Jaap Steyn stel vrae aan Pieter Kapp na aanleiding van sy LitNet Akademies-artikel Stellenboschstudente se rol in die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch.
Die artikel handel oor gebeurtenisse van ’n eeu gelede, maar is nogtans baie aktueel, want Stellenbosch beleef nou weer ’n taalstryd. Jy haal teen die einde van jou artikel ’n gewese rektor, Chris Brink, aan, wat beweer dat die US van sy oorsprong af ’n dubbelmedium-universiteit was. Brink en ander beroep hulle daarvoor op ’n bepaling in Jannie Marais se bemaking, naamlik dat Hollands/Afrikaans geen “mindere plaats” op Stellenbosch sal beklee as Engels nie. Wat sê jy van dié argument?
Dit is interessant hoe die bepalings in Jannie Marais se skenking gemanipuleer word, omdat die omstandighede in 1915, toe hy die skenking gemaak het, goedskiks buite rekening gelaat word. In 1915 was dit ’n voorwaarde van die destydse regering dat hulle die omskakeling van die Victoria Kollege na ’n selfstandige universiteit sou oorweeg slegs as die Victoria Kollege ’n kapitaalfonds sou kon aanbied soos wat die Universiteit van Kaapstad die kapitaalfonds van Wernher-Beit gehad het om sy status as universiteit te verseker. Daar was geen versekering dat die regering sou instem tot ’n universiteit op Stellenbosch nie, selfs al word ’n kapitaalsom bekom. Daar was te veel twyfelaars in Hollands-Afrikaanse geledere wat nie geglo het dat dit moontlik is om met ’n taal wat nog in sy babadoeke was, akademiese kursusse aan te bied en wetenskap te beoefen nie. Daar was selfs ernstige twyfelaars oor die haalbaarheid daarvan om dit in Standaardnederlands te doen. Die twyfelaars in Afrikaans was nog altyd met ons. Jannie Marais was nie ’n twyfelaar nie: hy het die geloof van ’n ware entrepreneur in Afrikaans gehad. Hy was ’n stigterslid in 1907 en een van die visepresidente van die Afrikaanse Taalvereniging op Stellenbosch. Hy was ’n groot ondersteuner van die studente se aanspraak dat hulle Hollands/Afrikaans op die moontlike toekomstige Universiteit Stellenbosch tot sy reg wil laat kom. Toe Jannie Marais in Maart 1915 oorlede is, was die pleitbesorgers vir ’n universiteit op Stellenbosch se eerste taak om die reg te verkry om die kollege in ’n universiteit te omskep en dan om die ideaal om dit ’n Hollands-Afrikaanse universiteit deur evolusie te omskep te bewaarheid. Wat Jannie Marais met sy bepaling wou verhoed, was dat die geld gebruik word om ’n universiteit tot stand te bring wat oppervlakkige erkenning aan Afrikaans sou verleen. Waarom sou Jannie Marais ’n geloof in ’n Hollands/Afrikaanse dagblad Die Burger gehad het en nie ’n geloof in ’n Afrikaanse universiteit nie? Trouens, die twee gebeure moet saam gelees word. Die koerant moes die saak van ’n Afrikaanse universiteit verkondig en die universiteit moes die joernaliste verskaf om die koerant te bedryf. En so het ’n buitengewone verhouding ontstaan wat natuurlik net so van toepassing is op die stigting van Die Huisgenoot en van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. ’n Afrikaanse universiteit op Stellenbosch was voorwaarde vir die bestaan van talle ander ondernemings, ook SANLAM en SANTAM, wat deur dieselfde kerngroep tot stand gebring is. Die groot rol van die Kaapse wyn- en graanboere in hierdie sake moet ook nie onderskat word nie. In die artikel dui ek aan hoe Stellenbosch veral sy landbou- en regsstudierigtings van die aanvang af deur medium van Hollands/Afrikaans aangebied het. Geen nie-Afrikaansmagtige personeellid is ooit ontslaan nie. Wanneer hulle dienstyd verstryk het, is die vakrigting en aanbieding eenvoudig verafrikaans. Die laaste was Bookkeeping, wat in 1946 Rekeningwetenskap geword het.
