het ek ’n nuwe onderwerp ontdek: geskiedenis, klere, plante, diere. Bach en Händel het ek uit die ensiklopedie geken voordat ek van hulle musiek leer hou het. Ná die lees van prof Gawie Cillié se boeiende stuk oor die planete van ons sonnestelsel wou ek sterrekundige word. Die Afrikaanse Kinderensiklopedie was vir nuuskieriges die ekwivalent van latere generasies se internet.”
Saans nadat die kinders hulle huiswerk gedoen het, het hulle ma vir hulle gelees. “Karl Kielblock se speurverhale en ligte historiese romans was baie gewild en ons het hulle almal besit. Van die res herinner ek my ’n paar Tarzan-boeke soos Tarzan en die aapman, maar die Rooi Jan-reeks het ons glad nie geken nie. Meestal het ons na Die Huisgenoot se leesstof geluister.”
As kind het Jaap eendag toevallig afgekom op Sarah Raal se Met die Boere in die veld wat sy ma-hulle aangeskaf het. Daar is destyds baie daaroor geskryf; dit was die vertelling van ’n jong Vrystaatse vrou wat in die oorlog, nadat haar ouers gevang is, van die plaas moes vlug, ’n ruk op kommando was, en later ’n tyd in die konsentrasiekamp was. Sy het geskryf dat daar glasstukkies en blou vitrioel in die rantsoene was wat aan die vroue uitgedeel is. “Toe ek as kind van so nege, tien jaar die boek lees, het ek ’n ‘toneelstukkie’ oor kamp-ellende geskryf en dit het ‘verskyn’ in Die Kers, my eie tydskrif op die stywe, persblou papier waarin kerse vroeër jare toegedraai is. Die ‘toneelstuk’-poging het gevolg op ’n opvoering van ’n taamlik gewaagde klug deur amateurs by die Dingaansfees op Hooggelegen. Toe my ma my dialoog lees, het sy met ’n laggie ’n aanmerking gemaak oor my vergesogte hoeveelhede fyn glas. Dit het nooit by my op gekom om iets te skryf vir Die Jongspan of Môrelig nie. Laasgenoemde, ’n tweelingsussie van die Sondagskoolblad Die Kindervriend het briewe en stigtelike storietjies van kinders geplaas.”
In 1951 is Jaap na die dorpskool, die Hoërskool JA Malherbe (vernoem na die skoolhoof), op Petrus Steyn. Die nag van 24 Januarie was die eerste nag dat hy weg van die gesin geslaap het. “Dit het lank geduur voor ek maats gemaak het, en die eerste van almal met Willie Luwes, wat as nuweling saam met my ‘ingesout’ is, en twee Rautenbach-neefs Piet en Frikkie. Piet het in 1952 besluit ek is voortaan Jaap en nie Japie nie. Eintlik ‘ou Jaap’ want dit was die gebruik – wat ek gesukkel het om aan te leer – dat jy ou vooraan elke naam sê. Natuurlik het ek nie omgegee oor die nuwe naam nie: die hoogste strewe van elke skoolkind is om deur sy maats aanvaar te word en een van die ouens te wees. By die skool, universiteit en later by die werk was my naam dus Jaap, by die familie Japie. Behalwe dat ek ’n karikatuur van ’n egte Boerseun was, was ek ’n prototipe van ’n onnosele plaasjapie.”
Vir Jaap was die grootste marteling op skool houtwerk. “Plaasskoolkinders het met ’n agterstand in die dorpskool aangekom, en ek het verwag om te sukkel,” vertel Jaap in Sonkyker. “In werklikheid was alles baie maklik, en het ek tot almal se verbasing, ook my eie, van die begin af ‘eerste’ gestaan.”
Hier na standerd nege toe was Jaap se beste vakke skeinat en geskiedenis, met wiskunde wat bietjie wisselvallig was. Afrikaans en Duits was redelik. Hy vertel: “Ek het gefaal met alles waarin ’n seun moes presteer: houtwerk, skyfskiet, kadette; net een ding het oorgebly om te wys ek is nie ’n sissie nie. En dus het ek die las van rugby vir die res van my skoolloopbaan vrywillig gedra. Van rugby het ek niks gehou nie, want ek het die fynere puntjies van die spel nie verstaan nie (niemand het dit verduidelik nie) en bowendien het rugby speel beteken dat, as ’n mens vir ’n span gekies word, jy Saterdae moet speel en dus nie Vrydae al kon huis toe gaan nie. As ek ’n advertensie kan aanpas: ek het lyf wegsteek nie uitgevind nie, maar dit vervolmaak, omdat ek nie geweet het wat om met die bal aan te vang sonder om die een of ander obskure reël te oortree nie. Die mees troostelose herinneringe aan skool is rugby-oefeninge op koue, stowwerige Maandagmiddae in Augustus.”
Jaap het egter lief vir lees gebly. Hy het in die vroeë 1950’s op die Tafelberg-Biblioteekskema ingeteken, maar tot sy teleurstelling was dit hoofsaaklik doodgewone, simpel liefdesverhale met titels soos Maanlig-melodie. Geskiedenis en politiek was van jongs af sy grootste liefhebbery. “Die heel eerste boek wat ek gekoop het, was die Geskiedenis-atlas vir Suid-Afrika van AJ Boëseken en andere. Dit was in 1948 in my standerd 3-jaar. Destyds het ons boeke met vaalpapier oorgetrek, en dié een het ’n oortreksel gekry van die sterk papier waarvan sementsakkies gemaak is. Dit hou nóg!”
Hulle huisbiblioteek was goed voorsien van kerklike en stigtelike boeke en dan was daar ook Sophie Roux se Wrede grense (1935) wat ’n taamlik “gewaagde” boek vir sy tyd was met die tema van die “gevalle” meisie. JM Friedenthal se Die doodsengel op die waspoor (1939) was ’n gunsteling. In matriek was Hans-die-Skipper van DF Malherbe ’n voorgeskrewe boek. In 1954 het Jaap vir hom Markus Viljoen, destydse redakteur van Die Huisgenoot, se ’n Joernalis vertel gekoop. Hierdie boek het sy lewe verander, want dit het ’n beroep aan Jaap bekendgestel wat hy vroeër nie sterk oorweeg het nie. Viljoen se interessante boek het hom laat besluit om joernalis te word.
In sy matriekjaar – 1955 – moes Jaap aansoek doen om ’n studiebeurs. Dié beurse was egter skaars. Aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), oftewel die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) soos dit destyds bekendgestaan het, was die prestigeryke Thomas Robertson-beurs, maar daarvoor het hy nie eers aansoek gedoen nie. Hy het wel aansoek gedoen om ’n Volksblad-beurs en -lening. Die onderhoud was egter ’n fiasko en amper was sy universiteitsplanne na die maan. Sy pa en ma het egter oë toegemaak, beeste verkoop en geld geleen. En hy is universiteit toe. Al raad wat sy pa gegee het, was: “Sorg dat jou skoene altyd skoon is, en moenie dat jou hare te lank word nie.”
Jaap se pa is op 5 November 1989 na ’n hartaanval op Petrus Steyn oorlede. Die huis op Petrus Steyn is verkoop en Jaap se ma, Marthie, het by hom in sy meenthuis in Bloemfontein ingetrek. Sy is op 1 November 2003 op 92-jarige ouderdom ná ’n lang siekte oorlede.
Verdere studie en werk
Jaap is in 1956 na UOVS, waar hy hom ingeskryf het vir die BA-graad met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke, wat hy albei met onderskeiding geslaag het. Hy verwerf sy BA in 1958.
Aan die einde van sy eerste jaar het Jaap aansoek gedoen om ’n beurs by Nasionale Boekhandel, en hoewel die bestuurder hom laat weet het dat hy die beurs gekry het, moes hy Bloemfontein toe gaan vir ’n onderhoud. Na die onderhoud is hy na die Volksblad-gebou, waar sy universiteitsvriend Nols Bolton, wenner van Die Volksblad-beurs die vorige jaar, vakansiewerk gedoen het. Bolton het Jaap se geval onder die aandag van die base by Die Volksblad gebring en gesê dat Jaap eintlik joernalis wou word, maar dat hy uit desperaatheid om die ander beurs aansoek gedoen het. Jaap kon dit nie ontken nie en ’n Volksblad-beurs is aan hom toegeken – ietwat tot sy ergernis, want hy wou nie meer joernalis word nie en hy het gevoel dat sy lewe in ’n rigting gestuur word wat hy nie self sou gekies het nie.
In hulle derde jaar was Bolton redakteur van die studenteblad van die UV, die Irawa. Jaap kon hom help met die taalversorging van die ander redaksielede se berigte en hy het ook skryfkans gekry.
Na sy BA studeer Jaap deeltyds en behaal hy sy BA Honneurs en sy MA in Afrikaans en Nederlands (in 1962), beide met lof, aan die UV. Vanaf 1 Januarie 1959 is Jaap verbonde aan die redaksie van Die Volksblad as vertaler, verslaggewer, subredakteur en hoofsub. Hy het aan Ronél van der Merwe (Volksblad, 22 September 1977) vertel van sy veelbewoë begin as subredakteur by die koerant: “In die vaakste tyd vir ’n sub, een vroeë Saterdagmôre – net in dié tyd dat Brittanje geteister is deur allerhande soorte sedeskandale – het leerling-sub Steyn ’n foutiewe vertaling van ‘vicelike grip’ (‘wurggreep’) as ’n ‘onsedelikagtige greep’ laat deurglip in die koerant in. Tot klaarblyklike ontsteltenis van die hoofredakteur! “(Maar dit was darem nie ek wat ‘Durban City goalkeeper’ as ‘Durban se stadstronkbewaarder’ laat deurgaan het nie!)”
Hy verlaat die koerant op 15 Julie 1964 om sy studie in Amsterdam te gaan voortsit, waar hy sy Drs Litt in Algemene Taalwetenskap en Nederlandse Taalkunde in 1966 aan die Gemeentelijke Universiteit cum laude onder die leiding van Anton Reichling behaal. ’n Deel van sy studiegeld verdien hy as korrespondent van Die Volksblad en Die Burger.
In 1967 verskyn daar ’n advertensie vir ’n lektoraat in Afrikaans en Nederlands aan die UV in die plek van FIJ van Rensburg wat ’n professoraat by RAU aanvaar het. Vol hoop doen Jaap aansoek en sy verwagting is nog groter toe hy hoor dat hy die enigste kandidaat is. Maar Benedictus Kok, departementshoof van Afrikaans en Nederlands, deel hom mee dat die pos weer geadverteer gaan word: “[E]erstens omdat jy nie onmiddellik beskikbaar sou gewees het nie en tweedens oor die effense onsekerheid oor die onbillikheid om jou voor groot klasse van oor die honderd te laat optree. Ons ken mekaar goed genoeg dat ek hierdie aspek waarvan jy bewus is, weer noem. Oor jou akademiese kwalifikasies is daar nie die minste twyfel nie ...”
Jaap vertel dat hy afgehaal gevoel het, hoewel hy besef het dat Kok gelyk gehad het – hy sou senuagtig gevoel het voor groot klasse – maar hy het tog gevoel dat hy daarby sou kon aanpas. Maar net daarna het hy gehoor van ’n lektoraat in Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit van Port Elizabeth (UPE) en is hy met sy terugkeer na Suid-Afrika op 1 Januarie 1968 daarheen, waar hy sy DLitt in 1969 verwerf met ’n proefskrif getiteld Enkele sintaktiese kenmerke van sommige woordklasse van Afrikaans.
Aan die UPE leer Jaap veral baie by twee dosente. “Hulle was twee van die briljantste wat ek ooit meegemaak het,” vertel hy in Sonkyker, “al het hulle vanweë endemiese onenigheid in die universiteit-senaat nie langs dieselfde vuur gesit nie.” Die een was Jaap se baas, Diek van Wyk, en die ander leermeester was TT Cloete, wat inspirerend was, veral vir ’n jong digter soos Jaap wat begin het om sy eerste verse neer te skryf. Hy het van sy verse aan FIJ van Rensburg gestuur, wat dit aan AP Grové, redakteur van Standpunte, gestuur het, en tot Jaap se blydskap is twee van sy eerste pogings in Standpunte geplaas.
In Junie 1972 verlaat Jaap se ouers die plaas en gaan vestig hulle op Petrus Steyn waar sy pa ’n erf gekoop het en self die huis gebou het met die hulp van sy broer, Jan.
Vanaf 1 Julie 1970 tot 30 Junie 1974 is Jaap senior lektor in Algemene Taalwetenskap aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en daarna weer vanaf September 1975 tot Maart 1985.
Aan die einde van 1973 het die redakteur van Rapport, Willem Wepener, vir Jaap ’n pos aangebied as lid van die hoofredaksie. In koerantbriewe en artikels het hy verligte standpunte gestel waarvan die Rapport-mense gehou het – vandaar die aanbod. Jaap het buitendien nie veel van doseerwerk gehou nie en die RAU se eindelose vergaderings en simposiums het hom nie aangestaan nie. Ook het Jan Spies, wat destyds een van sy kollegas was, hom om politieke redes sterk aangemoedig. In Julie 1974 aanvaar hy diens. “Dit was ’n voorreg om saam met bekende joernaliste soos Rykie van Reenen en Wepener te werk.”
Jaap het tot die einde van Augustus 1975 by Rapport gewerk. Die Vrydagaand van 15 Augustus 1975 vra die redakteur vir Jaap om ’n hoofartikel te skryf na aanleiding van die stigting van die GRA 100 jaar tevore. Jaap was bekommerd oor hoe al die dinge wat in die 100 jaar gebeur het – die verwydering tussen wit en bruin, die bedreiging van sensuur en die koms van televisie vroeg in 1976 – in ’n kort hoofartikel ingewerk kan word. Jaap het gaan kers opsteek by Harri Muller, een van sy kollegas, en hierdie samewerking (met Harri as hoofouteur) het tot die volgende stuk gelei onder die titel: “Hip, hip, hip hoerê!”
“Wie had kon dink dat dit nog my sou worde? Myn skepsels! Ek word o’erals in di land gepraat – fan Kaap tot in Transvaal, o’erkant di Gariep in Suidwes en oek in di land fan Rhodes.
“En fanjaar oek glad nog ’n monument fer my by di Paarl en fele feeste daaby!
“Dit gaan ygenlik byna bo myn aard, maar ek is regte bly. Ek het nou wel de’entlik ’n taal geworde waarin myn mense kan sê net wat hulle wil.
“En nou hoor ek algar fraag o’er my: Wat ferder?
“Party is bang fer my part en spreek graag ’n fermanende woord. Dis oek goed so dat myn mense só fer my omgé, maar ek is daarom hard en taai.
“Liive mense, weet goed: ek is nimand syn baas ni, en g’neen is baas o’er my ni, al ferbeel party hulle danig so.
“Ni dat ek my somaar lat geseg ni! As imand my op myn plek wil sit, soos heelparty Engelse, of myn siil fer hulle alleen wil opeis, soos heelparty Afrikaanders, dan ferseg ik nes ’n steeks perd – slae en stote help net niks ni; ik gaat myn yge gang.”
