Jakes Gerwel: die wording van ’n legende

  • 0

Gerwel se inhuldiging as rektor (Foto: Adam Small, Jakes Gerwel en Fanie Sonn - foto-erkenning: Rashid Lombard/Jakes Gerwel Stigting)

“In honour of a legend,” lui die uitnodiging na ’n besonderse geleentheid wat in die komende week by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou word. Hiertydens sal die universiteit se Hoofsaal hernoem word na ’n eertydse visekanselier en rektor, prof Jakes Gerwel, wat ’n mens onwillekeurig laat wonder hoe “Prof” op dié eerbewys sou gereageer het.

Welbekend aan almal wat ooit met hom te doen gehad het – in enige van die vele belangrike samelewingsrolle wat hy vertolk het – is nou eenmaal sy afkeer van lofuitinge, ’n karaktereienskap wat hy deel met wyle Madiba, met wie hy ten nouste saamgewerk het voordat eers hy (in November 2012) en toe Madiba (’n jaar later, in Desember 2013) gesterf het.

.........
Welbekend aan almal wat ooit met hom te doen gehad het – in enige van die vele belangrike samelewingsrolle wat hy vertolk het – is nou eenmaal sy afkeer van lofuitinge, ’n karaktereienskap wat hy deel met wyle Madiba, met wie hy ten nouste saamgewerk het voordat eers hy (in November 2012) en toe Madiba (’n jaar later, in Desember 2013) gesterf het.
...........

Die grappie is al dikwels vertel dat toe daar sprake was daarvan dat ’n straat in Somerset-Oos Gerwel se naam sou dra, hy met sy kenmerkende droë humorsin sou opmerk dat hy dit tog nie in sy leeftyd wil sien gebeur nie, want wat sou gebeur as hy dalk op ’n dag in daai einste straat betrap word dat hy onder die invloed van Bacchus bestuur het? Nou heet ’n belangrike straat in die Skiereiland, eens bekend as Vanguard-rylaan, wel sedert Januarie 2015 Jakes Gerwel-rylaan.

Ander wyses waarop sy nalatenskap lewend gehou word, sluit in die Jakes Gerwel Stigting, wat veral op die gebied van kreatiewe skryfkuns ’n belangrike rol speel deur onder meer skrywersresidensies by die Gerwels se historiese Somerset-Oos-woning Paulet Huis. Die stigting is ook ten nouste betrokke by die Suidoosterfees, waarvan Gerwel vanaf die ontstaan in 2003 die direksievoorsitter was; en op Montagu is ’n plaaslike tegniese skool na hom vernoem.

Nou, tien jaar ná sy dood, sal sy naam gekoppel word aan een van die belangrikste geboue op die UWK-kampus, hier waar hy in die laat sestigs sy eerste graad verwerf het, later dosent in Afrikaans-Nederlands geword het en uiteindelik as rektor in 1994 uitgetree het om Madiba se kantoorhoof en sekretaris van die kabinet te word. Hierdie jaar sal dit ook 35 jaar wees sedert hy in 1987 die sesde rektor by UWK geword het, opvolger van die eerste bruin (of swart) bekleër van dié pos, wyle Richard van der Ross.

In my studeerkamer hang ’n foto, deur die gevierde fotojoernalis Rashid Lombard geneem, van Gerwel wat sy intreerede lewer; langs hom sit Fanie Sonn en die digter-filosoof Adam Small, wat eers Gerwel se dosent was, later ’n kollega en naderhand ook ’n getroue vriend, oftewel, soos Gerwel dit self op ’n keer gestel het, ’n “gedurige gespreksgenoot in en oor Afrikaans”.

Gerwel se intreerede word met rede as ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis of ontwikkeling van UWK beskou. Dit is ’n stuk geskiedenis wat in 1960 ’n aanvang geneem het toe die instelling (in ooreenstemming met die apartheidsbeleid van aparte ontwikkeling) as ’n universiteitskollege vir “Kleurlinge” gestig is. “The first buildings were structures of discipline and containment, the straight lines, grey concrete and face-brick walls of an architectural modernism adapted to the service of apartheid,” skryf Julia Martin in Becoming UWC – reflections, pathways and unmaking apartheid’s legacy ter viering van die universiteit se 50ste bestaansjaar in 2010.

In 1970 is UWK as ’n volwaardige universiteit verklaar en kon dit sy eie grade en diplomas toeken. Maar dit was ook die jaar toe studente in opstand teen die “institusionele verdrukking” gekom het: manstudente het hul dasse verbrand, ’n stap wat ’n ander historiese oomblik voorafgegaan het, naamlik die aanstelling van Van der Ross as rektor in 1975. Waar Van der Ross erkenning verdien daarvoor dat hy onder meer verseker het dat die universiteit se vergoedingstruktuur vir dosente nie langer diskrimineer op grond van ras nie, word Gerwel se eie “radikale” beweging wég van die “apartheidsbedoeling” met die UWK meer dikwels vermeld. Dit was weliswaar gedurende Van der Ross se termyn dat “die politiek-ideologiese gronde waarop [UWK] tot stand gebring is” in 1982 formeel verwerp is, maar die groter toekomssprong het in 1987 plaasgevind toe Gerwel die universiteit as “die intellektuele tuiste van die Linkses” verklaar het.

