In watter saal word gepraat? Hoe ver trek die klank?

  • 1

As mens in die 19de eeu ’n romanskrywer in Brittanje was, het jy boeke vir jou medeburgers geskryf. Selfs al het jou storie dalk elders afgespeel – in kontinentale Europa, byvoorbeeld, of iewers in die kolonies – het jy nie lesers in daardie lande in gedagte gehad nie, en veral nie koloniale onderdane van die Britse Ryk (in soverre hulle geletterd sou wees) nie. ’n Mens kan dus sê dat sulke skrywers – diep ingebed in die literêre tradisies van hulle eie nasionale en taalwêreld – aangeneem het dat, en geskryf het asof, hulle in ’n “volksgrootte” saal inpraat. Dis nie dat hulle onbewus was dat hulle ook elders gelees sou word nie, ook in vertaling, maar hulle ooglopende leser was Brits en hulle natuurlike literêre skeppingsruimte Brittanje. Die mag en prominensie van die kulturele wêreld waarin hulle beweeg het, gekoppel aan staatsmag en koloniale reikwydte en -rykdom, het dit verseker. Om in so ’n oënskynlik natuurlike en noodwendige kulturele habitat te leef, het die literêre tradisies en konvensies daarvan (en selfs bepaalde maniere om dit uit te daag) ook vanselfsprekend laat voel. Die grootte van die Britse lesersmark en die stabiliteit van die literêre sisteem en meganismes van literêre reputasievorming in Brittanje het voorts draagkrag gebied vir literêre produksie en skrywerlike selfvertroue. En daar is die feit dat die wêreldsentra van boekpublikasie, Londen en New York, in die Anglo-Amerikaanse sfeer gesetel was. Dit was nie nodig vir die 19de-eeuse Britse skrywers om hulle te verbeel hoe hulle werk elders ontvang sou word nie. Die aanname was dat die ontvangs elders in elk geval bepaal sou word deur resepsie in hulle eie eggoruimte.

Sou ’n mens in daardie tyd geskryf het in wat vandag soms die Globale Suide genoem word, sou jou posisie heel anders wees. Vir wie het Olive Schreiner, byvoorbeeld, aangeneem sy skryf? The story of an African farm, as die eerste Suid-Afrikaanse roman, het nie voldoen aan die konvensies van romans wat vir 19de-eeuse Britse lesers herkenbaar sou wees nie – dit was nie ’n avontuurlike boek oor koloniale ervaringe nie, en ook nie ’n hoflike middelklasroman of die soort gewilde fiksie wat toe in Brittanje aan die orde van die dag was nie. En tog: Sy sou die boek noodwendig Londen toe moes stuur om deur Britse uitgewers oorweeg te word vir die Britse lesersmark. Sy sou wel moes verstaan het dat die hekwagters vir publikasie ingebed was in die publikasiekriteria wat in die Britse mark gegeld het. Schreiner moes ten minste een oog hou op haar potensiële lesers wat hulle hoofsaaklik in die noordelike halfrond bevind het.

Met Engelstalige romans in Suid-Afrika was dit inderdaad sedertdien altyd die geval, in ’n mindere of meerdere mate, ook in moderne tye, dat skrywers nie net hulle plaaslike mark nie, maar ook moontlike lesers in die Noorde in ag moes neem. Dit wil sê, by die instelling van hulle stemtoon sou hulle moes oorweeg dat hulle hoorbaar mag wees in sale langsaan. Selfs al sou hulle nie strategies vir lesers in die buiteland skryf nie, was hulle gewoonlik op een of ander vlak bewus daarvan dat hulle hopelik elders gelees gaan word, en as hulle eers ’n internasionale lesersmark gevind het, hoofsááklik daar gelees sal word. Veral in die era van apartheid was die belangstelling in Suid-Afrikaanse fiksie grootliks gekoppel aan Westerse belangstelling in Suid-Afrikaanse politiek en die oorwegende anti-apartheidsentimente van opgevoede buitelandse lesers. Overgeset synde, was sodanige belangstelling dikwels ’n projeksie van kwellinge voortspruitend uit Westerse lande se eie geskiedenisse van slawerny en kolonisering en die eggo’s daarvan in hul eie destyds kontemporêre politieke bewussyn – dit wil sê, die dinamika wat toe in hulle eie binnelandse politiek uitgespeel het.

