
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 24 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Jakes Gerwel se kreatiewe skryf-werk*
Inleiding
In hierdie jaar waarin Jakes Gerwel (1946–2012) 80 sou geword het, word ek herinner aan sy rol in die plaaslike literêre en intellektuele diskoers en is dit nodig om sy skryfwerk aan verdere ondersoek te onderwerp. My fokus is veral op sy vormingsjare as letterkundige en intellektueel. Dit begin by sy studies, veral sy doktorale studie aan die Vrije Universiteit Brussel in België in die sewentigerjare, sy loopbaan as letterkundedosent aan die Hewat Opleidingskollege en die Universiteit van Wes-Kaapland en die rigtende invloed wat hy op die ontwikkeling van die Afrikaanse literatuurkritiek en spesifiek die Marxistiese benadering gehad het.

Foto van ’n jong Gerwel (met die toestemming van die Jakes Gerwel-stigting)
Tydens my navorsing in die Gerwel-argief1 wat in die Nelson Mandela-stigting in Johannesburg gehuisves word, het ek afgekom op ongeveer 15 ongepubliseerde gedigte in Gerwel se handskrif.2 Min mense is bewus van hierdie gedigte en dis te betwyfel of dit ooit bestem was vir publikasie.
Betrokkenheid by skryf-werk
Voor ek die gedigte bespreek, net kortliks iets oor Gerwel se betrokkenheid by kreatiewe skryfwerk.

Saam met Linda Rode was hy die samesteller van twee kortverhaalbundels wat tydens die demokratiese oorgang nuwe talent en verskeidenheid na vore wou bring. In 2000 verskyn by Kwela Keerpunt: stories vir die nuwe Suid-Afrika, ook in Engels uitgegee as Crossing over: stories for a new South Africa. ’n Tweede bundel, met die titel Stroomversnelling: Nuwe Suid-Afrikaanse stories, volg. Hy het hoofsaaklik geadviseer oor die tematiese aanslag en was minder betrokke by keuring en redigering.
Gerwel het ’n instrumentele rol gespeel in die totstandkoming van Kwela en die fokus van dié nuwe uitgewery op ontwikkeling van skryfwerk in voorheen benadeelde gemeenskappe. Saam met Es’kia Mphalele en Hugh Lewin het hulle Anneri van der Merwe geadviseer oor die rol wat die uitgewery behoort te speel.3 Sy uitgangspunt was dat Tafelberg en Human & Rousseau nie die skuif sou maak nie en dat daar daarom plek was vir ’n kleiner uitgewery of druknaam om agtergestelde skrywers geleenthede te gee en werke met potensiaal te ontwikkel tot publiseerbaarheid. In hierdie tyd het by Kwela die werk van AHM Scholtz, Kallie Benjamin en EKM Dido verskyn.
’n Kinderverhaal?
“Die man met die lang kop”, die enigste gepubliseerde verhaal van Gerwel, verskyn in Goue fluit, my storie is uit: verhale, verse en raaisels vir kinders, saamgestel deur Linda Rode met illustrasies deur Alida Bothma. Die boek is in 1989 met die MER-prys bekroon.
Dit is die storie van ’n man met ’n allemintige lang kop, so lank dat dit gelyk het soos ’n koeël en sy skerp ken soos die punt van die koeël. Die man het egter baie kort oortjies gehad en met die hulp van ’n slim man beraam hulle ’n plan om die lang ore van ’n donkie om te ruil, en siedaar, daar staan die langkopman toe met pragtige lang syerige ore, en die donkie met kort kaal mensoortjies. Die donkie verdwyn vir eers. Die langkop-, langoorman het aanvanklik gespog met sy nuwe voorkoms, maar agtergekom dat die mense fluister en spot met sy ore. Hy het so selfbewus geraak dat hy sy kop laat sak het en nie meer op straat verskyn het nie. Toe daar ’n sirkus op die dorp aandoen, besluit hy om te gaan omdat niemand hom sou opmerk tussen al die dwerge, hansworse, artieste en fratse nie. Op pad daarheen sien hy ’n paar bekendes aankom en laat sak sy kop, wat op die grond begin skuur. Die koeëlvormige kop ontketen ’n vonkie wat ontplof en toe die swart rook bedaar, staan daar net ’n gewone donkie met gewone donkie-ore.
