LitNet Akademies-resensie-essay: Verset en opbou deur JC Steyn

  • 19

Skrywer: JC Steyn.
Titel: Verset en opbou. Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans.
Uitgewers: Kraal Uitgewers (Solidariteit Beweging), Centurion, 2019. 329 ble.
ISBN: 978-0-9947159-5-1

’n Subteks van ’n Afrikaanse taalgeskiedenis 

JC Steyn het aanvanklik as ’n skeppende skrywer bekend geraak, maar sedert Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans (1980) is hy in hoofsaak bekend as ’n navorser van die Afrikaanse taalgeskiedenis en -politiek en as biograaf van leidende Afrikaner-kultuurfigure soos NP Van Wyk Louw, Piet Cillié en MER met onderskeidelik Van Wyk Louw: ’n lewensverhaal (1998), Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002) en Die 100 jaar van MER (2004). Sy outobiografie, Sonkyker, Afrikaner in die verkeerde eeu, verskyn in 2008.

Steyn word hoog aangeslaan deur die Afrikaanse kultuurestablishment. Sy akademiese werk word gereeld bekroon. Voorheen ontvang hy onder meer die Recht Malan-, Louis Luyt-, Insig- en Rapport-pryse, asook verskeie eerbewyse van die Akademie, waaronder die CJ Langenhoven-, Stals- en Louis Hiemstra-pryse, die Van Wyk Louw-medalje vir skeppende skryfwerk en ’n oorkonde vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur. In 2017 ontvang hy die Jan H Marais-prys vir sy bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Daarnaas is die Praag-prys in 2002 aan hom toegeken vir onder meer “sy vestiging van ’n pro-Afrikaanse bewussyn”.

Steyn se jongste boek, Verset en opbou. Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans, ruim gefinansier deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, is ’n verdere toevoeging tot sy oeuvre oor die Afrikaanse taalpolitiek. Dié keer bring hy ’n aantal onlangse opstelle oor die taalgeskiedenis byeen wat in plaaslike vaktydskrifte verskyn het. Van die artikels het een elk in Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, Stilet en Literator verskyn, en ’n verdere drie tussen 2014 en 2017 in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, die lyfblad van die Akademie.

Die bundeling van ’n stel samehangende artikels lei soms tot die blootlegging van onderstromings wat met afsonderlike artikels nie voor die hand liggend is nie. Vir die ingeligte leser sal die figure en die gebeure in Verset en opbou waarskynlik bekend wees. Daar is egter wins in die saamgestelde teks, omdat Steyn se verbandlegging, begeleidende kommentaar en oordeel vir ons ’n aanduiding van die subteks gee. ’n Resensie sou kon wys op insigte, pluspunte, afwysings, tekortkominge of waardeoordele, maar dit is sinvoller om in hierdie verband die subteks in ’n makrososiale verband te lees.

Michel Foucault meen dat taal en die sosiale praktyke wat daarmee gepaard gaan, betekenis skep. Hy noem dit ’n diskoers en sê dat daardie betekenisse ons plek, ons subjekposisie bepaal. Voorts, dat dié diskoers, dus sowel dit wat gesê kan word as die beperkings van segging, bepaal wat hy omskryf as die mag-kennis-verhouding. Hierdie diskoers skep ’n realiteit wat ons gedrag reguleer en ons verhouding tot die dominante uitings of ons reaksie daarop, bepaal. (Vir ’n toeganklike kortbegrip van die konsep, kyk Adams (2017).

Links: JC Steyn en regs: Hein Willemse

Paratekstueel word die leser voorberei dat Steyn hier as kenner van die Afrikaanse taalgeskiedenis optree. Ons verneem sy beskouings as kundige, maar kom ook agter dat hy as individu bepaalde oordele en insigte oor die Afrikaanse sosiale wêreld het. Van Wyk Louw as formuleerder van die plek van “klein tale”en “ware” nasionalisme is vir hom ’n rigsnoer wanneer hy die toekomsmoontlikhede vir Afrikaans vandag oorweeg. Alhoewel dit nie die plek is hierdie om ’n uitvoerige diskoersanalise van Verset en opbou te doen nie, sal dit tog sinvol wees om enkele aspekte van die subteks van nader te beskou.

1

Die paratekstuele merkers, volgens Gerard Genette (1991:263) die drumpel tot ’n teks, berei die leser op geen onsekere manier nie voor vir toegang tot hierdie boek. Dit roep ’n vervloë tyd op, ’n tyd van meganiese tikmasjiene en ronde brilletjies. Met haar eenvoudige gelamineerde wit-en-swart omslagontwerp skep Hannelie du Preez ’n algehele retro-indruk. Sy vermeng serif-, san serif- en meganiese-tikmasjien-lettertipes. Van die letters vertoon tekens van effense verwering, wat in sigself ’n kode vir aantasting en verval in die hede word. Florian Klauer se bo-aansigfoto van ’n draagbare Duitse Adler Favorit-tikmasjien pas sy ietwat aan en rond dit af met ’n outydse ronde bril. (Dat die laaste Favorit 2 in 1939 gebou, die fabriek in een van Hitler se wapenfabrieke omskep en in 1945 deur die Geallieerdes gebombardeer is, sou seker as oordadige assosiasie gereken kon word.) Die omslag wat Du Preez geskep het, is geyk. Dit is bedóél om geyk te wees, want hier word ’n wêreld van deugsame, stabiele intellektuele arbeid gesinjaleer – vertroude nostalgie vasgevang in eietydse laminering.

Die boek is ryklik geïllustreer met talle foto’s, waarvan sommige volblad gedruk en ander oor dubbelblaaie gesprei is. Die wedervarings, dade en opvattings van byna uitsluitlik manlike heldefigure word hier vertel. Trouens, uit die talle foto’s is daar slegs vyf waarin vroue voorkom, meesal in algemene verband, as ’n voorbladnooi, in ’n dramatablo en tydens ’n AfriForumjeug-koeksisterverkoping. Die algehele indruk is ikonografies: manlik en wit.

Soos die titel, raam ook die agterplatteks die verset- en opbou-uitgangspunt van die boek:

“Julle sal moet veg vir Afrikaans!” [...] Hoe en wanneer “veg” jy vir die taal? Daaroor was Afrikaanssprekendes nog altyd verdeeld. Party wou hard veg, ander glad nie, of het gou moed verloor. Tog het taalaktiviste dit reggekry om van Afrikaans ’n amptelike taal te maak en tot ’n volwaardige kultuur- en wetenskapstaal te bou.