’n Skrywer soos Nadine Gordimer, hoewel gefokus op Suid-Afrikaanse omstandighede en verhale, sou byvoorbeeld akuut bewus gewees het van die voorkeure van opgevoede middelklaslesers in die noordelike halfrond – dit wil sê, van hulle eie politieke geskiedenisse en preokkupasies, asook hulle literêre smaak en sensibiliteite in die lig van Anglo-Amerikaanse literêre tradisies en kulturele konteks. André Brink (wat as beide Afrikaanse en Engelse Suid-Afrikaanse skrywer beskou kan word) sou in die lig van sy Franse verbintenisse en direkte toegang tot die Franse literêre ruimte, weer ’n sterk aanvoeling hê vir die kontinentaal-Europese benadering tot en die lesersbehoeftes (ook in terme van politieke sentimente) van veral Franse lesers. Dit beteken natuurlik nie dat sulke romansiers bloot sinies of strategies in hulle benadering was nie; hulle eie sterk politieke oortuiginge was sekerlik terselfdertyd kardinaal belangrik in hulle werk. Hulle bewustheid van en sensitiwiteit vir hul belangrike noordelike lesersmarkte was wel ’n noemenswaardige aspek wat onderliggend was aan hul skryfprosesse en -keuses.

Dit is ook die geval dat die Suid-Afrikaanse Engelstalige fiksielesersmark (histories oorwegend wit) in die algemeen redelik min vertroue het in Suid-Afrikaanse letterkunde, en blykbaar ook min vertroue in hulle eie oordeel oor literêre kwaliteit. Suid-Afrikaanse literêre fiksie in Engels word in klein getalle plaaslik gelees. Ofskoon daar in die afgelope jare gewoonlik aparte boekwinkelrakke is vir Afrika-letterkunde (insluitend Engelse Suid-Afrikaanse boeke, maar nie Afrikaanse boeke nie, wat op anomaliese wyse hul eie rak kry), val sulke boeke in dieselfde markpoel as die internasionale werke in Engels wat hier verkoop word. Dit is, ironies, gewoonlik vir ’n plaaslike Engelse skrywer nodig om eers ’n internasionale profiel op te bou voor sy of haar werk wyd gelees word in Suid-Afrika. In die lig hiervan, en weens die toenemende globalisering van die boekemark oor etlike dekades, insluitend die gemaklike opsie om boeke onmiddellik digitaal te kan aflaai, het Suid-Afrikaanse skrywers wat in Engels skryf, nie juis ’n ander keuse as om hulself leesbaar te probeer maak vir lesers in die noordelike halfrond nie. En om rekening te hou met hoe lesers in daardie markte Suid-Afrikaanse werk sal ontvang nie. Die werklikheid is wel dat dit maar enkele Suid-Afrikaanse skrywers beskore is om ’n noemenswaardige internasionale lesersgehoor op te bou, soos verder hier onder bespreek.

Die Afrikaanse saal, politiek en eksperimente

Die konvensionele wysheid is dat Afrikaanse letterkunde histories ’n sterker band het met die Suid-Afrikaanse bodem en die wêreld van plaaslike lesers, as plaaslike Engelse fiksie. Dit is inderdaad die geval met die romans van die vroeë 20ste eeu – dit wil sê, die vroegste Afrikaanse romans: van die plattelandse hiperplaaslikheid van ’n Jochem van Bruggen tot die plaasromans van ’n CM van den Heever. Hierdie vroeë Afrikaanse skrywers se visier was gemik op (wit) Afrikaanse lesers. Die idee van buitelandse lesers, of ander Suid-Afrikaanse lesers, sou waarskynlik skaars by hulle opgekom het. Later, in die 1960’s, soos politieke weerstand onder Afrikaanse skrywers groei, raak Afrikaanse letterkunde meer polities georiënteerd. Hoewel dit stilisties/formeel toenemend beïnvloed word deur allerlei kontinentale benaderings of denkrigtings, veral die modernisme en postmodernisme, is die werk ruimtelik gewoonlik steeds ingebed in die Suid-Afrikaanse landskap. Sekere skrywers, soos Brink, wat in twee tale geskryf het en hierbo in die konteks van Engelstalige skrywers genoem is, sou meer bewus gewees het van ’n buitelandse gehoor, gegewe sy destydse groeiende profiel in veral Frankryk en die Anglo-Amerikaanse wêreld. ’n Skrywer soos Etienne Leroux het ook ’n beskeie aantal lesers in die noordelike halfrond gehad, en insgelyks Karel Schoeman, wat tye lank in Ierland, Engeland en Nederland gewoon het. Laasgenoemde twee skrywers was, soos die meeste Afrikaanse skrywers, nietemin in die eerste plek op plaaslike lesers gerig.