Die redakteur was egter van mening dat dit te kort was en Jaap moes iets byskryf en volgens hom het dit die artikel heeltemal bederf.
Vanaf April 1985 was Jaap verbonde aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die UV as professor-navorser. Hy het ingeskakel by die destyds bestaande navorsingsprojekte oor Afrikaans, soos onder meer die Afrikaans van die Oranjerivierstreek, en ’n taalbeplanningsprojek. Hy sou hom ook besig hou met navorsing oor strominge onder Afrikaners aan die begin van die 20ste eeu en hul houdings teenoor Afrikaans.
Gedurende die tweede helfte van 1997 het die UV sy uittreepakkette aangekondig vir personeellede wat bereid sou wees om voor die ouderdom van 65 vrywillig te bedank. Vanweë sy werk aan die Louw-biografie het Jaap min artikels geproduseer en het hy besef dat hy sou moes gaan. Hy het dus begin uitkyk vir ander werk. Na onderhandelinge het hy ’n konsultantepos by Naspers gekry. Dit het beteken dat hy met sy werk kon voortgaan, en dit is ook duidelik in die kontrak gestipuleer dat hy nie “in diens van” Naspers sou wees nie.
In 1998 het daar dus ’n nuwe bedeling vir Jaap begin. Hy het sy gewone werk by die UV voortgesit en in sy ander hoedanigheid het hy byeenkomste van die Oorlegplatform vir Afrikaans bygewoon. Jaap vertel self: “Ton Vosloo was weer, soos by die Stigting vir Afrikaans, die groot krag agter dié Oorlegplatform, ’n soort ‘Afrikaanse Raad van Afgevaardigdes’, waarin wit, bruin en swart Afrikaanstaliges hulle ewe tuis sou voel. Oor die Oorlegplatform en sy werksaamhede kon ek uitvoerig verslag doen in ’n jaarlikse ‘Taalkroniek’ wat ek meer as tien jaar vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe behartig het. Johan de Wet, redakteur van Beeld, het my gevra om mee te werk aan ’n nuwe rubriek, ‘Een van drie’. Drie buite-persone het om die beurt politieke kommentaar gelewer. Die ander twee was Hermann Giliomee en Herbert Beukes. Later is die rubriek na die hoofartikelblad verskuif en algaande het al hoe meer medewerkers bygekom – sodat die skryfbeurte afgeneem het tot een keer in ses en soms sewe weke.”
Jaap het in 1975 ’n bundel prosastukke aan Tafelberg voorgelê met die oog op publikasie, met so ’n paar los verse agteraan vasgesteek. Nadat die mense by Tafelberg die verse gelees het, het hulle daarop aangedring om eerder ’n bundel verse uit te gee. En so is Die grammatika van liefhê (1975) gebore wat in 1976 met beide die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys bekroon is.
Abraham de Vries begin sy resensie van Die grammatika van liefhê in Die Burger (22 Desember 1975) as volg: “Vir die gewone taalgebruiker kan dit dalk na kettery klink, maar dis ’n feit dat daar bloedmin taalkundiges is wat terselfdertyd ore het vir poësie of ’n verstand vir stories. ’n Taalkundige wat dig, is ’n uitsondering. ’n Taalkundige wat boonop met volle inset van sy taalkundigheid dig, dit wil sê dié kundigheid onderwerp maak van sy poësie, is nóg skaarser. Die woord, ’n frase, selfs ’n sin (die dinge waaruit poësie bestaan) word natuurlik meermale ‘koerantmateriaal’ in gedigte, dus die onderwerp, die ding wat verdig word, maar dis ’n ander saak.
“JC Steyn se Die grammatika van liefhê is, by al die bostaande onreëlmatighede, boonop nog een van die beste bundels poësie van 1975 en – ek glo nie dis naasteby ’n oorskatting nie – die sterkste debuut sedert Breytenbach. (...)
“Waar die taal onderwerp is van soveel gedigte in ’n bundel, kan ’n mens verwag dat daar kommentaar gelewer sal word op die taalsituasie in Suid-Afrika. In die afdeling ‘Die taal is gans die volk’ word dan ook spottenderwys taalvermenging aan die bod gebring, wat dan gevolg word deur ’n aantal gedigte waarin die oorgangsmotief taalkundig verdig word. Dis egter, myns insiens, eers in ‘Oos, wes, tuisland slegs’, waar Steyn se versetpoësie tot sy reg kom. (...) Die grammatika van liefhê is ’n hoogtepunt in vanjaar se boeke-oes.”
André P Brink spreek in Rapport van 25 Januarie 1976 bedenkinge oor die bundel uit, veral ten opsigte van die oordaad en willekeurigheid en blote vernuftigheid, “maar dan is daar die goeie gedigte, en die konsep van die bundel in sy geheel, met sy verbluffende ‘strukturalistiese’ opset (in Lévi-Strauss se sin van die woord) wat mens noop om Die grammatika van liefhê te bestempel as een van die heel sterkste debute wat nog in Afrikaans verskyn het, en een van die belangrikste bundels wat Sewentig nog opgelewer het – saam met die werk van Wilma Stockenström, Leon Strydom, Fanie Olivier en een of twee ander.
“En dit is moeilik om binne die bestek van ’n voorlopige bespreking reg te laat geskied aan mens se sin van opwinding en avontuur, en die ‘vreugde van herkenning’ by die lees van die bundel; die soort vreugde wat mens daaruit put om ’n waaragtige vakman aan die werk te sien. (...) Die grammatika van liefhê is ’n sleutelbundel in ons digkuns van hierdie dekade; en dit is ’n prestasie wat hom, as debuutbundel, vergelykbaar maak met Opperman, Blum, Breytenbach en Wilma Stockenström.”
Jaap skryf in Sonkyker dat hy heel verras was met bogenoemde twee resensies, hoewel hy bewus was van die feit dat sommige mense aanstoot geneem het aan die bundel. Berta Smit, Tafelberg se redaksiehoof, was met verlof en Lappie Labuschagne het die manuskrip versorg. Danie van Niekerk het later aan Jaap gesê dat Berta Smit verontwaardig gesê het: “Ek wil net sê met hierdie publikasie het ek niks te make gehad nie, en ek skaam my dat so iets by Tafelberg verskyn het.”
Die verse in Die grammatika van liefhê was egter uit ’n verbye fase in Jaap se lewe – van sy 30ste tot 35ste jaar – en hy het nie weer daarna verse geskryf nie: “Om met die beeldende taal van die orakel van Delphi teenoor keiser Julianus te praat: die suisende water het opgedroog, die fontein van inspirasie het geswyg en die tempel het ’n puinhoop geword, ’n ruïne.”
Na sy poësiedebuut debuteer Jaap in 1976 as prosaskrywer met sy bundel kortverhale Op pad na die grens. André P Brink skryf in Rapport (31 Oktober 1976) dat grens inderdaad die sleutelbegrip van hierdie bundel is, want in elk van die tien verhale gaan dit oor, en om, mense in ’n grenssituasie: grense tussen swart en wit, tussen Europa en Afrika; die vreemde grens tussen oorlog en vrede of lewe en dood; die grense van liefde of van onbegrip wat mense skei.
“En dan, as uitvloeisel van hierdie veelsinnige belewenis, ’n mineurtoon, ’n treurtoon, ’n heimwee na die suiwerheid van werklike begrip tussen mens en mens – soos dit, wie weet?, vroeër bestaan het. (...)
“Met hierdie bundel vermag hy die merkwaardige om hom te skaar aan die kante van albei die skrywers wat hy in die verhaal ‘By die sterfbed van ’n mislukte man’ aanhaal. Solzhenitsyn: ‘’n Letterkundige wat nie die reg het om sy samelewing deelgenoot te maak van sy pyn en verontrusting en hom op die regte tyd waarsku teen dreigende sedelike en maatskaplike gevare nie, verdien selfs nie eens die naam letterkunde nie.’ En Nabokov: ‘I am bored by writers who join the social comment racket.’ Want terwyl ons hier enersyds van die eerlikste ‘betrokke literatuur’ teenkom wat ons nog in Afrikaans gekry het, word dit nie juis as ’n ‘social comment racket’ aangepak nie, maar as ’n estetiese spel, ’n kuns van Steyn – wat op heel besondere manier die vertelsituasie en die funksie van die verteller ontgin: in byna elke verhaal gaan dit nie om die oordra van ’n reeds voltooide gebeure nie, maar om die erváár daarvan in woorde; en om die onthulling van die verteller deur sy vertelling. (...)
“Maar om die onbevangenheid en geskakeerdheid waarmee Steyn vandag die Afrikaanse problematiek aansny (werklik een van die éérste kere dat ons suiwer prosa hom bemoei met die vraag oor wat dit is om vandag Afrikaner te wees) moet die bundel verwelkom word.” Brink voel egter dat Steyn se prosa nie op dieselfde hoë peil as sy poësie is nie.
Hennie Aucamp skryf in Die Oosterlig van 1 Desember 1976 dat soos die bundel vorder, Steyn se ernstige spel met tyd al hoe meer virtuoos word; “Word Op pad na die grens nie net ’n dokument uit/van ’n bepaalde tyd nie, maar ook ’n dokument oor tyd as emosionele en filosofiese begrip. (...) Op pad na die grens behoort so gou moontlik in Engels, Nederlands en ’n Bantoetaal of twee vertaal te word, desnoods met die weglating of herskrywing van enkele tekste. Dis ’n noodsaaklike literêre aanvulling van The puritans in Africa van WA de Klerk, waarvan Laurens van der Post gesê het: ‘I cannot recommend this book too strongly, both to Afrikaners and their enemies.’ En dieselfde geld Op pad na die grens.”
As romanskrywer debuteer Jaap in 1978 met Dagboek van ’n verraaier. Hilda Grobler skryf in Hoofstad (27 Julie 1979) dat Steyn in hierdie roman ’n klimaat saamvat en realiseer wat soveel “sewentigers” probeer uitspel het, en lewer hy daarvan bewys dat hy nie net inhoudelik skeppend kan dink en te werk gaan nie, maar ook vormstruktureel. “Soos die titel aandui, is dit ’n dagboek na vorm en inhoud. Een van die opvallendste aspekte van die dagboek is dat dit nie ’n gewone dagboek is nie – dit is die dagboek van ’n Afrikaner-intellektueel wat intiem betrokke is by sy Afrikanerskap, sy verlede, die toekoms van die land. Die dagboek wissel in stemming en diepte na gelang van die dag se gerapporteerde gebeure; soms is dit sterk filosofies (veral wanneer oor die wisselende aspekte van verraad besin word), soms is dit baie akademies (veral waar daar talle aanhalings uit akademiese publikasies aangestip word), soms is dit gewoon bespiegelend van aard sonder dat ’n hoë psigologiese en/of filosofiese spits bereik word.
“Afgesien van hierdie aspekte, hou die skrywer hom voortdurend besig met ’n nie-doelbewuste mate van selfondersoek in terme van sy historiese verantwoordelikheid. Dit word afgewissel met doelbewuste selfondersoek – ’n ondersoek wat na Herman se dood verskerp en uiteindelik tot die finale verraad, wat hy nie voorsien het nie, lei. (...)
“Die verteller in die dagboek beskou hom aanvanklik as een van die min mense wat werklik bewus is van wat aangaan in die land en spreek dan die ander, soos Gert en Herman, daaroor toe – hy wil hê dat hulle moet wakker skrik, dat hulle moet verander.”
Volgens Willem de Klerk (Transvaler, 10 Junie 1978) praat alle soort Afrikaners in Dagboek van ’n verraaier – dié wat seker is van ons saak, die twyfelaars, die opstandiges, die vraestellers, dié wat tradisionele antwoorde gee en dié wat nuwe weë verken. “In die boek praat hulle met mekaar. Die gesprek is plek-plek fel en verwytend, ongeduldig en twistend, maar tog skemer die begrip vir mekaar en die gemeenskaplike liefde vir volk, land en taal in die verskillende standpuntstellings deur. Die boeiende is dat dié Afrikaners nie in ’n lugleegte met mekaar praat nie. Die ‘wolk van getuies’ rondom hulle praat saam – die voorgeslagte op Boereplase, Paulus, die Calvinis Kuyper. Al die monde wat teen die Afrikaner praat, kry ook spreekbeurt. (...)
“Dit alles is vernuftig in ’n verhaal ingevleg van ’n Afrikaanse akademikus wat sy ervaringe, sy flitsgedagtes en sy ontmoetinge in dagboekvorm neerskrywe. Sy betrokkenheid by ’n lomp versetbeweging is die draad wat alles in dié boek saambind. (...)
“Dis nie maklike leesstof nie. Die filosofiese ondertoon. Skielike wendinge in gedagtespronge, ingewikkelde sinskonstruksies en koppeling van verskillende wêrelde, vra gekonsentreerde lees. Die ‘ingewyde’ leser van dié soort styl sal baie lekker lees. Daar is sinne en woordspelinge wat wêrelde sê. En die ‘oningewyde’ sal beslis die gang van sake volg en in hart en verstand gekonfronteer voel deur ’n wêreld en emosie wat vir hom bekend is. Dis ’n dagboek van ’n Afrikaner, daarom sal elke Afrikaner – as hy eerlik wil wees – homself ontdek op bykans elke bladsy. (...) Boek van ’n ontroerde Afrikaner, vir Afrikaners, sodat hulle hulself en hul situasie sal ken.”
In 1980 word Tuiste in eie taal deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is in 1981 met die Recht Malan-prys en die Louis Luyt-prys bekroon en in 1998 met die CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap. Toe Jaap die Louis Luyt-prys in ontvangs neem, het hy sy volledige bedankingstoespraak in een sinnetjie afgehandel: “Ek wil net vir dr Luyt sê baie dankie vir hierdie prys.” (Vaderland, 1 April 1981)
Tuiste in eie taal is ook bekroon met die Republiekprys, wat al om die tien jaar toegeken is vir ’n Afrikaanse en Engelse werk. Hierdie prys het die Verwoerdprys vir Vaderlandse letterkunde vervang. Van Wyk Louw het dit as ’n soort “Stalinprys” beskryf. Omdat daar hierdie politieke konnotasie was, het Jaap die prys geweier en hy het die organiseerders gevra om die toekenning en die weiering van die prys nie aan die groot klok te hang nie. Sy verweer was dat daar ander outeurs was wat waardiger wenners as hy sou wees – onder meer Die groot verlange van Leon Rousseau en GD Scholtz se Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner. Hierna is daar niks weer van die prys gehoor nie.
Die manuskrip van Tuiste in eie taal is in Desember 1979 vir Danie van Niekerk van Tafelberg Uitgewers gegee. Die aanvanklike titel was Tuiste in die taal. Dié titel, asook die subtitel: Die behoud en bestaan van Afrikaans, is deur Harri Müller uitgedink nadat hy twee hoofstukke gelees het. Later het Danie van Niekerk die titel na Tuiste in eie taal verander. JL Conradie het die manuskrip persklaar gemaak.