Om die gesaghebbendheid van Steyn, en dus sy boek, te beklemtoon, word Chris van der Merwe, emeritus professor van die Universiteit van Kaapstad, aangehaal:

“Met hierdie boek bevestig JC Steyn sy posisie as een van die belangrikste Afrikaanse skrywers oor taalkrisisse en taalontwikkeling, oor die belang van die eie taal as ’n tuiste vir identiteit en as weg tot volledige menslikheid. Elkeen wat vir Afrikaans omgee, behoort dit te lees.”

Voorts word vermeld dat Steyn sy “omvattende werk oor die geskiedenis van Afrikaans, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriotjare ook in 2014 by Kraal Uitgewers” uitgegee het, wat paratekstueel die skrywer, sy teks(te), die uitgewer en die Solidariteit Beweging in een kring saamsnoer. Kraal Uitgewers is deel van dié beweging en volgens hul webblad ’n gespesialiseerde uitgewersmaatskappy wat fokus op aktuele sake “binne die Afrikanergemeenskap”. Hul stel hul ten doel om publikasies uit te gee wat “die geskiedenis kan verander, regstel en sterk standpunt inneem oor, onder meer, politieke en maatskaplike kwessies in Suid-Afrika”.

 

2

Die boek is verdeel in agt hoofstukke wat grotendeels saamval met die onderwerpe van die oorspronklike vakartikels. Steyn verklaar in sy voorwoord dat hy oorkoepelend die eietydse term taalaktivisme gebruik as ’n verplasing vir “ouer woorde” soos “taalstryd en taalhandhawing” en “taalbulle”, woorde wat “party Afrikaanssprekendes nie meer graag wil hoor nie” (8). Die taalbulle na wie hy “so nugter moontlik [...] na geslaagde strategieë en mislukte aksies” (11) wil kyk, is agtereenvolgens GR von Wielligh, SJ du Toit, JBM Hertzog, MT Steyn, Willem J Viljoen, JHH de Waal, CJ Langenhoven, verskeie Nederlandssprekende aktiviste en Van Wyk Louw, aan wie twee artikels gewy word. Hoofstuk 6 behels ’n bespreking van die onlangse geskiedenis sedert die 1990’s en die toenemende heranglisering van die Suid-Afrikaanse openbare lewe.

Steyn skep met sy rangskikking van hoofstukke ’n oorsig van die trajek van Afrikaans sedert die laat 19de eeu, van opkoms tot gelykberegtiging tot verlies aan status. In die heersende weergawe van die Afrikaanse taalgeskiedenis word die figure wat hy ondersoek, gehuldig vir hul deurslaggewende rolle om Afrikaans ’n geskrewe en gestandaardiseerde taal te maak, en later in die stryd om erkenning as amptelike en onderrigtaal. Von Wielligh, ’n landmeter en taalgeograaf, word gehuldig as die geskiedskrywer wat “intieme kennis” gehad het van die gesindheid van die jong mans, die “volgroeide seuns” wat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die geheim tot stand gebring, die Patriot opgerig en vroue uitgesluit het (35, 36, 43–4). Steyn lig die groep se nie-elitistiese ingesteldheid, hul pligsbesef en selfopoffering uit as waardes wat hul projek gerig het.

In die geval van Du Toit wat hom verset het teen die “onbillike invoer van Engels” sonder Steyn sy strategie om eie instellings te skep uit, veral “wanneer die staat onwillig” is om te dit doen, soos in die geval van die oprigting van “die Hugenote Gedenkskool as Afrikaanse skool”, en om met mededingers saam te werk om Afrikaans in die openbare lewe gevestig te kry (51, 55, 52). MT Steyn en Hertzog se rol in die bedinging van gelykberegtiging vir Hollands tydens die Nasionale Konvensie van 1908–1909 word in fyn besonderhede vertel om kleur te gee aan die dramatiese oomblikke tydens die onderhandelinge. Laasgenoemde se dagboekinskrywing om 10:27 op 20 Oktober 1908 word aangehaal waarin hy “opgetoë” oor die “groote ovewinning” skryf waarin “die Hollandsche taal” “gelijke vrijheden, rechten en voorrechten” met Engels in die te stigte Unie van Suid-Afrika sal geniet (80).

............

“Die boek is ryklik geïllustreer met talle foto’s, waarvan sommige volblad gedruk en ander oor dubbelblaaie gesprei is. Die wedervarings, dade en opvattings van byna uitsluitlik manlike heldefigure word hier vertel.”

............

Ten spyte van die spellingvereenvoudiging van Hoog-Hollands wat aan die begin van die 20ste eeu ontwikkel is, het die taal mettertyd ’n belemmering geword, met die gevolg dat selfs geskoolde mense hulle nie behoorlik daarin kon uitdruk nie. Veral Langenhoven ondersteun die standpunt dat die taal as onderrigmedium “onskatbaar” sal wees en ’n “wins in nasionale selfrespek onder ’n groot deel van ons volk”. Ses jaar na die aanvaarding van Hollands as ’n uniewye amptelike taal aanvaar die Kaaplandse Provinsiale Raad sy voorstel dat Afrikaans as onderrigmedium dien. Dié besluit is later die jaar ook in die Vrystaat en Transvaal aanvaar; in Natal kon ouers ’n keuse tussen Afrikaans en Engels uitoefen (132–4).

Steyn bespreek diepgaande in hoofstukke drie en vyf die ondersteunende rol en plek van Nederlands en Nederlanders soos Johannes Brill, Jochem van Bruggen en Jan van Melle wat die ontplooiing van Afrikaans as ’n amptelike, onderrig- en kultuurtaal moontlik gemaak het. Oor die rol wat sy sentrale figure in hierdie oorgangsperiode gespeel het, oordeel hy soos volg:

Nadat Du Toit, Hertzog en Steyn vir Hollands/Nederlands geveg het, het De Waal en Langenhoven dit help afskaf. Dit is merkwaardig dat die Nederlandse taal nie alleen gehelp het om Afrikaans te skerm nie, maar dat die benaming Hollands meegehelp het om staatkundige erkenning vir Afrikaans te verkry. (147)

Wat op hierdie ontwikkeling gevolg het, is die opbloei van Afrikaans. Steyn tipeer dié periode as die “Goue Eeu [van] Afrikaans as kultuurtaal” waartydens, gerugsteun deur ’n simpatieke staatsbestel, “skrywers en ander kultuurskeppers” hulself op talle terreine laat geld het (148).