In die postapartheidera het die belangstelling van lesers in die noordelike halfrond in Suid-Afrikaanse letterkunde aansienlik getaan. Dit is eenvoudig ’n werklikheid, soos reeds hierbo uitgewys, dat die politieke fokuspunte van noordelike halfrond-gemeenskappe op ’n gegewe oomblik ’n groot rol speel in wat hulle lees. Westerse stedelike gemeenskappe is natuurlik hoogs kosmopolitaans in die moderne tyd, wat bydra tot die toenemende publikasie van internasionale/vertaalde werk in die Weste. Oorhoofs is daar egter steeds relatief min lesers in Westerse lande wat buitelandse literêre werke lees, veral as dit vertaal is. Omdat die meeste Suid-Afrikaanse letterkunde wat al noemenswaardig internasionaal gesirkuleer het, in die apartheidera verskyn het, beteken dit wel dat daar sekere verwagtinge gekondisioneer is by internasionale lesers. As hulle aan Suid-Afrikaanse letterkunde dink, dink hulle heel moontlik eerste aan ’n Brink- of Gordimer-roman van die 1960’s tot 80’s. Dit wil sê, ’n realistiese roman wat in Suid-Afrika afspeel en gewoonlik onderlê word deur ’n morele vraagstuk, en waarin politieke boosheid heel duidelik kenbaar is – dit wil sê, met die duidelike morele onderskeide wat toe in Suid-Afrika moontlik (en noodsaaklik) was. Sulke boeke kon lesers ’n bevredigende gevoel van verontwaardiging en meerderwaardigheid gee, nie omdat die boosheid noodwendig oorwin word nie, maar omdat die leser dit so helder en met so ’n gevoel van afsku kon eien.

Die idee van die skrywer as politieke waarsêer en vryheidsfakkel was teen die 1960’s al eintlik redelik uitgedien elders in die wêreld. Faktore soos die groeiende erkenning van individuele regte in Westerse lande en die opkoms van ondersoekende joernalistiek het beteken dat die rol van die skrywer as boegbeeld van politieke bevryding en verandering geleidelik begin vervaag het. Politieke aktivisme het sedert die 60’s ’n veel meer effektiewe roete geword om sosiale verandering te probeer teweeg bring. In Suid-Afrika het fiksie daarenteen egter toenemend polities gefokus geraak in die tweede helfte van die 20ste eeu. Die rede hiervoor was die anomalie van die formalisering van ’n stelsel van rasseklassifikasie juis toe die noordelike halfrond wegbeweeg het van hul eie geskiedenisse van kolonisering en vooroordeel, veral ná die tragedie van die Jode-uitwissing tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is waarskynlik die geval dat party van die 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse skrywers wat ’n merk gemaak het in die internasionale sfeer, in die afwesigheid van die spesifieke historiese belangstelling in die destyds voortslepende onregte van apartheid en die outomatiese prominensie wat sulke verhoogde fokus op polities bewuste Suid-Afrikaanse skrywers verseker het, nie dieselfde prominensie sou verkry het nie. Sekere skrywers wat in daardie era ’n hoë internasionale profiel gehad het, se werk sal in die toekoms insgelyks ook vinniger vervaag in die internasionale kanon as ander s’n.

Soos hierbo uitgewys, was realisme, as die mees effektiewe stilistiese voertuig vir polities gelaaide werk, aan die orde van die dag in Suid-Afrika. Daar was relatief min ruimte vir formele eksperimentering. Uitsonderings op die bloudruk was daar wel. JM Coetzee, wie se werk seker die wydste gelees word van alle Suid-Afrikaanse skrywers, kon byvoorbeeld vormlike vernuwing en waagmoed op uitsonderlike wyse kombineer met diepe etiese besinning. En sy bepaalde vormgewing is dikwels noodsaaklik of noodwendig vir genoemde besinning. Sy leser is op meer onverwagse en ontwrigtende maniere as Brink of Gordimer tot selfondersoek gedwing. Coetzee en Damon Galgut se etiese erns en diepgang, gekombineer met vormlike kompleksiteit, sal waarskynlik beteken dat hulle langer gelees sal word. Galgut, as die jongste skrywer in hierdie viertal, is die enigste wat sy belangrikste werke in die postapartheidera gepubliseer het. Hy is naas Coetzee die mees gelese en internasionaal bekroonde lewende Suid-Afrikaanse skrywer (die enigste ook, benewens Gordimer en Coetzee, wat nog die Booker-prys gewen het, wat ondanks geldige moontlike kritiek die mees prominente internasionale boekprys bly). Galgut se postapartheidwerk breek daarby gereeld tematies en ruimtelik uit die greep van die geskiedenis wat die Suid-Afrikaanse skrywer so kan dwing en knel. Sedert 1994 het sy werk ook formeel meer waagmoedig geraak.

Suid-Afrikaanse boeke in die nuwe tye

Ofskoon Brink, Gordimer, Coetzee en Galgut die enigste Suid-Afrikaanse literêre skrywers is wat al ’n groot, wydverspreide en lank standhoudende lesersgehoor in die noordelike halfrond kon opbou, is daar ander eietydse skrywers van wie boeke ook meer sporadies in die noordelike halfrond uitgegee is tydens laat-apartheid en daarná – dink byvoorbeeld aan Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Willem Anker, Eben Venter en Etienne van Heerden in Afrikaans, of Michiel Heyns, Henrietta Rose-Innes, Masande Ntshanga en, meer onlangs, Karen Jennings in Engels.