Die publikasie van die boek was vir ’n hele paar maande in die weegskaal. Volgens Steyn in Sonkyker het die Afrikaanse Taalmonumentkomitee ’n subsidie oorweeg, en die twee keurders was Johan Combrink en Bun Booyens van Stellenbosch. Combrink was van mening dat die boek verkort moes word. Sake het so gesloer dat Jaap later bang was dat die komitee nie net die subsidie sou weier nie, maar dat selfs die publikasie van die boek nie sou gebeur nie. Hy het voorgestel dat hy afstand sou doen van die outeursgeld en het self ’n bedrag inbetaal.
“Die manuskrip het naderhand begin swerf. Merwe Scholtz het dit by Johan Combrink gesien, en gemeen Tafelberg moet my oorhaal om dit tot ’n derde van die lengte te verkort, waarna die uitgewer dit na die universiteite moet stuur om te verneem of dit voorgeskryf kan word. Indien wel, kon die RGN dit moontlik subsidieer. Ds JS Gericke van die Taalmonumentkomitee was teen ’n subsidie. Danie van Niekerk het die manuskrip aan prof Charles Fensham gegee en hý was oortuig dit moet uitgegee word. Dis dus hoofsaaklik aan hulle twee te danke dat die boek verskyn het.
“Dit het ek in September 1980 eers verneem. Danie het my meegedeel dat die Afrikaanse Taalmonumentkomitee R3 000 sou gee. Ek sou 6% in plaas van die gewone 12% van die verkoopprys as outeursgeld kry, en moes R1 600 korreksiegeld betaal vir laat veranderinge en byvoegings. Dit sou alles meebring dat die boek R15 sou kos in plaas van R25. ’n Onvriendelike maar onbelangrike opmerking oor die onnodigheid van ’n taalmonument het ek uit die manuskrip weggesny – dit het my gelyk na ‘slegte maniere’ as die hond die hand byt wat hom iets gee.” (Sonkyker)
Johan Combrink (Die Burger, 27 November 1980) het dit beskryf as sonder twyfel die heel belangrikste boek oor die sosiale posisie van Afrikaans wat die afgelope kwarteeu verskyn het. “Dit behoort gelees en verteer te word deur elkeen wat Afrikaans liefhet, en dis so geskryf dat ’n mens nie geweldige tegniese kennis nodig het om die boek te verstaan nie.”
Die boek is in drie afdelings ingedeel: Afdeling A is, volgens Combrink, ’n unieke toevoeging tot die vakliteratuur in Afrikaans, “want daar is by my wete geen ander hedendaagse Afrikaanse geskrif wat die lotgevalle van ’n baie groot aantal tale uiteensit nie. En daarby kom nog dat dr Steyn die sake boeiend en prikkelend aanbied.” Afdeling B, sê hy, is een van die heel beste samevattings van die ontstaan en opkoms van Afrikaans as kultuurtaal tot op daardie stadium. Daarbenewens bevat dit ook heelwat prikkelende gegewens oor die lotgevalle van die ander Suid-Afrikaanse tale. In afdeling C kom Steyn dan by die kern van sy selfopgelegde taak: om die Afrikaners wakker te skud vir die werklikhede en eise van ons eie tyd en situasie. “Hy bring byvoorbeeld aan die lig dat Afrikaans as tweede taal nie so goed vorder soos Engels as tweede taal nie. Hy praat oor die gebrek aan Afrikaanse wetenskaplike boeke. Hy stel sy saak teen sensuur – wat ons letterkunde knelter. Hy toon aan dat Afrikaners Engels noodsaakliker ag as wat Engelse Afrikaans ag. Hy beweer tereg dat taalbewustheid en taalgetrouheid onder die Afrikaanssprekendes vandag swakker is as 50 jaar gelede.” Combrink wou in sy resensie almal wat Afrikaans lief het, aanmoedig om hierdie keurig-versorgde boek aan te skaf en te lees.
Tuiste in eie taal is beskryf as monumentaal, verbluffend en een van die belangrikste boeke wat in daardie dekade in Afrikaans verskyn het. In Die Vaderland van 1 April 1981 het Chris Louw gemeen dat daar mense sou wees wat bedenkinge sou hê oor die toekenning van die Louis Luyt-prys vir hierdie werk. “Werklik wetenskaplik is dit nie, meen sommige mense. Daarvoor is die Afrikaans-chauvinisme net té sterk. Die patriotisme van die skrywer loop soms so dik dat daar van objektiwiteit nie regtig sprake is nie. En koerantberigte word onbevraag aangehaal om die skrywer se argumente te staaf – selfs waar dit duidelik is dat die besondere verslaggewer baie subjektief betrokke was by sy onderwerp. Dit is argumente dié wat al teenoor my genoem is.
“Maar daar is ook ’n ander kant van die saak: die boek wil meer wees as ’n taalsosiologiese verhandeling. Soos prof FIJ van Rensburg dit by geleentheid gestel het: Dit is ’n boek van kommer oor Afrikaans. Wat die skrywer wil bereik, is om Afrikaners bewus te maak van die probleme wat hul taal in die gesig staar, sodat hulle hul kan aanpas by die eise van die tyd.”
Vyf jaar later, in 1985, word Jaap se volgende roman, Die verlore vader: dokumente van die politikus Pieter van den Berg, versorg, in enkele gevalle vertaal en ingelei deur JC Steyn, gepubliseer.
FIJ van Rensburg (Beeld, 13 Desember 1985) het die tema van die roman, op die eerste gesig dan, gesien as die ontwikkeling van die politikus Pieter van den Berg, primêr sover dit sy politieke denke betref, maar voorts ook wat ander aspekte van sy menslikheid aangaan. “Sy politieke evolusie word veral aan die hand van twee tydperke belig: die jare dertig, toe die apartheidsideologie geleidelik begin beweeg het in die rigting van staatkundige formalisering daarvan, en die tydperk ná 1976 toe dit as geïnstitusionaliseerde mag begin kraak het.
“Dit gaan om die ontwikkelingsgang van ’n sensitiewe politieke denker, ’n man wat sy politieke ontwaking beleef het in ’n tyd toe ‘ons nie die slagoffers van eensydige propaganda (was) nie’ (bl viii), toe standpunte rustig teen mekaar opgeweeg kon word, te wete die jare dertig. As ’n geheel is dit ’n evolusie van sekerheid tot vertwyfeling (op laasgenoemde slaan die boek se titel vir ’n gedeelte). In dié opsig is dit die geskiedenis nie net van een enkele individu nie, maar van almal wat die huidige politieke situasie as verward/verwarrend beleef en nie herwaarts of derwaarts weet nie.
“Maar ook Van den Berg se evolusie as mens word geskets – vanaf ’n vader met volwasse kinders wat elkeen ’n eie koers in dwing, tot aan die man wat in ’n oomblik van swakheid aan ’n drang toegee en uit reaksie daarop voor ’n motor inloop en so aan sy einde kom.
“Daar word geprobeer om die twee ontwikkelinge op mekaar in te ent. Daar word gesuggereer dat sy geleidelik-veranderende politieke siening saamgehang het met sy geleidelike kennismaking met die konkrete lewe, veral dié van sy kinders, onder meer tydens ’n motorfiets-rally.
“Ongelukkig slaag die boek nie in hierdie sintetisering nie. ’n Ou tekortkoming van Steyn tree hier opnuut na vore. Hy is op sy sterkste in die beelding van die intellektuele ontwikkelingsgang of denk-evolusie van ’n personasie. Wanneer hy egter ander aspekte van sy figure wil beeld, ten einde ‘lyf’ aan hul intellektualiteit te gee, raak hy linkshandig. (...)
“Hy beskik duidelik nog nie oor genoeg vermoë (vir ’n roman in elk geval) om die beelding van gewoon-alledaagse situasies en situasietjies natuurlik te laat aandoen nie; om ondersteunende gebeurtenisse ongedwonge uit ’n denksituasie te laat voortvloei en dit weer naatloos daarin te laat terugvloei nie. Daar is ongetwyfeld groei waarneembaar in die vermoë. Meermale het ’n mens die gevoel by die beelding van ’n gewoon-menslike of alledaagse situasie: ‘Hier kom dit nou uiteindelik’, maar telkens raak jy teleurgesteld, en is jy met ’n sprong en ’n skok terug in die skedel.
“Die verlore vader het dan ook duidelik ’n idee-roman gebly. Dis ’n knap idee-roman, plek-plek skitterend. Maar dis idee wat nie vlees en bloed geword het nie. (...) Ondanks hierdie tekortkominge, verdien dit as ‘een van die merkwaardigste boeke wat nog in Afrikaans verskyn het’, egter ’n wye leserskring. Vir eers is dit ’n boek vir almal wat belang stel in die huidige politieke en staatkundige situasie wat ’n mens so klemmend aanspreek. Dis ’n boek wat perspektief in al die verwarring bring. (...) Ten tweede is dit ’n boek vir die literêr-geïnteresseerde. Die boek is ’n goudmyn vir ’n studie van die omvormingsvermoë van literatuur. Dis ’n louter plesier om masker ná masker van die boek af te haal en uiteindelik by die laaste gesig uit te kom: nie dié van die politikus Pieter van den Berg nie, maar dié van die skrywer JC Steyn. Die boek is op dié manier ’n nuwe hoofstuk in die sage van die geleidelike ontwikkeling van Steyn as skrywer. En dis ’n ontwikkeling wat die moeite werd is om dop te hou.”
André P Brink het in Rapport van 2 Februarie 1986 geskryf dat mens op die minste weet dat jy van JC Steyn telkens ’n hoogs interessante, “nuwe” hantering van materiale en vorme kan verwag wanneer hy hom óf tot die poësie (tot dusver sy beduidendste terrein) of tot die fiksie wend. En dit word opnuut bevestig in Die verlore vader. “Hierdie interessantheid lê nie net in die omkeer van die konvensionele perspektief (van verlore seun tot verlore vader) in die storiegegewe nie, maar bowenal in die aanbieding daarvan, naamlik as die ‘Dokumente van die politikus Pieter van den Berg, versorg, in enkele gevalle vertaal en ingelei deur JC Steyn’.”
“Wel het ek ‘nuwe’ hierbo in aanhalingstekens geplaas, want hierdie opset van ‘dokumentering’ is, interessant soos dit mag wees, natuurlik ’n óú truuk in die fiksie.” Brink noem dan voorbeelde van Defoe en Victor Hugo, asook JM Coetzee se Dusklands, maar dat Steyn se teks maar bra dun en gefabriseer aandoen in vergelyking met van dié voorbeelde.
“Die forte van dié narratiewe tegniek lê gewoonlik in die ontginning van sy perspektiefverskuiwinge, in die oorskryding van allerhande ‘meta’-grense, in wisselende fokalisering, in intersubjektiwiteit, noem maar op. Maar dit gebeur danksy die hantering van narratiewe prosesse. Platvloers gestel: in en deur die storiewording van die tekste. En storiewording is nou juis waaraan dit hier by Steyn te kort skiet. (...)
“Dit blý maar: illustrasie, demonstrasie. Selfs binne-in die ‘verhaal’ van Pieter en sy familie word daar eintlik essayisties ‘gedink’ – nie narratief nie. Idees word hoogstens (tydelik) ‘beliggaam’ in personasies wat sekere houdings demonstreer (en dit met ’n naarstige begeerte om ‘verteenwoordigend’ en ‘omvattend’ te wees); daar is geen werklike ontginning van vertelmetodes nie.
“Daarom word die teks as roman baie gou die één ding wat geen roman ooit durf wees nie: vervelig.”
JP Smuts (Die Burger, 20 Februarie 1986) het enkele besware aangestip, maar het gevoel dat dit nie werklik deurslaggewend is nie. “Die finale indruk van Die verlore vader is dat dit ’n ernstige en sterk intellektuele werk is waaragter daar, soos ’n mens van Steyn kan verwag, baie navorsing steek. As roman is dit eiesoortig; as tydsdokument ontstellend. Dit bring belangrike verruiming binne die betrokke literatuur en spesifiek die gedefiksionaliseerde prosa in Afrikaans.”
In 1990 en 1991 maak Jaap tyd om ’n boek oor sy jeugherinneringe te skryf. Op 1 Oktober 1991 het sy redakteur, Frederik de Jager van Tafelberg Uitgewers, die eerste eksemplaar aan hom oorhandig. Die titel is Hoeke boerseuns ons was. Die resensies was oor die algemeen positief, behalwe die een in Insig (November 1991) van Bertie du Plessis.
Hennie Aucamp het in Die Burger van 5 November 1991 geskryf: “Vir iemand wat so ongeveer ’n tydgenoot van Jaap Steyn is en ’n soortgelyke landelike agtergrond het, is Hoeke boerseuns ons was amper ’n outobiografie; jy kan dit nie resenseer nie, jy reminisseer bloot daaroor. Elke anekdote van JC Steyn roep ’n verwante herinnering by my op: ja, ja, dit was nét so op Rust-mijn-ziel met die wolkbreuk, die haelstorm, die builepes. Jy kan elke storie oor die ‘Ingelse’ Oorlog met ’n familiestorie oor daardie onheuglike geskiedenis troef – die slag van Stormberg het immers op ons drumpel gebeur, en die blokhuise van toe staan nog altyd daar as triestige herinnerings aan ’n triestige tyd.
“Dis juis dié kettingreaksie wat deur Hoeke boerseuns ons was afgevuur word, wat dié boek sy waarde gee en miskien ’n digtheid wat hy nie altyd in homself het nie. Jy herskep sosiale en politieke geskiedenisse aan die hand van Hoeke boerseuns ons was, en herlei hulle na oomblikke in die tyd, danksy die koerant- en ander aantekeninge wat by elke hoofstuk gegee word. En terwyl jy lees, begin jy in MER-trant neurie: So is onse maniere. Die sterkste raakpunt tussen my Stormbergse jeug en JC Steyn se Riemlandse en later Hoëveldse Vrystaatse jeug is die Boeretaal self – Afrikaans, ‘ons Pêrel van Groot Waarde’. JC Steyn het dieselfde boeke en tydskrifte as ons gesin gelees; dieselfde Bybel gelees en dieselfde hallelujas gesing. Hy sal wel ’n bietjie jonger wees as ek, want ek het met die Dagbreek-leesboeke op skool grootgeword, hy met die Silwerboom-reeks. (...)
