Persverklaring: Jan H Maraisprys 2017

  • 3

Die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal word vanjaar gesamentlik toegeken aan Jaap Steyn van Bloemfontein en Jan van der Watt van Nijmegen, Nederland. Die prysgeld van ’n halfmiljoen rand as erkenning vir hulle lewenstaak ten bate van akademiese Afrikaans word gelykop tussen die twee pryswenners verdeel en sal op 30 Mei 2017 by ’n funksie op Stellenbosch aan hulle oorhandig word.

Hierdie besluit is bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, Andreas van Wyk, oud-rektor van die Universiteit Stellenbosch.

Jaap Steyn, seker Suid-Afrika se bekendste taalhistorikus, is in 1938 naby Fouriesburg in die Vrystaat gebore. Hy is ’n oud-Kovsie wat nagraads verder in Amsterdam studeer het en sy doktorsgraad in algemene taalwetenskap in 1969 aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (UPE) behaal het. Hy het sy loopbaan begin as ’n joernalis by die Volksblad, ’n beroep waartoe hy in 1974 tot 1975 kortliks by Rapport teruggekeer het. Sy roeping was egter dié van akademikus, eers by die destydse UPE en Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en toe as professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein. Aan die einde van 1997 het hy daar met amptelike pensioen afgetree.

Jaap Steyn het oor die afgelope bykans vyftig jaar honderde publikasies geskryf, van koerantartikels tot gedigte en kortverhale. Sy biografieë van NP van Wyk Louw, Piet Cillié en MER word as standaard beskou. Hy het veral bekend geword vir sy twee boeke oor die  geskiedenis van Afrikaans, Tuiste in eie taal (1980) en Ons gaan ’n taal maak (2014).

Vir sy werk het Steyn reeds talle eerbewyse ontvang, onder andere die Stalsprys, die Louis Hiemstraprys, die NP van Wyk Louwmedalje en Erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Jaap Steyn

Jan van der Watt, gebore in Germiston aan die Oos-Rand in 1952, het sy eerste graad aan UPE behaal en alle daaropvolgende grade cum laude aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy het ook twee doktorsgrade verwerf. Sy loopbaan as teologiese akademikus het hy begin aan die Universiteit Fort Hare in die Oos-Kaap, waarvandaan hy in 1986 aan die UP se Fakulteit Teologie aangestel is. Van 1986 tot 2009 was hy as professor in Nuwe Testament en departementshoof aan dié fakulteit verbonde. In 2009 aanvaar Jan van der Watt ’n professoraat in Nuwe Testament aan die Universiteit Radboud in Nijmegen, Nederland.

Gestig in 1923 as die Katolieke Universiteit Nijmegen en hernoem in 2004 (na ’n vroeg-Middeleeuse biskop en geleerde) geniet dié instelling met sy huidige 20 000 studente internasionale aansien vir sy navorsing en onderrig (121ste plek op die THE-ranglys van 2017).

Van der Watt geniet wêreldwye erkenning as deskundige oor die Nuwe Testament en as sodanig het hy bande met akademiese instellings wat strek van Duitsland en Rusland tot Suid-Korea. Sy talle publikasies (waarvan baie in Afrikaans, maar ook in Duits, Engels en Nederlands) het tot eerbewyse en ook uitnodigings na akademiese instellings orals ter wêreld gelei. Aan die UP is hy as ’n uitstaande akademikus erken. In Suid-Afrika het hy onder andere die Andrew Murrayprys en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Ds Pieter van Drimmelenmedalje ontvang.

Jan van der Watt is getroud met Shireen (gebore Crous). Die egpaar het ’n dogter, Nireen Visagie, en ’n kleindogter, Jana. Hulle woon tans in die dorp Molenhoek, suid van Nijmegen, ’n ou Nederlandse stad naby die Duitse grens.

Jan van der Watt

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit van Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die versiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse diamantvelde gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Die prys vir ’n lewensbydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit Andreas van Wyk, Christof Heyns, Debra Meyer, Piet Steyn en Johan van Zyl.

  • 3

Kommentaar

  • Shireen van der Watt

    Dankie vir die mooi verklaring. Een korreksie is dat Jan twee kleinkinders het nl kleindogter Jana en kleinseun Markus.

  • johann de Jager

    Ja, dr. Jaap Steyn se werk het seker baie wyer gestrek as wat die ooglopende voorhou. Tydens apartheid se terminale stadium, en die inplof van die tuisland-ontwikkelingsideaal, verskyn dr Steyn se boek TUISTE IN EIE TAAL en ek koop en lees en vertel, en die Rapportryers van die tuisland waarvan ek toe die doodsnikke beleef, vra my om hulle bietjie te kom toelig daaroor. Terwyl ek praat kom ek agter die gehoor is onrustig, ek kry net nie hulle aandag nie, totdat ek prontuit vra wat aangaan, wat fluister hulle so onderling. Tot my verbasing kom iemand prontuit met die openbaring :"Ja, ons luister wel, maar die Springbokke het so pas die wendrie gedruk". (Teen wie, het my nou al ontgaan.) Ek het summier my boek gevat en geloop. Die volgende werksdag lê die boek op my lessenaar in my kantoor toe Abel Dlomo, `n destydse minister in daardie `moribund` tuisland daar instap. Een kyk na die omslag, en hy reageer ongevraag met:"Aaaa, julle Boertjies raak benoud, né?" En hy haal uit sy geheue uit enkele gedeeltes wat hy vooraf moes instudeer het. Dankie prof Jaap. Gelukwense ook met jou prys en toekennings. J de J.

  • Lou Pistorius

    Ek ken prof Jaap Steyn nie, maar kan nie dink aan 'n beter ontvanger as prof Jan van der Watt nie. Baie geluk!!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top