Dit is veral opvallend dat daar géén Suid-Afrikaanse literêre skrywer is wat ná 1994 begin publiseer het en sodanige groot en wydverspreide lesersgehoor in die Noorde opgebou het nie. Een rede is sekerlik dat die internasionale fokus ver weg van Suid-Afrikaanse politiek verskuif het en daar gevolglik baie minder belangstelling in Suid-Afrikaanse kultuurprodukte is. Apartheiderawerke wat ingebed was in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en met ooglopend politieke strekking en temas, is dikwels steeds die enigste soort Suid-Afrikaanse werke wat buitelandse lesers as tiperend eien. Sulke lesers is steeds gekondisioneer vir ’n heel bepaalde soort 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse roman. Die model van ’n Brink- of Gordimer-boek, waarin, soos hierbo genoem, ’n duidelike morele vraagstuk binne Suid-Afrikaanse konteks gedramatiseer word, met al die bekende trope, talm nog vaagweg in heelwat lesers se agterkop as die norm. ’n Mens sou selfs kon sê dat die noordelike leser nostalgies voel, dalk nie hunkerend na apartheid self nie, maar na die soort bevrediging van die binêre moraliteit wat baie Suid-Afrikaanse romans van daardie tyd kon (en moes) uitbeeld.

Die kompleksiteit en onbeantwoordbare vrae wat opgewerp word deur ’n postapartheidroman wat stoei met nuwe Suid-Afrikaanse werklikhede, en sonder ’n lineêre Suid-Afrikaanse meesterbevrydingsnarratief as ideaal, is heelwat minder verteerbaar. Dis meer disoriënterend om ’n greep te kry op nuwer literêre werk wat die werklikhede van die 21ste-eeuse Suid-Afrika probeer aanspreek – werke wat noodwendig minder patroonmatig is, oper, formeel en struktureel meer kompleks. En wat buite die trope van die 20ste eeu begin beweeg – soms ver buite die sfeer van die Suid-Afrikaanse geskiedenis en politiek – in ’n tyd waarin daar ’n aansienlike diaspora is van Suid-Afrikaners.

Dit is verbasend dat daar, 30 jaar na die val van apartheid, steeds min sterk en oorspronklike literêre werk verskyn wat die huidige komplekse werklikheid van hierdie land in ernstige, oortuigende en kritiese terme aanspreek. Een rede is dalk dat skrywers hulle op ’n groter afstand bevind vanaf die magsentrum as in die apartheidera. Hulle ervaar sekerlik, soos baie ander Suid-Afrikaners, ’n gevoel van magteloosheid om die politieke misbruik en oneerlikheid teë te staan. Sosiale en politiese verdeeldheid, oorweldigende armoede en ongelykheid, die algemene gevoel van diskontinuïteit in ons gemeenskap en die openbare lewe, die spoed van verval en graad van politieke wanbestuur, asook straffelose kriminaliteit van magshebbers dra alles by tot ’n gevoel van oormag en afgryse, en laat skrywers soms in ander rigtings draai vir materiaal.

In die apartheidjare het kritiese houdings, veral in Afrikaans, gekom van skrywers wat hulle kultureel nader aan die magsentrum bevind het. Die boek as sodanig het ook nog groter invloed gehad. Dié wat aan bewind was, het hulle gesteur aan die risiko’s van literêre protes. Intussen, in die era van Netflix, sosiale media en die algemene demokratisering van stemme en toenemende sentraliteit van visuele kultuur, het die boek se posisie verander. Die een plek waar daar inderdaad nog ’n aansienlike lesersmark is, is in die noordelike halfrond. Maar omdat die verwagtinge in daardie markte op bepaalde maniere gekondisioneer is en omdat plaaslike skrywers dit dalk uitputtend vind om op die versplinterde werklikhede van hierdie land te bly fokus, is daar ook ’n soort verligting daarin om Suid-Afrikaanse romans buite hierdie land te laat afspeel – dit bied wyer tematiese moontlikhede en ruimtes wat vir Suid-Afrikaners-in-diaspora meer bekend of minder onherbergsaam kan wees as die vervreemdende en chaotiese hedendaagse Suid-Afrika. Baie lesers is ook so wars van die sosiale en politieke werklikhede van Suid-Afrika, dat dit moeilik kan wees om boeke te bemark wat te naby aan hierdie werklikhede beweeg.

Die internasionale boekbedryf lyk nou heel anders as in die 1960’s tot 90’s. Die era van uitgewerye wat as stokperdjies bedryf word deur toegewyde bibliofiele, is grootliks verby. Uitgewers het op aansienlike skaal saamgesmelt en al groter geword. Hulle het dikwels publieke aandeelhouers en word strenger volgens besigheidsbeginsels bestuur. En die ekonomie van boeke publiseer is ingewikkeld. Groot uitgewershuise in die Weste maak net uit ’n redelike klein persentasie van hul publikasies wins (veral uit biografieë van glansfigure, sporthelde en politici; resepteboeke; en ’n handvol skrywers se kommersiële fiksie). Hulle is risiko-avers. Interessante nuwe literêre skryfwerk word dikwels deur kleiner onafhanklike uitgewershuise uitgegee, wat gereeld sukkel om kop bo water te hou. En groot uitgewers neig om sulke skrywers af te rokkel as hulle werk kommersieel suksesvol word.

