LitNet Akademies: Willem Botha in gesprek met Jaap Steyn en André Duvenhage

  • 0

Willem Botha gesels met Jaap Steyn en André Duvenhage oor hulle artikel "Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe" in LitNet Akademies.

A. Ter inleiding

Die inhoud van bogenoemde artikel is hoofsaaklik gebaseer op statistiese navorsing deur Schlemmer (2010) met betrekking tot taalverskuiwing na Engels. Aanvullend tot die genoemde navorsing word ’n indrukwekkende lys bronne betrek om tersaaklike statistiese insigte te ondersteun en aan te vul.

Die besondere artikel is belangrik en noodsaaklik ten opsigte van die huidige toedrag van sake met betrekking tot die Afrikaanse taallandskap, nie net om intuïtiewe uitsprake ten opsigte van Afrikaans se huidige posisie te verifieer nie, maar ook om as basis te dien vir verdere inisiatiewe ter ondersteuning van pogings om Afrikaans ter wille te wees.

Die vrae wat volg, is daarom gerig op stimulering van ’n gesprek oor Afrikaans binne die uitgestippelde grense van die artikel (en ook daarbuite), en dus nie bedoel as negatiewe kommentaar nie.

Opmerking: Alhoewel talle van die vrae in die inversie-vraagvorm gegiet is, is die verwagting dat kommentaar gelewer sal word op die ja- of nee-antwoorde.

B. Vrae met die oog op kommentaar

Taalverskuiwing is ’n verskynsel wat kontinu beslag kry in ’n oorgangs- en daaropvolgende geslag. In die literatuur word vermeld dat volledige beslag waarskynlik in ’n tweede geslag voltrek word.

Sou ’n mens kon aanneem dat die verskuiwingsproses wat Afrikaans betref, tans by ’n oorgangsgeslag plaasvind?

’n Mens moet by die beantwoording van die vraag twee dinge in aanmerking neem. Die eerste is die verskil tussen die stedelike en plattelandse sprekers. Schlemmer sê daar is waarskynlik ? streekspolarisering aan die ontwikkel – die verengelsingsproses kan grotendeels ? Kaapstadse metropolitaanse verskynsel wees. Hy wys daarop dat die Afrikaanssprekende bruin groep gesond groei, veral buite die Kaapse Skiereiland. Dit kom ooreen met Hein Willemse se beskrywing van die taalsituasie in die vyftigerjare van die vorige eeu in Aan die ander kant (p 159), nl dat Kaapstad ’n tradisie van Afrikaans-Engelse tweetaligheid het met ’n partydigheid vir Engels in die handel en die politiek, terwyl die omliggende plattelandse gebied hoofsaaklik Afrikaanssprekend was.

Die tweede saak wat ’n mens in ag moet neem, is die ekonomiese klas. Ons het Giliomee aangehaal wat daarop wys dat daar by die geskoolde bruin werkersklas en laer middelklas entoesiasme is vir Afrikaans en aksies onder die vaandel van Afrikaans. Maar by die hoër middelklas, die elite, staan sake anders. Engels het vir hulle ’n sterk aantrekkingskrag as taal van aspirasie. By baie lede van die bruin elite wat senior poste in die staatsadministrasie, universiteitsbesture en groot maatskappye beklee, is daar ’n sterk neiging om hulle te vereenselwiging met Engels en om hul steun te gee vir rasgedrewe transformasie en die aandrang op Engels as die taal van toegang.

As ’n mens dié twee sake in aanmerking neem, wil dit lyk of die proses veral in die Kaapse metropool al ver gevorder het. Soos Schlemmer bevind het, daal die persentasie Afrikaanssprekende bruin volwassenes, hoewel die aantal Afrikaanssprekendes as geheel sterk groei – klaarblyklik is die geboortesyfer onder die Afrikaanse plattelandse bevolking iets groter as dié in die stede. In ten minste sommige stede is ’n oorgangsfase bereik, maar beslis nie op die platteland nie.

Dit herinner ’n mens aan die 19de-eeuse situasie van die wit Afrikaanssprekendes, veral in die Kaapkolonie. Teen die einde van die 19de eeu was sommige ou gewese families totaal verengels, op groter plekke was die proses al aan die gang, maar is later gestuit, terwyl daar op die plase nog baie min sprake daarvan was – hoewel hulle nie daarvan uitgesluit was nie.

 Uit die artikel sou ’n mens kon aflei dat die verskuiwingsproses reeds verder op die kontinuum gevorder het vir bruin Afrikaanssprekendes as wat dit die geval sou wees by wit Afrikaanssprekendes. Teen hierdie agtergrond sou ’n mens ook kon vra na die veranderlikes as aanduiders van die graad van verskuiwing by onderskeidelik bruin en wit Afrikaanssprekendes, maar ook ten opsigte van die gekonsolideerde groep.