Dit is ’n absurde en surrealistiese verhaal wat aansluiting vind by Jan Rabie se verhale in Een-en-twintig, oa “Drie kaalkoppe eet tesame”, “Die man met die swaar been” en “La Promenade en chien”, en herinner ook aan Breytenbach se reël “Die maer man met die groen trui” in “Bedreiging van die siekes” asook verhale in Katastrofes. Gerwel het noue kontak met die Sestigers gehad, oa Brink, Rabie, Small en De Vries, en het verskeie kere by byeenkomste van die Skrywersgilde opgetree en sosiaal verkeer. In sy letterkundekursusse het hy ook ’n voorkeur vir werk van die Sestigers gehad.
Wat opval in hierdie verhaal, is die besonder slim woordgebruik en vernuftige aanwending van idiome en uitdrukkings. Kyk byvoorbeeld na die volgende: “Daar en dan kry die man ’n plan in sy kop – ’n lang plan, natuurlik, want ’n man met so ’n lang kop kry wel deeglik plan as hy die dag plan kry.” Verdere voorbeelde is: “Vir ’n man met ’n lang kop ... duur dit nie lank om die donkie ’n gat in die kop te praat nie. Wat meer sê, die man het die donkie se ore skoon van sy kop gepraat, en ewe halsoorkop stem die donkie in om ore te ruil”; “Die opmerking en geskinder was natuurlik nie vir sy ore bedoel nie, en aan die begin het hy ook nie sy ore uitgeleen vir al die praatjies nie.” Hierdie verhaal het baie meer nuanses as net ’n kinderverhaal, en ek wil nie dié genre geringskat nie. Met die styl en tematiese aanpak pas dit ook baie goed in by die Sestiger-literatuur.
Gerwel se gedigte
Die gedigte getuig van iemand met ’n skerp oog vir taal en woordbetekenis en grondige kennis van digterskap. Dit toon ’n bewustheid van die literêre neigings van die tyd en die poëtika van tydgenote, en speel bewustelik daarmee. Voorts gee dit ’n interessante kykie in Gerwel se kreatiewe omgaan met sy mense en wêreld en sy intellektuele besinning op ’n gegewe moment.
...
Dit was ’n tyd van intense studie en afsondering. Johan Murray, wat op daardie stadium saam met hom in Brussel was, onthou dat Gerwel lang ure deurgebring het voor die venster van die woonstel in De Ardennestraat: “Gefokus. Toegewyd. Dit het omtrent oorreding gekos dat hy wel vir ’n dag, net een dag, sy studies opsyskuif.”
...
Die gedigte is ongedateerd, met die uitsondering van een wat gemerk is “Brussel, 1970”. Dit laat die vermoede ontstaan dat die gedigte kom uit die tydperk van Gerwel se eerste verblyf aan die VUB toe hy besig was met die Licentiaat in Germaanse filologie. Dit was ’n tyd van intense studie en afsondering. Johan Murray, wat op daardie stadium saam met hom in Brussel was, onthou dat Gerwel lang ure deurgebring het voor die venster van die woonstel in De Ardennestraat: “Gefokus. Toegewyd. Dit het omtrent oorreding gekos dat hy wel vir ’n dag, net een dag, sy studies opsyskuif.”4 Tussendeur sy studies het hy waarskynlik hierdie mymeringe, oorpeinsing en natuurherinneringe neergepen.
Ars poetica
In twee gedigte besin Gerwel oor sy digterskap en taal.
Daarom dig ek
In die dowwe glim van my dink
hang ’n gedagtetros,
skerpdonker;
’n Godsoek-drenkeling
in dié menswees gedagtekolk;
– gewiste in gedagte (?) –
die klein orde
wat wil (-wil) kristalliseer
midde-in en -uit die vormskuwe horde
en tot-vers-klink-klank begeer.