Met die vermenigvuldiging van kreatiewe skryfkursusse het die aantal fiksiemanuskripte wat jaarliks wêreldwyd geproduseer word, aansienlik toegeneem. Om uit te gee in die noordelike halfrond het uitsonderlik moeilik geword. Omdat ons plaaslike boekemark klein is, funksioneer dit meesal sonder literêre agente. Hoewel Suid-Afrikaanse uitgewers by geleentheid boeke voorlê aan noordelike uitgewers, is dit in die algemeen nie moontlik om uitgewers in die noordelike halfrond te nader behalwe deur ’n literêre agent nie. Die gemiddelde Londense agent sal dalk een uit ’n 1 000 manuskripte wat hul jaarliks gestuur word, aanneem, en ook nie alle skrywers wat hulle verteenwoordig, word gepubliseer nie.

Waar laat dit die Suid-Afrikaanse skrywer in die 2020’s, en veral die Afrikaanse skrywer, wat histories ’n tree verder verwyderd was van internasionale lesersmarkte? Dit is uitstekend vir Afrikaanse literêre skrywers dat daar ’n ondersteunende plaaslike lesersmark is. Ofskoon daar nie so baie van hulle is nie, neig Afrikaanse lesers om ingelig en belese te wees. Hulle het kosmopolitaanse leesgewoontes, soos alle ernstige lesers in die 21ste eeu, maar hulle is ook geïnteresseerd in die interessante en ongewone werk wat in Afrikaans geskryf word. Die Afrikaanse prosa, met sy aangetrokkenheid tot die laat-modernisme en postmodernisme sedert die 60’s, en die unieke posisie van Afrikaans en die Afrikaanse kultuurruimte in Suid-Afrika en die wêreld, sorg vir eiesoortige letterkunde.

Ja, Afrikaans is deels gekaap vir propaganda tydens die apartheidera, maar Afrikaanse kultuurproduksie het nooit werklik ingeval by daardie projek nie. Inteendeel. Afrikaans is ’n dwarse (en hier-en-daar wêreldklas-) letterkunde. Al is Afrikaanse skrywers se lesersmark ondersteunend, is dit klein en krimpend. Dalk nie soseer vir kommersiële prosa nie, wel vir werk van goeie kwaliteit. Dit is natuurlik die geval dat Afrikaanse skrywers, soos alle skrywers, soveel moontlik lesers vir hulle werk wil vind. Engelssprekende Suid-Afrikaanse lesersgehore bied nie die vrugbaarste veld vir vertaalde plaaslike werk wat, net soos plaaslike Engelse letterkunde, nie wyd gelees word nie. Dus rig mens jou noodwendig na die Noorde, en in die geval van Afrikaanse literêre werk beteken dit dikwels dat die boek as’t ware bo-oor die Suid-Afrikaanse Engelse mark moet spring om ’n behoorlike oorsese Engelssprekende lesersmark te vind. Maar weens bogenoemde faktore is dit geen grap nie.

Ek, noord en suid

Teen hierdie agtergrond is my eie posisionering enigsins kompleks. Ek het in 2011 in Suid-Afrika begin publiseer, lank ná die politieke oorgang in Suid-Afrika. Ek het Suid-Afrika voorheen verlaat, in die 1990’s, toe ek in my vroeë 20’s was, grootliks omdat die omgewing waarin ek grootgeword het as ’n queer kind en jongmens in die 1970’s en 1980’s vir my onleefbaar gevoel het en ek gereken het dat ek net elders as in Suid-Afrika ’n vervullende bestaan sou kon voer. Na 16 jaar van studeer en woon en praktiseer as regspraktisyn in die VSA en Brittanje, het ek my sorgsaam opgestelde beroeps- en persoonlike lewe in die Noorde agtergelaat en teruggekeer na die Suide, waar ek nou ’n vreemdeling sonder enige bande behalwe familieverbintenisse was. Dit was ’n veranderde Suid-Afrika waarheen ek teruggekom het, een met ’n versplinterde kultuurlandskap en ’n toenemend wanfunksionele politieke werklikheid, waarop dit moeilik bly om ’n greep te kry. En hier het ek begin fokus op skryf, in ’n klein taal wat net in een land op die suidelike rand van die wêreld gepraat word. En van hier af het my werk noordwaarts begin terugreis by wyse van publikasie in Brittanje, Noord-Amerika, Australië en kontinentale Europa. Vir iemand wat jare lank gewerk het as ’n internasionale korporatiewe regspraktisyn, is dit ’n ongewone reis. Eens was ek ’n sogenaamde cross-border mergers and acquisitions lawyer. Dan reis ’n mens terug suid en word van hier af ’n soort cross-border skrywer.