“Een van die verdienstes van Hoeke boerseuns ons was is juis dat JC Steyn in besielde passasies spontaan die eenvoudige maar gespierde Afrikaans van indertyd gebruik. Ek dink aan bladsy 44 waar die Steyn-gesin tydens ’n storm ’n lamp opsteek en boeke vat, of die gedeelte op bladsye 62 en 63 waar JC Steyn die wêreld van die beeskraal en melktyd met warmte en humor herskep. Of sy nostalgiese oproep van vroeëre treinreise. Die een mens se nostalgie is nie noodwendig ’n ander s’n nie. Hoofstukke soos ‘Eerste liefde’ en ‘’n Verloorder byt vas’ bly vir my te klein, te lokaal, te selfbewus om lewensvatbaarheid buite die persoonlike domein te hê. Met die laaste twee hoofstukke herwin Steyn weer sy ironiese gedistansieerdheid tot eie lewe, en voer hy die eerste helfte van ’n outobiografiese vertelling tot ’n skokkende slotsin. JC Steyn is naamlik terug uit Nederland waar hy doktorandus geword het, en land op ’n stralende dag in Suid-Afrika: ‘Dit was Desember 1967, en almal het geleef asof daar ’n toekoms was.’ Wil hy met dié woorde sê die Afrikaner se toekoms is klaar opgebruik? Of nog meer elegies gestel: So wás onse maniere? Ag, ja, die tydsvorme is ’n taal.”
In ’n oproep aan Jaap vertel Daniel Hugo hoe goed hy Hoeke boerseuns ons was gevind het. “Dis fyn prosa; lyk moeiteloos geskryf, maar is goed georganiseerd. Daar is bindingselemente”, ensovoorts. Hy en Riana Scheepers het albei op Bertie du Plessis se resensie in Insig gereageer. (Insig, Desember 1991)
In Sonkyker vertel Jaap dat twee van sy kollegas by RAU, Jan Spies en Harri Müller, in die sewentigerjare gesels het oor die hoë eise wat ’n biografie van Van Wyk Louw aan die skrywer daarvan sou stel. Hy het gedink: gelukkig tog, dat ek nie so ’n werk hoef aan te pak nie. By ’n ete in Bloemfontein op 4 Mei 1990 vra Danie van Niekerk, hoofbestuurder van Tafelberg Uitgewers, vir Jaap of hy nie sou belangstel om ’n Louw-biografie te skryf nie. Sy eerste reaksie was: “Dankie. Maar nee, ek ken my beperkings.”
Jaap het egter tot die besef gekom dat baie van sy artikels wat hy geskryf het, tog deels biografies was en dat dit hom soort van opgelei het om dalk ’n volwaardige biografie te skryf. Ook sy samewerking met Christof Muller se projek van die Nasionale Pers (Boekewêreld: Die Nasionale Pers en die uitgewersbedryf tot 1990) het voorbereiding verskaf vir die skryf van ’n biografie oor Van Wyk Louw. Een van die gevolge van die publikasie van Boekewêreld was dat FIJ van Rensburg van RAU in Maart 1993 aan Jaap voorgestel het dat hy wel ’n Louw-biografie moet skryf. Weer was hy nie seker nie, want “ek was te bang vir iets wat voel na – al is dit in ’n ander sin as ‘Ars poetica’ – ‘groot te doen of te misdoen / in die skoene van die grotes’. Uit: Sonkyker)
Van Rensburg het Van Wyk Louw se weduwee, Truida, genader met die gedagte dat Jaap die biografie moet skryf. Nadat sy van Jaap se boeke gelees het, was sy tevrede met die idee dat hy so ’n taak sou aanpak. Die onderneming het egter amper verongeluk nog voordat dit behoorlik aan die gang kon kom toe verneem is dat Merwe Scholtz reeds met ’n biografie begin het. Maar toe Koos Human met Truida Louw oor Scholtz se voorneme gepraat het, het sy soveel besware gehad dat Scholtz hom onverwyld onttrek het.
Uiteraard het Jaap gesteun op persoonlike onderhoude met Truida Louw, waarvan die eerste een plaasgevind het in die week 27 September tot 1 Oktober 1993 in haar meenthuis in die Darrenwood-oord in Linden, Johannesburg. Ander bronne was eerstens dokumente wat toeganklik was vir bona fide-navorsers, soos sy versameling aan die US, asook boeke, koerante en tydskrifte; tweedens dokumente wat onder embargo was en waarvoor Truida Louw toestemming moes gee voor hy dit kon gebruik; en derdens onderhoude met of briewe van mense wat NP van Wyk Louw geken het.
Jaap was in 1996 die ontvanger van die Elisabeth Eybers-beurs van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dit het hom in staat gestel om ’n besoek aan Nederland te bring om navorsing te doen vir sy biografie oor NP Van Wyk Louw.
In Oktober 1997 was die manuskrip voorlopig klaar en het hy besef dat dit die moeilikste taak was wat hy ooit aangepak het en wat hy dikwels nie juis geniet het nie. “Maar agterna het ek besef dat dit ’n geweldige voorreg was om oor so ’n groot mens te mag geskryf het.”
Die manuskrip is op 22 Oktober 1997 per e-pos aan Tafelberg gestuur – hoofstuk vir hoofstuk. Dit was die eerste manuskrip wat Tafelberg per e-pos ontvang het. Jaap het die keurdersverslae op 3 Februarie 1998 vanaf Danie Botha, die redakteur, ontvang. Byna al die keurders wou dit korter hê, maar het ook dinge genoem wat eintlik ook genoem moes wees. Almal was positief en het opbouende voorstelle gemaak. PA Joubert het die manuskrip van taal- en feitefoute help suiwer. Die gewysigde en verkorte, maar nog steeds lang, manuskrip is op 8 April 1998 na Tafelberg.
Aan die einde van Julie 1998 is Danie Botha na Bloemfontein om probleme in verband met die manuskrip met Jaap te gaan bespreek. Dit was ook Danie wat die blou vir die omslag gekies het en in oorleg met hom is die foto van Louw, in die fleur van sy lewe, uitgesoek. Die mees vanselfsprekende titel vir Jaap was Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal en dit het gelukkig ook die uitgewers geval. Die aanvanklike oplaag was 5 000 en volgens Hannes van Zyl sou die koste “gelyk breek” vir die firma as 3 500 eksemplare sou verkoop. Daar is betreklik gou soveel verkoop, want die boek het baie publisiteit ontvang en is bekroon met die Recht Malan-prys in 1999, die Insig-prys vir Afrikaanse niefiksie in 2000 en die Stalsprys vir ’n hoogstaande publikasie in 2001.
Sommige sal wonder of NP Van Wyk Louw se idees nie saam met die Afrikaner-nasionalisme gesterf het nie. Regverdig selfs so ’n groot denker so ’n lywige biografie soos dié wat pas verskyn het? Tog wel, meen Hermann Giliomee (Rapport, 6 Desember 1998). “Die verskyning van JC Steyn se biografie van NP Van Wyk Louw is ’n uitsonderlike gebeurtenis. Die werk ontleed die denke van ’n figuur wat sekerlik die grootste intellektueel is wat in Afrikaans geskryf en gewerk het. Miskien onder die grootstes wat in een van die sogenaamde klein tale van die wêreld geskryf het.”
In Die Volksblad van 22 Februarie 1999 skryf Hennie van Coller: “NP van Wyk Louw, die grootste digter van sy generasie, staan sentraal in die Afrikaanse letterkundige lewe vir meer as vier dekades. Nie alleen was hy dié toonaangewende digter nie; sy skerpsinnige opstelle en ander geskrifte oor ’n wye verskeidenheid sake soos letterkundige kritiek, nasionalisme en kultuur het ’n kragtige nawerking gehad in die Suid-Afrikaanse geesteslewe. In die afgelope jare het kritiese herevaluerings deur onder andere Ampie Coetzee, Hans Pienaar en Gerrit Olivier hom implisiet en eksplisiet afgeskilder as ’n vurige ondersteuner van die nasionaal-sosialisme, ’n voorstander van apartheid en boonop as ’n persoon wat hom nie altyd gehou het aan die eise van streng teoretiese denke nie.”
“In JC Steyn se biografiese studie kom NP van Wyk Louw uit die verf as ’n mens wat deur en in die letterkunde gelewe het, altyd gedrewe deur ’n sterk nasionalisme. Selfs sy liefdesverhoudings het gedurig in verband gestaan met die letterkunde, al sou dit aanvanklik net as skeppende impuls gedien het. Waarin Steyn op merkwaardige wyse slaag, is om Louw te plaas in die verband van sy tyd. Veral Louw se politieke evolusie word noukeurig beskryf en sy kortstondige flirtasie met die nasionaal-sosialisme word in konteks gestel. So word Olivier se onwetenskaplike gelykstel van gedagtes in privaat korrespondensie en openbare publikasie aan die kaak gestel. Uit Steyn se pynlik-presiese rekonstruksie blyk onomstootlik dat Louw altyd wars was van rassisme.
“Dikwels word beweer dat ’n biograaf ’n persoonlike verbondenheid het met die persoon wie se lewensbeskrywing neergepen word. ’n Mens kan aflei dat Steyn as bekende taalnasionalis veral aangetrek is deur Louw se onlosmaaklike verbondenheid met die Afrikaanse taal; een van die leitmotiewe van die werk. Oor Louw is heelwat geskryf en die verhouding tussen hom en DJ Opperman (en tussen hom en Jan Greshoff) is elders reeds geboekstaaf. Ook die polemieke tussen hom en ander literatore, sy rol in die vestiging van Standpunte, en die ontstaansgeskiedenis van enkele gedigte, is beskryf. Nooit egter is dit gedoen in die omvattende geïntegreerdheid (én gebalanseerdheid) waarmee Steyn dit hier aanpak nie. Bowendien slaag hy daarin om baie onontginde (en onbekende) stof na bo te haal. Voorbeelde lê vir die gryp: die simbiotiese verhouding tussen Van Wyk Louw en die Afrikaner-Broederbond, waarvan hy lid gebly het tot sy dood, die sentrale posisie wat Truida (sy tweede vrou) in sy lewe gespeel het, die diepte van die verhouding met Sheila Cussons, en dalk veral, ’n noukeurige optekening van die talle talente waaroor Louw beskik het. Dit is bepaald nie algemene kennis dat hy gemaklik ook konsertpianis sou kon word en verskeie moderne en antieke Europese tale met gemak gehanteer het nie. Waarin Steyn veral uitmuntend slaag, is om ’n geheelprentjie van Louw te skep terwyl alle onderdele weliswaar steeds skerp uitstaan, maar die groter fokus nie verlore gaan of versteur word nie. Dit kon Steyn net doen omdat sy bronverkenning onberispelik is en hy daarin slaag om, ondanks die bykans oewerlose stroom besonderhede waardeur hy moes waad, steeds die oewer in die visier te hou.
“Wat hier aangebied word, staan in feite digby ’n roman, ondanks die gebruik van niefiktiewe stof. Steyn gee in breë trekke die storie van Van Wyk Louw op chronologiese wyse weer. Louw is die hoofkarakter, ‘objektief’ van buite geteken. Dikwels word hy ook van binne uit belig veral deur talle onthullende briewe aan verskeie mense. Geen ander karakter verkry die voorreg in dieselfde mate nie, ook nie Truida, die belangrikste ‘antagonis’ nie.
“Steyn se lewensbeskrywing is uiteraard ’n interpretasie van die lewensloop van Van Wyk Louw, en dis duidelik dat hy hom sien as ’n dualistiese persoon wat enersyds as individualistiese intellektueel, afstandelik, trots en eiesinnig sy eie pad loop, maar andersyds, ’n behoefte aan geborgenheid, selfs by tye ’n kinderlike naïwiteit en hulpeloosheid vertoon, wat hom diep afhanklik gemaak het van sy gesin, sy volk én sterk vroue! Daarom dalk kon hy hom ook nooit losskeur van gesin, familie en volk nie.
“In Steyn se ‘roman’ is Truida dié vastigheid, ‘die stilte tussen riet’ wat vir Louw altyd ’n anker was. Sy belangrikste werk met die moontlike uitsondering van Tristia het ook altyd met haar verband gehou. Uit Steyn se netjies weggesteekte visie blyk ook dat Louw se ‘minor indiscretions’ hom in die lig van sy ‘major achievements’ vergewe behoort te word. Dié invalshoek verklaar die oorwegend positiewe wyse waarop hy die sentrale karakters uitbeeld – veral Truida is bykans ’n ‘smettelose’ heldin, sonder ernstige foute.
“Waar só ’n ‘lewensbeskrywing’ nie aangepak sou kon word sonder die aktiewe steun van Truida en die gesinslede nie (ten opsigte van byvoorbeeld belangrike bronne wat geraadpleeg sou moes word nie) rus daar nietemin ’n groot verpligting op die skrywer om te alle tye streng objektief te bly. Teenstanders van Louw, soos EC Pienaar, FEJ Malherbe en CM van den Heever, word bykans sonder uitsondering te negatief geteken. Dit kan natuurlik verklaar word teen die agtergrond van Steyn se ‘retoriese strategie’ en die sentrale Louw-fokus wat hy bly handhaaf.
“Wat onthou moet word, is dat Louw se optredes destyds arrogant was en optredes van mense net uit die agternaperspektief foutief blyk. As daar een puntjie van kritiek is, is dit dat Steyn hom dalk te veel laat lei het deur die Louw-gesin se inligting, visie en waardes.
“Dit is egter gering as in ag geneem word dat Steyn se Van Wyk Louw skerp afwyk van die ingeburgerde beeld van Louw as ’n vleklose heilige. Steyn slaag veral daarin om die geykte Louw-voorstelling te nuanseer deur Louw self aan die woord te stel, veral in sy emosionele liefdesbriewe.
“In die Afrikaanse letterkunde is weinig biografieë, en die werklik goeies nog minder. Steyn se werk is een van die heel bestes: ’n bewonderenswaardige balans van omvattendheid en besonderhede. Eietydse geskiedskrywing word dikwels afgemaak as dor en droog. Steyn maak geen wetenskaplike toegewings nie, maar skryf tog ’n boeiende relaas in ’n glashelder styl. Dit is onteenseglik ’n merkwaardige boek,” skryf Van Coller.
JC Kannemeyer (Rapport, 10 Januarie 1999) meen dat dit een van die omvangrykste biografieë oor ’n Suid-Afrikaner is, asook ’n monumentale werk wat ’n sentrale plek inneem onder die klein aantal skrywersbiografieë wat ons in Afrikaans besit. Dit vergelyk meer as gunstig met die groeiende aantal skrywersbiografieë soos dié oor Achterberg, Van Eeden, Slauerhoff en Henriette Roland Holst wat die afgelope jare in Nederlands begin verskyn het, en sowel in omvang as in kwaliteit staan dit, volgens Kannemeyer, nie agter by die ryk tradisie in Engels nie.
In Beeld (22 Maart 1999) meen Gerrit Olivier dat digterlewens nie noodwendig interessant is nie, en dat Steyn meer sou kon geput het uit die interne konflikte wat ’n mens by Louw aanvoel. “Om die opvallendste voorbeeld te noem: die verhouding met Sheila Cussons. Steyn was gekortwiek deur die feit dat Cussons nie met hom wou praat nie. Hy sê wel dat die jare lange driehoeksituasie tussen Louw, sy vrou en Cussons materiaal vir ’n Dostojewski sou kon wees, maar tot ’n werklike interpretasie van die emosionele verskeurdheid wat aan die basis hiervan moes gelê het, kom hy nie.