Om aan te sluit by die vorige antwoord kan ons eers kyk na die faktore wat die proses onder die wit Afrikaanssprekendes gestuit het. In die 19de-eeuse Kaapkolonie was dit die verandering in gesindheid teenoor Engels wat teweeg gebring is deur die Jameson-inval en die Anglo-Boereoorlog. Aan die vroeg-20ste-eeuse Rand was dit die uitbreiding van moedertaalonderwys na Afrikaanssprekendes, veral na enkelmedium Afrikaanse skole. William Nicol het eenkeer gesê dat die Afrikaanse kinders wat in die eerste twee dekades van die 20ste eeu in Johannesburg skoolgegaan het, totaal verlore was vir Afrikaans. Hy het jare na hulle gesoek, maar nooit gevind nie. Met die koms van Afrikaanse skole het dit verander.

Daarmee is mens by die twee faktore wat van deurslaggewende belang is vir die verskil tussen wit en bruin. Afrikaners is bereid om ’n stryd aan te knoop en byvoorbeeld hofsake te voer vir die behoud van Afrikaanse skole. Waar skole deur die onderwysdepartement gedwing word om leerders te aanvaar wat onderrig deur medium van Engels verlang, voer die gewese Afrikaanse skole parallelmedium in. Só kan Afrikaans dan as medium van onderrig aan Afrikaanse kinders behou word. Waar ’n bruin Afrikaanse skool ook Engels as medium invoer, word die skool nie parallelmedium nie, maar Engels; die ouers is apaties teenoor Afrikaans, terwyl hulle Engels as taal van opwaartse mobiliteit beskou.

Die onderwys is dus een van die veranderlikes, maar die tweede veranderlike is meer grondliggend, omdat dit die houding teenoor die voertaal van die skole help bepaal. Dis die gesindheid teenoor Afrikaans. Vir die bruin Afrikaanssprekendes is Afrikaans meestal ’n instrument vir kommunikasie; vir Afrikaners is dit ook ’n deel van hul identiteit. Hulle voel sterker daaroor, en hierdie gevoel het ’n historiese agtergrond – waarop ons in een van die latere vrae terugkom.

En sou daar iewers op die kontinuum ’n kritieke punt van verandering (verskuiwing) wees waarna die proses onomkeerbaar sou wees? En watter veranderlikes sou veranderbaar, en watter onstuitbaar wees?

Ons moet beklemtoon dat as daar van ’n kritieke punt sprake is, dit nie geld vir alle bruin of wit Afrikaanstaliges nie. Wat die mense in die Kaapse metropool betref, sal die punt waarskynlik bereik wees as Afrikaans vir ’n jong generasie amper soos ’n “vreemde taal” geword het, soos sommige van die ander amptelike tale, sê maar Tshivenda of Xitsonga vir baie mense is. Of selfs isiXhosa. Afrikaans sal dan ’n taal wees wat sommige mense in jou buurt miskien praat, maar wat jy nie werklik nodig het as jy om ’n werk aansoek doen nie, en waarin al hoe minder kinders skoolgaan – en jou vriende wat nog in naam Afrikaans is, gaan in elk geval saam met jou na ’n Engelse skool. Jy ken miskien ’n hele klompie woorde in dié taal, kan moontlik ’n elementêre gesprek daarin voer (weliswaar met baie Engelse woorde daarin), maar jy sal nooit daaraan dink om dit eendag aan jóú kinders te leer of jou huistaal te maak nie. Wanneer ’n groot groep so begin voel, as hulle voel dat daar vir hulle geen lewe meer in Afrikaans is nie, is daardie kritieke punt bereik.

Moet verder aangeneem word dat Afrikaanse taalverskuiwing by Afrikaanse emigrante wat hulle permanent in die buiteland gevestig het, vinniger voltrek sal word?

Die moderne tegnologie – tans byvoorbeeld Skype en die internet, wat kontak deur middel van briewe, die lees van koerante en die luister na die radio moontlik maak – kan sekerlik help dat die emigrante wat wil, met Afrikaans as ’n lewende taal in aanraking kom. Nie almal wil nie, ongelukkig – ’n paar jaar gelede was daar ‘n stormpie in ’n glas water oor die gedagte dat Afrikaans as keusevak in ’n paar Nieu-Seelandse skole ingevoer word. Venynige teenstand het van sekere gewese Suid-Afrikaners gekom. Houding speel hier ’n belangrike rol, en nie net vir Afrikaans nie. Daar is ’n verhaal (miskien sommer ’n legende) van ’n skip vol Nederlandse emigrante op pad na Australië of Nieu-Seeland wat besluit het hulle praat net Engels nadat die skip uit Rotterdam weg is. Of die beweerde poging werklik geslaag was, is moeilik om te sê, want ook Nederlanders behou verbasend lank hul taal. Die moderne tegnologie en kommunikasiemiddele maak dit moontlik. Maar dis ’n vraag of dit vir tweede generasie emigrante moontlik sal wees. Jongmense gaan na skole en universiteite en knoop verhoudings en permanente verbintenisse aan met mense in lewende lywe, en die bestaan van die moontlikhede van kontak met Afrikaans gaan hulle nie daarvan afhou nie.