In sy sesde hoofstuk stel Steyn die onderhandelinge en taaltoestande onmiddellik voor en na die onlangse eeuwending aan die orde. Dit is ’n verslag van die agteruitgang en benadeling van Afrikaans, die verlies aan amps- en onderrigfunksies en die misleiding en verraad oor die beskerming van minderhede. Waar syns insiens die opkoms van Afrikanernasionalisme aan die begin van die 20ste eeu die belangrikste dryfveer vir die vestiging en ontplooiing van die taal was, is die verswakking daarvan aan die begin van die 21ste eeu een van die faktore wat lei tot “’n afname in taalgetrouheid” (185). Teenoor die leidende rol wat “senior leiers” in die bevordering van Hollands/Afrikaans by die Nasionale Konvensie van 1908–1909 gespeel het, het die Kodesa-onderhandelaars in 1992–1993 die taalsake aan senior amptenare oorgelaat wie se “mening nie soveel gewig [kon] dra as die politici […] wat oor die lot van die tale moes beslis nie” (195). Steyn het geen goeie woord vir die traak-my-nie-agtige houding van die Nasionale Party-onderhandelaars oor Afrikaans nie en haal goedkeurend die mening van die geskiedskrywer Hermann Giliomee aan dat “ons een van die swakste grondwette vir hierdie betrokke land” het (175).

3

Die laaste twee hoofstukke wy Steyn aan die uitsprake van Van Wyk Louw met verwysing na nasionalisme, taalbewegings en kultuur in ’n bestaanskrisis. Vir hom is die belang van Louw dat sy “opvattings oor taalbewegings so aktueel [bly]” dat dit opnuut in oënskou geneem moet word, omdat hy ’n raamwerk bied waarin “die taalaktivisme van die verlede en die hede” en sy “denke oor taal” beoordeel kan word (208, 212). Dit is die onderbou van Louw se sienings, naamlik sy klem op “‘klein tale se stryd’ of dan klein taalgemeenskappe se optrede om hul tale te behou” wat Steyn as rigsnoer vir die hede wil voorhou (208).

............

“In ’n vorige bestel het ’n regering die ruimte vir Afrikaans geskep om te gedy, alhoewel wesenlik as ’n volkstaal. Vandag sit Afrikaans as openbare en onderrigtaal in die knyp.”

............

Die raakpunte tussen taalbewegings en die konsepsie van vroeg-20ste-eeuse nasionalisme lig hy vroeg in sy sewende hoofstuk uit, naamlik dat die “essensie van die Afrikaanse nasionalisme die strewe [is] van Afrikaners om voort te bestaan as ’n aparte gemeenskap met ’n eie taal en nie net as individue nie” (210). Dit is syns insiens dié ingesteldheid wat die “uitwissing van agterstande en die opbou van ’n taal en kultuur” in die loop van die 20ste eeu moontlik gemaak het (210). Dié “verdedigende en opbouende nasionalisme” en die taalbeweging en kultuurtaal wat daaruit voortvloei, sou een wees wat in die woorde van Louw “vreedsaam en ‘alleen goed’” is (211, 212). Dié soort nasionalisme is hiervolgens nie ’n vorm van “engheid en egoïsme” nie, maar ’n strewe na nasionale regte, “die reg om jou geestelike ontwikkeling, kortweg jou onderwys, te ontvang in die taal wat jy verstaan“ (214).

Hierteenoor identifiseer Louw die nasionalisme van “groot, onbedreigde volkere” wat “sleg sonder meer” is met ’n imperiale geneigdheid wat benewens politieke imperialisme ook taalimperialisme tot gevolg het (211). Die imperiale-heerserstaal word as wapen ingespan en kan die heerser, volgens Louw, “idees wat vir homself nuttig is […] op die ondergeskiktes oordra en die propagandering van hul eie idees belemmer” (211). Dit is teen hierdie “verowerende nasionalisme” dat die “verdedigende nasionalisme” van “klein volke” staan en in tye van bedreiging en taalverskuiwing “die taalgetroues pogings [aanwend] om die bedreigde taal te behou en […] die standaardtaal ’n simbool en ’n grond vir optrede [word]” (215).

Steyn identifiseer by Louw die aanname dat die politiek, “die verkryging van ’n staatkundige stut”, die ontwikkeling van Afrikaans as onderrigtaal en die opkoms van kulturele produksie, die opheffing van die gemeenskap en die rol van “histories bewuste intellektuele” en organisasies noodsaaklik is wanneer “’n volk of taalgemeenskap” ’n “voortbestaanskrisis” ervaar (219, 222, 215, 239). In sy laaste hoofstuk herlees hy Louw se 1952-opstel “Kultuur en krisis” wat aanvanklik geskryf is teen die agtergrond van die skrapping van bruin kiesers van die algemene kiesersrol om die getalle-oorwig van die Nasionale Party se wit Afrikaanse kiesers te beskerm. Van die interne krisisse wat Louw destyds vir die Afrikaners geïdentifiseer het, is dié van militêre oorrompeling of verswelging deur grootskaalse (Europese) immigrasie en versinking “tot magtelose minderhede tussen ’n massa swartes” (258), vertwyfeling oor volgehoue Afrikaans-wees of verengelsing te midde van ekonomiese agteruitgang en “wanneer die groepslewe vir die enkeling ’n gevangenis” (269) geword het, en voortbestaan in onreg waar ’n wit minderheid ’n swart meerderheid oorheers. Die hoop wat Louw en andere op afsonderlike voortbestaan gehad het, het volgens Steyn in 1994 beskaam toe Afrikaners “hul vryheid en selfbeskikkingsreg [moes] prysgee” (261).

In ’n bestel waar dié begeertes onvervuld is, suggereer Steyn nuwe bestaansmoontlikhede waarin die praktyk en strategieë van die Solidariteit Beweging klaarblyklik ’n groot rol speel. Aan die hand van ’n groep vakkundiges stel hy die vervulling van die ideale van “kultuurvryheid” en “selfbestuur” van “klein groepe” voor. Sy kenners bied onder meer “gebiedsongebonde outonomie” aan as “waarskynlik die mees gepaste model om […] kulturele vryheid te verseker”, voorafgegaan deur aanvoorwerk in onderskeie gemeenskappe, “tussen groepe onderling, gemeenskappe en die regering” en internasionale steun (271–2). Samehangend met hierdie gedagtes is dié van selforganisasie en Afrikanerrepublikanisme waar eie instellings vanaf ’n stedelike basis geskep en bestuur word. Geabstraheer uit verskillende bronne, suggereer hy die breë raamwerk vir voortgesette voortbestaan van “klein kultuurgroepe”. Steyn eindig Verset en opbou met hierdie woorde: “Die keuse tussen voortbestaan en die ‘bleke reg’ van die Grondwet moet Afrikaners self maak, en weer ’n eie lewe uitwerk in die land wat hulle help opbou en daarna verloor het” (275).

4

Ek het die boek toegemaak met ’n oorheersende indruk dat vir Steyn “Afrikaans” in wese ’n oornoeming vir “Afrikaner” en “Afrikanergeskiedenis” is, dat ten spyte van uitings tot die teendeel die wese van die begrip Afrikaner etnies wit bly, en dat die Afrikanerskap en waardes van leidende individue wat beklemtoon word, die spore van miteskepping dra. Steyn fokus soms so intens op die posisie van Afrikaans dat dit eensydig voorkom ten opsigte van die posisie en omstandighede van mede-Suid-Afrikaners. In sy finale oordeel oor die vooruitsigte vir ’n volhoubare Afrikaans bespreek hy uitvoerig en by voorkeur die opsies wat voorstanders van ’n “gebiedsongebonde” Afrikaanse kultuuromgewing voortbestaan.

Die geskiedenis van Afrikaans is metonimies die geskiedenis van die Afrikaner. Die gang van Afrikaans word so nou met dié van Afrikanernasionalisme verbind dat Steyn die een nie van die ander kan onderskei nie. Ontwikkelings buite die dampkring van Afrikanernasionalisme word nêrens in berekening gebring nie. Dit is ’n direkte gevolg van sy konsentrasie op die prosesse van taalnasionalisme, kodifisering, taalstandaardisering, staatserkenning en -onderwys. Die geskiedenis van Afrikaner-opbou, van Afrikaans in die 20ste eeu kan egter nie los gesien word van die totale uitsluiting van alle niewit mense, en in dié geval meer bepaald niewit Afrikaanssprekers, van die ingrypende staatsontwikkelinge en besluite oor die afgelope eeu nie.

............

“Een van die opvallendste temas van die diskoers in Verset en opbou is die onderwys en die wyse waarop verskillende leiers bygedra het tot die opbou van Afrikaans as ’n volwaardige, gevorderde onderrigtaal. Dit is geen geringe prestasie nie.”

............

Die band tussen Afrikaans, Afrikaners en Afrikanernasionalisme is vir Steyn so natuurlik dat hy nie vir een oomblik reflekteer oor sy basiese aannames nie. Kan hy byvoorbeeld intellektueel die moontlikheid oorweeg dat Afrikaans sonder die Afrikaner kan voortbestaan? Kan hy enigsins die moontlikheid insien dat Afrikanernasionalistiese ywer nie die enigste moontlikheid van die belewing en oorlewing van Afrikaans in die 21ste eeu is nie? Waarskynlik nie, omdat, so wil dit voorkom, alle Afrikaanssprekers in die diskoers rondom Afrikaans slegs sekondêre praters is, en daarom geen belang, invloed of rol het nie. Waar Steyn die aanwesigheid van ander sprekers wel vermeld, meesal bruin Afrikaanse sprekers, skep dit die indruk van revisionisme, ’n oppervlakkige herskrywing van aspekte van die oorgelewerde taalgeskiedenis.

Vir Steyn is Afrikanernasionalisme of ’n aangepaste vorm daarvan die verstekopsie vir die voortgesette beskerming en ontwikkeling van Afrikaans. “Afrikaans” as oornoeming vir “Afrikaner-behoudendheid” is gevolglik besonder sterk in Verset en opbou. Die wyse van voortbestaan en die verdere ontplooiing van Afrikaans word beskou deur die nou gleuf van hierdie behoudendheid. Die vakkundiges met wie hy assosieer en wat hy rojaal in sy toekomsgerigte slothoofstuk aanhaal, kom, net soos die individue en instansies wat hy identifiseer as handhawers van die taal, byvoorbeeld hoofsaaklik uit die dampkring van die Solidariteit Beweging. Hy beweer inderdaad: “Die werk van Solidariteit en die Solidariteit Beweging kom die naaste aan ’n beweging wat ‘draer van lewensbehoeftes’, selfs van ekonomiese behoeftes is” (236).

*

Die omskrywing van wat ’n Afrikaner sou wees, het veral tydens die krisisdekade tagtig ’n omstrede saak geword met talle wat hulle daarvan gedistansieer het, onder meer omdat, volgens Steyn (265), “[b]aie Afrikaners nie bestand [was] teen politieke korrektheid nie”. Die statiese wit nasionalistiese begrip het oënskynlik in die geledere wat Steyn aanhaal, ’n dinamiese aanpassing ondergaan. Tans is daar, volgens Danie Goosen, “nou bykans volledige eenstemmigheid daaroor dat Afrikaners na hulself as ‘Afrikaners’ kan verwys” (266–7). “Afrikaners” aanvaar syns insiens “toenemend dat hulle na hulself as ’n ‘plurale’ kultuurgemeenskap kan verwys. Onderlinge pluraliteit is daarom ook nie meer […] ’n argument téén die bestaan van […] die Afrikaner nie, maar juis ’n argument ten gunste daarvan.” Steyn (226 ev, 265) bespreek uitvoerig Louw se frase “My volk, Blank en Bruin” en haal goedkeurend Koos Malan aan wat sou gesê het dat “die einde van die wit aard van die staat vóór 1994 die tipering van Afrikaners as wit mense beëindig het. ‘Afrikaners is nou as ’t ware in staat gestel om hulself weer as Afrikaners te vind.’”

Malan se argument klop nie noodwendig nie. Die konsepsie van Afrikaners as synde wit mense te wees is buite die formele staat geformuleer, merendeels as versetsidentiteit. Dink veral aan die einde van die 19de eeu en die oploop tot Uniewording. In die middel van die vorige eeu het die woord “Afrikaner” die sjibbolet van ’n seëvierende nasionalisme geword. Insgelyks: Afgesien van die adjektief “pluraal” wat herinner aan die apartheidseufemismes van die jare sewentig, bly die vermoede bestaan dat ’n toekomstige “plurale” Afrikanerskap hoofsaaklik wit (middelklas?-) belange sal verteenwoordig. Dit is te betwyfel of die witheid van Afrikanernasionalisme gou sal wyk. Het die herkonseptualisering van die Afrikaner vandag weer iets te make met verset, dié keer midde-in die post-1994- demokratiese staat?

............

“Wat opval, is dat die leiersfigure wat as Afrikaners geïdentifiseer word, by hoë uitsondering mans is en hul taalaktivisme soms met fyn biografiese besonderhede aangevul word – nie noodwendig hagiografies nie, maar beslis met bewondering.”

............

Ten spyte van hierdie tentatiewe geluide duik die wit wese van Afrikaans, die Afrikaner en Afrikanernasionalisme deurentyd op. Steyn herinterpreteer byvoorbeeld Van Wyk Louw vir die hede en merk dan op dat een van die krisisse wat die Afrikaner tans beleef, “dié van fisiese verswelging is dat hy toegeploeg [word] deur massa-immigrasie […] en deur die getalle in die land self, […] vererger deur emigrasie en ’n lae geboortesyfer” (261). Presies wie van dié “plurale” Afrikaners beleef dié krisis? Of word voorsien dat daar verskillende Afrikaner pluraliteite sal wees? Voorts gebruik Steyn dwarsdeur sy teks die veelseggende neweskikking, “die Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes” (kyk onder meer 272). Wat sou dié formulering presies beteken?

Wat sou die implikasie wees vir die toekoms van Afrikaans en die konstruering van ’n aanpassende “plurale” Afrikanernasionalisme — dié keer op “gebiedsongebonde” vlak met onderhandeling op groepsvlak? Op watter basis sal die groepe saamgestel word? Wat van die meer as ’n halfmiljoen eerstetaal-Afrikaanssprekendes wat as etnies swart gekategoriseer word, en hulself dikwels as “Afrikaners” voorstel? Sou hulle en die Afrikaanssprekende Moslems wat hulself “Afrikaners” noem of genoem het, ook in die Steyn-Goosen-Malan-konsepsie van “die Afrikaner” inpas? Verteenwoordig hierdie Afrikaanse mense dieselfde of selfs soortgelyke maatskaplike, politieke, ekonomiese en kultuurbelange? Wat presies beteken “pluraliteit” in dié konteks? Dit lyk vir my asof, in terme van die diskoers wat ek probeer ontrafel, ’n vertrekpunt van hierdie aanpassende Afrikanernasionalisme in hoofsaak die belange, begeertes en behoeftes van wit Afrikaanssprekendes bly, al word geluide vir ’n buigsamer konsepsie daarvan gemaak.

*

Die eerste vyf hoofstukke is ’n nougesette kartering van die totstandkoming van Afrikaans as ’n amptelike en onderrigtaal. Wat opval, is dat die leiersfigure wat as Afrikaners geïdentifiseer word, by hoë uitsondering mans is en hul taalaktivisme soms met fyn biografiese besonderhede aangevul word – nie noodwendig hagiografies nie, maar beslis met bewondering. Dan is daar die waardes wat aan die leiersfigure gekoppel word – waardes wat tradisioneel in die populêre media verbind word met die heldefigure van Afrikanerdom.

Steyn ontkom nie aan die potensiële gevare van miteskepping nie. In een geval verhoed die laat-19de-eeuse konsepsie van “die Afrikaner” hom nie om ’n trajek wat nog verder die verlede in strek, te skep nie. Vergelyk hier ’n opmerking wat heenwys na die verklaring van edele kwaliteite oor geslagte heen. Volgens Steyn was die Patriotters van die laat 19de eeu bekend vir hul “wilskrag”, hul nie-elitistiese ingesteldheid, hul pligsbesef en bereidwilligheid tot selfopoffering – ’n tradisie wat “lank onder die Afrikaner bestaan het” (36, 43, 44, toegevoegde klem). Van die ander “aktiviste vir Afrikaans” het insgelyks sonderlinge kwaliteite. Von Wielligh het gestreef na “billikheid en ewewigtigheid” (38). Du Toit was bereidwillig om met mededingers saam te werk en eie instellings te skep (52, 55), terwyl Steyn en Hertzog “bittereinders” (58) was, en Langenhoven en De Waal eiewys en koppig (117). Hier bo is reeds gewys op die goedkeurende wyse waarop Steyn met Van Wyk Louw omgaan in sy formulering van ’n “verdedigende” of “ware” nasionalisme.

Teenoor hierdie figure met hul noemenswaardige kenmerke staan diegene wat Afrikaans sou versaak het. Die oordeel en suggestie van “taalverraad”, “swygende politici” en “ekskuus-dat-ek-leef-tipe Afrikaners” val oor “die Afrikanerelite wat [met die Kodesa-onderhandelings] afstand gedoen het van Afrikanernasionalisme” (184 ev). Uit die geïmpliseerde oordeel kry die leser ’n aanduiding van die soort waardes wat die skrywer se hart warmer laat klop, en belangriker, dié wat vir die toekoms van Afrikaans herhaal en beklemtoon moet word. Dan is daar dié wat hy minder gunstig ag, en sy oordeel is fel.

*

Die ambivalensie wat ek by Steyn aanvoel, het te make met die “bruin mense”, daardie groepering wat die Nasionale Party as “’n volk-in-wording” getipeer het, en wat toe uiteindelik nooit die volk geword het wat verlang is nie. Die “maak van Afrikaans” is vir Steyn ’n nasionalistiese daad, gedryf deur (vermoedelik wit) intellektuele en “taalgetroues”; vir die res is die grootste gros bloot praters, mense sonder enige mate van bemiddelingsbevoegdheid. In sy visie vir Afrikaans word bruin sprekers hier en daar betrek, meesal as sekondêre deelnemers, dikwels in verwysing; en die enkele kere dat hulle aandeel genoem word, word dit onmiddellik gekwalifiseer of verdag gemaak. Vir die diskoers wat geïdentifiseer is, is die implikasie dat slegs die Afrikaner met Afrikaans vertrou kan word en dat die sosiale gelykberegtiging van alle ander mense ondergeskik is aan dié ideaal.

’n Enkele voorbeeld behoort genoeg te wees. Steyn (81) skryf:

Sou sommige van die inheemse tale amptelike status gekry het as daar ook bruin, Indiër en swart afgevaardigdes [by die 1908–1909 Nasionale Konvensie] was? Of sou dit moontlik alleen Engels gewees het? Dié vrae is onbeantwoordbaar, maar dit is veelseggend dat die bruin en swart elite in die Anglo-Boereoorlog oor die algemeen Britsgesind was. Die belangrikste bruin leier van dié tyd en dekades daarna was Abdullah Abdurahman, wat bitter anti-Afrikaner én anti-Afrikaans was.

Hierdie stellings is onhoudbaar. Die rede waarom slegs wit mans op die Konvensie teenwoordig was, is dat alle ander mense daarvan uitgesluit is. Abdurahman, alhoewel ’n vurige kritikus, word allerweë as gematigd beskou. Hy was deel van afvaardigings na die Britse parlement om te pleit dat ook bruin en swart mense oral in die Unie kiesreg en skoolplig kon kry. Maar tevergeefs. Hy en andere soos hy is nie toegelaat om deel te neem nie.