“’n Mens mis verder ’n meer diepgrawende analise van Louw se dilemma in die jare sestig toe hy onophoudelik te velde getrek het teen die moralistiese en rassistiese uitwasse van die nasionalisme waarvoor hy self die intellektuele grondslag help lê het. Uit hierdie doodloopstraat kon Louw geen uitweg vind nie.
“Elke leser sal waarskynlik deur aspekte van Steyn se biografie onbevredig gelaat word. Persoonlik sou ek meer wou weet oor Louw se werk aan die universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand. Aan die ander kant is daar ook geweldige pluspunte, soos Steyn se onderhoudende verteltrant, die aanhalings uit tot dusver ongepubliseerde bronne, en die wyse waarop Steyn aantoon hoe vroeg Louw reeds tot ’n meer inklusiewe nasionalistiese beskouing gekom het.
“Ten spyte van ’n sekere omslagtigheid en die sterk fokus op die kultuurfilosofie is Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal ’n belangrike en onmisbare boek. Die laaste woord oor Louw sal dit hopelik nie wees nie. Daar is ’n behoefte aan ’n geskiedenis van die ‘andersdenkende’ Afrikaanse intellektueel, waarbinne Louw ’n unieke posisie sal beklee as iemand op die breukvlak tussen lojaliteit en dissidensie, iemand wat die twee kante van ‘lojale verset’ letterlik en pynlik uitgeleef het.
“Steyn se boek bied waardevolle inligting oor en insigte in alle aspekte van Van Wyk Louw behalwe die een ding wat hom groot en onvergeetlik maak: die wildheid, skoonheid en toenemende droefheid van sy poësie.”
In 2000 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die gesogte NP Van Wyk Louw-medalje aan Steyn toegeken. Die medalje word toegeken aan ’n persoon wat ’n skeppende bydrae lewer tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van ’n vertakking van die geesteswetenskappe. Hy het dit ontvang vir die groot mate van oorspronklike denke in metodologie en inhoud en die noukeurige en stylvolle manier waarop hy sy navorsing hanteer.
Van Wyk Louw se biografie was die begin van Steyn se loopbaan as biograaf. In opdrag van Tafelberg Uitgewers het hy begin met die biografie van die koerantman Piet Cillié, getiteld Penvegter: Piet Cillié van Die Burger. Jaap het agtergekom dat Cillié ’n redelik omstrede figuur in die perswêreld was. Daar was hoogs uiteenlopende reaksies op sy eerste manuskrip en hy moes dit ingrypend verwerk en verkort voordat dit in 2002 verskyn het. Jaap skryf dat hy later besef het dat sy verkortings te drasties was en dat daar ongelukkig sekere anekdotes oor Cillié se humorsin in die slag gebly het.
Ebbe Dommisse, ’n voormalige redakteur van Die Burger, skryf in sy resensie (Die Burger, 24 Junie 2002): “Cillié was immers die grootmeester van presisie-joernalistiek, ’n deug wat hy terwyl hy nie-uitvoerende voorsitter van Naspers was ook as eerste hoogleraar van Stellenbosch se departement van joernalistiek aan studente kon oordra.”
“Onder Cillié, altyd baie noulettend met taalgebruik en presiese feite-oordrag, kon Die Burger deels as gevolg van daardie ingesteldheid oor baie jare aristokrate van die gees aantrek: rigtinggewende denkers uit die wêreld van die lettere, die akademie en die staatkunde wat die koerant se aansien as ’n intellektuele voorloper help vestig het. Hiertoe het meegehelp die aansienlike ruimte wat Cillié, as voorstander van die oop gesprek, in die briewerubriek aan menings van lesers afgestaan het.
“Onder hierdie voorste meningvormende redakteur, ’n essayskrywer wat deur Van Wyk Louw en Hennie Aucamp as een van Afrikaans se heel bestes aangeslaan is, ook danksy sy briljante Trinkie-satires, het Die Burger ’n reputasie van gravitas verwerf wat tot vleiende vergelykings aanleiding gegee het. Die koerant is in sy tyd as die Suid-Afrikaanse ekwivalent van byvoorbeeld die New York Times, die Neue Zürcher Zeitung en Le Monde beskou. Sy opvolgers sou daardie tradisie net tot skade en skande kon ignoreer.
“Boonop strek Cillié se nalatenskap wyer as Die Burger; dit betrek eintlik die ganse Suid-Afrikaanse koerantjoernalistiek. Want in die era van vervlakkende en vervlietende elektroniese media, vererger deur die illusies oor dot.bom, het die geskrewe woord, dus ook die taak van die ernstige koerant, inderdaad veeleisender en gewigtiger geword.
“Cillié se biografie behoort te dien as rigtingwyser vir almal in die koerantwese wat bekommerd is oor die onervarenheid en onkunde wat so pynlik merkbaar in te veel Suid-Afrikaanse koerante is, tot kwelling van die bedryf self. Gepaard daarmee gaan ’n toevlug tot die laagste gemene deler van goedkoop sensasie en die oppomp van die triviale. (...)
“Steyn skryf ook dat, hoewel Cillié hom nie veel gesteur het aan die syferkant van koerante en die volle bestuurstaak van hedendaagse redakteurs nie, wat samewerking tussen alle afdelings van ’n koerant vereis, hy hom tog strykdeur aan die kant van die skeppende joernaliste geskaar het. Daarvoor, dus vir sy langtermyn-siening van die joernalis as die primêre, die grootste en die standhoudendste bate van ’n gehalte-publikasie, behoort veral Naspers se joernaliste, in die besonder diegene wat al onder die Antjie Somers van die bottom line en die wraak van die boontjietellers deurgeloop het, hom ewig dankbaar te wees. Die lewe van Piet Cillié bied inderdaad vele insigte en hou lesse in wat in die nuwe Suid-Afrika so relevant as ooit is, in die politiek sowel as die joernalistiek. Hier is ’n biografie wat hoogs aanbeveel kan word met die oog op tye en uitdagings wat voorlê.
“Steyn tree nie op as Cillié se advokaat ter verdediging nie, en hy huiwer nie om Cillié, wat soms arrogant, knorrig en snedig kon wees, te kritiseer nie. Hy wys daarop dat Cillié soms te lojaal aan die NP was en meer krities teenoor apartheid kon gewees het. Steyn het hom met Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal as een van Suid-Afrika se voorste biograwe gevestig. Met Penvegter handhaaf hy hierdie reputasie.”
In Beeld (1 Julie 2002) meen Alex Mouton dat Jaap Steyn, bekroonde skrywer en professor in die departement Afrikaans en Nederlands en moderne Europese tale aan die Universiteit van die Vrystaat, uitmuntend daarin slaag om Cillié te laat herlewe. Penvegter is ’n deeglik-nagevorste, leesbare en gebalanseerde boek wat terselfdertyd ’n belangrike bydrae tot Suid-Afrikaanse geskiedskrywing lewer.
Praag, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het in 2002 ’n eerbewys aan Jaap oorhandig. Hy het dié organisasie se eerbewys vir Afrikaanse voortreflikheid ontvang. Dan Roodt, woordvoerder van Praag, het gesê dat die eerbewys jaarliks toegeken word aan ’n persoon of instansie wat tot die bevordering van Afrikaans en die vestiging van ’n pro-Afrikaanse bewustheid bydra. “Steyn is jare lank reeds besig om die taal te bevorder. Hy het in 1980 die werk Tuiste in eie taal gepubliseer en lewer sedertdien gereeld kommentaar oor die taalkwessie. Die groep vereer Steyn graag vir sy rol as taalstryder en veral sy kennis en insig oor die Afrikaanse taalgeskiedenis.” Hy het ook gesê dat Steyn hom sterk uitgespreek het oor die verengelsing en die owerheid se diskriminasie teen Afrikaans.” (Rapport, 28 Februarie 2002)
Vanaf 1998 is Jaap Steyn as konsultant by Naspers aangestel. Hy het voortgegaan met sy gewone werk aan die UV en in sy hoedanigheid as konsultant het hy byeenkomste van die Oorlegplatform vir Afrikaans bygewoon. Hierdie Platform is gestig met Ton Vosloo as die krag daaragter en dit was ’n soort “Afrikaanse Raad van Afgevaardigdes” waarin wit, bruin en swart Afrikaanstaliges almal tuis sou voel. Jaap het vir meer as tien jaar ’n jaarlikse rubriek “Taalkroniek” vir die Tydskrif vir Geesteswetenskappe behartig. In dié rubriek kon hy uitvoerig verslag doen oor die Oorlegplatform en sy werksaamhede.
In 2001 begin Steyn met die biografie van MER. Jaap se ma het sy belangstelling in MER gewek toe hy as kind boeke bestel het wat in Die Huisgenoot teen verlaagde pryse geadverteer is. Sy ma het van MER se boeke aanbeveel, onder meer Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde. Na die verskyning van haar outobiografiese vertellinge, My beskeie deel, en die twee bundels met haar nagelate briewe, Familiegesprek en ’n Kosbare erfenis, het Jaap ook ’n MER-entoesias geword. Hy het nie net van die inhoud gehou nie, maar ook die lekker geselsstyl van die briewe. Later moes hy Die Burger van die jare dertig deurlees vir ’n ondersoek na dié koerant se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde, en toe het hy ook al die koerantartikels te lese gekry wat MER in daardie jare geskryf het. Daarvan het hy net so gehou.
“Party het ek wel geken omdat hulle in boekvorm was, maar ander was heeltemal nuut. Wat vir my aantreklik was, was haar humorsin, lewenswysheid, haar praktiese en breeddenkende nasionalisme, haar noukeurige beskrywings van die Suid-Afrikaanse landskap, haar onderhoudende vertellings oor die ou dae – die 19de-eeuse treinreise, die plaasskole, outydse modes en nog veel meer. Daarby kon sy met ’n paar woorde sulke mooi karakteriserings van mense gee.
Daar was egter persone wat vol bedenkinge was oor die wenslikheid van so ’n lewensgeskiedenis – sy het immers reeds in My beskeie deel ’n deel van haar lewensverhaal vertel. Aan die ander kant was sy egter vir jonger mense ’n onbekende figuur. Rykie van Reenen, wat soos Audrey Blignault ten gunste van ’n biografie was, het aan Jaap geskryf dat ’n jongmens aan haar gevra het: “Wie is die mir of mer tog van wie julle so praat?” Was dit nie vir Elize Botha nie, het Die 100 jaar van MER nie verskyn nie, vertel Jaap in Sonkyker. “Ek het haar mening gevra, en sy het my groeiende twyfel uit die weg geruim. Het óók sy bedenkinge gehad, het ek die werk nie aangepak nie.” (Uit: Sonkyker)
Vir Jaap was die afrondingswerk aan Die honderd jaar van MER geen genotvolle taak nie. Dit was midde-in die krisistydperk van sy ma se kanker, maar gelukkig was “Danie Botha ’n deeglike en bekwame redakteur. Dit was die enigste van my boeke wat uitsluitend gunstige resensies ontvang het (beginnende met ’n mooi stuk van Louise Viljoen in Rapport) en ook die een wat die swakste verkoop het. Ek kon nie help om hoogs in my noppies te voel toe ek later lees dat Hermann Giliomee in sy keurdersverslag van JC Kannemeyer se biografie van Etienne Leroux skryf: ‘Saam met JC Steyn se lewe van MER verteenwoordig dit ’n nuwe hoogtepunt in die literêre biografie en die Suid-Afrikaanse biografie oor die algemeen.’” (Uit: Sonkyker)
Die honderd jaar van MER is in 2005 met die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie bekroon. Dit is die tweede maal dat die prys toegeken word. Dit word driejaarliks oorweeg vir ’n oorspronklike niefiksiewerk in Afrikaans.
Louise Viljoen (Rapport, 13 Junie 2004) se resensie word as volg afgesluit: “Ten slotte is Steyn se portret van MER ’n omvattende en eerlike een waarin hy haar in ’n verskeidenheid fasette openbaar (ook dit wat vandag as kortsigtig of negatief gelees sou kon word). Naas haar krag maak ’n mens byvoorbeeld kennis met haar gevoelens van selftwyfel, mislukking, teleurstelling en verdriet by krisispunte in haar lewe.
“Deurgaans, maar veral in die slot van die biografie, skryf Steyn met dieselfde sober en ingehoue styl wat kenmerkend was van MER se werk. Die slothoofstuk oor haar begrafnis is ontroerend in sy eenvoud en kry dit reg om by die leser die gevoel van verlies te skep wat ’n mens ervaar wanneer jy afskeid neem van iemand oneindig waardevols. Dit is sonder twyfel ’n biografie wat MER waardig is.”
In Die Volksblad van 21 Junie 2004 skryf Daniel Hugo dat ’n goeie biografie altyd meer is as ’n blote lewensbeskrywing, want in elke beduidende menselewe beïnvloed lewe en wêreld mekaar oor en weer. En dit was in ’n hoë mate so in die lewensloop van MER, oftewel Maria Elizabeth Rothmann, oftewel TaMiem (1875–1975).
“Sy word allerweë beskou as een van die merkwaardigste vroue wat ons land al opgelewer het. Sy was een van ons eerste feministe, ’n taalaktivis, maatskaplike navorser, sosiale hervormer, mensekenner, berader, joernalis en fiksieskrywer. Daarom beskryf JC Steyn se uitmuntende biografie nie net ’n lang menselewe nie, maar ook ’n eeu van Suid-Afrikaanse (eintlik Afrikaanse) politieke, sosiale, taal- en literêre geskiedenis.
“Steyn sê dat MER in haar honderd jaar kennis gemaak het met staatsmanne soos pres Paul Kruger, pres MT Steyn, genl JBM Hertzog, dr DF Malan en dr HF Verwoerd, en het op een of ander wyse groot historiese gebeurtenisse en prosesse beleef soos die verengelsing van die negentiende-eeuse Kaapkolonie, die laaste jare van die Zuid-Afrikaansche Republiek, die Anglo-Boereoorlog, die Afrikaanse taalbewegings, die stryd teen blanke armoede en die verdeeldheid van die Tweede Wêreldoorlog (p 10).
“Ná ’n hele rits biografieë oor manlike skrywers (deur Leon Rousseau, JC Kannemeyer, VE d'Assonville en JC Steyn self) is Die honderd jaar van MER die eerste omvattende lewensbeskrywing van ’n Afrikaanse skryfster. En tog lê MER se blywendste bydrae – net soos dié van CJ Langenhoven – waarskynlik nie op die gebied van die letterkunde nie.
“Met haar nugtere deurskouing van die wêreld en haar eie rol daarin het sy, ondanks al die literêre toekennings met die Hertzog-prys as toppunt, dit altyd self so ingesien. MER se gestroopte styl het ongetwyfeld ’n groot invloed gehad op die versobering en verheldering van die Afrikaanse prosa in die jare vyftig. Maar hedendaagse lesers vind haar nogal omslagtig en plek-plek selfs vermoeiend, net soos in die geval van Langenhoven. (...)
“Die honderd jaar van MER is ’n onmisbare boek oor ’n merkwaardige mens. Sonder hulle – die boek én die mens – sou ons Afrikaanse wêreld veel armer gewees het.”
In 2004 het die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan Jaap Steyn toegeken as deel van die universiteit se eeufeesvierings. Op 14 Augustus 2004, Taaldag, het die kultuurorganisasie van Bloemfontein, Dames Perspektief, ’n oorkonde aan Jaap oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur.
In Augustus 2005 is ’n taalberaad oor moedertaalonderwys deur die Afrikaans-departement van die UV gehou. Sommige van die referate en ’n artikel van Johan Lubbe is in ’n bylaag van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer met Annette de Wet en Angelique van Niekerk as redakteurs. Voor in die nommer was ’n mededeling dat die publikasie aan Jaap opgedra is vir sy bydrae op die gebied van taalbeplanning. Hierdie toegeneentheid en vriendskapsgebaar het Jaap opreg waardeer – hoewel hy sku was vir sulke eerbewyse, het die taalpolitieke oorwegings dit aanvaarbaar gemaak. Jaap se betrokkenheid by taal en kultuur blyk uit sy navorsing as taalsosioloog en sy besorgdheid op die gebied van minderheidstale. Hy is deur sy publikasies en rubrieke ’n meningsvormer van wie kennis geneem moet word. (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 2006)
In 2008 word Jaap se herinneringe gepubliseer onder die titel Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu. Hy noem die boek ’n “tussen-inner” en vertel aan Willem de Vries dat hy iets moes soek tussen die kombinasie van familiegeskiedenis, volksgeskiedenis en outobiografiese aantekeninge. “’n Egte outobiografie wou ek nie skryf nie; so iets doen ’n mens net as jy belangrik genoeg op ’n bepaalde gebied is, of ’n interessante lewe gehad het, of baie het om te onthul. ’n Goeie ‘volksbiografie’ bestaan reeds, naamlik Hermann Giliomee se Die Afrikaners. Die soort tussen dié drie is die ou bekende herinneringsboek, wat elemente van al drie tipes bevat.”
Op ’n vraag van Willem de Vries oor die ontstaansgeskiedenis van Sonkyker antwoord Jaap: “Stof het ek genoeg gehad, eintlik te veel – familievertellings, berigte wat ek teëgekom het terwyl ek aan ander projekte gewerk het, ensovoorts. Ek het omtrent al die Volksblaaie en Burgers in lêers of op mikrofilm deurgegaan. En ek wou iets meedeel van hoe ons in die jare veertig en vyftig rond geleef het. Die natuurlikste manier om dié goed alles bymekaar te kry, was om dit in te pas in ’n vertelling waarin ’n niefiktiewe ek aan die woord is.”
JC Kannemeyer (Die Burger, 11 Augustus 2008) skryf dat wat Steyn hier dus wil, is om, soos MER in My beskeie deel, vir latere geslagte te wys van watter stoffasie “onse mense” gemaak is. “Vir baie in SA wat geen lieflike beeld van die Afrikaner as bevolkingsgroep het nie, bied dié boek dan ’n korrektief op die eensydige perspektief wat tans bestaan en wat Steyn eenvoudig nie in die vergeetboek kan laat verdwyn nie.
“‘Onberekenbaar,’ skryf hy teen die einde van Sonkyker, ‘was die opofferings van ’n hele geslag Afrikaners vir hul kinders se ‘geleerdheid’ – en veel meer: In die verlede lê opstande en oorloë teen regerings en ryke, teen magte en owerhede, oor vryheid, volk en taal ... Daar is oupa Piet wat op ’n winteroggend in die oorlog op sy knieë deur die veld gekruip het om te kan voortveg; sy oudste seun wat ter wille van die vryheid sterf terwyl ’n jonger broer langs hom die gras uit die grond trek van hartseer; Pa en Ma wat geld afknyp vir die Reddingsdaadbond om die nóg armer Afrikaners te help; wat in die koerant lees van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie en inteken ter wille van die kinders wat nog nie eens kon lees nie; ’n tiekiedag by die plaasskool om ‘fondse’ vir die skoolbiblioteek in te samel; ’n troppie beeste wat vendusie toe aangejaag en verkoop word sodat ’n verwarde jong man universiteit toe kan gaan; en die oggend toe dit blyk dié jongeling het nie genoeg treingeld Bloemfontein toe nie en besluit word: ‘Dan moet ons maar by die kerk geld leen.’
“Daar is ’n mate van oorvleueling tussen Sonkyker en Hoeke boerseuns ons was, maar Steyn vergoed ruimskoots daarvoor deur die breër opset van sy jongste boek. Eintlik kan ’n mens dit nie ’n blote outobiografie noem nie, want hy verbind telkens die eie belewing en ’n stuk familiegeskiedenis met belangrike momente in die wording van die Afrikaner en met die geskiedenis van SA sedert 1994. Die herinneringe wat hy uit sy eie lewe opdiep, vul hy aan met dokumentasie uit koerante, tydskrifte en argivale bronne, sodat die geheel ook iets van ’n biografie van die Afrikaner as sodanig word. Die hibridiese geheel wat só ontstaan, dui Steyn in sy ‘Vooraf’ aan as ’n ‘tussen-inner’.
“Eintlik slaag hy daarin om telkens van homself af weg te skryf in die rigting van ’n stuk geskiedenis verby die beperkte lewe van ’n enkele mens, hoewel die ek steeds as organiese sentrum in die middelpunt aanwesig is om die geheel tot ’n hegte eenheid te bind. Daarmee lewer Steyn ’n belangrike bydrae tot ons literatuur en tot die bewaring van wat vir die Afrikaner dierbaar is.”
Vir Hennie Aucamp (Rapport, 29 Julie 2008) is Sonkyker ’n intense peiling van die Afrikaner-psige soos Gustav Preller, MER en NP Van Wyk Louw voor hom gedoen het, en tans Hermann Giliomee, maar met ’n elegiese ondertoon wat nie by die ander skrywers voorkom nie. “Die skrywer help die leser om Sonkyker genregewys te tipeer. Hy noem dit ’n ‘tussen-inner’; nie ’n outo- of volksbiografie nie.”
“Die biografiese element meld hom aan in nougesette dokumentering, by wyse van eindnotas, maar die biografiese is versny met volksherinneringe en eie belewenis van Afrikanerwees. ’n ‘Tussen-inner’ is straks die ideale medium vir wat Steyn beoog: ’n verslag oor beleefde tyd en ’n kollektiewe herinnerde tyd.
“Ook deurentyd werksaam by Steyn is die narratiewe impuls, die beeldende kyk na dinge. ‘’n Dag in die jare veertig’ is byvoorbeeld ’n uitgebreide ‘Boerepsalm’, ingestel op al die ritmes van ’n plaasbestaan, en ‘Herinneringe aan ’n vriendskap’ is ’n perfek sluitende kortverhaal, baie subtiel, want die eintlike verhaal gebeur tussen die reëls. Sonkyker beroep hom dus op ’n wye leserspubliek, lesers van fiksie én nie-fiksie.
“Die voor- en agterbladfoto’s van Sonkyker praat met mekaar. Die jong botterkopseuntjie van die voorblad, lekker toegeknoop in sy trui, want dit kan ysig word in die Vrystaat, kyk die wêreld met effense argwaan aan. Die agterbladfoto is ’n karakterstudie van ’n laat middeljarige man wat in die toekoms inkyk en weet dat die Afrikaner weinig toekoms oorhet. Ja, ek eggo doelbewus die slotreël van Steyn se vroeë memoire, Hoeke boerseuns ons was (1991): ‘Dit was Desember 1967, en almal het geleef asof daar ’n toekoms was.’ Maar dié foto toon ook meer: ’n man wat in Van Wyk Louwiaanse trant ‘liefde binne ironie hou’.
“Wat het alles tussen hierdie twee foto’s gebeur? Eenvoudig gestel, dié keer in die woorde van oom Gert in Oom Gert vertel van C Louis Leipoldt: ‘die storie van ons sterfte’. Hier is die ondertitel van Sonkyker ’n belangrike merker, want dit vang die sentimente op van ’n ouer geslag; mense wat presies weet wat hulle verloor het, naamlik ’n kultuur, met alles wat dit aan waardestelsels behels.
“Die lees van Sonkyker was vir hierdie resensent soms ’n bevreemdende ervaring. Dit was asof ek deur iemand anders se lense na my eie familiefoto-album kyk. My vader is in 1896 gebore; Steyn se pa in 1904. En die Riemland van Jaap Steyn is in baie opsigte soos die Stormberge, wat aan die koloniekant van die Grootrivier lê, met die Vrystaat volledig in sig. Die plaas- en gemeenskapslewe aan beide kante van die rivier was nagenoeg dieselfde. Maar sonkykers het die Stormberge nie. Ek het as student by ’n vriend in die hart van die Riemland gekuier en sonkykers gesien; stekelrige salmanders wat na miniatuur-oerdiere lyk en op miershope of rotse na die son sit en mik. Hulle is destyds ook ouvolk genoem.
“Waar die naam Riemland vandaan kom, het ek nooit geweet nie totdat ek die verklaring in Sonkyker (bl 24) gekry het. Teen 1864 het dit nog gewemel van die bokke in die Vrystaat, maar blesbok-, wildebees- en kwaggavelle is na die buiteland uitgevoer, wat tot ’n slagting onder die bokke gelei het. Steyn vertel verder: ‘Die naam Riemland kom van die duisende rieme wat uit velle gesny en verkoop is.’
“Steyn se grootste testament aan die Afrikaanssprekende is sy werk Tuiste in eie taal. Maar Steyn kyk nie nét taalkundig na woorde in Sonkyker nie; hy besef dat ’n woord, soos die madeleine-koekie by Proust, ganse verledes in hom opgesluit kan hê, dikwels emosioneel. (...)
“Die ‘storie van ons sterfte’ het alles, maar alles, met die afskaling van Afrikaans in die openbare lewe te maak, want taalpolitiek en kultuurpolitiek is helaas ’n ondeelbare eenheid. Steyn haal die legendariese prof J du P Scholtz aan wat kort voor die referendum oor ’n republiek op 3 Oktober 1960 soos volg gereageer het op ’n skrywe van prof JP Duminy, rektor van die Universiteit van Kaapstad: ‘Is die kultuurlewe in Suid-Afrika nie enorm verryk deur die Afrikaanse letterkunde wat ontwikkel het in ’n atmosfeer wat deur Afrikanernasionalisme geskep is nie?’
“’n Bladsy of wat verder haal Steyn Etienne Leroux aan wat ongeveer dieselfde sê, maar op ’n nie-plaaslike vlak: ‘Die mens, veral die skrywer, is volgens Etienne Leroux altyd op soek na ’n lewende mite. Hy meen dat ’n volk tot ‘fantastiese dade’ kan oorgaan as dit deur ’n ‘lewende mite’ aangespoor word, maar dat sonder ’n mite ’n volk ‘alle belang in die lewe verloor en verdwyn’.
“Die geskiedenis bewys natuurlik oor en oor dat ook vals mites tot bloeiperiodes kan lei.
“Een van die hoofstukke in Sonkyker wat die Afrikaanse skrywer en sy gemeenskap die pynlikste aan die lyf raak, is ‘Lag-lag die bult af’. Op die titel af ’n vrolike hoofstuk, maar een wat die Afrikaanssprekende as ’n swak en selfs naïewe onderhandelaar aan die kaak stel, teenoor die veel meer bedrewe en gewikste ANC-onderhandelaars. Die laaste twee reëls van dié hoofstuk is op hul manier net so ontstellend en profeties as die slotsin van Hoeke boerseuns ons was:
‘Ja-nee, lag-lag het hulle vir ons ore aangesit.’
‘En wie laaste lag, lag die lekkerste.’
“Sonkyker is ’n elegie op sy wydste, naamlik ’n kultuurelegie; en by ’n elegie gaan dit altyd om verlies. In Steyn se memoire gaan dit om taalagteruitgang, wat onvermydelik in geheueverlies moet eindig. Ja, wie laaste lag, is altyd die ánder span ideoloë.”
Annette Jordaan (Volksblad, 22 Julie 2008) beveel aan: “Elkeen met ’n belangstelling in die kultuurgeskiedenis van die Afrikaner, elkeen met ’n passie vir Afrikaans – maar ja, ook elkeen wat wil weet hoe ’n belangrike en onmisbare segment van die Suid-Afrikaanse bevolking se kop werk – behoort dié boek onverwyld te koop én te lees.”
In 2015 is die erelidmaatskap van die Akademie vir Wetenskap en Kuns aan Jaap Steyn toegeken. Hiermee is erkenning aan prof Steyn gegee vir sy kulturele en akademiese bydraes deur die jare, nie alleen in Suid-Afrika nie, maar ook in Vlaandere en Nederland. Ook vir die veelsydigheid, die gehalte van sy bydraes tot onder meer die Afrikaanse letterkunde, taalwetenskap, taalsosiologie, joernalistiek, geskiedenis en kultuurgeskiedenis.
En in 2017 is Jaap aan die ontvangkant van die Jan H Maraisprys vir uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Dit is gesamentlik aan hom en prof Jan van der Watt van Nijmegen, Nederland toegeken en die prysgeld is gedeel.
In 2019 is ’n boek getiteld JC Steyn en Afrikaans – ’n viering onder redaksie van Angelique van Niekerk, Hennie van Coller en Bernard Odendaal deur SUN MeDIA uitgegee as huldeblyk aan Jaap Steyn. Die publikasie bevat ’n verskeidenheid van bydraes en bied ’n goeie oorsig van die verskillende tipes van navorsing op die gebied van die Afrikaanse letterkunde en linguistiek. Die omvang van die bydraes is so groot soos die invloed wat JC Steyn op die landskap van die Afrikaanse taal gehad het.
Ná die publikasie van Sonkyker in 2008 was Jaap Steyn publikasiegewys redelik stil tot in 2014 toe Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare by Kraal Uitgewers verskyn het.
Op LitNet is Vic Webb die skrywer van die LitNet Akademies resensie-essay oor Ons gaan ’n taal maak. Hy sê onder andere die volgende: “Jaap Steyn se boek Ons gaan ’n taal maak. Afrikaans sedert die Patriot-jare kan gerus as ’n soort verwysingsraamwerk gebruik word vir die hantering van die huidige skeefgetrekte taalpolitieke opset. Dis waar: Steyn se boek is uitsluitlik op Afrikaans gerig, maar die taalpolitieke storie van Afrikaans is nogtans toepaslik ten opsigte van Suid-Afrika se nege ander nasionaal amptelike tale, soos hopelik sal blyk uit die bespreking van sy boek hierna (wat uiteraard nie in eerste instansie bedoel is as ’n antwoord op die vrae hier bo nie, maar geskryf is as ’n resensie van sy boek).
