’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn

  • 10

Foto: Izak de Vries

Vir Jaap Steyn het ek die eerste keer leer ken toe hy by die destydse UOVS as professor-navorser aangestel is. Na ek departementshoof geword het, het ek hom beter leer ken, omdat sy salaris destyds in tye van dreigende “besuiniging” of “rasionalisasie” (polities-korrekte terme wat net akademici kan uitdink) deur Naspers betaal is. Só kon ons departement ook die wolf weghou van die deur.

........

As ek sy kantoor binnegestap het, kon ek hom kwalik sien agter berge boeke, opgestapelde notas en koerantknipsels. Maar ek het gou agtergekom dat voorkoms bedrieg. Jaap kon met een grypslag dit raakvat waarna hy gesoek het.

........

As ek sy kantoor binnegestap het, kon ek hom kwalik sien agter berge boeke, opgestapelde notas en koerantknipsels. Maar ek het gou agtergekom dat voorkoms bedrieg. Jaap kon met een grypslag dit raakvat waarna hy gesoek het. Ook sy ongemaklike en skaam optrede en sy lang treë met die kop geboë vorentoe, waartydens hy skynbaar geen mens raaksien nie, het ’n vlymskerp brein en intense belangstelling in alles rondom hom verberg.

Toe ek die manuskrip van Jaap Steyn se outobiografie, Sonkyker, klaar gelees het, het ek my kommentaar netjies uitgetik. Want as jy met Jaap wou redekawel, moes jou feite soos soldaatjies op ’n ry staan. My kommentaar was dat hy jou voortdurend op ’n afstand hou en selde of ooit die geleentheid gun om die ware Jaap te sien. Ek het voorbeelde gegee waar dit soms gebeur dat die gordyn ’n bietjie gelig word en watter afleidings ’n leser sou kon maak. Hy het al hierdie gedeeltes summier geskrap.

Hierdie digotomie by hom het my altyd geboei. Hy was die skrywer van ’n aantal van die aangrypendste liefdesgedigte in Afrikaans in Die grammatika van liefhê en van ’n fel persoonlike novelle, Dagboek van ’n verraaier, maar persoonlike emosies en voorkeure is makliker onder woorde gebring in boeke as in gesprekke. “Behoedsaam” is die woord waarmee ek hom sou beskryf, behalwe wat sy gevoelens oor Afrikaans betref. Dan kon hy driftig raak en ’n arsenaal vloekwoorde ten toon stel wat jy kwalik kon vermoed.

Tog het hy empaties gestaan teenoor die gevoelens van die mense oor wie hy vuisdik biografieë geskryf het; veral die driftige, emosionele Van Wyk Louw word met groot begrip geskets. Dis asof hy ’n groot man en denker maklik sy kleinlikhede kon vergewe. Want uiteindelik is ons almal mense met hebbelikhede en foute.

........

Afrikaans het ’n paar groot biograwe, van wie Jaap Steyn een was. Om ’n werklik goeie biograaf te wees, moet jy oor bepaalde eienskappe beskik. Soos enige historikus moet jy jou navorsing doen en elke feit uitsnuffel (ook dié wat sorgvuldig weggemoffel is). Dit noodsaak besoeke aan argiewe; onderhoude met dese en gene; die lees van elke ding wat oor (en deur) die persoon geskryf is en die vermoë om ’n enorme klomp besonderhede te sif en te integreer.

...........

Afrikaans het ’n paar groot biograwe, van wie Jaap Steyn een was. Om ’n werklik goeie biograaf te wees, moet jy oor bepaalde eienskappe beskik. Soos enige historikus moet jy jou navorsing doen en elke feit uitsnuffel (ook dié wat sorgvuldig weggemoffel is). Dit noodsaak besoeke aan argiewe; onderhoude met dese en gene; die lees van elke ding wat oor (en deur) die persoon geskryf is en die vermoë om ’n enorme klomp besonderhede te sif en te integreer.

Die skryf van ’n biografie is tydrowende en slopende werk waarvoor groot energie nodig is, maar wat ook nuuskierigheid vereis. Laasgenoemde is een van die belangrikste vereistes van enige navorser en word in die geval van ’n goeie biograaf in balans gehou deur empatie. Anders het jy kwalik die vermoë om te besluit wat liefs verswyg of versag moet word. Want ’n biografie is (nes ’n outobiografie) selde ’n weergawe van “hoe dit werklik was”, sonder verbloeming, met gebreke en al.

Ten slotte moet die biograaf ten minste geboei wees oor die persoon wie se lewe hy of sy weergee; anders is die resultaat ’n dor, droë opstapeling van feite. Jaap Steyn se biografieë is geskryf in sy tipiese presiese styl, onderhoudend, maar sonder fraaiings. Uit sy boeke blyk begrip en waardering vir die beginselvaste taalstryder en politieke denker Piet Cillié; die briljante tant Miem (MER), wat seker een van die eerste feministe in die openbare lewe van Suid-Afrika was. Maar dis veral Van Wyk Louw wat hy duidelik bewonder het. Prysenswaardig (én indrukwekkend) is veral die wyse waarop hy al drie hierdie mense plaas teen ’n sosiohistoriese agtergrond sodat begrip vir hulle optrede spontaan daaruit spruit.

