Jaap Steyn – ’n huldiging

  • 3

Foto van Jaap Steyn: LitNet

Jaap Steyn is skielik oorlede. Dis ’n groot skok vir almal wat hom en sy werk geken het, want dis ’n groot man wat gesterf het. ’n Mens is tegelyk hartseer oor die verlies en dankbaar vir sy nalatenskap. Jaap is een van die indrukwekkendste persone wat in en oor Afrikaans geskryf het; op vele gebiede het hy belangrike bydraes gelewer. Met sy eerste en enigste digbundel, Die grammatika van liefhê, skryf hy ’n vernuftige poësie wat geprys is as die belangrikste debuut sedert Breytenbach. Daarvoor het hy die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys ontvang.

Ook in die genre van die Afrikaanse prosa publiseer hy beduidende werke. Met sy kortverhaalbundel Op pad na die grens is hy op die voorpunt van ’n nuwe beweging in die Afrikaanse prosa, die grensprosa; sy novelle Dagboek van ’n verraaier is ’n subtiele en komplekse verhaal wat literatore aanvanklik nie voldoende waardeer het nie; en met Die verlore vader is hy, soos altyd, ’n vernuwer deur sy verbinding van feite en fiksie.

Jaap sal egter veral onthou word vir sy biografieë en vir sy taalpolitieke werke oor Afrikaans. Sy twee volumes oor NP Van Wyk Louw is ’n grootse biografie oor ’n groot skrywer, en met Die honderd jaar van MER bevestig hy sy vermoë om ’n magdom inligting te versamel en dit op ’n uiters leesbare wyse oor te dra. Dit is biografieë wat ’n venster oor ’n persoon sowel as oor ’n tydperk open. Sy boeke van ’n outobiografiese aard, Hoeke boerseuns ons was en Sonkyker, gee ’n boeiende beeld van ’n Afrikaanse platteland van vroeër, terwyl die skrywer self, soos wat ’n mens van Jaap sou verwag, op ’n beskeie agtergrond bly.

.........

Sy sterkste passie was sy lojaliteit aan Afrikaans. Sy boek Tuiste in eie taal is al “legendaries” genoem. Hierin verskaf hy ’n groot hoeveelheid inligting oor algemene faktore wat die groei en agteruitgang van tale beïnvloed, en hy gebruik dit dan as motivering vir sy eintlike betoog oor die bewaring en ontwikkeling van Afrikaans. Ons gaan ’n taal maak is ’n  lywige boek oor die ontwikkeling van Afrikaans van ’n kombuistaal tot ’n kultuurtaal. Dit bevat ’n rykdom van inligting en is ’n klassieke naslaanbron vir elkeen wat in Afrikaans belangstel.

...........

Sy sterkste passie was sy lojaliteit aan Afrikaans. Sy boek Tuiste in eie taal is al “legendaries” genoem. Hierin verskaf hy ’n groot hoeveelheid inligting oor algemene faktore wat die groei en agteruitgang van tale beïnvloed, en hy gebruik dit dan as motivering vir sy eintlike betoog oor die bewaring en ontwikkeling van Afrikaans. Ons gaan ’n taal maak is ’n  lywige boek oor die ontwikkeling van Afrikaans van ’n kombuistaal tot ’n kultuurtaal. Dit bevat ’n rykdom van inligting en is ’n klassieke naslaanbron vir elkeen wat in Afrikaans belangstel.

Jaap Steyn het vele eerbewyse en toekennings ontvang. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het hom ses keer bekroon, onder andere met die Recht Malan-prys vir niefiksie, die Langenhoven-prys vir Taalwetenskap, die NP Van Wyk Louw-medalje vir sy bydraes tot die Afrikaanse geesteslewe, en die Stalsprys vir Geskiedeniswetenskap. In 2004 ken die Universiteit van die Vrystaat ’n eredoktorsgraad aan hom toe.

Hy was ’n geleerde en geëerde persoon, maar by sy sterwe dink ek veral aan hom as mens en as vriend van meer as vyftig jaar. Die eerste wat opgeval het as ’n mens hom ontmoet, was sy (aanvanklike) skugterheid. Hy was beskeie – oorbeskeie as ’n mens sy briljante intellek in ag neem. Toe hy sy mondelinge doktorale eksamen in Amsterdam moes aflê, is hy deur die bekende taalkundige Anton Reichling ondervra. Reichling was ’n simpatieke persoon en het besef dat hy met ’n probleemgeval te doen het: ’n uitsonderlik knap student wat skaam is om te praat. Hy het die mondeling begin met die woorde: “Mijnheer Steyn, als u vandaag niets zegt, slaagt u nochtans.” Jaap moes wel ’n paar woorde uitgekry het, want hy het die eksamen met onderskeiding geslaag.

Ek onthou dat hy ’n keer hoogs ontsteld ingestorm het in die kantoor by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit wat ek en Harrie Muller gedeel het. Dit was net nadat hy ’n referaat gelewer het, en hy het woedend uitgeroep: “Hoe kon julle my toelaat om so ’n klomp twak kwyt te raak!” Ek en Harrie, wat die referaat vooraf gelees het, het egter gedink sy “twak” was skitterend.

In ’n rubriek van ’n aantal jare gelede skryf Daniel Hugo ook oor Jaap se vernietigende selfkritiek:

Uit nostalgie gaan haal ek weer Jaap se digbundel Die grammatika van liefhê (1975) uit my rak. Ek kom op ʼn gedig af wat met ʼn dik streep deurgehaal is, en skielik onthou ek. Toe ek Jaap oor een of ander duisterheid in die gedig vra, gryp hy die potlood uit my hand en trek die streep daardeur met die opmerking: “Dis louter stront!” Dit is die strengste voorbeeld van selfkritiek wat ek al by ʼn digter teëgekom het. Ek het so groot geskrik dat ek die gedig toe nie in my proefskrif bespreek het nie.

As mens het Jaap se skugterheid en beskeidenheid jou die eerste opgeval. In sy woonstel is jy in die eerste plek oorweldig deur die groot aantal boeke. Oral waar jy kyk,  was daar stapels boeke en ou tydskrifte – teen die mure, selfs oor die vensters heen, en in die toilet, was daar boeke. Ek onthou ook sy opwinding as hy op ’n boek afgekom het waarna hy lank gesoek het. Hy was ’n boekemens, en die boeke het in sy geheue bly vassit sodat hy, saam met sy boeke, ’n merkwaardige bron van inligting was.

........

Ek het byvoorbeeld nie sy simpatie met Orania gedeel nie. Maar ek kon sy siening begryp, omdat hy geweet het watter gevare vir Afrikaans dreig onder ’n regering wat nie minderheidstale beskerm nie, en hy het besef hoe belangrik die houding van ’n regering is vir die behoud van ’n taal.

...........

As Jaap jou leer ken het, het sy skugterheid verdwyn en was hy ’n vriend soos min. Oor die loop van jare het ek en hy nie altyd polities dieselfde standpunte gehad nie. Ek het byvoorbeeld nie sy simpatie met Orania gedeel nie. Maar ek kon sy siening begryp, omdat hy geweet het watter gevare vir Afrikaans dreig onder ’n regering wat nie minderheidstale beskerm nie, en hy het besef hoe belangrik die houding van ’n regering is vir die behoud van ’n taal. Hoe dit ook al sy, verskille het nooit ’n inbreuk op ons vriendskap gemaak nie, en Jaap het ’n vriend by uitnemendheid gebly. Sy boek Trouwe Afrikaners handel oor taalpolitieke sake, maar hy self was ook ’n troue Afrikaner en ’n troue vriend. Oor die jare het die gelukwensings by my verjaardag minder geword, maar van een gelukwensing kon ek altyd seker wees: dié van Jaap. Soms het hy my ’n dag voor die tyd gebel, sodat hy nie dalk in die pad sou wees as ander mense my wou gelukwens nie! So beskeie en so getrou.

Ek is hartseer oor die heengaan van ’n mens met ’n groot intellek en ’n troue hart; maar ek is ook dankbaar vir die verryking wat hy deur sy geskrifte en sy menslikheid in my lewe en die lewens van baie ander gebring het.

Lees ook:

’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn

Elders gesien: Jaap Steyn – "Afrikaans het ’n groot seun verloor"

LitNet Akademies-resensie-essay: Ons gaan 'n taal maak deur JC Steyn

  • 3

Kommentaar

  • Corlietha Swart

    Dankie dat u mooi herinneringe die briljante, skugter prof. Jaap prominent op die voorgrond plaas! So jammer hy kan dit nie meer beleef nie - al sou hy elke welverdiende oomblik in die kollig verpes het ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top