“Soos die titel van Steyn se boek aandui, word die taalpolitieke ontwikkeling van Afrikaans bespreek vanaf die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en die verskyning van die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, in 1875. Steyn gee ’n deeglike oorsig van die taalpolitieke geskiedenis van Afrikaans vanaf daardie periode tot vandag. (…)
“Saam hiermee bespreek hy ook die verswakking van Afrikaans as openbare taal sedert 1994, toe wit Afrikaanssprekendes hulle politieke mag verloor het, en (veral) na 1996, toe Suid-Afrika se amptelike tale vermeerder is tot 11, ’n besluit wat uiteraard in die praktyk moeilik implementeerbaar is, onder andere as gevolg van die taalpolitieke gevolge van internasionalisering en globalisering. (…)
“’n Laaste (uiters) positiewe eienskap van Steyn se boek is die indrukwekkende, verstommende hoeveelheid inligting wat daarin opgeneem is. Feitlik alle terreine van Afrikaanssprekendes se lewensruimtes word gedek. Selfs redelik ingeligte vakkundiges op hierdie vakterrein kan nie anders as om verwonderd te staan oor waar en hoe die inligting verkry is nie. (…)
“Steyn se boek is ’n uiters waardevolle bydrae tot medevakkundiges se kennis en begrip van, en insig in, die taalpolitiek van Afrikaans in die besonder, maar ook tot die taalpolitiek as doseer-, studie- en navorsingsterrein.
“Ten spyte van sekere kwessies wat ook moontlik in so ’n omvattende publikasie gedek sou kon gewees het (sien resensie vir hierdie kwessies), moet Steyn sowel as die uitgewers en verspreiders van die boek, Kraal-uitgewers, wat deel uitmaak van die Solidariteit-beweging, geluk gewens word met die produksie van hierdie boek. Dis sonder twyfel ’n positiewe bydrae tot die terrein van die Afrikaanse taalpolitiek.”
Die FAK gee in 2016 ’n hersiene uitgawe van Afrikanerjoernaal: ’n vervolgverhaal in 365 episodes uit. In ’n resensie op die FAK se webblad word as volg oor Afrikanerjoernaal geskryf: “Afrikanerjoernaal neem sy leser op ’n reis wat elke uithoek van die Afrikanergeskiedenis se landskap besoek – ’n jaar lange verkenningstog wat die volle spektrum van die Afrikaner se historiese geheue in herinnering roep.
Lesers kry die geleentheid om by prominente figure en groot geeste kers op te steek, verwonderd te staan oor die minder bekende detail wat oor groot en kleiner gebeurtenisse weergegee word en ’n paar dinge wys te word uit die insig wat die outeur bied. (…)
Die bundel behandel Afrikaans se ontwikkeling en groei, die ontstaan van Afrikaner-gebruike en -maniere en die belangrikheid van godsdiens. Hoogte- en laagtepunte van die geskiedenis word uitgewys, met helde en belangrike figure soos Wolraad Woltemade, Hertzog, Totius en Langenhoven wat hulle regmatige plekkie in die kollig kry. Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog word met ’n vergrootglas bekyk, terwyl die groot invloed wat die ontdekking van diamante en goud op die Afrikaner uitgeoefen het, ook aandag geniet.”
En in Volksblad van 25 Februarie 2017 vertel Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, aan Marietjie Gericke dat JC Steyn se Afrikanerjoernaal ’n “beslissende antwoord bied op die krisis van historiese geheueverlies deurdat hy drie eeue se geskiedenis tot maklik leesbare eenhede georden het. Hy bestudeer en peil ook terselfdertyd daarin die dieptes van die historiese strome en dui rigting aan.”
Met die verskyning van Verset en opbou: skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans in 2019, ook by Kraal Uitgewers, is Jaap Steyn se oeuvre afgesluit.
In sy LitNet Akademies-resensie-essay lewer Hein Willemse ’n breedvoerige bespreking van Verset en opbou. Willemse beskou Verset en opbou as nog ’n toevoeging tot Steyn se oeuvre op die terrein van die Afrikaanse taalpolitiek. Die publikasie bestaan uit ’n aantal resente opstelle oor die taalgeskiedenis wat in plaaslike vaktydskrifte soos Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans (1 artikel), Stilet (1 artikel), Literator (1 artikel) en drie artikels in Tydskrif vir Geesteswetenskappe (tussen 2014 en 2017).
Willemse sluit sy bespreking af: “Afrikaanssprekers wat buite Afrikanernasionalisme staan, kan egter nie toelaat dat die enigste bestaansmoontlikheid vir die taal die eng etniese kulturele belewings is wat Steyn so goedkeurend aanhaal nie. Op verskillende lewensterreine, onderrig- en kulturele instellings het ons strategieë nodig om sinvol, meelewend en mededelend Afrikaans te wees, sonder om toevlug tot begrensing te neem.”
“As ’n teks pas Verset en opbou knus in die visie van Kraal-uitgewers wat publikasies wil uitgee wat ‘sterk standpunt’ inneem oor aktuele sake in die Afrikanergemeenskap. Alhoewel Steyn hom voorneem om ‘nugter’ ondersoek in te stel na die ontwikkeling, wetlike vestiging en toekomsmoontlikhede van Afrikaans, is dit uit hierdie beperkte diskoersanalise duidelik dat sy siening van Afrikaans wesenlik beperk bly tot die behoeftes en begeertes van “die Afrikaner” en dat hy die toekoms van die taal besonder nou verbind met ’n aanpassende nasionalisme. Afrikaanssprekendes wat hulle buite die sfeer van Afrikanernasionalisme bevind, sal die teks, en veral die slothoofstuk, as ’n resep vir afkamping en isolering beleef.” (Hierdie resensie het gelei tot ’n lewendige bespreking op LitNet en bydraes is te sien in die kommentaar na die resensie – samesteller).
Chris van der Merwe, emeritusprofessor in Afrikaans en Nederlands skryf as volg in sy beoordeling van Verset en opbou: “Met hierdie boek bevestig Steyn sy posisie as een van die belangrikste skrywers oor taalkrisisse en taalontwikkeling, oor die belang van die eie taal as ’n tuiste vir identiteit en as weg tot volledige menslikheid. Elkeen wat vir Afrikaans omgee, behoort dit te lees.”
Vroeg op Maandagoggend 6 September 2021 is Jaap Steyn oorlede in sy meenthuis in die Aliquando-aftreeoord in Heuwelsig in Bloemfontein waar hy oorkant sy suster Ria Muller gewoon het. Hy was siekerig aan sy maag en het oor die naweek skielik begin verswak. Hy is vermoedelik aan ’n hartaanval oorlede, maar dit kan nie met sekerheid gesê word nie. Hy het op 31 Julie 83 jaar oud geword.
Huldeblyke:
- Angelique van Niekerk, hoof van departement Afrikaans-Nederlands, UV: “Die einde van ’n besondere era van akademiese integriteit en werkywer het aangebreek met die heengaan van die stille patriarg van die dissipline Afrikaans en Nederlands aan die UV. Ons huldig nie net sy reuse-akademiese voetspoor nie, maar ook sy menswees. Kollegas het groot waardering vir sy nederige menslikheid. Ons het noodwendig groot waardering vir die omvang en diepte van sy akademiese insig. Tussen die publikasiedatum en aard van Die grammatika van liefhê, Tuiste in eie taal, MER se biografie, Ons gaan ’n taal maak en ander werke lê daar sovéél vlakke van tydlose insig en akademiese deeglikheid.” (Netwerk24, 6 September 2021)
- Angelique van Niekerk, namens die departement: “Die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans besef dis die einde van ’n besondere era van akademiese integriteit en werkywer weens die heengaan van die stille-patriarg van ons dissipline, (prof) Jaap Steyn. (…) Ek en kollegas het groot waardering vir sy nederige menslikheid en ons het noodwendig groot respek vir die omvang en diepte van sy akademiese insig. Tussen die publikasiedatum en uiteenlopende aard van boeke soos Die Grammatika van liefhê, Tuiste in eie taal,MER se Biografie, Ons gaan ’n taal maak, ens. lê daar sovéél vlakke van tydlose insig en akademiese deeglikheid. Die departement en by name Ida Meiring het met moeite soms daarin kon slaag dat Jaap Steyn van sy eie navorsingsfondse sou benut om akademiese en legitieme redes. As navorsingsgenoot het hy nog tot in 2021 aktief uitgebou aan die dept. se navorsingsprofiel sonder om ooit iets terug te verwag.” (LitNet)
- Prof Danie Goosen, voorsitter van die FAK: “Prof Steyn se dood is ’n groot verlies vir die Afrikaanse taal, vir die Afrikaanse intellektuele lewe, asook vir die Afrikaners as kultuurgemeenskap.” (Netwerk24, 6 September 2021)
- Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers: “Ons medelye met die afsterwe van een van Afrikaans se grootste en mees geliefde skrywers. Prof Jaap se sagte benadering, nederigheid, onbeskryflike kennis en sy liefde vir Afrikaans én die geskiedenis was enkele van die karaktereienskappe wat hom so gelief gemaak het. Die Kraal Uitgewers-span salueer ’n meesterlike skrywer.” (Netwerk24, 6 September 2021)
- Joan Hambidge: “Die heengaan van die digter, romanskrywer, biograaf en taalkundige is ’n enorme verlies. In my jongste bundel. Konfessies, kaarte en konterfeitsels (Imprimatur, 2021) besing ek sy lof. Steyn se bundel Die grammatika van liefhê is een van die belangrikste bundels in Afrikaans waar die liefde taalkundig ondersoek word en die geskiedenis van ons taal digterlik beskou word.” (Netwerk24, 6 September 2021)
- Chris van der Merwe: “Jaap Steyn is skielik oorlede. Dis ’n groot skok vir almal wat hom en sy werk geken het, want dis ’n groot man wat gesterf het. ’n Mens is tegelyk hartseer oor die verlies en dankbaar vir sy nalatenskap. Jaap is een van die indrukwekkendste persone wat in en oor Afrikaans geskryf het; op vele gebiede het hy belangrike bydraes gelewer. (…) Sy sterkste passie was sy lojaliteit aan Afrikaans. Sy boek Tuiste in eie taal is al ‘legendaries’ genoem. (…) As Jaap jou leer ken het, het sy skugterheid verdwyn en was hy ’n vriend soos min. Oor die loop van jare het ek en hy nie altyd polities dieselfde standpunte gehad nie. Ek het byvoorbeeld nie sy simpatie met Orania gedeel nie. Maar ek kon sy siening begryp, omdat hy geweet het watter gevare vir Afrikaans dreig onder ’n regering wat nie minderheidstale beskerm nie, en hy het besef hoe belangrik die houding van ’n regering is vir die behoud van ’n taal. Hoe dit ook al sy, verskille het nooit ’n inbreuk op ons vriendskap gemaak nie, en Jaap het ’n vriend by uitnemendheid gebly. Sy boek Trouwe Afrikaners handel oor taalpolitieke sake, maar hy self was ook ’n troue Afrikaner en ’n troue vriend. Oor die jare het die gelukwensings by my verjaardag minder geword, maar van een gelukwensing kon ek altyd seker wees: dié van Jaap. Soms het hy my ’n dag voor die tyd gebel, sodat hy nie dalk in die pad sou wees as ander mense my wou gelukwens nie! So beskeie en so getrou. Ek is hartseer oor die heengaan van ’n mens met ’n groot intellek en ’n troue hart; maar ek is ook dankbaar vir die verryking wat hy deur sy geskrifte en sy menslikheid in my lewe en die lewens van baie ander gebring het.” (LitNet)
- Hennie van Coller: “As jy die werklike Jaap wil ken, moet jy sy biografieë bestudeer. Gou sal jy agterkom dat hy ’n enorme respek koester vir mense wat hul geringer ag as dit waarvoor hulle hul beywer – dikwels die behoud en uitbou van Afrikaans en opheffing van hulle volk. Wat hy duidelik waardeer, is integriteit; spaarsamigheid; eenvoud en ’n formidabele intellek. Al hierdie dinge kan net so oorgedra word op Jaap self. Nes sy liefde vir eenvoudig, maar lekker, eet. ’n Gunsteling was vir hom die harde korsie van ’n varsgebakte bruinbrood (só vertel hy in sy outobiografie). Vrydag (voor sy afsterwe) nog het ek vir hom so ’n brood gevat wat my vrou, Elsa, vir hom gebak het. Dadelik het hy, hoflik soos altyd, gebel om haar te bedank. En weens sy ongesteldheid dalk self nie eers daaraan geproe nie!” (LitNet)
- Naòmi Morgan: “Jaap Steyn is vanoggend begrawe. In die voorportaal was ’n stillewe deur Corné Richter, wat tot op die laaste saam met hom aan ’n projek gewerk het. Geseënd die mens wie se ryk, vol lewe deur ’n paar voorwerpe uitgebeeld kan word: ’n pet vir die Vrystaatse somerson en winterkoue, navorsing oor ander en die self (biografieë, ’n outobiografie), en die vergrootglas waarsonder al sy verbysterende navorsing nie moontlik sou gewees het nie. Die wind het gewaai om die reën te roep, die eerste botsels van die lente was uit. Dit was ’n mooi, hartseer dag in die provinsie waar jou lewe begin en geëindig het, Jaap.” (LitNet)
- Daniel Hugo vertel: “In my eksemplaar van Jaap se Die grammatika van liefhê kom ek op ’n gedig af wat met ’n dik streep deurgehaal is, en skielik onthou ek. Toe ek Jaap oor een of ander duisterheid in die gedig vra (na aanleiding van navorsing vir Daniel se proefskrif), gryp hy die potlood uit my hand en trek die streep daardeur met die opmerking: ‘Dis louter stront!’ Dit is die strengste voorbeeld van selfkritiek wat ek al by ’n digter teëgekom het. Ek het so groot geskrik dat ek die gedig toe nie in my proefskrif bespreek het nie.
“Jaap Steyn was nog altyd redelik pessimisties oor die voortbestaan van Afrikaans. Die titel van hierdie afgekeurde gedig is ‘Einde’, en die volgende uitspraak kom daarin voor: ‘Êrens het ’n taal ’n geslote boekery geraak, ’n afgesluite hoofstuk’.
“Sou Jaap se daad van vandalisme dalk ook selfkritiek kon wees op sy donker siening oor die toekoms van Afrikaans? Sy jongste publikasie is die magistrale geskiedenis van Afrikaans as kultuurtaal en heet Ons gaan ’n taal maak – Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Sy hoopvolle slotwoorde en raad aan Afrikaanssprekendes is: ‘Skep ’n eie toekoms’.