Daar is seker ’n mate van ooreenkoms tussen toe en tans? Wil jy verduidelik watter ooreenkomste en verskille daar is?
Inderdaad. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly bepaalde basiese faktore die kenmerk van die verandering. Ek het reeds verwys na die twyfelaars onder sommige mense, en veral sommige studente en personeel van die Victoria Kollege, oor die vermoë van Afrikaans om teen die magtige Engelse wetenskaps- en akademiese taal stand te hou. Dit was oudstudente van Stellenbosch wat hierdie twyfelaars volkome verkeerd bewys het. ’n Deel van die probleem op Stellenbosch vandag is dat daar te veel studente en personeel is wat net so sterk twyfel aan Afrikaans se vermoë en daarom wil hulle liewer na Engels oorskakel. Internasionalisering of globalisering is vandag die groot argument wat gebruik word om Amerikaans eerder as Engels as wetenskapstaal te stoot. Maar in 1915 was Suid-Afrika veel meer geïnternasionaliseer as vandag, want hy was volledig deel van die Britse Ryk en Britse invloed was op alle terreine oorheersend. Dit het ’n doelbewuste herontdekking van hulleself by die Afrikaanse mense, veral in die Wes-Kaap, tot gevolg gehad. Onthou, die Kaapkolonie was sterk Victoriaansgesind toe die koningin nog geleef het, en prominente Afrikaanse leiers het behoud van die bande met die Britse Ryk bepleit. Die gevolge van die Anglo-Boereoorlog het natuurlik hierin ’n groot rol gespeel. Dit het politieke gevolge gehad, maar Afrikaans was nooit tot die Nasionale Party beperk soos mense vandag graag glo nie. Jan Smuts, Louis Botha, FS Malan, FV Engelenburg en talle ondersteuners van die Suid-Afrikaanse Party en die Verenigde Party was mense wat in werklikheid sterk in Afrikaans geglo het. Hulle kon dit nie almal bekostig om te uitgesproke daaroor te wees nie. Hulle het staat gemaak op ’n versoening met Engels, maar versoening met Engels is moontlik net as Afrikaans en Afrikaanse instellings tot hulle volle reg kom.
Die groot verskil is natuurlik in die politieke magsituasie. Dit is nie soseer die feit dat Afrikaanssprekendes vandag ’n politieke minderheid vorm wat belangrik is nie, maar eerder die feit dat te veel Afrikaanse mense nie meer glo in die regte waaroor hulle beskik nie, of nie bereid is om daarvoor op te staan en getel te word nie. Onder ’n ANC-hegemonie word hulle te veel met ’n skuldlas opgesaal wat verlammend inwerk op hulle vermoë om te vernuwe en te herbou aan ’n nuwe samelewing. Namate die ANC-hegemonie toenemend onder die druk van sy oorgewig begin ly, word nuwe moontlikhede geopen om juis die belange van alle groepe in Suid-Afrika te bevorder en nie net dié van ’n magskliek nie.
’n Ander belangrike ooreenkoms met ’n verskil is die demografiese faktor. Die vraag in albei tydperke was: Is daar genoeg Afrikaanssprekende studente om ’n universiteit te regverdig? In 1911 was die omvang van die verarming van Afrikaanse mense sodanig dat heelwat mense geglo het dat daar eenvoudig nooit genoeg Afrikaanssprekende studente sal wees om groei moontlik te maak nie. Die geskiedenis het hulle verkeerd bewys, en behalwe Stellenbosch was daar boonop uiteindelik nóg vier bloeiende Afrikaanse universiteite, vyf altesaam. Dieselfde argument word vandag gehoor: Stellenbosch moet meer verengels, sodat hy verseker is van studentegroei. In ’n demografiese studie wat hy verlede jaar voor die US Konvokasie gelewer het, het Flip Smit aangetoon dat daar jaarliks 100 000 Afrikaanse studente beskikbaar is om tersiêre opleiding te ondergaan. Buitendien moet universiteite soos Stellenbosch, soos hy meermale die afgelope 30 jaar gedoen het, in ’n stadium besluit hy het die maksimum groei bereik wat ’n dorp soos Stellenbosch kan dra.
Die groot verskil tussen toe en nou is die geestestoestand waarin Afrikaanse mense verkeer het, en tans weer verkeer, maar met een reuse-verskil: in 1911 was Afrikaners finansieel oor die afgrond en polities magteloos, maar hulle het ’n sterk morele saak aan hulle kant gehad: die Britse en Engelse skuldgevoel oor wat hulle aan die Boere en die republieke in die Anglo-Boereoorlog gedoen het. Dit het die klein bolaag van geleerde en professionele mense en geldelik selfstandiges gemotiveer om die hand te reik na die verslae en verslaendes. Dit het ’n geestesenergie geskep, want vorentoe kan jy net wen en vooruitgaan, jy kan nie eintlik dieper insink nie. En daar was vérsiende mense wat bereid was om die skynbare onmoontlike moontlik te maak: die herrysenis van ’n verslane gemeenskap.
Vandag is die situasie die teenoorgestelde. Afrikaans as taal het gepresteer en sterk geword, Afrikaanse mense het ryk en welvarend geword, kinders geniet uitstekende geleenthede vir onderwys en vooruitgang en kan hulle professionele bekwaamhede in verskeie lande in die wêreld te koop aanbied. Maar hulle word moreel veroordeel as wit Afrikaanse mense, omdat hulle - dikwels selfs doelbewus en opsetlik - met ’n skuldgevoel belas word wat neerdrukkend op hulle idealisme en skeppende energie inwerk. Hulle professionele bydrae word as ’n struikelblok vir die bemagtiging van ander beskou eerder as ’n konstruktiewe faktor in die bou van ’n nuwe samelewing.
En terwyl ons nou oor Jannie Marais praat: daar was ’n eeu gelede maar baie min ryk Afrikaners. Hoe het dit gekom dat Jannie Marais soveel geld gehad het? Dit moet darem baie miljoene in vandag se geld gewees het?
Ek het ’n paar jaar gelede oor die Marais-broers ’n artikel geskryf in die Hugenote Bulletin: “Die eerste Afrikaanse Hugenote kapitaliste?” waarin ek juis ingegaan het op die vraag hoe die Marais-broers hulle rykdom verwerf het.
Die vier Marais-broers – Petrus Johannes (algemeen bekend as Pieter en nie te verwar met sy neef Lang Piet Marais nie), Abraham, Christiaan Ludolph en Jannie (op die delwerye bekend as John) het op 31 Augustus 1870 onder leiding van hulle oom Marthinus Neethling (in die wandel bekend as Lord), ’n broer van hulle moeder, na die nuwe diamantvelde, die spoeldelwerye aan die oewers van die Harts- en Vaalriviere, vertrek, waar hulle met groot sukses as eenvoudige en gewone fortuinsoeker-delwers gewerk het.
