Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was

  • 3

Hierdie lesing (sien die video) is op Sondag 27 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.

Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was

(Uit: “Christ of the burnt men” deur Sheila Cussons)

Die titel “Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was” is ’n reël uit Sheila Cussons se pragtige gedig “Christ of the burnt men”. Cussons was ’n merkwaardige kunstenaar. Haar poësie was mistiek én aards; dit was verrassend, verruimend – en kompleks. Haar persoonlike lewe was ewe uitdagend en avontuurlik. En kompleks.

Ek kan op geen manier myself vergelyk met die enigmatiese Cussons, die digter, die mistikus, die minnares en die muse nie.

Maar ek kán identifiseer met die kunstenaar wat vuur bemin en altyd waaghalsig was. My skryfkuns het immers ontkiem langs ’n misvuur, in my ugogo, Juba se hut waar sy die kinders vermaak en bang gemaak het met die stories van die Impudulu, die verskriklike vuurvoël, en Hlankanyana, die klein bliksempie wat net kak aangejaag het.

Sou ek ’n skrywer geword het sonder die vuur, die bang, die verwondering, die skoonheid van die orale literatuurbelewing in ’n grashut êrens tussen die heuwels van Babanango? Wie het van Juba met haar paar los tande en haar merkwaardige stories geweet? Wie het van mý geweet, ’n weerspannige kind wat weggeloop het om verwonder te word deur stories van mensvreters en monsters?

En wat het in 60 jaar gebeur – van ’n kind wat langs ’n vuur sit, tot ’n volwassene wat ’n skrywer en letterkundige geword het? Stories, dit is wat gebeur het. En vuur. En ’n dodelike skoot waansinnige waaghalsigheid. Want skryf, dit weet ons, is nie vir bangbroeke nie.

Wat ek in ’n baie beperkte tydsbestek wil doen, is om enkele lukrake en totaal disparate momente te gee van ’n skrywersloopbaan van 35 jaar, ’n bestekopname van ’n lewe met literatuur.

1 My kennis van ’n Afrika-taal

Ek het in Zoeloeland grootgeword, in ’n gebied waar álle wit mense Zoeloe kon praat. Die Bybel waaruit my oupa Lewies gelees het, was ’n Zoeloe Bybel. My eie pa is op sy eerste skooldag teruggestuur huis toe – omdat hy nie Afrikaans kon praat nie. “Kom volgende jaar terug,” het die skoolmeester gesê, “as jy afgeleer het om Zoeloe te praat.”

Dit is hierdie intieme kennis van die taal, kennis van sy sprekers en hul tradisies en die direkte belewenis van die orale verteltradisie wat my ’n skrywer gemaak het, natuurlik sonder dat ek dit tóé besef het. Ek het intussen ’n meestersgraad en toe ’n doktorsgraad in die letterkunde verwerf. En ek weet nie of dit my gehelp het nie. Dalk tog, want eers toe, toe ek min of meer ’n begrip van die Westerse literatuurbenadering gekry het, en toe weens persoonlike omstandighede teruggegooi is in die Natalse landskap, dat ek geweet het: dat ek vuur bemin, dat ek waaghalsig moet wees en my stories moet vertel soos dit vir my in ’n rokerige hut in ’n ander taal as my moedertaal geleer is. My debuutbundel se titel is Die ding in die vuur. Die laaste bundel was Die vrou in die vuur. My Zoeloenaam is Ntombenhle, maar ek is ’n skrywer in Afrikaans.

Vuur en waagmoed het my ’n skrywer gemaak. Maar moenie fout maak nie, dit het ook meer as een keer teruggekom om my te bliksem.

Vir Die ding in die vuur het ek twee literêre pryse gekry.

Die resensente was deurgaans waarderend, nie een het my beskuldig van kulturele oorname nie. Die kritiek het gekom van gewone lesers wat gesê het: “Agge nee, my kind, ’n ordentlike meisie kan darem nie oor hierdie goed skryf nie!” 