Die digter verwoord hier die versugting om deur digkuns tot helder denke en singewing te kom. Sy aanvanklike bewuswording is van iets donker en ongevormd wat deur vers en klank kristalliseer tot iets afgerond. Hier is trekke van Van Wyk Louw se “Grense” asook “Die beiteltjie”. Vergelyk ook die reëls in “Soeke”: die woelige tas-raak / van my hongerige hande … was die tentakels van my siel / wat voel-soek na kontak / vleeswarm en essensie-naak”.
In die volgende gedig besin hy oor taal:
O my mooi bruin taal
Soos die grond
en aards soos my mense
hoe verbleek sweef jy nou
in die leë winde
wat oor ons land hang
soos ’n plaag
van woorde.
Die liefde vir sy taal wat hy onteenseglik assosieer met sy mense – bruin mense, aards en eenvoudig – word opgeweeg teen ’n pessimisme en uitsigloosheid. Dit strook met sentimente in die sewentiger- en tagtigerjare oor die skade wat apartheid aan Afrikaans aanrig. Gerwel het by meer as een geleentheid geargumenteer dat die verbintenis van Afrikaans met apartheid en eng Afrikaner-Nasionalisme verbreek moet word om die voortbestaan van die taal te regverdig.5 Dit strook ook met uitsprake van Brink en Breytenbach.
Die eerste gedig, “by sonnette uit parys”, uit die reeks “aan Hegel en Sartre” het toespeling op Breytenbach:
by sonnette uit parys
wil ons nog rympies
mymel en ordeloosheid
orden tot veertien reëls
kiek en bind en slaan tot
Lig- en lewe-in-sisteem:
duisende foneme inryg in
woorde, woorde en sintagmas
sintagmas orden tot sin
in betekenis om betekenis
vas te vang, dan baard groei6
in Parys leef, ’n bietjie Sartre lees,
loop sonnette vol vasgevange betekenis leeg
as met elke terugslag in Parys betekenis beweeg.
Swartgalligheid oor die skynbaar nuttelose aktiwiteit van skryf en gedigte maak spreek uit die gedig. Vir die spreker is die slim speletjies van die digter nie in staat om betekenis vas te vang nie en ontglip gebeure / terugslae / bestaan aan betekenis.
’n Pragtige ode aan sy ouers het raakvlakke met Breytenbach se “wat die hart van vol is” en “’n brief van hulle vakansie” vir sy ouers, Ounooi en Oubaas:
na ’n lang tyd
was ek toe weer by die huis
by die siekte van ouers
by die wegkwyn van ’n ou en mooi wêreld
en by my onskuld
die terugkoms was seer en goed
met ’n gevoel wat atavisties
verby blote kaalvoet-snotneus-nostalgie vis
na akkedisspore
die eerste druppel
dit was mooi en seer;
teer borste hang aan afrikavroue
donker halssnoere so sonder jagsheid (?)
bessietrosse aan ’n ghwarrieboom
soos vingers aan ’n hand
en my pa die ou taai pruimboomknoets
van die vlaktes en die kliprantjies
hurk in ’n wit hospitaalbed
vol pype, pyne en bottels
en sê dit gaan goed
en nes veertien jaar gelee sê
hy wil ons nie ophou nie
my ma word in najaar
die jare rol duidelik van haar af
sy is afgeleef en bleek
en mooi soos ’n moeder.
na ’n lang tyd was ek weer tuis
Kontrei en heimat
Die Oos-Kaapse Karoo en die omgewing rondom Somerset-Oos, die plaas Malvern en Bracefield waar Gerwel gebore is en sy laerskoolopleiding ontvang het, figureer in heelwat gedigte en is vir hom ’n tuiste. ’n Heimwee na die aardsheid en eenvoud van die mense en die plek wat hom geborgenheid gee, spreek uit die verse. In “My kontrei” sê hy:
Onder die Suurberge waar ek grootgeword het
groei daar aalwee
en alwynmense, taai en bitter
(van die bitterheid al wynmense)
Onder die Suurberge waar ek grootgeword het
blom die alwee nie aldag nie
word taaier en bitterder, maar nou
dat hulle nog eenjaar sal deurbors blom:
rooi en soet alwynblomme:
bloedrooi en soet soos wraak
en uittroon oor die grys veld
My kontrei kweek bitter mense.
