
Hierdie lesing (sien die video) is op Saterdag 26 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad.
Die uitgebreide teks verskyn hier onder.
Konteks en proses: Die Afrikaanse vertaling van Max Havelaar of die koffieveilings van die Nederlandse Handelsmaatskappy (Protea Boekhuis, 2025)
In my bydrae gee ek ’n indruk van die vertaaltradisie tussen Afrikaans en Nederlands. Ek verwys spesifiek na twee Nederlands-Indiese romans wat ek self vertaal het met as uitgangspunt dat dié literatuur vir Afrikaanstalige lesers van belang is, omdat dit ’n pragtige tradisie het van meesleurende vertellings oor ’n komplekse (post-) koloniale samelewing. Max Havelaar is steeds aktueel vanweë die oortuigende manier waarop korrupsie en magsmisbruik aan die kaak gestel word. My vertaling hou rekening met die toeganklik maak van Multatuli se taal en verhaal, en ook van ’n verwysingswêreld wat vir die meeste Suid-Afrikaanse lesers onbekend is.
Hierdie artikel is ’n weergawe van die gesproke teks wat ek op 26 Julie op Cradock in die Victoria Hotel aan die hand van ’n PowerPoint aangebied het.
1.
Volgens Jos Nauta, bibliotekaris van die Multatuli-museum in Amsterdam se Korsjespoortsteeg, is Afrikaans die 33ste taal waarin Multatuli se meesterwerk Max Havelaar vertaal is. Die Afrikaanse teks staan nou eerste op die alfabetiese lys van vertalings; bokant Amhaars (’n Ethiopiese taal), Arabies, Armeens en Azerbeidjaans.1

Die Afrikaanse Max Havelaar in die Multatuli-museum in Amsterdam (Foto’s: Elize Zorgman)
Die boek is ’n aantal keer in tale soos Engels, Duits, Frans en Indonesies vertaal. Bowendien is daar talle uitgawes van bestaande vertalings en fotografiese herdrukke beskikbaar, gedruk én as e-boeke. Max Havelaar is verfilm en daar is ook ’n grafiese roman daarvan gemaak.2

Die filmplakkaat
Om die konteks te skets van die kultuur waarbinne dit wenslik geag word om tussen Afrikaans en Nederlands te vertaal, is dit belangrik om ’n bietjie agtergrond te gee. Veral omdat daar altyd mense is wat vra of vertaling nodig is.
Protea Boekhuis met Nicol Stassen as uitgewer-eienaar het die afgelope 20 jaar ongeveer 170 Nederlandse boeke laat vertaal deur agt vertalers. Sy Nederlandse fonds behels ’n groot verskeidenheid tekste, van Reinaert de Vos tot die kinderboek Puk van de Petteflet deur Annie MG Schmidt. Werk van Hugo Claus, Tom Lanoye, Tommy Wieringa en Stefan Hertmans is onlangs vertaal. Ander uitgewers, soos Naledi in Stellenbosch, publiseer ook gereeld vertalings.
Hierdie vertalings kom meestal tot stand danksy subsidies van die Nederlandse Letterenfonds, ook Maria Dermoût se De tienduizend dingen (2022) en die Max Havelaar (2025) wat ek vertaal het. Vir die produksiekoste van hierdie boeke het ’n aantal Suid-Afrikaanse fondse ingestaan. Al hierdie investerings is ’n aanduiding dat dit as wenslik en noodsaaklik beskou word om tussen Afrikaans en Nederlands te vertaal.
Afrikaans word dikwels ’n dogtertaal van Nederlands genoem, omdat dit uit 17de-eeuse Nederlands ontstaan het, vanaf die tyd toe mense aan boord van VOC-skepe in 1652 voet aan wal gesit het in die Tafelbaai. In die heterogene situasie aan die Kaap het spoedig ’n contact zone ontstaan (om ’n term van Mary Louise Pratt te gebruik)3 waarin Noord-Europeane vanuit Nederland, maar ook uit die Skandinawiese lande, Duitsland, Frankryk en later ook Engeland in noue kontak was met lede van die lokale bevolking, maar veral ook met die tot slaaf gemaakte mense afkomstig uit Maleisië en die Indonesiese eilande wat vir hulle gewerk het.