“Whatever else this metaphor of place came to evoke, the reconstruction of UWC’s social and intellectual identity took place amid a great deal of building,” skryf Julia Martin verder. Waarna sy verwys, is ’n aantal “ambisieuse projekte” van die laat ’80s, waaronder die voltooiing van die universiteitsentrum, die opknapping en uitbreiding van die Hoofsaalkompleks en die vervanging van die ou beknopte, oorspronklike biblioteek. “Together, the new buildings created a bold and eclectic environment (some said too opulent for a Third World campus, while others disagreed) that combined a postmodern variety of architectural elements with lots of glass, and space in which to walk and sit.”

Dit is die einste Hoofsaal wat van komende Donderdag af Gerwel se naam sal dra, ’n allerhoogste erkenning van die kritieke, opbouende en toekomsgerigte rol wat hy oor nagenoeg drie dekades op die kampus gespeel het. Wie sou kon gedink het dat dit hom bestem was toe hy as ’n eerstejaarstudent daar aangekom het, ’n 17-jarige plaasseun van ’n plek met die vreemde naam Kommadagga, waarvan weinig tevore gehoor is?

Sowat 40 jaar later, toe hy sy 60ste verjaardag vier, het verskeie vriende, kollegas en kennisse uit die akademie, politiek en sakewêreld hom beskryf soos hulle hom leer ken het, maar die goue skakel wat deur hul huldeblyke geloop het, was sy nederigheid, kalmte, eenvoud, diplomasie en skerp waarnemingsvermoë. “Easily amused he is not, rarely frivolous,” seg ’n oud-UWK-kollega, Wilmot James. “Soos die skilpaaie op sy werf (...), altyd iewers in ’n hoek, dalk in bepeinsing oor die belangriker dinge, is hy ook ’n rustige, beredeneerde mens,” beskryf nóg ’n oudkollega, Jimmy Ellis, hom, en voeg daarby: nooit oorhaastig of weerbarstig nie, maar staan hy in die teken van “tydsame, tydlose, tydryke wysheid”. ’n “Ontwikkelde mens,” aldus Ton Vosloo, wat Gerwel oorreed het om een van sy eerste en vernaamste sakedireksierolle in Naspers aan te neem. Maar oorhoofs word hy onthou bepaald vir wat FW de Klerk hier uitspel: “Jakes has consistently played a constructive role in the engine room of the democratic transformation of our society.”

Uitblinker-voorgraadse student

En al het sy eertydse dosent, kollega en toe vriend Adam Small hom dit in sy gedig “Vredesgebed vir Jakes” verkwalik dat hy hom in die partypolitiek en korporatiewe wêreld begewe het, het Gerwel tog ook deurentyd in rubrieke, onderhoude en toesprake ’n gewetenstem gebly oor die dinge wat in die “demokratiese transformasie” verkeerd geloop het.

............
So seker soos wat ’n mens weet hy sou verleë gelag het oor die beplande hernoeming van UWK se Hoofsaal na hom, so seker kan ’n mens derhalwe ook wees dat hy – indien dit hom beskore sou gewees het om die aanwesiges by die geleentheid toe te spreek – ernstige vrae sou gestel het oor die kronkelpad van leierskap waarop ons samelewing ons tans bevind.
...........

So seker soos wat ’n mens weet hy sou verleë gelag het oor die beplande hernoeming van UWK se Hoofsaal na hom, so seker kan ’n mens derhalwe ook wees dat hy – indien dit hom beskore sou gewees het om die aanwesiges by die geleentheid toe te spreek – ernstige vrae sou gestel het oor die kronkelpad van leierskap waarop ons samelewing ons tans bevind. Dit vereis straks dat die eertydse “intellektuele tuiste van die Linkses”  vir homself ’n nuwe koersveranderende intellektuele rol moet identifiseer – ter ere van die man na wie hulle nou as ’n legende verwys, Gert Johannes Gerwel (18 Januarie 1946 – 28 November 2012).

Lees ook:

Die jaar 1983 – drie boeke, drie denkers in ’n drempeltyd

Twitter gons oor Gerwel se dood

Jakes Gerwel "’n uitstaande rolmodel"

Jakes Gerwel: 18 Januarie 1946 – 28 November 2012

In Memoriam: Ampie Coetzee onthou Jakes Gerwel

In Memoriam: Jakes Gerwel

Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small

Jakes Gerwel se soet nalatenskap vir Afrikaans

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top