Jakes Gerwel se skrywersnalatenskap

  • 0

Jakes Gerwel en Etienne van Heerden is al twee klongens van die Oos-Kaap, dis welbekend. Dat hulle kwalik 100 km van mekaar grootgeword het, en boonop min of meer in dieselfde generasie, dié is dalk minder bekend.

Dit het ’n Howick-man en ’n Stellenbosser geneem om hulle meer formeel te verbind.

Die man van Howick in KZN is Darryl David, welbekend as feesorganiseerder van onder andere die Richmond BookBedonnerd-fees. Hy het vanjaar vir die tweede keer die Etienne van Heerden-veldsoirée in Cradock aangebied, en wat ’n soirée was dit nie!

Die Stellenbosser is Theo Kemp, ewe bekend as feesorganiseerder van die boekedeel van beide die Vrystaat-fees en Aardklop. Hierdie slag het hy egter ’n ander hoed, dié van uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting, gedra.

Van links: Kirsten Miller, Fanie Olivier, Etienne van Heerden, Clinton V du Plessis, Dana Snyman, Chanette Paul, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Bettina Wyngaard, Maya Fowler en Karin Brynard | Foto: Izak de Vries

Vir die eerste paar dae van die soirée is daar poësie- en prosaskryfskole aangebied. Woordsmede soos Bibi Slippers, Chanette Paul, Maya Fowler en Fanie Olivier het hul kennis aan gretige voornemende skrywers oorgedra. Clinton V du Plessis het roerend uit sy werk voorgedra. Fanie Olivier het oor die vroeë skryfwerk van Van Heerden gepraat. Tracy Going het oor haar boek gepraat. Irene Fischer en Kobus du Toit, om maar twee te noem, het op roerende en onderhoudende wyse oor hulle lewens gepraat. Dan was daar Willie Burger, Kirsten Miller en meer – ’n smorgasbord van woordkunstenaars. Dis ook die soort geleentheid waar lesers en skrywers op baie meer intieme vlak met mekaar kan tyd deurbring.

Die Jakes Gerwel-stigting het hierdie jaar as deel van die soirée vyf woordsmede genooi om by die Gerwel-huis in Somerset-Oos oor hul werk te praat. Dis die eerste keer dat die stigting deel was van die soirée. Die plan is om dit voortaan ’n jaarlikse instelling te maak, en op hierdie manier die Van Heerden-Gerwel-verhouding te verstewig.

Jakes Gerwel het in hierdie huis, net langs die Walter Battiss-museum, grootgeword. Die gronde bestaan uit ’n vierslaapkamerhuis, ’n tweeslaapkamerwoonstel, ’n stoorkamer en ’n massiewe tuin.

Jakes Gerwel voor die Gerwel-huis | Foto: https://jgf.org.za/somerset-east-writers-house/

Karin Brynard, Ronelda Kamfer, Dana Snyman, Nathan Trantraal en ek self het onder die koeltebome van die huis met ’n meelewende gehoor oor ons werk gepraat. Die doel: om die huis aan ’n breër gehoor bekend te stel. Kemp en Beneatha Adams, bestuurder van die huis, het hulself oortref. Strelende klassieke musiek het gaste begroet terwyl hulle aankom. Ons is uitgenooi om deur die huis, woonstel en tuine te loop. Agterna is daar baie gesellig verkeer rondom die tafels met allerhande lekkernye en drinkgoed.

Dis ’n pragtige huis, en pragtige gronde, die tipe eiendom wat met gemak in ’n glanstydskrif kan verskyn. Of dit sal kan wanneer die restourasiewerk aan die einde van hierdie jaar voltooi word.

Ek het ’n bietjie met Kemp gesels om uit te vind wat hulle planne met die huis is. Ons vyf is immers vir ’n rede bymekaar gebring. Ek wou terselfdertyd ook meer inligting oor die stigting inwin. Jakes Gerwel is ’n naam wat geen bekendstelling nodig het nie, maar die stigting is nog nie baie bekend nie.

Die Jakes Gerwel-stigting is in 2013 op die been gebring. In 2017 is Kemp as uitvoerende direkteur aangestel. Adams is alreeds nege jaar by die huis betrokke, selfs voordat die stigting tot stand gekom het.

Vanaf 2019 beoog die stigting om nuwe skrywers by die huis te verwelkom in ’n projek wat broodnodig in Suid-Afrika is, en wat my baie opgewonde maak. Hierdie skrywers word dan in verbinding geplaas met gevestigde skrywers wat hulle van praktiese raad bedien, hulle help om hul werk te verbeter en oor die algemeen as mentors optree. Juis skrywers wat nie finansieel in staat is om universiteitsopleiding in kreatiewe skryfkuns te doen nie, word as teikengroep van hierdie projek geïdentifiseer.

Daar sal ’n keuringsproses wees, verduidelik Kemp. Die advertensie verskyn binnekort, maar hier volg die vereistes kortliks. Ten eerste moet die kandidaat ’n voorbeeld van sy/haar geskrewe werk indien. Hierdie geskrewe stuk moet uit minstens 1 500 woorde bestaan. Dit kan in Engels of Afrikaans ingedien word. Hiermee saam moet daar ’n sinopsis van die beoogde werk gelewer word. Onafhanklike beoordelaars sal die geskrewe werk beoordeel.

Daar word nie gekyk na die kandidaat se vorige formele opleiding nie. Niemand hoef dus te voel dat hulle nie kan aansoek doen omdat hulle opleiding gebrekkig is nie. Die kandidate word suiwer op hul skryfwerk beoordeel. Geen kandidate wat al voorheen gepubliseer het, sal egter oorweeg word nie.

Hierdie spesifieke projek fokus op prosa. Kandidate kan werk in fiksie of niefiksie vir oorweging lewer. Poësie, dramas en dies meer is uitgesluit. Dit sal wel in latere projekte aangebied word.

Kandidate word vir ’n tydperk van twee jaar deel van die skrywersprojek. In hierdie tyd word daar vier kontaksessies van vier dae elk aangebied. Vier skrywers word deel van hierdie program, en hulle word deur twee mentors bygestaan. Op hierdie manier word hulle dan aan meerdere insigte en vaardighede blootgestel, wat hul eie kreatiewe werk sal verryk.

Kemp verduidelik dat die stigting juis nuwe stemme en stories wat nog nie in Afrikaans of Engels oopgeskryf is nie, by die huis wil verwelkom. Daar sal ook werkswinkels wees om die skrywers se talente op te skerp. Die projek word in samewerking met Penguin Random House, waarskynlik die grootste uitgewer in Suid-Afrika en een van die internasionale reuse in die uitgewersbedryf, aangebied.

Hierdie projek, en die kreatiewe werk van die stigting, sal beslis die kulturele profiel van die Oos-Kaap lig. Wat belangriker is, is dat dit die literêre landskap sal verander en verbreed.

’n Meer waardige nalatenskap vir Jakes Gerwel kan ek my nie indink nie.

Etienne van Heerden Veldsoirée 2018: fotogalerye

Etienne van Heerden Veldsoirée 2018: fotogalery (1/4)

Etienne van Heerden Veldsoirée 2018: fotogalery (2/4)

Etienne van Heerden Veldsoirée 2018: fotogalery (3/4)

Etienne van Heerden Veldsoirée 2018: fotogalery (4/4)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top