Wat is die konteks? Die Suid-Afrika Wet, wat onder meer Hollands se gelykheid verskans het, en die Skoolraadwet van die nuwe Unie het terselfdertyd die totale uitsluiting uit openbare besluitneming, die laaggeskooldheid en onvryheid van bruin en swart Suid-Afrikaners vir die res van die 20ste eeu tot gevolg gehad. Abdurahman, die skrywer van die Afrikaanstalige hekelrubriek “Straatpraatjes”, mag ’n anglofiel gewees het, maar sy kritiek het regstreeks te doen gehad met die noordelike republieke se uitsluitende raspolitiek. Hy was ’n opgeleide medikus en ’n bewese verteenwoordiger van ’n sterk politieke en gemeenskapsorganisasie wat op geen noemenswaardige wyse kon deelneem aan die nuwe staat nie (kyk Lewis 1987:28 ev, 46 ev, 64 ev; Adhikari 1996).

Steyn se hipotetiese stelling laat nie eens die moontlikheid oop dat Abdurahman, wat meesal sy pasiënte in Afrikaans gekonsulteer het, ’n denkende en inskiklike leier kon wees nie. Dit is skreiend dat die onreg wat miljoene Suid-Afrikaners by Uniewording aangedoen is, gebruik word om die posisionering van Afrikaans te regverdig. Ten opsigte van die diskoers: Dat Steyn hoegenaamd so ’n stelling kon bedink as regverdiging vir die opname van Hollands/Afrikaans in die Unie-grondwet, toon die kortsigtigheid en eensydigheid waarmee soms met die taalkwessie omgegaan word.

*

Vir talle Suid-Afrikaners word die groei van Afrikaans onder die Nasionale Party-regering geassosieer met onderdrukking, geweld en opstand. (Alhoewel Steyn hier en daar na aspekte van Afrikaans tussen 1948 en 1994 verwys, wy hy in Verset en opbou nie ’n hoofstuk aan hierdie “Goue Eeu [van] Afrikaans as kultuurtaal” nie. Die slagspreuk, “Afrikaans is die taal van die verdrukker” het ’n lewe van sy eie gekry en duik telkens hardnekkig in openbare debatte op. Alle Afrikaanssprekendes moet konstant daarmee rekening hou. Steyn se strategie om dié stuk geskiedenis te verwerk, is eerstens om die opkoms en vooruitgang van Afrikaans in hoofsaak toe te skryf aan die werk van kultuurskeppers (148, 236), tweedens om ’n duidelike skeidslyn tussen die regering, hul vorm van nasionalisme en Afrikaans te tref (176), derdens om net die nodige, en dan so min moontlik, oor die taalopstande te sê (177, 208), en vierdens om te verklaar dat Afrikaners met ’n “skoon gewete” die toekoms tegemoet kan gaan:

Meningsverskille oor skuld en boete is nog nie afgelope nie; die skuld is volgens sommige groter as wat ons vermoed en die boete nog nie hoog genoeg nie. Maar Afrikaners sou nogtans met ’n skoon gewete kon sê die onreg wat hulle gepleeg het, behoort tot die verlede. (261)

Skuld en boetedoening is terugkerende temas in samelewings met koloniale en veroweringsgeskiedenisse. Regstelling, vergifnis en verandering is ingewikkelde prosesse wat nie eensklaps afgehandel kan word nie, soos die geskiedenis van die Eerste Suid-Afrikaanse nasies of kolonialisme of die Anglo-Boereoorlog hier in Suid-Afrika bewys. Hoe daaroor geoordeel kan word, kan egter nooit ’n eensydige proses wees nie, nog minder kan eensydig verklaar word dat die onreg wat gepleeg is, tot die verlede behoort. In die diskoers waaroor ek dit hier het, konstrueer Steyn ’n Afrikaans wat sonder belemmering die toekoms tegemoet gaan, terwyl die huidige posisie van Afrikaans en die vermeende posisie van Afrikaners juis toe te skryf is aan die geskiedenis wat hy onderbeklemtoon. In ’n klein kring van eendersdenkendes mag so ’n opvatting bestaan, maar dit is ’n wanopvatting. Afrikaans as simbool van onreg het nie op 27 April 1994 ’n stille dood gesterf nie.

*

Een van die mislukkings van die huidige regering is die verwaarlosing en ondermyning van veeltalige onderrig, die erkenning en praktyk van veeltaligheid as ’n hulpbron op alle vlakke van die staatsdiens, en die gebrek aan die skep van ’n omgewing waarin Suid-Afrikaanse tale kan gedy. Hierdie leemte het tot gevolg dat ons Suid-Afrikaanse tale steeds in statiese ras-etniese terme beskou met beperkte gebruiksmoontlikhede buite die huis om. Die redes hiervoor is legio, onder meer die gebrekkige terminologie-ontwikkeling van Afrikatale, die gebruik daarvan vir die handhawing en implementering van apartheid, of vandag die voorkeur vir Engels as politieke bindingstaal en as taal van die politieke en ekonomiese elite. Die stryd om Suid-Afrikaanse tale volwaardig te ontwikkel, is ’n opdraande- en ongelyke stryd, en een waarin ’n nalatige regering minder en minder belang stel. Oral is mense op klein skaal besig om talige aspekte wat vir hul van sosiale en kulturele belang is, te probeer ontwikkel. Vir die skep van ’n sosiaal-regverdige land waarin die diversiteit van mense en tale gedy, is sulke ondernemings nodig en moet ’n wetlike omgewing geskep en in stand gehou word waarin voorkeur aan daadwerklike taalontwikkeling gegee word.

............

“Afrikaanssprekendes wat hulle buite die sfeer van Afrikanernasionalisme bevind, sal die teks, en veral die slothoofstuk, as ’n resep vir afkamping en isolering beleef.”

............

In ’n vorige bestel het ’n regering die ruimte vir Afrikaans geskep om te gedy, alhoewel wesenlik as ’n volkstaal. Vandag sit Afrikaans as openbare en onderrigtaal in die knyp. Een van die opvallendste temas van die diskoers in Verset en opbou is die onderwys en die wyse waarop verskillende leiers bygedra het tot die opbou van Afrikaans as ’n volwaardige, gevorderde onderrigtaal. Dit is geen geringe prestasie nie. Ten opsigte van die hede en onmiddellike toekoms het Steyn groot waardering vir die Solidariteit Beweging se pogings om voorsiening vir moedertaalonderwys te maak. Hy assosieer hom voorts met Solidariteit se strategie van “ankerdorpe”, en meer bepaald die skep van ’n behoefte aan “’n Afrikaanse stad of provinsie waarin Afrikaans op alle terreine gebruik kan word, vry van byvoorbeeld die beperkings wat verteenwoordiging aan die [Afrikaner-] gemeenskap oplê” (274–5). Hierdie idees word sterk verkondig deur die Solidariteit Beweging se medianasionalistiese handelinge, hul mediageaffilieerdes, hul openbare optrede, hul hofsake en allerlei soortgelyke bemarkingsveldtogte. Afkamping is een manier om in ’n veeltalige demokratiese land te leef, maar dit bly ’n uiters beperkende opsie.

Afrikaanssprekers wat buite Afrikanernasionalisme staan, kan egter nie toelaat dat die enigste bestaansmoontlikheid vir die taal die eng etniese kulturele belewings is wat Steyn so goedkeurend aanhaal nie. Op verskillende lewensterreine, onderrig- en kulturele instellings het ons strategieë nodig om sinvol, meelewend en mededelend Afrikaans te wees, sonder om toevlug tot begrensing te neem.

5

As ’n teks pas Verset en opbou knus in die visie van Kraal-uitgewers wat publikasies wil uitgee wat “sterk standpunt” inneem oor aktuele sake in die Afrikanergemeenskap. Alhoewel Steyn hom voorneem om “nugter” ondersoek in te stel na die ontwikkeling, wetlike vestiging en toekomsmoontlikhede van Afrikaans, is dit uit hierdie beperkte diskoersanalise duidelik dat sy siening van Afrikaans wesenlik beperk bly tot die behoeftes en begeertes van “die Afrikaner” en dat hy die toekoms van die taal besonder nou verbind met ’n aanpassende nasionalisme. Afrikaanssprekendes wat hulle buite die sfeer van Afrikanernasionalisme bevind, sal die teks, en veral die slothoofstuk, as ’n resep vir afkamping en isolering beleef.

  • Hein Willemse is ’n professor in die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria. Hy doseer Afrikaanse en Afrika-letterkunde en literêre teorie.
Bibliografie

Adams, Rachel. 2017. Michel Foucault: Discourse. Critical Legal Thinking. http://criticallegalthinking.com/2017/11/17/michel-foucault-discourse (26 Oktober geraadpleeg).

Adhikari, M (red). 1996. Straatpraatjes: Language, politics and popular culture in Cape Town, 1909–1922. Pretoria: JL van Schaik; Kaapstad: Buchu.

Anon. Jaap Steyn. 2019 Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Jaap_Steyn (16 Oktober geraadpleeg).

Genette, Gerard en Marie Maclean. 1991. Introduction to the Paratext. New Literary History, 22(2):261–72.

Kraal Uitgewers. 2019. https://www.kraaluitgewers.co.za (16 Oktober geraadpleeg).

Lewis, Gavin. 1987. Between the wire and the wall. A history of South African “Coloured” politics. Kaapstad: David Philip.

Kyk ook 

NALN-video: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans deur JC Steyn

  • 19

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Uitstekende artikel. 'n Mens sou sweer Afrikaans behoort aan die wit establishment soos hulle te kere gaan. Indien hulle dit nie weet nie: meer bruin mense praat Afrikaans as wit mense.

  • Sandra, koester bruin mense ook hul taal soveel soos wit mense, of dien dit merendeels vir bruin mense slegs as kommunikasiemiddel? Wat is die empiriese bevindinge?
    Ek verneem graag.
    Ns: ek wonder hoe lank gaan dit neem voordat byna al die Wes-Kaapse openbare skole en derhalwe die bruin mense van die Wes-Kaap na aanleiding van Stellenbosch se verengelsing ook Engels gaan word, hulle is immers net so (of selfs nog meer) gemaklik in Engels as in Afrikaans? Daar gaan geen nut of voordeel vir die bruin mense van die Kaap oorbly om te leef en te studeer en in hulle daaglikse omgang Afrikaans te wees en dit uit leef nie en as sulks as hartstaal aan te hef nie. Waar gaan al die bruin "Afrikaanssprekendes" dan wees, wonder ek? Hoe lank gaan bruines dan kwansuis die meederheidsprekers van Afrikaans bly, wonder ek?
    Jy en die skrywer van die artikel hou julle blind vir die sosiale ingenieurswese (die "taalmisdaad teen die mensdom" wat 'n godskreiende skande is en voor ons almal se oë afspeel) wat voor julle eie oë afspeel en wat julle klaarblyklik stilswyend goedpraat; en dan het julle nog die vermetelheid om te baklei en stry oor wie Afrikaans nou eintlik aan "behoort", terwyl die aanslag teen Afrikaans by die dag al hoe meer feller word en ons gemeenskaplike geliefde taal hom in die laaste loopgrawe bevind!
    Jaap Steyn is 'n held. Hein Willemse, waarom sluit jy nie aan by hom in sy opbou en verset nie, en wys jou bona fides, eerder as om te probeer verdeel en historiese revisionisme aan te hang. Dankie.

  • Johannes Comestor

    Willemse probeer om die geskiedenis van Afrikaans volgens sy wense te herskryf. Dit is onomstootlik waar dat Afrikanernasionalisme 'n groot rol in die uitbouing en erkenning van Afrikaans gespeel het; ook dat feitlik uitsluitlik wit mans dit vermag het. Dit is nie miteskepping soos Willemse beweer nie. Dit is by uitstek Afrikaanssprekende wittes wat, wat Afrikaans betref, taalgetrou is. Dit is gevolglik gewoon die veralgemeende waarheid dat 'n enkele etniese groep, die Afrikaanssprekende wittes, met die heil, bv die toekoms, van Afrikaans vertrou kan word. Willlemse wyt die Afrikaanswerklikheid aan vermeende verontregting gepleeg deur wittes en wil slagofferstatus vir hom en diesulkes tot in die oneindige koester. Maar wat het hy gedoen vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Wes-Kaapland en die Universiteit Pretoria? Waarom het hy die Tydskrif vir Letterkunde verengels pleks van dit pro-Afrikaans uit te bou? Sy standpunt is soortgelyk aan die van Michael le Cordeur (Die Burger, By, 19.10.2019), wat ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch is en wat die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof oor die US eerder verwelkom as veroordeel. Willemse se benadering tot Afrikaans was en is deursuur met sy politieke aktivisme. Vir 'n heeltemal ander siening van Jaap Steyn se boek, lees Leon Lemmer se resensie (Praag 12.10. 2019).

  • Koos van der Merwe

    Geagte professor Willemse
    Dankie vir die deeglike en stewige resensie. Ek het besluit om die boek liewers nie te koop nie. Dit is 'n tragedie hoe 'n goepie wit Afrikaanse geleerdes se geaardheid hulle geleerdheid pseudo-geleerdheid maak.

  • Anders as Koos hierbo is ek nou meer begeesterd as ooit om die boek aan te skaf!
    Dit is 'n pragtige, ryk werk, en baie deeglik nagevors. (soos alle boeke van Jaap Steyn)
    Professor Willemse, dankie vir jou diepgaande en interessante resensie, wat baie vrae vra en oogpunte opper, maar tog ook terselfdertyd geen antwoorde of oplossings op hierdie indringende vrae bied nie.

  • Johannes Comestor

    Charles, jy het reg. Steyn se boek is uitstekende leesstof. Mense soos Bettina Wyngaard en Hein Willemse het blykbaar 'n vrye se op LitNet. Hulle kan die wittes, veral die Afrikaners, na harte lus slegsê. As ek as behoudende Afrikaner hulle teenspreek, word my kommentaar nie gepubliseer nie. Dit is myns insiens 'n afkeurenswaardige manier om 'n respektabele meningsforum te bestuur.

  • Ek moet sê: Willemse hanteer die akademiese standaardtaal wat deur manlike, wit Afrikanernasionaliste tot stand gebring is besonder vlot! Die professor sien klaarblyklik nie die ironie van sy eie posisie in nie.

  • Ag asseblief, Daniel Hugo. Prof Willemse se vlot gebruik van die "akademiese standaardtaal" (huh?) dien as bewys van sy akademiese uitnemendheid. Presies hoe moet hy nou die ironie wat jy raaksien, uitskakel? Deur elke keer te khonza vir die ontwikkelaars van die standaardtaal? Doen akademici dit elke keer as hulle kritiese opstelle oor ander lande in die standaardtaal van daardie lande skryf? Ag, asseblief.

  • Prof. Willemse is krities oor die wyse waarop Afrikaans gestandaardiseer is, naamlik dat bruin sprekers geen aandeel daaraan gehad het nie. As hy werklik sy weerstand wou demonstreer, moes hy sy kritiek in Engels of (ongestandaardiseerde) Kaaps gelewer het - soos wat Nathan Trantraal gereeld doen.

  • Professor Willemse mag sy bydraes te lewer in die taal van sy keuse. Niemand kan aan hom voorskryf in watter taal (gestandardiseerd of ongestandardiseerd) hy sy bydrae "moes ... gelewer het" nie. Sou Daniel Hugo slegs tevrede wees met 'n resensie in gestandardiseerde Afrikaans indien dit swymel van bewondering vir, wat Hugo self noem, "die manlike, wit Afrikanernasionaliste" wat die Taal gestandardiseer het?"

  • Prof. Willemse aanvaar nie die bestaansreg of ten minste die etiese basis van Standaardafrikaans nie, weens die wyse waarop dit tot stand gekom het. En tog gebruik hy dit. Dit is teenstrydig en ironies.

  • Johannes Comestor

    Ter ondersteuning van Daniel Hugo: Hein Willemse se uitgesproke ideaal is dat geradbraakte Afrikaans, oftewel Kaaps, nie-anglisistiese of Standaardafrikaans moet vervang. Willemse het geskryf: "Ons moet onthou dat die bruisende toekoms van Afrikaans nie in die raadsale le nie, maar reeds in ons veeltalige stedelike strate soos die van Kaapstad en sy townships vorm aanneem" (Kaaps in fokus, geredigeer deur Frank Hendricks en Charlyn Dyers, Stellenbosch: Sun Media, 2016, p 75).

  • Comestor en Hugo se reaksie op Willemse se gebruik van standaard Afrikaans, het my laat dink aan Karel Schoeman se opmerking in Na die Geliefde Land (1972) bladsy 63: "Die droom het voorgeduur, onverminder in sy glans, en hulle bestaan is 'n gedurige poging om die opdringerigheid van die omringende werklikheid te probeer ontken, terwyl hulle onthou en mymer en wag op die uur wanneer alles weer oor sal wees en hulle sal kan terugkeer na die geliefde land."

  • C Hattingh, ek hunker beslis nie terug na die verlede nie, maar maak beswaar teen die herskrywing van die geskiedenis van die standardiseringsproses, soos wat Hein Willemse klaarblyklik van Jaap Steyn verwag. Ek ontken nie die aandeel van bruin sprekers in die totstandkoming van Afrikaans nie, ook nie die wesentlike rol van daardie sprekers in die toekoms van Afrikaans nie. (Sien my boek "Halala Afrikaans", Protea Boekhuis, 2009). Willemse verdoem die geskiedenis, maar gebruik met groot vaardigheid en selfversekerdheid die uitkoms van daardie geskiedenis, naamlik Standaardafrikaans. Vervloek die boom, maar geniet sy vrugte. Terloops, ek het ewe veel waardering en bewondering vir Karel Schoeman se skryfwerk - in so 'n mate dat ek 'n blokboek oor "Na die geliefde land" geskryf het (Academica, 1981).

  • Ek stem in bree trekke saam met Hein, maar wonder ook oor die TvL. Dit sou n goeie platform gewees het teen Steyn en Kie. So ook sou n Afrikaanse Maties met n bietjie staatshulp kon gehelp het om Afrikaans te transformeer tot iets nader aan die omgangstaal van wit en swart. Nou word dit in die utopiese kampe van Steyn en Kie gedryf.

  • Hans, beskou jy die standaardvorm van tale (wat altyd deur 'n elite geskep word) vanselfsprekend as onaanvaarbaar / polities inkorrek? In alle ontwikkelde tale bestaan daar 'n onderskeid tussen omgangstaal en die standaard (wat uiteraard ook nie staties is nie). Solank jy die standaardvorm skryf - soos wat jy hier doen - hoort jy ook in die "utopiese kampe" (wat dit ook al mag beteken) van "Steyn en Kie." Het jy al enige van Steyn se taalhistoriese en taalsosiologiese boeke gelees?

  • Leopold Scholtz

    Jaap Steyn se standpunt is histories gegrond en op behoorlike historiese bronne gebaseer. Hein Willemse se standpunt is ideologies gegrond en op niks gebaseer nie.

  • Gustaf Claassens

    Iets laat my dink aan bouers en brekers...

    Wees waaksaam vir die brekers. Onvergenoegdheid is 'n sterk moriveringsfaktor. Stene word word stil-stil weggedra. Later ry ons verby 'n bouval wat eens op 'n tyd 'n spoggerige woning was. Waar alles gewerk het en die inwoners mekaar sonder veel moeite verstaan het...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top