Heelwat van my werk speel buite Suid-Afrika af, wat nie so ongewoon is vir Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde nie, maar dalk minder algemeen is vir Afrikaanse letterkunde. My kortverhale en romans speel in heelwat ander lande af, insluitend Engeland, Lesotho, Japan, die VSA, Italië, Ysland, Frankryk, Serwië en Duitsland. Met die uitsondering van Dol heuning, is al my boeke tot dusver in die noordelike halfrond gepubliseer en sirkuleer in heelwat groter getalle in Engels en kontinentaal-Europese tale as in Afrikaans. Behalwe my laaste roman, het ek ook my boeke self in Engels vertaal. Die Engelse vertalings dien dan as basis vir verdere vertaling.

Kulturele hibriditeit en die toestand van postnasionaliteit en tussentaligheid is ook sterk onderstrome in my eerste boek, die bundel Alfabet van die voëls, wat ek self in Engels vertaal het. Die posisie van emigrant wees (wat postnasionaliteit voorafgaan op die manier waarop pidgin kreools voorafgaan) voel soos ’n konstante vertaling van die self vir die nuwe kulturele wêreld, en van daardie wêrelde vir die self. As dít beteken dat die emigrantskrywer se ervaring geleë is op die snypunt van verskeie vektore van kulturele vertaling, en as hierdie ervaring ’n tema word in sy werk, dan is die handeling van tekstuele vertaling dalk ’n soort opvoering van die temas van die verhale. En as ’n kultureel hibriede bewussyn beteken dat mens se interne lewe ’n proses van konstante vertaling in etlike rigtings behels, dan kan ’n werk wat van so ’n binnelewe spreek dalk gesien word as een wat tussen tale bestaan, en dan behoort mens dalk ook nie die Afrikaanse weergawe van die boek as die definitiewe of oorpronklike weergawe te sien nie.

In al my werk wend ek ook, onder andere, pogings aan om gestalte te begin gee aan ’n komplekser beeld van die postapartheidwerklikheid in Suid-Afrika. Dit is wel vanuit die perspektief van iemand met ’n verdubbelde – of gesplete – soort suidelike en noordelike identiteit, en daarby, moet ek erken, ’n oorblywende soort wrewel, of ten minste ambivalensie, teenoor die plek van my eie jeug, teenoor hierdie land waarin sulke brutale en rigiede opvattings rondom mag en manlikheid so lank geseëvier het – houdings wat ’n omgewing in stand gehou het waarin ek en baie ander fundamentele ongemak ervaar het. En nog steeds soms ervaar.

In my mees onlangse roman, Van vaders en vlugtelinge, laat my protagonis Daniël sy gerieflike dog blekerige lewe in Londen agter en eindig saam met sy neef Theon op die familieplaas in die diep Vrystaat op. In die verhaal word Daniël uit die kosmopolitaanse lewe wat hy vir homself opgestel het in ’n stedelike Eerste Wêreldomgewing, verwyder en word die prekêre balans wat hy gevind het tussen tuiste en nie-tuiste ontwrig. Ek wou Daniël as’t ware herparogialiseer, hom op gedwonge wyse inbed in ’n afgeleë Suid-Afrikaanse landskap, en die verhaal dan van daar af sy loop laat neem. Die storie behels ook ’n konstante sikliese beweging heen en weer tussen Noord en Suid. Daniël en sy neef reis naamlik later met ’n siek seun Japan toe vir ’n eksperimentele behandeling. Hulle keer terug na Suid-Afrika. En dan gaan Daniël Engeland toe en keer weer terug Vrystaat toe, net om sy neef dan saam met hom Engeland toe te neem en uiteindelik weer kortstondig en finaal terug te keer Suid-Afrika toe.

Is kosmopolitaans en parogiaal teenpole?

Dit is natuurlik allesbehalwe noodwendig dat boeke wat in wêreldstede of oorsese ruimtes afspeel, goeie of wyd leesbare letterkunde vergestalt. Van die wêreld se grootste letterkunde is juis in parogiale of provinsiale ruimtes geskryf, partymaal met ’n fokus op hiperlokale ruimtes en karakters. Die vraag of ’n boek goed reis tussen lande, kulturele ruimtes, tale en tye het eindelik te make met ’n dieper soort aanspraak op menslike empatie en nuuskierigheid; eensaamheid en droefheid; hunkering na verbintenis en betekenis; en die menslike storielus wat uit hierdie dinge spruit. En dit neem dikwels baie lank – generasies – om uit te vind watter boeke dit regkry om aanspraak op lesers se aandag te bly maak, om te blý boei.

As prosa bewustelik internasionaal of kosmopolitaans wil wees, het dit allesbehalwe noodwendig daardie effek. Ek weet van etlike boeke wat in wêreldstede afspeel en nogtans parogiaal en oninteressant is. ’n Strategiese poging om kosmopolitaans te skryf om lesers in die noordelike halfrond spesifiek te probeer teiken, sal nie werk nie. Noordelike lesers is, ironies, dikwels juis geïnteresseerd in Suid-Afrikaanse eksotika. Op ’n enigsins chauvinistiese manier, is Britse lesers nie noodwendig geneë daarmee dat ’n Suid-Afrikaner oor Britse onderwerpe skryf of direk met noordelike kulturele tradisies in gesprek tree nie. In hierdie opsig dink ek byvoorbeeld aan Damon Galgut se boek Arctic summer, ’n ligweg gefiksionaliseerde weergawe van EM Forster se (skryf-) lewe. Van sy laaste vyf romans het dit die minste sukses in die noordelike halfrond behaal. En onder daardie boeke is dit die enigste een wat nie ’n verbintenis met Suid-Afrika het nie. Dit speel volledig elders af, grootliks in die Noorde, en handel oor ’n histories belangrike Britse skrywer. Dit is argumenteerbaar dat die mindere sukses van hierdie boek te make gehad het met die intieme betreding van die terrein van Engelse literêre geskiedenis.

My eie skrywes óór die Noorde (of, dalk meer akkuraat, oor die spanning en affiniteite tussen Noord en Suid) verteenwoordig nie ’n selfbewuste manier om vír die Noorde te skryf nie. Dit is eenvoudig so dat ek lank genoeg in daardie Noorde deurgebring het dat my verbeeldingswêreld geografies gesproke dikwels noord, insluitend noordoos of noordwes, of gelyktydig in ’n klomp verskillende rigtings neig. Ek voel dalk soms ook dat ek nie een spesifieke ruimte of geografiese of kultuurwêreld goed genoeg ken om ’n hele boek daar te laat afspeel nie. My karakters leef dikwels tussen wêrelde. En tussen tale.

So, al het ek nie spesifiek ’n noordelike leser (of dalk enige ander leser as ek) in gedagte wanneer ek skryf nie, behels my werk wel ’n beskeie poging om deur nie-Suid-Afrikaanse lesers se kondisionering rakende Suid-Afrikaanse letterkunde te wil breek. Ek wil onder andere daarop aandring om iets oor te dra van die etiese kompleksiteit – die moerasagtige ongedetermineerdheid – van Suid-Afrika se huidige toestande. Of so iets moontlik is, of noordelike lesers genoeg belangstel in daardie toestande en of iets wat in hierdie tye in Afrikaans deur ’n wit skrywer geskryf is, so ’n doel kan dien, is seker ’n ope vraag. Wat ek wel sterk aanvoel, is dat nuwe Suid-Afrikaanse stories nie in ou vorme ingeforseer kan word nie. Dit voel vir my asof die diskontinue werklikhede van Suid-Afrika, en daarby, my neiging om my werk deels buite Suid-Afrika te laat afspeel, die ou rame versplinter. Die uitdaging van vormlike konvensies voel vir my noodwendig. Daaruit vloei dan ook die hibriditeit/ambivalensie wat betref genre, die manier waarop my werk soms tussen die romanvorm en kortverhale huiwer.

Die roetes tussen tale

As ’n mens in Afrikaans skryf, moet jou boek natuurlik vertaal word as jy in die noordelike halfrond wil publiseer. Enersyds bewonder ek die weerstandige benadering van die Keniaanse skrywer Ngũgĩ wa Thiong’o, wat dekades lank reeds ’n aktivis is daarvoor om die hiërargie van tale om te keer. Hy het Engels vir Gikoejoe as skryftaal verruil terwyl hy in 1977 in aanhouding was in Kenia, onder andere om duidelik te wys dat sy skryfwerk gemik is op mense wat polities onderdruk word in sy eie land. In 2017 het ’n Pan-Afrikaanse skrywerskollektief besluit om ’n kortverhaal van Wa Thiong’o in 27 Afrikatale te vertaal. Hulle vraag was: Waarom moet elke letterkundige werk uit Afrika in Engels geskryf of vertaal word? En die aanname wat hulle – en Wa Thiong’o – konstant uitdaag, is die oningeligte aanname dat Afrikatale nie intellektuele kompleksiteit kan akkommodeer of uitdruk nie. Die vraag is ook: Behoort enkeltalige Engelssprekendes, eerder as vertalers en nie-Engelssprekende skrywers, nie die werk te doen om toegang te verkry tot boeke uit Afrika nie? Behoort hulle nie met sulke literêre werke in gesprek te tree op laasgenoemde se eie terme, of ten minste in die taal waarin dit geproduseer is nie?

Die werklikheid is natuurlik dat noordelike lesers nie ineens gaan begin om die tale van die Suide op groot skaal aan te leer om boeke van hier te lees nie. As ’n mens in die Noorde gepubliseer wil word, moet jou boek eerstens in Engels beskikbaar wees. (Met die uitsondering van enkele vertalers wat direk vanuit Afrikaans in tale soos Frans en Nederlands kan vertaal, word Engelse tekste as basis gebruik vir die verdere vertaling van Afrikaanse boeke.) My strategie in die vertaling van my eie werk was om die werk so glad moontlik te laat lees – vloeiendheid, dus, of “natuurlike” Britse Engels as maatstaf, eerder as absolute getrouheid. Omdat ek self so lank in die noordelike halfrond studeer en gewerk het, en ook in konserwatiewe opvoedkundige en professionele kontekste waar moedertaalvlotheid in Engels dikwels (onnadenkend) gelykgestel word aan opgevoedheid en bekwaamheid, is ek gekondisioneer om spore van Afrikaans uit my Engels weg te vee. En daardie instink kom ook na vore wanneer ek vertaal. Ek volg gewis nie ’n benadering van vreemdmaking nie; my vertalings is beide taalgewys en in terme van die representasie van kulturele konsepte nader aan die Engelse pool van die kontinuum as aan Afrikaans.

Van vaders en vlugtelinge is deur Michiel Heyns vertaal. Heyns – wat as akademikus, romanskrywer en vertaler ligvoets heen en weer kan beweeg tussen Afrikaanse, Engels-Suid-Afrikaanse, asook Britse literêre tradisies – se rol in die transponering van Afrikaanse werke na die internasionale arena is uniek. Sy uitnemende vertalings is ’n kritieke faktor in die erkenning van etlike Afrikaanse romansiers wat al internasionale erkenning gekry het – neem Marlene van Niekerk en Chris Barnard as voorbeelde. Hy het ’n uitnemende vertaling van my eie mees onlangse roman gedoen, welke vertaalwerk ook aansienlike lof in resensies in die noordelike halfrond kry. Wat ons natuurlik eintlik nodig het in Suid-Afrika, as ’n beginpunt, is lewendige letterkundes in al ons tale en ’n kultuur van vertaling tussen daardie tale, sodat ’n enkele kanon kan ontwikkel en sodat ons na dieselfde dinge kan verwys wanneer ons oor boeke praat. Maar dit is seker ’n onrealiseerbare hoop, ’n fantasie. As ’n tweede keuse kan ’n mens wel roetes uitlê na lesers in ander lande en kultuurwêrelde by wyse van vertaling.

Laastens

Dit wissel sekerlik van skrywer tot skrywer, maar dis argumenteerbaar dat heelwat skrywers in ’n geringe mate – of selfs glad nie – aan moontlike lesers dink wanneer hulle skryf nie, of dalk bloot in abstrakte terme aan ’n ideale leser dink. Heelwat skrywers skryf wat hulle sélf sou wou lees. ’n Mens kan nie regtig vir die Noorde skryf nie. Jy kan of behoort net te skryf wat jy noodsaaklik vind om te skryf, op die manier wat dit eis om geskryf te word, terwyl die onderbewuste dikteer. Dit, saam met talent en waagmoed, asook geluk en die wisselende en onvoorspelbare voorkeure en afkeure van agente, uitgewers, lesers, resensente, pryspanele en ander hekwagters en smaakmakers, is wat sal bepaal of ’n roman lesers bereik en raak. In my geval is dit skryfwerk wat, weens my eie spesifieke, persoonlike geskiedenis en die geskiedenis van die land en kultuurwêrelde waaraan ek blootgestel is, op rustelose wyse plekke soek om in af te speel, dikwels plekke waarmee ek vertroud is en wat in my bewussyn ingebrand is, maar wat nie noodwendig geskryf is, of in die eerste plek geskryf is, vír lesers wat van daardie plekke kom of vertroud is daarmee nie.

Uiteindelik behoort die plek waarvandaan die skrywer kom; waar sy verhale afspeel; die taal waarin dit geskryf is; die politieke konteks en geskiedenis van die plekke waarvandaan die lesers kom of wat hulle ken; die geografiese en kulturele konteks waaruit die karakters kom; asook die kulturele tradisies waarmee die skrywer en lesers vertroud is nie belangrik te wees nie. Die vraag bly uiteindelik of fiksie ’n leser tref en boei en ontroer en onrustig of nuuskierig maak, of dit die leser dwing om voort te lees, hom met die boek laat regop sit tot in die oggendure wanneer hy eintlik behoort te rus om sy droë dagtake voort te sit die volgende dag. Vir wie ’n boek geskryf is, maak nie saak nie. Wel of dit die leser oorrompel, vir paragrawe lank laat ophou asemhaal, ’n skroeimerk op sy hart inbrand en hom vir ewig verander.

Lees ook:

Marietjie Lambrechts: Vervreemding tot verlies: die roete van selfvervreemding na selfvernietiging in Van vaders en vlugtelinge deur S.J. Naudé

Thys Human: LitNet Akademies-resensie-essay: Dol heuning deur SJ Naudé

Marietjie Lambrechts: LitNet Akademies-resensie-essay: Alfabet van die voëls – ’n Intertekstuele labirint

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top