Die beelde beskryf die unieke kleur en tekstuur van die omgewing. Die bitter toon in hierdie natuurbeskrywing kan nie misgelees word nie en slaan moontlik op die moeilike omstandighede waarin sy mense ’n lewe moet maak. Let ook op die woordspeling met “alwynmense” en “al wynmense”.
Die Suurberge duik weer op in “biddag op die Berg”.

Die titel resoneer met die Vlaamse digter Guido Gezelle se “Gij badt op eenen berg” uit 1859. Hierdie gedig was ’n gunsteling- voorgeskrewe werk in Gerwel se tyd. Dit herinner ook aan die Bergpredikasie uit Mattheus 7. Die eerste strofes lui:
vandag weet ek sal my pa weer
in die Suurberge gaan biduur hou;
tussen die heidene en die boeboesbosse7
en die Woord van God weer bring
dalk was my broers ook saam
heilig en gered in hul swart pakke en wit motors
en die ongoddelike gemeentetjie
(die meeste van hulle is familie van my pa)
vir wie God met sy wit Opels en double-breast suits
slegs ’n abstraksie is wat my pa eenmaal per jaar
Suurberg toe bring
sal vol ontsag staan voor sóveel genade
en verontskuldigend aan my pa en die Here vertel
van die bokke wat lam
en vanjaar weer ’n tier in die berg ...
ek wonder as ek tuis was wat sou ek dié keer sê
soos my pa sy kierie vat
en stil die veld in stap
na waar sy kudde wei?
Die eenvoud van sy pa se godsdiens kontrasteer met sy broers se geveinsdheid, die gewydheid van sy pa se bergpredikasie teenoor die alledaagse sleur: “die vlieë in nig Mieta se kombuis /... die snot in die vuil neusies van my neef se kinders. Hierdie gedig resoneer met Adam Small se “Doemanie”: die eenvoud en heiligheid van Johannes die Doper teenoor die materialisme en hoogheidswaan van predikante en leiersfigure.
Dis begryplik dat Gerwel se verse sal resoneer met Small se gedigte, sy eertydse filosofiedosent en latere gespreksgenoot. Small se beskrywing van die onderonsie tussen die vrugteverkoper en die wit vrou weerklink in “Ballade”, alhoewel met minder spot en satire:
Op die hoek van Adderleystraat
het mense druk gebeur
voor die lig van groen na rooi toe slaat.
’n Jong wit meisie en ’n vrou
van donker kleur
het gelyk gemik om oor te tou.
Die meisie van dié ruim land
en die vrou van dié groot land
het gevind dat hulle onvermydelik bots
waar die lyne van hul paaie kruis;
altwee steek vas en begin gelyktydig weer
maar net toe stop die groenlig-sluis.
Hulle lig hul koppe en glimlag in mekaar
se oë en staan terug die robottoestemming
af te wag, gelate in die skaar.
Toe die monster grys-dreig met sy rooi-oog mag
Het twee mense ’n oomblik met mekaar gelag.
Die titel van “Bruinman, bruinman” herinner aan Small se “Bruinman hoekom kommer”. Dis veral in die inhoud dat trekke van Small duidelik blyk:
kom! rook jou boom; wat anners wil jy doen
met jou stof-en-dop-en bruinvel rantsoen.
Room se kleur is wit en witkind se voorland is room
Boom se kleur is bruin en bruinklong se héle land is boom.
Maar daai’s genoeg, my basie, daai’s genoeg
– plus daai paar doppe in die non-white kroeg –
daar’s genoeg vir ons om ons bek te hou
ons next generation kan miskien ’n beter nasie bou.
