Angelique van Niekerk se huldeblyk aan Jaap Steyn

  • 1

Angelique van Niekerk (https://www.researchgate.net/profile/Angelique-Niekerk); Jaap Steyn (foto: Izak de Vries)

Die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans besef dis die einde van ’n besondere era van akademiese integriteit en werkywer weens die heengaan van die stille-patriarg van ons dissipline, (prof) Jaap Steyn.

Op 31 Julie 2021 was Jaap Steyn 83. Net na die verjaarsdag het ons (ek, hy en een van die kollegas) soos dit al byna gebruiklik was jaarliks gaan tee drink saam een van ons produktiefste navorsingsgenote. Die keer moes ons toe ook oor ’n departementele boekprojek in oorleg met prof.= Steyn gesels. Corné Richter (sy heel eerste akademiese assistent op 83 jaar) het saam gegaan ook ter wille van die werk aan die projek, want mense soos Jaap Steyn het onverpoos en sonder hulp gewerk tot en met die middag voor hy hospitaal toe is. Hy het nog Vrydag 3 September 2021 die laaste e-posse oor die boekprojek gestuur.

Soveel van die bydraers aan die projek oor die geskiedenis van die departement (’n projek steeds op volle dreef) het sonder dat dit hoegenaamd versoek is ook ’n staaltjie of twee ingesluit oor Jaap Steyn. Nou begryp ek waarom hy soveel keer melding gemaak het dat ons genoeg "rosyntjies" (soos hy dit genoem het) moet insluit in die verhaal van die geskiedenis van die departement- om dit leesbaar te hou. (Dit is darem die oudste departement Afrikaans en Nederlands in die land.)

Ons huldig nie net sy reuse akademiese voetspoor nie, maar ook sy menswees, want:

  1. Ek en die kollegas het groot waardering vir sy nederige menslikheid.
  2. Ons het noodwendig groot respek vir die omvang en diepte van sy akademiese insig. Tussen die publikasiedatum en uiteenlopende aard van boeke soos Die Grammatika van liefhê, Tuiste in eie taal, MER se Biografie, Ons gaan ’n taal maak, ens. lê daar sovéél vlakke van tydlose insig en akademiese deeglikheid.
  3. Die departement en by name Ida Meiring het met moeite soms daarin kon slaag dat Jaap Steyn van sy eie navorsingsfondse sou benut om akademiese en legitieme redes. As navorsingsgenoot het hy nog tot in 2021 aktief uitgebou aan die dept. se navorsingsprofiel sonder om ooit iets terug te verwag.

Daar is CV-gewys en publikasiegewys reeds veel geskryf oor Jaap Steyn. Ek hou maar by die pertinente Steyn-voorskrifte soos hy by vorige geleenthede en vieringe bv. sy 80ste verjaarsdag in 2018 vereis het. Ek meld daarom ook nie hier besonderhede oor die talle pryse, eregrade, medaljes en eerbewyse (soos die Eugene Marais-prys, Ingrid Jonker-prys, Stals-prys vir geskiedwetenskap, ens)  nie.

Toe ek na afloop van ’n eenparige departementbesluit Jaap Steyn vroeër (met die ondersteuning van oud-kollega Annette de Wet aan my sy) in 2021 genader het vir sy betrokkenheid aan ’n boek oor die departement se geskiedenis, het hy die slag sonder voorwaardes dadelik ingestem, want dit het nie om hom gegaan nie. Hy het binne die eerste week aan die werk gespring en ek en die ander kollegas en oud-kollegas moes wikkel om te probeer byhou.

Op anekdotiese vlak kan ek dalk ook vertel dat een van die vele kunsies wat ons as kollegas by Jaap kon afkyk sy vernuf was met die konsep, NEE.

Die volgende het menigmaal in departementele kring gebeur:

Hennie van Coller: “Jaap, ek dink regtig jy moet maar help met die …” of iets in dier voege.

Dan reageer hy met: “Nee.” (PUNT).      

In 2019 het die dep Aartement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans (UV) met befondsing van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ’n huldigingspublikasie (JC Steyn en Afrikaans – ’n viering –) opgedra aan Jaap Steyn die lig laat sien. Die lojaliteit en respek van sy kollegas binne die taal- en letterkunde van dwarsoor die land het duidelik geblyk, want elkeen wat gevra is om iets by te dra het by hul woord en die sperdatum gehou.

Die departement het in 2018 met sy tagtigste verjaarsdag ’n huldigingsbydrae in die program Vers en Klank (op RSG) help skep en sowel Margot Luyt as digter Daniel Hugo (die voorleser op die program) het met entoesiasme meegedoen.

Ek eer Jaap Steyn en vir sy nalatenskap waaruit ons nog lank sal kan put!

Lees ook:

Huldigingswoord aan Jaap Steyn – vanaf Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, UV

 

Jaap Steyn – ’n huldiging

 

’n Persoonlike huldeblyk aan Jaap Steyn

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Wannie+Carstens

    Angelique, ek is dit heelhartig met jou eens. Ons gaan Jaap op soveel vlakke mis: sy skerp intellek, sy baanbrekende publikasies, sy menslikheid. Ai, sy heengaan is vir Afrikaans en die dokumentering van Afrikaans 'n enorme verlies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top