Hoe hou sodanige taalverskuiwing verband met identiteitsverskuiwing, en in watter mate is dit vanuit Suid-Afrika moontlik om Afrikaanse taalgemeenskappe aldaar te help instigeer en in stand te hou – soos wat dit byvoorbeeld die geval is met Griekse, Portugese, Duitse en ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika?

 Die kans is klein dat ons vanuit Suid-Afrika die Afrikaanse taalgemeenskappe buite die land sal kan help. Ons het skaars die middele om ons eie instellings op te rig en in stand te hou. Daar is ’n verskil tussen ’n Afrikaanse immigrante-gemeenskap enersyds en die Duitse, Portugese en Griekse immigrante in ons land andersyds. Duits, Grieks en Portugees hoef nie in Duitsland, Griekeland en Portugal om die behoud van instellings in hul eie taal te veg nie – die betrokke state hou daardie tale in stand. Buitendien is die Duitsers ’n ryk gemeenskap – Duitsland is die rykste land in Europa. Niemand hoef te twyfel aan die waarde van Duits nie.

Maar ondanks dit alles is dit nodig om kontak te behou en waar ons kan, sulke gemeenskappe te help. Die Afrikaanse kerke behou kontak, en daar is in baie lande gemeentes wat onder meer Afrikaans gebruik. Hulle sorg ook vir belangrike sosiale kontak tussen Afrikaanssprekendes.

Sou dit in bogenoemde gevalle moontlik wees om Afrikaanse leerstoele aan buitelandse universiteite te vestig (alhoewel minder omvangryk, ekonomies miskien meer haalbaaar as ’n eksklusief Afrikaansmedium-universiteit in Suid-Afrika), en sou dit moontlik wees om substansiële beurse vir studie in/oor Afrikaans aldaar te vestig, en –baie belangrik – groot pryse vir kreatiewe en ander (ook wetenskaplike) werk in Afrikaans deur voormalige Suid-Afrikaners toe te ken om die taal sodoende daar lewend te hou?

Sulke leerstoele en die ander dinge wat u daar noem, soos beurse en pryse, sou baie waardevol wees, maar u vra of dit moontlik gaan wees? Ja, daar lê die knoop. Die vraag is ook weer: wie befonds sulke leerstoele? Om ’n leerstoel in te stel en in stand te hou, kos ’n fortuin. Afrikaans is in die buiteland soms ’n onderafdeling van ’n ander departement, byvoorbeeld Nederlands of Suid-Afrikaanse studies.

Wat is dus die moontlikhede om binne ’n geglobaliseerde wêreld geglobaliseerd oor Afrikaans te dink ten opsigte van die verskuiwing van Afrikaans van moedertaal tot uiteindelik niemoedertaal en tweede/derde taal?

Baie hang hier af van die wil van mense, want soos die spreekwoord sê, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. Ons moet hierby dink aan die ideologiese verskuiwing wat by baie Afrikaanstaliges aan die gang is. Hulle raak hiperindividualisties. En dié denkrigting is die vyand van strewes om kleiner tale te bewaar.

 Behoort die konsep Afrikaanse taalgemeenskap dus nie konstruktief uitgebrei te word om verder te strek as die grense van Suid-Afrika nie? Dan word Afrikaans (met die aktiewe steun vanuit Suid-Afrika) inderdaad ’n “wêreldtaal” – natuurlik op ’n heel ander vlak en met ander funksies as byvoorbeeld Engels en Spaans.

Ons stem heeltemal saam: die Afrikaanse taalgemeenskap moet so inklusief as moontlik opgevat word. Dit sal ook glad nie vreemd aan ons geskiedenis wees nie – dit was vroeër reeds die geval as ’n mens dink aan die groepe Afrikaners wat ná die Anglo-Boereoorlog uitgewyk het na Argentinië, en die Britse en Duitse kolonies in Oos- en Suidwes-Afrika. Selfs met die gebrekkige kommunikasie- en verkeersmiddele van destyds het baie van hulle kontak met hul mense in Suid-Afrika probeer behou. Op plekke soos Eldoret in Kenia, en in die huidige Zimbabwe, was Afrikaanse skole wat van die Afrikaanse kerke hulp gekry het.

Aansluitend by wat oor groepsidentiteite gesê is, is kommentaar ten opsigte van die volgende opmerking miskien ter sake: In die onderhawige artikel word die woord Afrikaanssprekendes gebruik, maar daar word meer dikwels na Afrikaners verwys, byvoorbeeld: “Die Afrikaanse taal is reeds meer as ’n eeu lank ’n belangrike simbool van Afrikaner-identiteit ...”

Die vraag ontstaan oor hoedanig identifisering met Afrikanerskap, óf Suid-Afrikanerskap (of albei op ’n bepaalde prioriteitskaal) bevorderlik of stremmend op Afrikaans inwerk. Hierdie vraag moet gesien word teen die agtergrond van debatte wat periodiek opvlam met betrekking tot die konsep Afrikaner. Dit kan ook beoordeel word teen die agtergrond van die intrinsieke verhouding wat daar in die geskiedenis van die woord Afrikaner bestaan het tussen definiërende eienskappe daarvan met betrekking tot lokaliteit, etnisiteit en taal.

Vergelyk in hierdie verband Bylaes 1 en 2, waarin ’n uittreksel oor onder andere die definiërende eienskappe van die konsep Afrikaner uit die artikel Die Afrikanerprototipe (Botha 2002:77-80, 87) verskyn ter illustrasie van die begripskompleksiteit van die betrokke woord.

Willem Botha gee in sy artikel ’n belangrike en selfs fassinerende oorsig van die verskille in die gebruik van die benamings Afrikaner en Afrikaans. Hy haal onder meer die Van Dale-definisie aan: “in Zuid-Afrika geboren blanke van Europeeschen oorsprong”. Dit is ’n gebruik wat in die eerste dekades van die 20ste eeu dikwels voorgekom het. Daarom is onderskei tussen Engelssprekende en Hollandssprekende Afrikaners, waar “Hollands, dus opgevat word as sinoniem met Afrikaans” (’n taalpolitieke omskrywing van Nederlands was dat dit sowel Afrikaans as Nederlands ingesluit het). ’n Mens vind hierdie betekenis veral in verslae van toesprake.

Maar dit was nie ’n algemene betekenis nie. So was daar in 1924 ’n meningswisseling daaroor in Die Burger tussen die skryfster MER en die joernalis LW Hiemstra (wat later op grond van sy taalkundige kennis ook lid van die Akademie se Taalkommissie geword het). Ná ’n toespraak van die hoofregter, sir James Rose-Innes, het MER opgemerk dat sy sal moet leer om Afrikaner só te gebruik dat dit Engelssprekendes insluit. Hiemstra het die gebruik van Afrikaner in daardie betekenis bevraagteken en gesê Afrikaners en Engelssprekendes verskil tog ten opsigte van taal en kultuur. Die Burger het in ’n hoofartikel die “amptelike” betekenis onderskryf. Ons noem dit maar net as aanduiding daarvan dat nie alle Afrikaners die benaming Afrikaner in die Van Dale-definisie gebruik het nie.

In elk geval het die republikeinse leiers in die taalstryd ná die Anglo-Boereoorlog sterk op die voorgrond getree. Die laaste twee presidente van die republieke (wat albei baie begaan was oor die taal) het hulleself Afrikaners genoem – pres Steyn byvoorbeeld in sy toesprake voor die Anglo-Boereoorlog.

Die lotgevalle van die Afrikaners na die Anglo-Boereoorlog het veroorsaak dat hulle steeds besorg was oor die posisie van die taal, en dat hulle ’n benadeling van Afrikaans as ’n benadeling van hulle as individue of as groep beskou het. Ons het aangehaal wat uit Zietsman se navorsing na vore gekom het: “Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword, en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Daaraan het die bruin Afrikaanssprekendes geen deel gehad nie.”

Terwyl dié stryd aan die gang was, het die invloedrykste bruin leier, Abdullah Abdurahman, en APO, mondstuk van die African People’s Organisation, gepleit vir die aanvaarding van Engels. (Dié organisasie is gestig om gelyke politieke regte vir alle gekleurdes te verkry.) Daar is dus historiese redes waarom wit en bruin Afrikaanssprekendes verskil in hul benadering tot die taalkwessie.

Daardie taalgetrouheid het by baie Afrikaners al minder sterk geword, maar by baie bestaan dit nog. Die meeste konstruktiewe pogings om Afrikaans te bevorder, gaan deesdae van die Solidariteit-beweging uit. Die mense wat die projekte soos Sol-Tech en Akademia aanpak, is Afrikaners, maar om misverstand te voorkom, moet ons dadelik byvoeg: nié Solidariteit of enige van die instellings van die Solidariteit-beweging stel enige rasse- of kleurbeperkings nie.

Waar die gevoel van Afrikanerskap gekwyn het, het hul gehegtheid aan die taal gekwyn, en het hul bereidheid om daarvoor in die bresse te tree, ook minder geword. Dit toon wat ná 1994 met Afrikaans gebeur het by sommige histories Afrikaanse ondernemings en instellings.

Die volgende paragraaf uit ons artikel is hier ter sake: “’n Derde gevolg van die verdwyning van Afrikaner-nasionalisme is dat maatskappye soos Sanlam en Volkskas, wat in die volksbeweging ontstaan het, gretig was om hul etniese karakter te verbloem om mense van ander taal- en rassegroepe te trek. Die Afrikaanse Handelsinstituut beskou dit nie meer as een van sy funksies om Afrikaans te bevorder nie. Sy eerste bruin president, Franklin Sonn, het in 2002 verklaar: “Ek is nie ’n Afrikaner nie, ek was nog nooit een nie en wil ook nie een word nie” (Giliomee 2004:627).

In die artikel word geen eksplisiete verwysing na standaardtaal gemaak nie. Sou dit ’n belemmering wees in die weg van taalhandhawing? En hoedanig gee taalverskuiwing, en daarmee gepaard funksieverlies, aanleiding tot die inperking van standaardisering?

Ons dink nie dat die standaardtaal ’n belemmering vir taalhandhawing kan wees nie. Die standaardtaal word gedurig verruim deur woorde uit ander variëteite. Maar die funksieverlies en taalverskuiwing bedreig aan die ander kant juis die standaardtaal. In die meeste werkkringe word die standaardtaal al hoe minder gebruik. ’n Mens hoor gedurig hoe sommige Afrikaanssprekendes met wie die radio of die televisie onderhoude voer, sukkel om hulle in Afrikaans uit te druk. Hulle moet steeds gebruik maak van verskonings soos “soos die Engelsman sê” en “ek kan nou nie op die regte Afrikaanse woord kom nie, maar …” en dan volg die Engelse woord.

Ten opsigte van die rubriek Taalhandhawing wil ek ’n paar opmerkings maak en in plaas daarvan om spesifieke vrae te vra, liewer kommentaar op die opmerkings vra. Die opmerkings geskied ook teen die agtergrond van wat oor taalverskuiwing gesê is en die vermelding van toekomsperspektiewe in die titel van die artikel.

Opmerking 1

Die konsep taalhandhawing het ’n ietwat defensiewe ondertoon. Ek bevraagteken nie die betrokke afdeling nie, maar vir my gevoel sou die artikel miskien meer “offensief” (positief) kon afsluit met daadwerklike (en daadkragtige) voorstelle vir die uitbouing en ontplooiing van Afrikaans, veral as ’n mens wil aanvaar dat die posisie van Afrikaans met ’n “onwillige regering”, waarvan in die artikel sprake is (deur hulle vertragingstaktiek met betrekking tot die implementering van grondwetlike taalklousules), nooit weer sal wees soos voor 1994 nie.

As aanvaar word dat Afrikaans hom op ’n funksieverlies-glybaan bevind, soos in die artikel aangedui word, moet gevra word watter stadium van die proses geld as die status quo wat gehandhaaf moet word.

Vir ons hou taalhandhawing twee soorte optredes in. Die een is taalaktivisme, en die beste voorbeeld van effektiewe taalaktivisme is die hofsake wat ’n paar skole teen onderwysdepartemente gevoer het waar hulle onregmatig die voertaalbeleid van skole verander het. Die tweede soort is die oprigting van eie instellings. Die beste voorbeelde is Solidariteit se Sol-Tech en Akasia, die private radiostasies en kykNET.

Is ’n voor-1994-handhawingstatus nog moontlik?

Daaroor het ons geen illusies nie. Die poste wat in die staatsapparaat verlore geraak het, sal ons nie kan terugwin nie. Die staatsbeleid van verteenwoordigendheid maak dit in elk geval onmoontlik. Dit gaan vir ons eerder oor die behoud van wat nog oor is, soos die openbare skole wat met soveel sukses bedryf word. Ook RSG en die Afrikaans wat nog in SABC2 oor is.

Opmerking 2

’n Paar uitgangspunte

  • Afrikaanssprekendes wat die land permanent verlaat het, mag nie vir Afrikaans verlore gaan nie – veral ook nie hulle kinders nie. Vergelyk wat ek vroeër oor Afrikaans as “wêreldtaal” gesê het. Ons behoort dus toenemend aan Afrikaans te dink as ’n geglobaliseerde taal wat nie ingeperk behoort te word deur die geografiese grense van Suid-Afrika nie.
  • Moderne elektroniese tegnologie moet optimaal benut word om Afrikaans te ontplooi. Globalisering skep vir Afrikaans ’n wonderlike offensiewe geleentheid, veral as daar byvoorbeeld op instansies soos Microsoft en Apple druk uitgeoefen word om Afrikaans in hulle programmatuur gelyk te beregtig; vergelyk byvoorbeeld hoedat Europese en Oosterse tale in hierdie opsig erkenning geniet. Vergelyk ook die erkenning wat ’n taal soos Deens in hierdie verband kry, terwyl Deens wat aantal sprekers betref, met Afrikaans vergelykbaar is.
  • Die Afrikaanssprekendes in die buiteland behoort ingetrek te word binne die groter Afrikaanssprekende taalgemeenskap. Dit sal kreatiewe denke verg, maar veral positiewe en geldelike aansporing om dit vir hulle aantreklik te maak. Daarom ook geen ideologie nie. Ek dink byvoorbeeld aan finansiële aansporing vir kreatiewe (en wetenskaplike) werk in Afrikaans (veral ook by kinders), en natuurlik die nodige mediablootstelling; pogings om Afrikaanse leerstoele aan buitelandse universiteite te skep; stigting van Afrikaanse groepgemeenskappe in die buiteland, almal met gemeenskaplike maar ook plaaslike doelwitte; en natuurlik nog ander inisiatiewe waaroor kreatief gedink kan word.
  • Stig ’n oorkoepelende onafhanklike organisasie (verkieslik met besoldigde amptenare) hiervoor en noem hulle ter wille van die argument iets soos Afrikaans-taalkrag (taalkrag moet beklemtoon word). Hierdie instansie kan elektroniese briewe, elektroniese publikasies, pryse vir kreatiwiteit in Afrikaans, en ook ander projekte organiseer en administreer.
  •  Laat instansies wat hulle beywer vir die handhawing van Afrikaans, steeds voortgaan, veral ook ten opsigte van die kwaliteit van Afrikaanse taalgebruik, wat tans nie na wense is nie – ten spyte van die goeie Afrikaanse skole waarvan daar in die artikel sprake is. Hulle moet dus ook steeds die regering onder druk plaas.
  • Samevattend: Op grond van globalisering en die onmiddellikheid wat die elektroniese tegnologie skep, hoef tale nie meer geografiese grense te hê nie; globalisering is dus ’n wonderlike offensiewe geleentheid vir Afrikaans. Kragte téén Afrikaans kan dus offensief gedeflekteer word na kragte vír Afrikaans. Nie alle kragte moet dus binne die teenkrag-modus funksioneer nie. Snoer dus eerder kragte saam binne ’n offensiewe konsep, gedra deur ’n woord soos byvoorbeeld taalontplooiing.

 Kommentaar?

Ons stem saam met die dinge wat u opmerk, ook oor die kwaliteit van die taalgebruik, waarna u verwys. Maar soos prof Botha ook sal weet, is dit dis iets waaraan mens baie moeilik iets kan doen. Tom McLachlan van die Taalkommissie het al oor die radio gepraat en in die koerante geskryf oor die byna belaglike van byvoorbeeld uitmis, maar die karakters van 7de laan, “mis” die een na die ander iets “uit”.

Ons is dit roerend eens met prof Botha: ons moet alles doen wat ons kan.

Bylae 1

Afrikaans en die Afrikaner

Afrikaneridentiteit is heg verweef met ’n bewuste belewenis van Afrikaans as kultuurtaal. ’n Historiese relaas van die wisselwerkende ontwikkeling van ’n Afrikaner- en Afrikaansbewussyn onderskryf dit. Sonder om in besonderhede by so ’n oorsig betrek te word, word slegs enkele hoofmomente wat vir hierdie tema tersaaklik is, genoem.
Konseptueel was die woord Afrikaner aanvanklik redelik probleemvry as gevolg van die wye verwysingspektrum waarvoor dit gebruik is. Wat die taal “Afrikaans” betref, het daar egter heelwat konseptuele verwarring geheers. Van der Merwe (1972:16) twyfel byvoorbeeld of die benaming “Afrikaans” hoegenaamd in die agtiende eeu reeds bekend was.

Nienaber (1949:98) se uiteensetting van vroeëre naamgewingspogings in hierdie verband bevestig dit grootliks. Volgens sy beskrywing het die samestelling “Kaaps-Hollands”, die naam wat aanvanklik gebruik is vir hierdie dialek of “variant van Hollands op Kaapse bodem”, op ’n konseptuele integrasie gedui: lokalisering en besondersheid ten opsigte van die historiese en gemeenskaplike. Hy voer verder aan dat ’n verkorting daarvan tot “Kaaps” lank voor 1850 plaasgevind het, in verwysings soos onder andere “de Kaapsche uitspraak” en “de Kaapsche tongval”. Hy wys ook op enkele wisselvorme daarvoor gedurende hierdie tyd: “de Afrikaansch-Hollandsche taal”, “Bastaard-Hollandsch” en “Boeren-Kaapsch”.

Na die Groot Trek die binneland in, en met die stigting van die Boererepublieke, sou die geografiese verwysing “Kaaps” egter te eng wees en onder Afrikaansgesindes self nie meer byval vind nie. Terwyl die benaming “Kaaps-Hollands” onder Afrikaansgesindes begin verdwyn het, het dit buite die groep en by buitelanders bly vassteek. Dit is afgewissel met ’n waardebeoordelende benaming soos “Plat-Hollands” en skriftelike benoemings soos “Transvaals” (1887), “Afrikaander Taal” (1901), “The Taal” (na 1902), “Burensprache” (1904), “Boer Dutch” (ongeveer 1904), “Le Langue des Boers” (1911) en “Zuid-Afrikaansch” (vergelyk Nienaber 1949:98-100).

Die konseptuele onbestendigheid ten opsigte van die benoeming van “Afrikaans” blyk uit Afrikaansgesindes se eie wisselende naamgewing daarvoor. Terwyl Pannevis reeds in 1872 ’n brief aan De Zuid-Afrikaan skryf oor “De Bijbel in het Afrikaansch”, vertaal SJ du Toit selfs so laat as 1897 nog “Afrikaans” met die term “Cape Dutch” in sy Fergelijkende taalkunde van Afrikaans en Engels.

Ongeag die genoemde benoemingsverwarring was die taalsituasie aan die begin van die 19de eeu (pas na die Britse besetting van die Kaapkolonie) sodanig dat Nederlands die enigste amptelike taal was, terwyl die volkstaal “Afrikaans” was. Dit was die spreektaal van die afstammelinge van Nederlanders, Duitsers, Franse, Maleiers en Khoi aan die Kaap, en as sodanig het dit geen saambindende funksie gehad nie – en dus hoegenaamd geen nasionaliteitsbewussyn onderlê nie. Van der Merwe (1972:75) beweer dat die Koloniste Afrikaans nie eens erken het nie – en selfs “verag” het, “omdat hulle in die waan verkeer het dat hulle tog Hollands praat”; hulle het ook ’n besondere verdraagsaamheid en toegeeflikheid met betrekking tot die verengelsingsbeleid openbaar.

Die mate waarin ’n taalbewussyn wel na vore gekom het as gevolg van die doelbewuste verengelsing van die Kaapkolonie sedert 1822, het saamgehang met die verlies van die amptelike status van Nederlands. Selfs in wat beskou word as die eerste boek in Afrikaans, naamlik Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar (in 1861), is dit ’n politieke bewussyn, en nie ’n Afrikaansbewussyn nie, wat die gebruik van Afrikaans regverdig.

Onderliggend aan ’n ideologiese bewussyn word ’n taalbewussyn by implikasie eintlik eers sedert 1870 gevoed, in die aanloop tot die Eerste Taalbeweging. In dié tyd kategoriseer ds SJ du Toit die Afrikaner soos volg: “Daar is Afrikaners met Engelse harte. En daar is Afrikaners met Hollan(d)se harte. En dan is daar Afrikaners met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaners” (WAT 1956:90).

In hierdie beskrywing is konseptueel veel meer opgesluit as in die 1707-uiting van Hendrik Bibault, naamlik: “’k ben een Africaander.” Alhoewel Bibault hoofsaaklik sy ruimtelike verbondenheid met hierdie woorde beskryf, plant hy eintlik die saadjie vir ’n kollektiewe bewussyn, al is dit in hierdie stadium hoofsaaklik ’n geografiese bewussyn. Du Toit, daarenteen, suggereer ’n emosionele verbondenheid met sy “hart”-metafoor. En hierdie emosionele verbondenheid sou deur die Britte self gestimuleer word met hulle verengelsingsbeleid.

Van die eerste pogings om die kategorie Afrikaner formeel te omskryf, kom van die Patriot-Woordeboek, wat die woord Afrikaner in 1902 soos volg omskryf: “white man born in Africa”. Vroeëre woordeboeke, soos die Woordenboek der Nederlandsche taal wat in 1882 gepubliseer is, bevat nog nie die inskrywing Afrikaner nie. Die woord Afrikaner kom wel in Van Dale sedert 1917 voor: “in Zuid-Afrika geboren blanke van Europeeschen oorsprong”. Van die Afrikaanse taal is daar hoegenaamd nie sprake nie.

Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) is die woord Afrikaner afwisselend met die woord Boer gebruik, verwysende na ’n “Hollandsch sprekende kolonist van Zuid-Afrika, inzonderheid die van de Transvaal en de Oranje-Vrijstaat”, volgens Van Dale in 1917. Vir die eerste keer kom taal ter sprake – en steeds nie Afrikaans nie, maar dan ten opsigte van die kategorie wat as “Boer” geklassifiseer is. Die Afrikaner-definisie in die 1999-uitgawe van die Van Dale groot woordenboek der Nederlandse taal beklemtoon steeds etnisiteit en ruimtelikheid, én die Boereverwantskap – met taal steeds nie as ’n definiërende faktor nie: “vooral in Z-Afrika gebezigde aanduiding van een in Z-Afrika geboren blanke, mn van Boerenafkomst”. Daarnaas beskryf Van Dale groot woordenboek van hedendaagse Nederlands (1984) slegs etnisiteit en ruimtelikheid met die volgende definisie: “blanke in Zuid-Afrika”. Die Van Dale handwoordenboek der Nederlandse taal (1982) voeg verwantskap by met die beskrywing “blanke burger van Z-Afrika, inz van Boerenafkomst”.

Die supplement by die eerste deel van die Woordenboek der Nederlandsche taal se 1956-definisie verswyg in die eerste gedeelte steeds Afrikaans, maar benadruk etnisiteit, lokaliteit en Boereverwantskap in verhouding tot “Nederlandsch” (tussen aanhalingstekens!), wat waarskynlik dui op die twyfelagtige Nederlandsstatus van die betrokke taal. Die inskrywing in die betrokke woordeboek het egter ook ’n tweede gedeelte waarin daar wel melding gemaak word van Afrikaans.

In die bostaande omskrywings word die kategorie Afrikaner redelik vaag geformuleer: veral volgens lokaliteit/sublokaliteit, etnisiteit, herkoms en verwantskap, terwyl daar slegs in die tweede gedeelte van die definisie van die WNT-supplement van Afrikaans sprake is.

Die afwesigheid van die Afrikaanse taal as ’n definiërende eienskap kan daaraan toegeskryf word dat die Patriot-definisie ’n tydperk verreken waarbinne die eerste Taalbeweging nog nie ’n besondere impak gehad het nie, terwyl die ander definisies, in die mate waarin hulle taal erken, vassteek by Nederlands/ Hollands se Suid-Afrikaanse status, en die amptelike erkenning van Afrikaans sedert 1925 nie eksplisiet verreken word nie. Die WNT-supplement onthul ook ’n ideologiese ondertoon met die beskrywing van ’n emosionele belewenis met die bewoording ‘hen die … zich Afrikaansch voelden’. Laasgenoemde definisie impliseer ook ’n ‘konseptuele versmelting’ van Afrikaans en die Afrikaner.

Afgesien van die WNT-supplement verswyg die Nederlandse woordeboeke deurgaans die Afrikaanse taal as ’n kenmerk van die Afrikaner. Dit kom, daarenteen, in die bekendste Afrikaanse woordeboeke voor as ’n kardinale onderdeel van die betekenisbeskrywing van die woord.

In die ontwikkeling van ’n kollektiewe ideologiese bewussyn sou die Afrikaanse taal egter die bindingskrag wees vir die manifestasie daarvan in ’n nasionale bewussyn wat as Afrikanernasionalisme bekend sou staan. Afrikaans sou die gemene deler word op grond waarvan bepaalde groepervaringe en groepemosies ideologies saamgetrek sou word.

Bylae 2

Hoër op is gewys op die eertydse wisselende benoemings ten opsigte van die kategorie “Afrikaans”, byvoorbeeld “Kaaps-Hollands”, “Plat-Hollands”, “Transvaals”, “Afrikaander Taal”, “The Taal”, “Burensprache”, “Boer Dutch”, “Le Langue des Boers”, “Zuid-Afrikaansch”, “de Afrikaansch-Hollandsche taal”, “Bastaard-Hollandsch”, “Boeren-Kaapsch”, ensovoorts. Hierdie benoemings is sprekend van verskillende beheersende punte waaruit die betrokke konsep beoordeel is.

Word Nederlandse en Afrikaanse woordeboeke se leksikale definisies van die woord Afrikaner vergelyk, word dit duidelik dat die betekenisbeskrywings twee baie duidelik onderskeibare beheersende punte vergestalt. Die keuse van definiërende eienskappe (of die weglating van bepaalde eienskappe) in verskillende woordeboekdefinisies se betekenisbeskrywings van die woord Afrikaner is opvallend in hierdie verband (vergelyk die onderskeie betekenisbeskrywings hoër op). Die Nederlandse definisies handhaaf oor die algemeen etnisiteit en lokaliteit as gemene delers, aangevul deur verskillende gesigspunte ten opsigte van die Afrikaner se herkoms. Die beskrywings “Europeeschen oorsprong” en “Boeren-afkomst” in die Nederlandse definisies is onderskeidelik duidelike voorbeelde van die uitbreiding en inperking van die kategorie, terwyl die verswyging van Afrikaans as ’n Afrikaner-eienskap die kategoriegrense noodwendig wyer span. Dit is dus ’n duidelike poging tot skematisering.

Vanuit ’n heel ander beheersende punt – vanúit die betrokke kategorie – benadruk die definisies in die Afrikaanse woordeboeke, byvoorbeeld in die Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, Afrikaans as moedertaal van die Afrikaner, terwyl etnisiteit en die eksplisiete verwysing na ’n bepaalde herkoms verswyg word. Alhoewel die kategoriegrense deur die vermelding van Afrikaans nouer getrek word, bly hierdie definisies steeds skematiserings.

Bron

Botha, Willem J. 2002. Die Afrikanerprototipe. In Eep Francken en Ariane van Santen (reds), Pinguïns en pikkewyne. Leiden, Nederland: SNL (ble 77–95).

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top