Gerwel se vernuftige woordspel,8 bedrieglike eenvoud en gebruik van die ritme van ’n speelse rympie met onderliggend daaraan ’n wrange humor resoneer weer met Small. Vergelyk ook “Kinderspel”:
rondomtalie – draai
in my malle moer in swaai
miskien skud alles deurmekaar
agtermekaar
of inmekaar
want wat is deurmekaar
al’s is deurmekaar
nou skud dit so met rond
-omtalie-draai
stront!
niks sal regkom nie
(wie weet, miskien!)
ja, wie weet?
ek, ek wil weet
ek wil weet wie weet
wie? hoekom?
wie die hele bleddie deurmekaar ding
begin,
gemaak.
Hoekom, vir wat?
Net ’n lat
Vir my eie gat?
rondomtalie-draai
in my malle moer in swaai.
Slot
Dit is nogal jammer dat Gerwel nie aangehou het met sy kreatiewe skryfwerk en een of meer digbundels of selfs romans die lig laat sien het nie. Dit sou ’n interessante aanvulling tot Small se werk wees – selfs tot dié van SV Petersen en PJ Philander – en ’n verdere blik van ’n swart Sestiger9 op die Afrikaanse letterkunde gee.
* Redakteursnota
Die gebruik van die koppelteken in skryf-werk is die skrywer se voorkeur.
Eindnotas
1 Baie dankie aan die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) vir befondsing om hierdie navorsing te doen.
2 Phoebe Gerwel het op 26 Maart 2026 per WhatsApp toestemming gegee dat ek die materiaal in die argief kan gebruik.
3 Telefoniese gespek met Annari van der Merwe, 30 Junie 2026.
4 Greeff, Rachelle. 2024. Phoebe: ’n lewe saam met Jakes Gerwel. Pretoria: Boekdiva uitgewers, bl 96.
5 Vergelyk die voordragte “Afrikaner, Afrikaans, Afrika” (1976) en “Afrikaans – ’n toekomsperspektief” (1983) opgeneem in die bundel Skrywer en gemeenskap, Charles Malan en Bartho Smit (reds), HAUM-Literêr.
6 Vergelyk die versreël “noudat ek agter ’n baard kou” uit Breytenbach se gedig “’n brief van hulle vakansie”.
7 Die Suurberge is ’n bergreeks tussen Somerset-Oos en Gqebergha. “Boeboesbosse” is waarskynlik ’n streektaaltermm want dit is nie opgeteken in die WAT nie.
8 Kyk ook na die gedig “Fonektiekklas”:
Waardige hoogleraar met groot begrip
Verduidelik foneem-sisteem of manuskrip:
“die l-foneem ’n lateraal,
“die ie ’n voorvokaal
“die f ’n stemlose frikatief
“sien, here, die sisteem-gerief”.
dié lateraal voorvokaal en stemlose frikatief
in dié student se stemsmekende idiolek
spreek in ’n dowe sisteem-heelal: lief
en weerklank ’n naamlose, verenkelde ek.
9 Kyk Small se artikel “Krisis van ’n swart sestiger” in Die Sestigers, J Polley (red), Human & Rousseau, 1973.
Lees en kyk ook:
Jakes Gerwel: Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small
Erika Terblanche: ATKV|LitNet-Skrywersalbum: Jakes Gerwel (1946–2012)
Chris Barnard: Ik ben een Afrikaan
Johan Degenaar: Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld
Steward van Wyk: Hibriditeit, of die baster in ons
Bettina Wyngaard: Jakes Gerwel se skrywersnalatenskap
Melt Myburgh: Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans
Heindrich Wyngaard: Jakes Gerwel: die wording van ’n legende
Paul Kammies: ’n Oorsig oor die Jakes Gerwel-gedenklesing 2023 | About the Jakes Gerwel commemoration lecture 2023
Jason Lloyd: In Memoriam: Jakes Gerwel
Riana Scheepers: Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was
Mphuthumi Ntabeni: Kemi Badenoch: The Africa that was not born in her
Alwyn Roux en Yves T'Sjoen: Brief en repliek: Beeldvorming van (Suid-) Afrikaanse digters in die Lae Lande
Ingrid Glorie: Memoires van een hoofmeisie
SJ Naudé: In watter saal word gepraat? Hoe ver trek die klank?
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo


