Willem Botha is emeritusprofessor. Hy was vanaf 1981 tot 2007 verbonde aan die Departement Afrikaans aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg), en was vir nege jaar voorsitter van daardie Departement.
As taalkundige het hy hom toegespits op die semantiek (veral binne die domein van die kognitiewe linguistiek) en die sintaksis. Sy navorsing het egter ook die toepassing van die tersaaklike teorieë op ’n verskeidenheid terreine behels, onder andere die letterkunde, politiek en godsdiens. Sy internasionale voordragte en publikasies het meestal binne hierdie raamwerk beslag gekry.
Sedert sy aftrede is hy op ’n deeltydse basis by nagraadse onderrig en studieleiding by die Departement Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg betrokke.
In 2001 was hy vir ’n semester gasprofessor aan die Universiteit Leiden in Nederland.