“Hoe dit ook al sy: die paar weke in J.C. Steyn se geslote boekery was van die leersaamste in my lewe. In daardie ‘apteek’ kon ek ook rus en genesing vind gedurende ’n onstuimige tydperk van my bestaan. Daarvoor sal ek Jaap ewig dankbaar bly.” (Versindaba)
- Paul Colditz, voorsitter van die Vriende van NALN: "Die afsterwe van Jaap Steyn is groot hartseernuus en ’n slag vir Afrikaans. Ek het prof Steyn jare geken en het die grootste respek vir hom gehad. Hy was ook ’n getroue en toegewyde ondersteuner van NALN. Sy bydrae tot Afrikaans was enorm en sal gelukkig bly voortleef. Afrikaans het ’n groot seun verloor. Ons eer sy nagedagtenis." (LitNet)
- Wyno Simes, kurator van NALN: “Dit is met spyt dat NALN van Jaap Steyn se afsterwe verneem het. So kom ’n verbintenis van 30 jaar tot ’n einde. NALN sal sy gereelde navorsingsbesoeke mis. Ons innige simpatie met sy naasbestaandes.” (LitNet)
- Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum: “Sy dood laat ’n onmeetbare leemte op die terrein van Afrikaner-kultuurgeskiedenis, Afrikaanse taalwetenskap en letterkunde. Met sy werkeTuiste in eie taal, Trouwe Afrikaners en Ons gaan ’n taal maak, het hy die kultuurgeskiedenis van Afrikaans en haar sprekers op ’n meesterlike en onverbeterlike wyse gedokumenteer. Benewens sy kennis en skryfvernuf, sal hy veral onthou word as ’n helder denker, nederige mens, fynproewer van humor, vurige liefhebber van en aktivis vir Afrikaans en ’n lojale vriend. Ons sal hom mis en ons wens sy geliefdes troos in die hartseer tyd toe.” (AfriForum se webwerf)
Publikasies:
Publikasie |
Enkele sintaktiese kenmerke van sommige woordklasse van Afrikaans |
Publikasiedatum |
1968 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewers |
Port Elizabeth: JC Steyn |
Literêre vorm |
DLitt-tesis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die grammatika van liefhê |
Publikasiedatum |
1975 |
ISBN |
0624007359 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Op pad na die grens |
Publikasiedatum |
1976 |
ISBN |
0624009122 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Dagboek van ’n verraaier |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0624011313 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Tuiste in eie taal: die behoud en bestaan van Afrikaans |
Publikasiedatum |
1980 |
ISBN |
0624014088 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Taalgeskiedenis en -politiek |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die verlore vader: dokumente van die politikus Pieter van den Berg, versorg, in enkele gevalle vertaal en ingelei deur JC Steyn |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0624022218 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Nasionalisme en die politisering van taal en kultuur in die dertigerjare |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
0868862592 (sb) |
Uitgewers |
Bloemfontein: UOVS |
Literêre vorm |
Taalpolitiek (DF Malherbe-gedenklesing) |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Trouwe Afrikaners: aspekte van Afrikaner-nasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875–1938 |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0624025624 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Taalpolitiek |
Pryse toegeken |
CJ Langenhoven-prys vir Taalwetenskap 1988 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die betekenis van “Die Burger” vir die Afrikaanse letterkunde |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
(sb) |
Uitgewers |
Bloemfontein: UOVS |
Literêre vorm |
Letterkundige geskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Hoeke boerseuns ons was |
Publikasiedatum |
1991 |
ISBN |
0624030350 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Boekewêreld: die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Saam met JP Scannell, Danie Botha, H Keyser, JJ van Schaik, HG Raubenheimer en Elize Botha |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
062016929X (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Literêre vorm |
Uitgewersgeskiedenis |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal. Deel I & II |
Publikasiedatum |
1998 |
ISBN |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Biografie |
Pryse toegeken |
|
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Penvegter: Piet Cillié van Die Burger |
Publikasiedatum |
2002 |
ISBN |
0624039439 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Biografie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die 100 jaar van MER |
Publikasiedatum |
2004 |
ISBN |
0624042197 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Biografie |
Pryse toegeken |
Louis Hiemstra-prys vir niefiksie 2005 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Sonkyker |
Publikasiedatum |
2008 |
ISBN |
978062404686 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Outobiografie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780987025692 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Kraal Uitgewers |
Literêre vorm |
Taalgeskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Afrikanerjoernaal: ’n vervolgverhaal in 365 episodes |
Publikasiedatum |
2016 (hersiene FAK-publikasie) |
ISBN |
(sb) |
Uitgewers |
Pretoria: FAK |
Literêre vorm |
Afrikanergeskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Verset en opbou: skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans |
Publikasiedatum |
2019 |
ISBN |
9780994715951 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Kraal Uitgewers |
Literêre vorm |
Taalgeskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
JC Steyn as samesteller
- Veg en vlug: manne en vroue vertel hul ware verhale uit die Anglo-Boere-oorlog. Kaapstad: Tafelberg, 1999 [ISBN 0624038009 (sb)]
- Vrolike en verskriklike ondervindings van gewone mense. Kaapstad: Tafelberg, 1996 [ISBN 0624034496 (sb)]
Artikels oor JC Steyn op die internet
- Botha, Willem J: LitNet Akademies: Willem Botha in gesprek met Jaap Steyn en André Duvenhage
- Britz, Elretha: Louw-biografie was groot werk
- Diedericks, Annelien: Elders gesien: Jaap Steyn – “Afrikaans het ’n groot seun verloor”
- Gericke, Marietjie: Afrikaans speel tweede viool
- Hugo, Daniel: Jaap Steyn – ’n herinnering
- Huldigingswoord aan Jaap Steyn – vanaf Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, UV
- JC Steyn
- JC Steyn
- Jaap Steyn vereer deur Praag
- Jaap Steyn wen gesogte prys
- Liebenberg, Danila: Jaap Steyn word sewentig
- Louw, Joylene: Steyn onwillig vir Louw-boek
- Martin, Rulanzen: Book pays tribute to leading Afrikaans academic
- Morgan, Naòmi: Elders gesien: Jaap Steyn is begrawe
- NALN-video: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans deur JC Steyn
- Nieuwoudt, Ilze: Bekroonde skrywer vier 80ste verjaardag
- NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur: Jaap Steyn
- Persverklaring Jan H Marais-prys
- Professor Jaap Steyn met erelidmaatskap vereer
- Rademeyer, Alet: Die Afrikaanse wêreld is armer na afsterwe van prof JC Steyn
- Roos, Jana: Tydskrif opgedra aan UV-ereprofessor
- Scholtz, Merwe: Man agter die boek is deur Steyn verantwoord
- Smith, Charles: Bekroonde skrywer prof Jaap Steyn oorlede
- Smith, Charles: Jaap Steyn gehuldig: “Afrikaans verloor een van sy grootstes”
- Steinmair, Deborah: Jaap Steyn oor MER: “’n kombinasie van die deursneehuisvrou en die intellektueel”
- Studenteplein huldig twee groot Afrikaanse skryfkunstenaars
- Van Coller, HP: Kom ons drink op Jaap
- Van Coller, Hennie: ’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn
- Van der Merwe, Chris: Jaap Steyn – ’n huldiging
- Van Niekerk, Angeliqué: Angelique van Niekerk se huldeblyk aan Jaap Steyn
- Vosloo, Ton: Cillié in visier van Insig pryswenner
Artikels deur JC Steyn op die internet
- Aanhitsing tot moord
- Afrikaans as voertaal aan HAU's nou weer aktueel
- Afrikaans bly die draer van gans die volksiel
- Afrikaans dalk dán vervang in streek se hoërskole?
- Afrikaans en die bevordering van inheemse tale
- Afrikaans moes die prys betaal vir 16 Junie 1976 se onluste in Soweto
- Afrikaans moet status hou om te lewe
- Afrikaans se oorlewing
- Afrikaans só geraak
- Afrikaans tot sy reg
- Afrikaanses moet waaksaam bly
- Afrikaanssprekendes gevaarlikste taalversmaders
- Afrikaanssprekendes moet op hul hoede bly
- Afrikaner by eie sake uitgerangeer?
- Afrikaner en romantiek
- Afrikaner-nasionalisme by eeuwisseling
- Afrikaner-selfvertroue
- Afrikaners het pap geëet om mekaar te help
- Afrikaners met Engelse harte is groot bedreiging
- Afrikaners pas op regte manier by nuwe SA aan
- Afrikaners word nou ál minder konformisties
- Afrikanerskap en taal by ’n paar Afrikaanse skrywers en ander intellektuele in die 1890’s
- Afrikanerskuldgevoel deur kerk en politiek gemanipuleer
- Afrikatale: het struggle gehelp?
- Afsnypunt, “neo-apartheid”
- Alle SA tale bevoordeel deur Bittereinder stryd
- Amateuragtige aanpassing
- Amptelike eentaligheid “kan Suid-Afrika duur te staan kom”
- Anglo-Boere Oorlog het Van Wyk Louw geraak
- Asmal ’n gevaar
- Bedenklike bedenkinge: Pheiffer se taalpolitiek
- Beskeie trots oor taal se “oes van die eeu”
- “Bly trots ’n Afrikaner”
- Bundel is ’n oproep
- By Vlaams oortree ons die tiende gebod
- Dagboek ontketen herrie in 1938
- Die Burger het “onvermoeibaar, volhardend leiding gegee”
- Dié boek plaas WVK se partydigheid in perspektief
- Dié optrede sterk veroordeel
- Dis nou tyd dat SAUK ’n slag regte ding doen
- Dit deug nie
- Dít klink edel, maar ...
- Dit laat mense wonder
- Dit lyk na groteske vergissing
- Dit sal SA goed doen
- Doeltreffende taalwetgewing nodig vir Afrikaanse lewe
- Drieledige aanslag
- Duidelike standpunt
- Energieke ontwikkelinge in Afrikaans
- Ergste bedenkings
- Etniese bewustheid kan moontlik nog vererger
- Gaan Die Kerkbode straks verengels?
- Gedwonge integrasie
- Gevare vir ons taal
- Die goeie ou dae se kos
- GRA-dryfkrag vir ons taal
- Groeponreg beheers lewe van tienduisende
- Groepsjaloesie dalk ’n ernstiger probleem
- Grondwet se seën nodig oor amptelike gebruik van ’n taal
- ’n Gruwelike onreg
- “Halfgaar” taal g’n manier om te probeer boete doen
- Halwe waarhede van anti-taalstryders
- Harde, waar woorde
- Herontdek só mooi fasette van kultuur
- Het dié gesprek nog ’n nut?
- Hoe opreg is ANC?
- Hou in maag geslaan
- Identiteit-verdediging
- In besinning oor HAU’s verdien dié sake aandag
- Is dit ’n “geskenk” van die maghebbers?
- “Is Sunter ’n vreemdeling in Jerusalem?”
- Die Kerk durf Afrikaans beslis nie verwaarloos
- Kerk is onvermydelik betrokke as sy lidmate te na gekom word
- Kiesersluim dui op verset en nie aanvaarding nie
- Kollig val op Afrikaanse beroepstoneel
- Die laaste projek van die “Hollandse taalbeweging in Suid-Afrika”: die vereenvoudigde Hollandse spelling
- Landbouprobleme
- Legitimiteit, volharding
- LitNet Akademies: Jaap Steyn gesels met Pieter Kapp oor die vestiging van Afrikaans as onderrig taal aan die Universiteit Stellenbosch
- Die mag van die min Afrikaners word dikwels onderskat
- Mbeki en die regte van tale, Afrikaans
- Min glo Zuma
- Minder as ’n halwe waarheid
- Minder Engafrikaans
- Minderhede, voordele
- Minderheidspolitiek sal baie fyn voetwerk kos
- Moenie die nadelige gevolge van taalregte-verlies ignoreer
- My leeskeuse
- Net Engels in howe kan weer tot onreg lei
- Net ’n troosgebaar
- Nie meer so gedwee
- Nuwe bedeling “mag nie evolusie tot meertaligheid omkeer”
- ’n Nuwe soort aktivisme
- Nuwe taalstryd kan kom oor Afrikaans
- Om ons te kan verdedig
- Ons eer die dapperes
- Ons kerke en Afrikaans
- “Ons wil jul taal 6 voet begrawe”
- Onthou: Die klant is koning
- Ontmagtiging in SA
- Ook prestasies vir Afrikaans
- Oorlog het positiewe taalgevolge gehad
- Die oorlewingstryd
- Patriot het met moderne standpunte Gedenkskool bepleit
- Peiling van Afrikaners se kultuurgeskiedenis
- Plan met Rian en Riaan
- Politieke strategieë van aktiviste vir die amptelike erkenning van Afrikaans
- Positiewe uitsprake ...
- President Paul Kruger en die Sondagkoerant
- Presies hoe moet Afrikaanses ander help?
- Protes moet sterker
- Raad in die krisis van vertwyfeling
- “Regstellende optrede” knou Afrikaans
- Die regte ding om te doen – vir die SAUK
- Resep vir taalbevordering
- Rock-liedjies en feeste
- Saak uitgemaak vir nuwe Afrikaner nasionalisme
- Sakeleiers moet bloos
- Sakelui se skuldlas
- Sasol: Só draai wiel
- Die sirenes loei
- Skadustaat gestig
- Skep, aktiveer en werk! Wortel van die taalkwaad is ANC-regering se Afrikaans-beleid
- Skerp, gegronde kritiek
- Só iets gebeur as sosiale manipulasie skeef loop
- Só word taalaktiviste gesterk
- Sommige wil Afrikaans prysgee as apartheid-soenoffer
- Staan sulke planne teen
- Staat het tienjaarplan om Afrikaans uit te druk
- Staatsman is nodig
- Staatsnasionalisme
- Stel Afrikaanse studente nét in rugby, dans en bier belang?
- Studie in Afrikaans – ’n taalstryd
- Taal – baie kan gebeur
- Taal kan sonder bewuste handhawing nie oorleef
- Taal vir student belangrik
- Taal voor slaggat
- Taal “word aan die gang gehou deur jong mense”
- Taalaksies, proteste en klagtes het groot waarde
- Taalbeleid aan die UV
- Taalboek sal skerp reaksie uitlok
- Taalpolitiek
- Taalstryd duur voort
- Taalstryd is teen verdere bevoorregting van Engels
- Taalverset geen kleinigheid
- Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe (saam met André Duvenhage)
- Toekomstige status van Afrikaans in nuwe SA onder loep
- VW Louw: Só kan Afrikaans doodloop
- Verandering in taalstatus is kiem van volk se ondergang
- ’n Verhaal van loop én val
- Verklaring spel onheil
- Versoening se glans verdof
- Vervreemding-probleem
- Verwaarlosing van taalkonflikte kan katastrofies wees
- Vir bemagtiging behoef Afrikaans hoë funksies
- Vir ware vrede is ruimte vir Afrikaans ’n vereiste
- Voertaalvraagstuk aan SA se universiteite
- Volksblad eeu lank gelees
- VRA wys hoe
- Vrou van staal – MER
- Vryheidspark en Afrikaners
- Vryheidspark-name
- VSA se “English Only”-inisiatief
- Waar is De Wet-gees?
- Wat amptelike status vir Afrikaans en Engels beteken het
- Wat beteken nuut?
- Wat gaan aan by Naln?
- Zuma en Mulder
JC Steyn se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2011-03-24 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bronne:
- Steyn, JC. 2008. Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu. Kaapstad: Tafelberg
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.