Wat was “hierdie goed”? Dit was vroulike besnydenis (verminking); dit was die seksuele uitbuiting van vroue; die pornografie van geweld; politieke moord en slagting. Dit was 1990. 35 jaar later en niks het verander nie. Ek kan wéér ’n boek skryf oor presies dieselfde temas. Maar nou met die wete dat ek beskuldig sal word van kulturele oorname. Want wie is ek nou, wit vrou, om oor die seksuele uitbuiting van ’n swart vrou te skryf. Of oor die pornografie van politieke geweld tussen strydende faksies? Sal ek die waagmoed hê, die vuur van oortuiging, om weer dieselfde temas aan te pak?

Ek vra my af hoe die nuanses van verantwoording oor drie dekades verander het? Het die sprekers van die inheemse tale van Suid-Afrika nader aan mekaar gekom? Is daar vandag meer wit sprekers wat ’n basiese gesprek kan voer in ’n swart taal? 

Hoe ver het ons gekom met moedertaalonderwys?

Ek word sommer die bliksem in.

2 Magiese realisme

Vroeg-vroeg in my lewe het ek (as leser en student) besef dat magiese realisme, die artistieke genre waarin die uitbeelding van die wêreld naatloos met magiese realiteite vermeng word, inherent deel is van die Afrikaanse literatuur. Dis in ons hartklop; dis in ons bloed. In Suid-Afrika, met ons intieme saamleef met die natuur, asook ons naasbestaan met ander kulture en hul begrip van natuur en mens, is magiese realisme ’n inherente kennis, ’n oerwete wat in ons murg lê. Ons Afrikaanse verhale is vol grotbewoners, geeste, fantome, nyangas, engele, Impundulus, luiperds, hiënas, uthakathi’s ... al die lieflike, veelsydige gedaantes mét én sonder vlees en bloed.

Die Suid-Amerikaanse literatuur word dikwels beskryf as magies realisties, bykans asof dit ’n spesie-spesifieke gegewe is. Suid-Amerikaanse literatuur is betowerend en pragtig – veral die poësie van die vroulike digters wie se digkuns opklink soos die murmelinge van ’n sjamaan.

Maar sit maar enige Afrikaanse skrywer (of storieverteller!) langs ’n vuur en kyk wat gebeur? Hulle begin smeul. Ons sintuie verskerp; ons raak bewus van die magiese realisme van ons bestaan.

3 Geletterdheid

Ek het grootgeword in ’n huis waarin my weduwee-ma vier kinders grootgemaak het op ’n spoorwegpensioen en ’n salaris van 15 pond per maand. Sy het vas geglo in een ding: dat ons boeke sal hê. In ons huis was boeke, ook my eie, en ek het elkeen gelees. Ek het gou besef dat die dorp se biblioteek en ons huisboeke nie voldoende gaan wees vir dit wat ek alles wil weet nie. Toe ek 10 jaar oud is, het ek vir Huisgenoot se opstelwedstryd ingeskryf en onder my eie naam en twee skuilname die eerste drie pryse gekry. Die totaal daarvan was R12,50 en daarmee kon ek vier nuwe boeke koop: twee digbundels teen R2,50 elk en twee romans – met nog geld oor vir ’n draairoomys by die kafee op die hoek.

Geletterdheid, toegang tot boeke, is die ding wat my dryf. Nog steeds. Toe Ina Kapp, die bibliotekaresse van die Kloofstraat Biblioteek, my in 1990 kort na die verskyning van my debuutbundel vra of ek vir haar tekste sal skryf vir die volwasse geletterdheidsprogram wat sy in die aande gee, toe sê ek sonder om te dink JA. Daardie Desembervakansie sit ek voor my rekenaar en skryf 30 verhale, almal in ’n GROOT 16 punt-lettertipe. Vir die bruin huishoudsters van Oranjezicht vir wie sy leer lees en skryf. Die hoofkarakter, Katriena, is ’n vrou wat nie op haar mond geval is nie.

Ina vra my wat sy my moet betaal. Ek sê vir haar: “Jy betaal my niks.”

Een aand nooi Ina my as gas na die biblioteek – en daardie aand sit daar 12 vroue. Hulle lees vir my ’n storie, so horterig, en in aflos. My eie storie. Daardie aand huil my hart. En dit voel asof ek die Hertzogprys gekry het.