Die diversiteit van hulle onderneming blyk uit die feit dat hulle op een stadium 17 plase in die omgewing besit het, onder andere die huidige plase Spytfontein en Langberg. Hulle het met perde, muile, donkies (vir die werk op die myne), beeste skape en bokke, laasgenoemde veral vir die swartmynwerkersmark, en met gesaaides geboer. Die diamantvelde was hulle belangrikste mark. Om ’n indruk van hulle boerderybedrywighede te vorm, kan gekyk word na die feit dat Pieter byvoorbeeld naam gemaak het as ’n perdeteler. In die jare tagtig het hy op sy plaas Langberg een van die bekendste renperde, Quilp, geteel. Die Marais-broers was lede van die Kimberley Turf Club. Van hulle plase het ook goeie houtbosse gehad, sodat hulle ’n florerende onderneming in die handel met veral brandhout gevoer het. Die diamantvelde, en selfs Basoetoland, het ’n dringende behoefte aan bou- en brandhout gehad en hulle het etlike vragte per week gelewer teen pryse wat tot £40 per vrag gehaal het. Pieter het ook die Carnarvon Hotel, Kerkstraat 25, Dutoitspan besit, en ’n dranklisensie bekom.
Die omvang van die grond wat hulle in die gebied besit het, herinner nogal aan die omstandighede later op Stellenbosch toe hulle groot dele van die grond besit het wat vir die uitbreiding van die universiteit gebruik is.
Die kleims op die delwerye het soveel en so chaoties geword dat amalgamasie in groter eenhede noodsaaklik geword het. Die Marais-broers het hiermee begin met die klein Kimberley Mining Company. Groter konsolidasies het gevolg met die Marais Broers Vennootskap. Op 17 Junie 1880 word Kimberley Central Mining Company se statute goedgekeur met ’n kapitaal van £149 000 en 1 490 aandele van £100 elk. Die Marais-broers se gekonsolideerde kleims is as een kleim nommer 290 in die nuwe maatskappy geregistreer. Die direkteure is deur die aandeelhouers verkies op voorwaarde dat hulle minstens 40 aandele (later 400 toe die aandeelstruktuur verander is) moes besit. Die Marais-broers het mekaar periodiek afgewissel as direkteure, sodat hulle gereelde verteenwoordiging op die direksie gehad het: Pieter Marais tot 1880, Abraham Marais 1881 tot 1882, Christian Marais 1883 tot 1889. Jannie Marais het skynbaar nooit in die direksie gedien nie.
Cecil John Rhodes, wat beheer oor die De Beersmyn verkry het, het intussen besluit om ook sistematies tot die Kimberleymyn toe te tree. Met behulp van die Franse bankiers die Rothschilds het hy eers beheer oor die Compagnie Francaise op die Kimberleymyn verkry. Hierna het die kompetisie tussen Barnato en Rhodes ontstaan, wat enige ambisies wat die Marais-broers nog sou kon gehad het, op die agtergrond gestoot het.
Die groot stryd tussen Barnato en Rhodes sou hierna volg. Een van die eerste teikens was die oorname van Kimberley Central: sou dit Barnato of Rhodes wees? Kimberley Central kon nie, soos Pieter Marais gehoop het, sy beheer uitbrei nie, omdat hy nie op daardie tydstip oor die kapitaal beskik het nie en die probleme met die instorting van riwwe moes hanteer. Barnato het sistematies ander mynmaatskappye soos Standard, Stuart Bros, Kimberley United en North East en North West oorgeneem. In 1887 is Kimberley Central uiteindelik op grond van ekonomiese realiteite gedwing om met Barnato saam te smelt. Barnato was nou die grootse mag op die Kimberleymyn.
Die Marais’s was gekant teen samesmelting met Rhodes se De Beers, maar kon die proses nie keer nie. In 1889 is Kimberley Central Diamond Mining Company en De Beers verenig in wat as De Beers Consolidated Mining Company bekend sou staan. Daarmee is die amalgamasiestryd beëindig, en hoewel enkele klein myne nog buite De Beers Consolidated se beheer geval het, het daar vir alle praktiese doeleindes ’n monopolie in die diamantbedryf tot stand gekom. Die Marais’s sou nie ten volle berus nie en veral Pieter Marais sou later ’n stryd voer teen De Beers en Rhodes oor ’n aantal sake rakende die monopolie en die ontwikkeling van ander diamantvelde. Die Marais’s het verbete teenstanders van Rhodes geword, wat waarskynlik een van die redes is waarom hulle hulle later by die Afrikanerbond en die Nasionale Party geskaar het.
Pieter en Christian Marais het uitgebreide boerderybelange in die gebied behou, selfs nadat Christian in 1893 na Kaapstad verhuis het. Hy het hom al hoe meer op aandele in nie net diamante en goud nie, maar ook allerlei ander effekte toegespits, sodat hy inderdaad ’n welvarende man geword het. In Kaapstad sou hy en sy vrou op vele gebiede ’n leidende rol speel en sou hy onder andere direkteur van Nasionale Pers word en weldoener van die Universiteit Stellenbosch. Na sy troue het hulle ’n praghuis, Vredehof, in Nuweland betrek wat vandag die Frank Joubert Kunssentrum in Palmyraweg is. Hy en Jannie sou in die Wes-Kaap by meerdere gesamentlike sakebedrywighede betrokke raak.
Pieter het op Kimberley aangebly en sy uitgebreide boerderybelange behartig en ’n prominente politieke figuur geword as leier van die Afrikanerbondtak van Kimberley. Die redakteur van die Diamond Fields Advertiser het by geleentheid na hom verwys as “the popular and fearless Chairman of the Afrikander Bond” en die volgende getuigskrif vir hom gegee: “As a citizen of Kimberley, a mining man, and a farmer, Mr Marais – one of a band of highly esteemed, energetic, and thoroughly progressive brothers – has won the confidence and respect of every section of the community ... ‘Oom Piet’ flourishes in our midst, a noble example to English Settlers and to Dutchmen alike.”
Jannie het in 1892 na Coetzenburg teruggekeer, waar hy die boerdery saam met sy broer Frederik bestuur het. Na sy moeder se afsterwe op 31 Januarie 1892 word die twee broers op 22 Maart 1893 die gesamentlike eienaars van die plaas. ’n Nuwe sakelewe begin vir Jannie en in die volgende jare sou hy by heelwat sakeondernemings in die Boland betrokke raak en ook op politieke gebied en deur sy verbintenisse met die Victoria Kollege en die Universiteit Stellenbosch ’n leidende figuur word. Die vierde broer, Abraham, het ook in die Noord-Kaap agtergebly as boer op die plaas Rust en Vrede.
Die broers het almal hulle diamantaandele behou, wat na die amalgamasie met De Beers De Beers-aandele geword het. Dit was egter uitgestelde aandele waarop geen dividende betaal is nie.
Ek is bly jy maak melding van die rol van die Vlaamse beweging in ons taalstryd. Wanneer ’n mens die ou koerante soos Het Westen, De Volkstem en Ons Land lees, dan sien jy dikwels verwysings na die taalstryd in Vlaandere. Stel die Vlaamse universiteite vandag nog ’n navolgenswaardige voorbeeld, byvoorbeeld deur die handhawing van Nederlands as akademiese taal?
Die taaldebat op Stellenbosch het die afgelope tien jaar ’n indrukwekkende reeks briewe in veral Die Burger se korrespondensiekolomme opgelewer. Dit dui op twee dinge: eerstens hoe groot die belangstelling in die saak was, omdat Stellenbosch so ’n besondere plek in Afrikaanse mense se verwysing speel; en tweedens omdat soveel buitestanders ook deelgeneem het, en hier is veral die briewe van Vlaminge en Vlaamse professore van Leuven en Gent insiggewend. Daar is inderdaad steeds ’n besondere band tussen Stellenbosch en die Vlaamse universiteite waarvan nie net prof Blommaert die model is nie, maar ook talle ander. Die uitruilprogram van dosente wat daar al sedert die neëntigerjare op Stellenbosch bestaan, is getuie van hierdie noue bande. Die groot invloed van Nederlandse universiteite en die bydrae van Nederlanders tot die ontwikkeling van Stellenbosch en Afrikaans is natuurlik nog belangriker.
Wil jy iets vertel van die rol van Frans Malan in die stryd vir ’n Hollands-Afrikaanse universiteit? Daar is nou nuwe belangstelling in hom ná Alex Mouton se biografie Prophet without honour. Is hy ook in dié opsig ’n profeet wat nie genoeg geëerd is in sy vaderland nie?
FS Malan was ’n besonderse persoon. Dit laat nie reg geskied aan sy groot bydrae op ander gebiede as die feit dat hy nooit Louis Botha se opvolger as leier van die Suid-Afrikaanse Party geword het nie of omdat sy pleidooie vir die uitbreiding van die Kaapse stemregvoorwaardes wat aan niewittes in die ander provinsies ook stemreg sou verleen het, deur geen politieke party opgeneem is nie. FS Malan se bydrae tot die ontwikkeling van onderwys in die algemeen en onderwys deur Afrikaans in die besonder en sy groot rol in die ontwikkeling van Afrikaans as kultuur- en wetenskapstaal plaas hom in dieselfde kategorie as sy vriend FV Engelenburg. Daarom was hy twee keer voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die feit dat hy na 1910 ook ’n ruk lank minister van onderwys was en ’n oudstudent van die Victoria Kollege het vir Stellenbosch deure oopgemaak in hulle strewe om ’n selfstandige universiteit te word.
Dis baie interessant dat een van die twee belangrikste besluite wat die studente op die taalkonferensie geneem het, betrekking gehad het op geradbraakte taal. Jy sê hulle het hul medestudente probeer inspireer om hulle “BEB-taal” (bak-en-brou mengsel van Hollands, Afrikaans en Engels) te laat vaar en trots te wees op Hollands en Afrikaans. Kan jy ’n bietjie uitwei hieroor – wie teen die “BBB-taal” te velde getrek het en wat hulle gesê het?
Die stryd van leidende studente-meningsvormers teen die mengsel van Engels-Hollands-Afrikaans wat studente in die vroeë jare gepraat het, en die talle Engelse woorde in hulle taalgebruik later, is ’n deurlopende tema in studentepublikasies tot in die laat jare tagtig. Die jaarlikse stryd om die veramerikaanste intervarsity-liedjies met eg Afrikaanses te vervang behoort natuurlik ook tot hierdie verskynsel. Van studente is verwag om in hulle akademiese werk net goeie Standaardafrikaans of Engels te gebruik. Dosente was uiters gesteld hierop. Waarom sou mense wat opgevoed en onderrig word om akademies korrek en suiwer te dink so argeloos raak in hulle gewone omgangstaal? Sou dit wees om, soos die narrigheid nou ontwikkel het, te bewys dat jy loslit Afrikaans kan praat? Dit laat my dink aan die boek wat enkele jare gelede verskyn het, British as a Second Language. Dit gaan oor ’n gebore Suid-Afrikaner wat in die beste Engelse privaatskole was en geleer het om goeie, gekultiveerde Engels te praat. Toe hy in Engeland kom vir verdere studie ontdek hy dat hy die studente se Engels glad nie kan verstaan nie en moes hy British aanleer.
In 1938 skryf ’n damestudent ’n reeks humoristiese briewe in die Stellenbosch Student onder die skuilnaam BEB: “Nou oefen ons weer vir Intervarsity. Ons gaan omtrent elke dag oefen en dan kry ons n tjap op ons kaart. Ek gaan nie een enkel sing-song mis nie, want hulle sê dit is absoluut n saak van eer om jou standkaartjie te verdien hier op Stellenbosch. Mammie julle weet, die stand is wat ons altyd gesê het die paviljoen. Maar hier gebruik hulle baie Engelse woorde somar so tussenin die Afrikaans en ek kom self ook al mooi reg daarmee. Dit klink so deftig en hulle sê ons is tog die Volksuniversiteit dus kan ons dit maar doen.” In 1939 skryf dieselfde blad dat die studente op Stellenbosch eintlik ’n soort Engels praat met Afrikaanse uitdrukkings tussenin.
Jy skryf dat die ledelyste van die Afrikaanse Taalvereniging ’n aanduiding gee van wie die taalpioniers van destyds was. Jy noem die name van ’n paar, onder andere twee belangrike vroue, Lydia van Niekerk en Petronella van Heerden. Wil jy nie iets meer vertel van hierdie vroeë jong taalpioniers nie?
By die stigting van die Afrikaanse Taalvereniging in 1907 was 86 mans en vier dames teenwoordig. Op die 1911-taalkonferensie, waaroor die artikel handel, was dit die dames wat besluit het dat die Hollands-Engelse brabbeltaal met Afrikaans vervang moes word. Vanaf die totstandkoming van die Studenteraad in 1903 tot 1909 was daar geen dames in die Raad nie. Die eerste dameslid was Helena de Vos, wat einde 1909 verkies is. Daarna was daar altyd minstens een dame in die Raad, maar by meerdere geleenthede selfs soveel as vier uit ’n totaal van 12 of 16 en dit terwyl dames net 20 persent van die studentegetalle uitgemaak het. Die twee bekendstes uit die vroeë tydperk was Lydia van Niekerk, wat in 1920 die eerste vroueprofessor aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit geword het op Stellenbosch. Sy was egter nie die eerste vroue-oudstudent wat as dosent aangestel is nie. Sy was ’n oudleerling van die Bloemhof Seminarie en het reeds in 1902 die kollege se Victoria Stipendium ontvang. In 1905 het sy die Prins van Wallis Goue Medalje vir Moderne Tale ontvang, ’n medalje waarvoor al die kolleges in aanmerking gekom het en wat meer kere deur studente van Victoria Kollege, en spesifiek dames, verower is as dié van enige van die ander kolleges. Lydia van Niekerk was ’n groot liefhebber van die kunste en het gereeld besprekings van poësie, drama en prosa gelewer op ’n tydstip toe vaktydskrifte nie bestaan het nie. Sy het ’n groot rol in die Afrikaanse taalstrewe gespeel, was ’n aktiewe medewerker van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en een van die stigters van die Vrouestudentebond op Stellenbosch in 1921. In 1927 was die later bekende Erika Theron president van die Bond.
Daar word daarop aanspraak gemaak dat Petronel van Heerden die eerste Afrikaanse vroulike mediese dokter was. Ek is nie daarvan so seker nie. Saam met haar het Betsie Goddefroy aan die Victoria Kollege gestudeer en sy het haar mediese graad in Nederland verwerf, waarskynlik in 1914, terwyl Petronel van Heerden se graad in 1915 toegeken is. Sy het in 1916 na Suid-Afrika teruggekeer en in 1919 een van die stigters van die bekende Moedersbond Kraaminrigting in Pretoria geword. Net om te wys dat daar niks nuuts onder die son is nie: sy het in 1929 voor die Vroue Studentebond n lesing gelewer oor die aanspraak dat vroue biologies swakker as mans is.
Margie (Marguerite) le Roux het in 1907 die BA-graad verwerf en is in 1914 eers as assistent en later as lektor in geskiedenis aangestel. Sy was maar die tweede vroue-oudstudent wat as dosent aangestel is, ’n pos wat sy tot 1932 beklee het. Sy het gevorderde studie in opvoedkunde aan die Vrije Universiteit in Amsterdam gedoen en was veral verantwoordelik vir die opleiding van geskiedenisonderwysers.
Miskien moet ’n mens in hierdie vroeë tydperk nog net die naam van Anna Neethling- Pohl noem wat die doyenne van die Afrikaanse toneel sou word. As student van 1924 tot 1926 het sy ’n aktiewe rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaans aan die universiteit.