.......

Wat hy duidelik waardeer, is integriteit; spaarsamigheid; eenvoud en ’n formidabele intellek.

.........

As jy die werklike Jaap wil ken, moet jy sy biografieë bestudeer. Gou sal jy agterkom dat hy ’n enorme respek koester vir mense wat hul geringer ag as dit waarvoor hulle hul beywer – dikwels die behoud en uitbou van Afrikaans en opheffing van hulle volk. Wat hy duidelik waardeer, is integriteit; spaarsamigheid; eenvoud en ’n formidabele intellek. Al hierdie dinge kan net so oorgedra word op Jaap self. Nes sy liefde vir eenvoudig, maar lekker, eet.

’n Gunsteling was vir hom die harde korsie van ’n varsgebakte bruinbrood (só vertel hy in sy outobiografie). Vrydag nog het ek vir hom so ’n brood gevat wat my vrou, Elsa, vir hom gebak het. Dadelik het hy, hoflik soos altyd, gebel om haar te bedank. En weens sy ongesteldheid dalk self nie eers daaraan geproe nie!

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Ons gaan 'n taal maak deur JC Steyn

Jaap Steyn – ’n huldiging

Elders gesien: Jaap Steyn – "Afrikaans het ’n groot seun verloor"

 

  • 10

Kommentaar

  • Francois+Verster

    Dis met groot hartseer dat ek vanmiddag van Prof Steyn se heengaan gehoor het. Hy was 'n groot biograaf, maar nog meer, 'n enigmatiese persoonlikheid - die tipe mens wat die stereotipe beeld van die Afrikaner onderstebo geloop het.

  • Bernard Odendaal

    Rake herinnering deur iemand wat Jaap van naderby geken het. Ek lig my hoed vir julle albei.

  • Melléta Louw

    Die biografie van NP van Wyk Louw bly steeds loshande die beste boekegeskenk wat ek ooit ontvang het! Daardie Desember op Stilbaai het ek nie my voete in die seewater gesit nie, want ek kon my nie 'n oomblik wegskeur van die boeke nie. Ek is as’t ware droogvoets deur die seevakansie. Alles die skuld van die formidabele JC Steyn. 'n Groot seder het geval.

  • Ester le Roux

    Mooi huldeblyk aan 'n lieflike, minsame mens wat groots omgegaan het met die akademie van leef. Rus in vrede, prof Steyn. Ons salueer u.

  • Corlietha Swart

    'n Ráák huldeblyk vir hierdie briljante groot gees in Afrikaans deur iemand wat hom werklik goed geken en verstaan het. Dankie aan beide - prof Jaap vir sy inspirerende lewenswerk, insigte en ryke nalatenskap en prof Hennie vir die kundige taksering en waardering daarvan ...

  • hennie van deventer

    Wat ek in die 60's by Die Volksblad van koerant uitgee geleer het, het blywende riglyne geword. Hy was dalk die stilste en skugterste hoofsub in die koerant se geskiedenis, maar wat 'n voortreflike raakvatter!

  • Prof+Ina+Wolfaardt+(née+Gräbe)

    Ek stem saam met Jeannette, Hennie. Jy teken Jaap presies soos ek hom onthou van UPE se dae af - stil, skaam, maar altyd heel eerste om al wat nuwe boek is op te raap. Ons respekteer alles wat Jaap kon vermag deur toegewyde navorsing. Ek sal sy onopgesmukte professionaliteit onthou.

  • Francis Galloway

    My eerste kennismaking met Jaap Steyn was in die vroeë-1980's toe ek as jong navorser aan die Sentrum vir SA Letterkundenavorsing (SENSAL) van die RGN verbonde was. Ek en van my kollegas het sy skenking van die manuskripweergawes van sy skeppende prosawerk en die monumentale Tuiste in eie taal by hom in sy kantoor by die Randse Afrikaanse Universiteit in ontvangs gaan neem. Hy het die Louis Luyt-prys van 1980, geadministreer deur SENSAL, vir Tuiste in eie taal ontvang. Sy navorsing oor uitgewerygeskiedenis, soos baanbrekend vergestalt in Boekewêreld (1990), was rigtinggewend vir my eie latere navorsingsfokus en -loopbaan. Sy nuuskierigheid, sorgsame argivale verkenning en oorwoë kontekstualisering van bronne was inspirerend. Wat my bybly, is hoe hy my met stil mededeelsaamheid sou help wanneer ek by hom aangeklop het vir raad of verwysings. Ek eer hom as navorser en as voorloper van spesifiek boekgeskiedenisnavorsing in Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top