Ek lê die Katriena-stories voor vir publikasie by my uitgewer wat toe besig was om my tweede bundel kortverhale persklaar te maak. Die verslag sê: NEE, ’n bruin verteller aan die woord sal nie deug nie. Jare later, by ’n ander uitgewer, word die boek met Katriena se stories uitgegee en dit beleef binne ’n kort tyd vier herdrukke. 

Sukses, maar dit kom terug en bliksem my. Hennie Aucamp het eenkeer gesê: “Talent sal jou nog vergewe word; veelsydigheid, nooit” (Pluk die dag, p 12).

Vanuit die literêre gestoeltes kry ek opdraand oor my Katriena-verhale. Van my liefste vriend, Koos Prinsloo, ook. Hy sê vir my ek verlaag my standaarde. Ek skryf kombuisverhale. Die keurder van Tafelberg kyk oor haar bril na my en sê vir my ek het die verantwoordelikheid om “die ander” met literêre finesse te beskryf. En al wat ek wou bereik, is om nuutgeletterdes iets te gee om te lees, iets wat nie Sus en Daan is nie.

Net verlede week, 35 jaar na die eerste publikasie van die Katriena-stories, kry ek WEER ’n versoek van ’n kunstefees in die Noord-Kaap se (bruin) feesdirekteur wat vra of hulle die stories kan gebruik vir hul voorleesprogram. En, wat moet hulle my betaal? Sonder skroom sê ek: “Ja, vat dit, julle hoef my nie te betaal nie.”

Ek vra my af: Hoeveel meer geletterd is ons in 2025 as in 1990? Miskien is ons amptelik meer geletterd – maar ons kinders kan nie lees nie. Ons is op die ranglys van geletterdheid in die heel onderste kwadrant.

Ek is van vooraf die bliksem in.

4 Hierdie land van ons

Daar word dikwels vir my gevra: Waar kry jy jou stories vandaan? Die antwoord (vir my) is voor die hand liggend: Verplaas my in die epiese element van ruimte, en dan sal die landskap, die stem van die natuur, sy eie storie vertel. Die karakters en spoke van alle gedaantes sal uit die newels verskyn. As jy die waagmoed het om te luister.

Of dit nou die hitsige, tropiese landskap van KwaZulu-Natal is, of die klipbedonnerdheid (à la Antjie Krog) van die Richtersveld, ’n rooiduin in die Kalahari of die Moordenaarskaroo se vreklandskap, hierdie wye en droewe land is in ons bloed.

My Nederlandse vertaler, Riet de Jong-Goossens, vertaal my verhale met elegansie en kundigheid. Alles kan sy in Nederlands vertaal, maar nie noodwendig die landskap nie. Die afstande, die oneindige niks, die viriliteit, die geilheid, die verbystering van berg en grond en klip. Sy het nie die Nederlandse woordeskat daarvoor nie. Ek en Johann neem Riet saam met ons op reis na Namibië, en sy begin iets verstaan van afstand, die bleekheid van leegtes, die verbystering van berg en grond en klip.

In haar allerlaaste brief aan my, kort voor haar afsterwe, sê sy: “Dankie, dankie vir die allermooiste reis van my lewe.”

Nou die aand sê Frederik de Jager: “Hierdie landskap van ons laat hom nie sê nie.”

Ek luister na wat hy sê, en daar begin ’n vuur in my smeul, die begeerte, die waagmoed om iets te sê van hierdie verskriklike land.

5 Die poësie van die gewone mens

In my skrywersloopbaan het ek geleer om te luister na die poësie van die gewone mens. Gewone mense sê die wonderlikste goed. Gewone mense gee vir jou stories, gee jou bestaande stories nuwe dimensies. 

My ouma was nie ’n geleerde vrou nie, maar sy was ’n meester van die aforisme. Sy het gesê: “As ’n vrou regtig ’n man wil hê, kan net die Here hom help.” Sy het ook gesê: “As jy ’n man het, moet jy hom gebruik.” Dit is ook sy wat familielede om ’n rumoerige etenstafel tot besinning gebring het met die vermaning: “Die stemming styg, maar die peil daal.”

Katryntjie Kruger, my huishoudster, vertel my van ’n man wat so liederlik kan vlóék. Sy sê: “Mevrou, daardie man vat my ma se onderlyf soos ’n psalm op sy lippe.”

Ek luister graag na wat gewone mense sê.

6 ’n Gekoesterde ruimte vir kunstenaars

Vir langer as 30 jaar bied ek klein, intieme skryfskole aan. Ek is nie ’n selfsugtige skrywer nie. Daar is vir my ’n diep bevrediging om ’n jong skrywer te begelei en om hom / haar te help om hulle skrywerstem te ontdek. Ek doen dit nie meer nie.

’n Paar jaar gelede gaan ek saam met my man Italië toe waar hy ’n kongres moet bywoon. In Florence, in ’n agterstraat, kom ons toevallig af op ’n uitstalling van Andrea del Verrocchio, die kunstenaar wat vir ander kunstenaars ’n mentor was, ’n veilige ruimte gegee het waarin hulle kon werk.

Verrocchio fassineer my: Hy was ’n uitstaande skilder, juwelier en beeldhouer, maar niemand weet eintlik wie hy is nie. Hy is die kunstenaar wat ’n gekoesterde ruimte vir ander kunstenaars gegee het om hulself uit te leef. In sy ruim ateljee laat hy kunstenaars bymekaarkom om te werk. Hy is mentor vir beeldhouers, skrywers, skilders. Sommige werk in harmonie en skep meesterwerke, sommige leef in konflik en stryd met die ander kunstenaars – en lewer meesterwerke.

Die beroemdste kunstenaar uit hierdie stal is Leonardo da Vinci – wat nooit enige erkenning aan Verrocchio se mentorskap gegee het nie.

Deesdae maak ek my huis oop vir skrywers wat dit nodig het om gekoester te word. Skrywers is maar sensitiewe siele. Ek leer hulle niks; ek gee ’n veilige ruimte waar hulle kan werk. Ek gee vir hulle kos en wyn. Ek gooi ’n kwaai, maar sagte oog oor hulle.

Hopelik leer ek hulle wel iets: om vuur te bemin. Om waaghalsig te wees.

Om skrywers te wees.

Lees en kyk ook:

Elsa Joubert: Afrikaans in Afrika en globaal

Johan Degenaar: Afrikaans-wees in Afrika en die Wêreld

Chris Barnard: Ik ben een Afrikaan

Tom Dreyer:  Die groot “Ek is”: heuning uit die karkas van ’n leeu

Dominique Botha: Daar is ’n witvlerknagtegaal wat net in Sanskrit sing

Charl-Pierre Naudé: Die wêreld van die skrywer: skrywersnetwerke

Abrahaham H de Vries: Van mense en muise

Marita van der Vyver: ’n Wyehoekblik op die geliefde land

Phaswane Mpe: Dingwalwa le Kwalakwato ya Tona Dikgatiobakeng ta Afrika Borwa

Alexander Strachan: “Die nuus dra”

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 3

Kommentaar

  • Annelize van der Ryst

    Uitstekend! Met groot BELANGSTELLING geluister. Aforismes of te 'not', met so 'n bekkige ouma soos wat sy gehad het en haar eie passie vir die letterkunde mag Riana Scheepers nooit vlak gekyk word nie. Baie dankie vir die plasing van haar bydrae!

  • Julian Muller

    Soos net Riana dit kan doen! Raakgevat en gevat. Sy maak mens sommer lus vir waaghalsigheid as ek net nie so bang was vir die bliksem nie! Dankie vir hierdie outo-etnografiese reis. Jou bydrae het beide die stemming en die peil laat styg.

  • Retha Alberts, Plettenbergbaai

    My tone krul om van lekkerte. Van Babanango tot in Florence, met 'n lekker Kaapse draai - opnuut verwonderd oor die uitspansel van ons vurige land en haar bebliksemde mense. Dankie Riana, jy is briljant!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top