Die pidgintaal wat in kombuise, op die plase, markte en moskeë gepraat is, het steeds meer begin afwyk van wat as standaard-Nederlands gegeld het. Alhoewel die Kaap vanaf 1806 deur die Britte bestuur is en Engels daarna steeds meer gepraat is, was Nederlands ook in gebruik. Teen die einde van die 19de eeu kon of wou egter byna niemand meer korrek Nederlands praat of skryf nie, en na ’n taai taalstryd het Afrikaans in 1925 amptelike status naas Engels en Nederlands gekry. Nederlands is trouens ondertussen reeds lankal afgeskaf as ’n amptelike taal in Suid-Afrika. Taalhistorici soos Edith H Raidt het oortuigend aangetoon dat die Europese verlede van Afrikaans onbetwisbaar is,4 maar dit word ondertussen veral as ’n Afrika-taal beskou, eerder ’n suster- as ’n dogtertaal van Nederlands.5 Sedert 1994 is daar 11 amptelike tale.6
Suid-Afrika se beroemdste skrywers is almal in Nederlands vertaal: die twee Nobelpryswenners JM Coetzee en Nadine Gordimer wat in Engels skryf, maar ook baie Afrikaanse skrywers soos Breyten Breytenbach, AHM Scholtz, Marlene van Niekerk, Antjie Krog en Dan Sleigh. Talle van hierdie skrywers is deur Riet de Jong-Goossens (1937–2024) vertaal. Ek wil daarom hulde bring aan Riet, die produktiefste en bekendste vertaler van Afrikaanstalige literêre werke, wat op 13 Desember 2024 in Nijmegen oorlede is. Sy het bykans 60 niefiksie- en fiksie-boeke in Nederlands vertaal.7 Die meeste is romans. In 2010 het sy die Martinus Nijhoff-prys van die Prins Bernhard Cultuurfonds ontvang en gesê dat die grootste uitdaging van haar carrière die vertaling van Marlene van Niekerk se roman Agaat was.8
Tydens die prysuitdeling het De Jong-Goossens ’n paar belangrike vertaalprobleme genoem: die feit dat Afrikaans minder grammatikale tye het as Nederlands, die dikwels liriese taalgebruik en soveel uiteenlopende idiolekte wat binne één boek kan voorkom, dat daar so baie woordspelings is en die baie sogenaamde “vals vriende”. Dit is dan ook hierdie “vals vriende” waarmee ’n vertaler tussen Nederlands en Afrikaans in albei rigtings baie moeite kan kry. Hierdie slaggate (“valkuilen” in Nederlands) moet vertalers kan herken en weet hoe om dit te ontwyk wanneer hulle geakkrediteer wil word deur die Nederlandse Letterenfonds wat saam met Literatuur Vlaanderen ’n databank beheer met geakkrediteerde literêre vertalers uit Nederlands in meer as 40 tale. Akkreditasie beteken dat ’n vertaler se werk positief beoordeel word deur spesialiste.9 Die vertaling moet “leesbaar” wees, maar die bronteks mag “geen geweld aangedoen” word nie. Dis dus baie belangrik dat die vertaler sogenaamde “realia” of kultuurspesifieke elemente goed kan oordra.
Die moeilikheidsgraad van die Max Havelaar is as “zeer hoog” ingeskat deur kenners en my proefvertaling is gelukkig positief beoordeel in verband met my beheersing van die doeltaal, die versorgdheid van die vertaling, idiomatiese kennis en die vraag of die literêre styl en toon van die oorspronklike teks raak verwoord is. Ook is geoordeel dat daar geen weglatings of toevoegings is nie, dat die vertaling nie te letterlik en/of te vry is nie en dat die Nederlandse sinsbou nie op storende wyse behou is nie.
Ter agtergrond is dit miskien ter sake om te verduidelik dat ek heel onbeskeie meen dat ek nogal goed toegerus was om die Max Havelaar te vertaal. As dosent het ek sowel by Wits in Johannesburg as aan die Vrije Universiteit in Amsterdam jare lank oor die roman klasgegee en dit steeds beter begin verstaan. Sedert 1974 het ek bowendien die grootste deel van my lewe in Nederland gewoon; meer as 30 jaar permanent. Ook het ek drie maande lank klasgegee in Jakarta en daarna ten minste agt uitgebreide reise na verskillende uithoeke van Indonesië onderneem. Pamela Pattynama met wie ek 20 jaar lank in Amsterdam saamgewoon het is “Indisch”, dus van ’n gemengde Indonesies-Nederlandse herkoms. Sy was ’n “bijzondere hoogleraar Nederlands-Indische letterkunde” aan die Universiteit van Amsterdam en saam met haar het ek nie net Nederlands-Indiese families van naderby leer ken nie, maar ook baie lesings en kongresse oor die “Indische wêreld” en veral van die letterkunde bygewoon.
2.
Terwyl ek met my vertaling van die Max Havelaar besig was, het ek dikwels gedink: Misschien is niets geheel juist, en zelfs dàt niet. Dit is uiteraard ’n variasie op die eerste van Multatuli se beroemde Ideën: “Misschien is niets geheel waar, en zelfs dàt niet.” Ek het hieraan gedink omdat ek my dikwels daarvan bewus was dat soveel verskillende formulerings moontlik is. Ten slotte moet jy keuses maak wat tot één finale gepubliseerde teks lei.
Vertaling vergelyk ek graag met ’n bergklimtog. Jy het ’n kaart, ’n roete en ’n einddoel wat bekend is. Onderweg kom jy baie obstakels teë, versperrings wat jy wel of nie vantevore verwag het nie. Jy kan vasgekeer voel op een plek terwyl jy aan hoogtevrees begin ly, ’n uitweg soek om hoe dan ook die top te bereik. Jy moet flink klouter, aanhou, ure lank. Jy het stewige skoene aan; dit is jou grondige kennis van die doeltaal. Jy het wandelstokke wat jou ondersteun en help om vooruit te kom; dit is jou kennis van die brontaal en die kulturele omstandighede waarin die boek afspeel. In jou rugsak is padkos om jou te versterk; woordeboeke. En bowendien het jy bergklimmaats; kollegas met kennis van sowel die bron- as doeltaal; mense wat jou help wanneer jy struikel of verdwaal. Heel konkreet was dit vir my Jacqueline Bel, Eep Francken en Jaap Goedegebuure, Neerlandici wat ek vanuit Kaapstad ’n paar keer benader het om my te help met sinne van Multatuli wat vir my duister was. Bowendien het my uitstekende redakteur Shané van der Merwe gehelp om my Afrikaans op koers te hou.

Ek met “my” Max Havelaar
Dus – hier staan ek met “my” Max Havelaar, pragtig ontwerp deur Hanli Deyssel.10

Drie van die talle uitgawes wat in omloop is
Watter uitgawe van die Nederlandse teks het ek vertaal? Ek het gekies om so na as moontlik te bly aan die klassieke 19de-eeuse teks wat as die mees gesaghebbende beskou word: die uitgawe van 1881 waaraan Multatuli nog self geskaaf het.11 Ek het Annemarie Kets-Vree se histories-kritiese uitgawe daarvan gebruik wat in 1992 op die Digitale Bibliotheek Nederlandse Letterkunde (DBNL) verskyn het.12 Bowendien het ek steeds die hardebandboek wat Elsevier in 1979 uitgegee het met ’n inleiding deur AL Sötemann langs my gehad.13 Ek het dankbaar gebruik gemaak van die voetnote in Sötemann se boek en die meeste daarvan oorgeneem.14 In my boek is ook eindnote (ble 384–90).15 Dit bestaan uit Afrikaanse vertalings van teksgedeeltes wat in die Nederlandse uitgawe in Frans en Duits staan en dus ook so in die Afrikaanse boek behou is. Dit sluit byvoorbeeld die Franse aanhaling in wat ’n opdrag aan Multatuli se vrou Tine is (bl 31), en van Havelaar se gedig in Duits in hoofstuk 14 (ble 264–7).
Agter in die boek is ’n woordelys van vier en ’n halwe bladsye (ble 379–83) met vertalings van al die Maleise woorde wat vanweë die “coleur locale” onvertaald in die roman behou is. Bowendien het ek ’n inleiding geskryf (ble 9–29) waarin ek verduidelik dat Multatuli die skrywersnaam van die koloniale amptenaar Eduard Douwes Dekker (1820–1887) is en dat die romankarakter Max se ervarings op die eiland Java ooreenstem met Dekker s’n tydens enkele maande in 1856. Ook verduidelik ek wat die koloniale bestuur en die kultuurstelsel tydens die 19de eeu behels het.

Rysvelde en waterbuffels (Foto’s: Ena Jansen)
Die roman het in ’n groot mate bygedra tot die maatskaplike en parlementêre debat oor Nederland se koloniale bewind en daartoe gelei dat belangrike aanpassings gemaak is. Heftige aantygings word in die boek gemaak, maar die impak van die roman was veral te danke aan die vorm daarvan. ’n Geraffineerde spel word met literêre konvensies gespeel en die boek is ’n intrigerend-gekomponeerde outobiografie wat lesers destyds ontstig en gefassineer het en wat moderne lesers steeds boei.
My inleiding is gebaseer op ’n vergelykende artikel wat ek in 1993 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer het: “Miles se Moleko en Multatuli se Max”.16 John Miles17 het in 1991 ’n opsienbarende roman Kroniek uit die doofpot gepubliseer (in 1992 deur Riet de Jong-Goossens in Nederlands vertaal) waarin die tevergeefse stryd van ’n swart polisieman om gehoor te word en kompensasie te kry nadat hy deur ’n wit offisier mishandel is, beskryf word. Ek wou aantoon dat die hoofkarakters van Multatuli en Miles op ’n vergelykbare wyse teen onreg veg en dat die romans op ’n vergelykbare manier gekonstrueer is.

CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt en Elsa Joubert
Die relevansie van Multatuli is vir dié spesifieke geval aangetoon, maar tegelykertyd is my artikel ’n aanvulling by ’n ondersoek wat later deur Wium van Zyl gedoen is. Op versoek van die Multatuli Genootschap en in die kader van ’n reeks artikels oor die bekendheid van Multatuli in ’n verskeidenheid taalgebiede, skryf Van Zyl in 2007 ’n gesaghebbende artikel waarin hy op die waardering wys wat belangrike Afrikaanse skrywers soos CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt en Elsa Joubert vir Multatuli gehad het.18
Die Suid-Afrikaanse nawerking van Max Havelaar is veral te danke aan Multatuli se kritiese kyk op kolonialisme en onreg, sake wat hier steeds belangrik is. Multatuli het veral ’n weersin gehad in die feit dat onreg gepleeg word deur mense wat hulleself op hulle christelikheid beroep. Droogstoppel en dominee Wawelaar wat die koloniale beleid probeer goedpraat met Bybeltekste, word daarom ekstra belaglik gemaak, iets wat baie Afrikaanse skrywers kon waardeer. Multatuli se romanheld Max het daarom vir mense soos Langenhoven, Leipoldt en Joubert geïnspireer om hulle uit te spreek teen valsheid en onreg. Ook sy taalgebruik is waardeer. Danksy Van Zyl weet ek byvoorbeeld dat Langenhoven gesê het: “Ek het Multatuli deurgelees en ek lees hom nog herhaaldelik oor en oor, nie omdat ek op verre ná met sy inhoud ooreenkom nie, maar omdat sy treffende styl en noukeurig-netjiese uitdrukkingsvorm vir my ’n intellektuele genot verskaf.”
Volgens Van Zyl kan Multatuli se invloed op die Afrikaanse intellektuele lewe nie maklik beskryf word nie. André P Brink verwys in Aspekte van die nuwe prosa (1967) na die Max Havelaar en maak self in sy roman Droë wit seisoen (1979) van die tegniek van dokumentversameling gebruik wat herinner aan Max se “pak van Sjaalman”. Die Checkers-sak vol bewysmateriaal wat Miles se Moleko versamel het, is ook met hierdie “pak” vergelykbaar. Die titel van Elsa Joubert se Gordel van smarag, ’n reis met Leipoldt (1997) verwys uiteraard direk na een van die beroemdste sinne in die Max Havelaar wanneer Multatuli Nederlands-Indië beskryf as “die pragtige Ryk van INSULINDE wat daar om die ewenaar slinger, soos ’n gordel van smarag” (bl 378 in my vertaling).
Van Zyl skryf dat dit moeilik is om na te gaan wanneer Multatuli presies tot die universitêre neerlandistiek in Suid-Afrika deurgedring het, maar stel wel vas dat die invoer van Nederlandse boeke uit sowel Nederland as Nederlands-Indië tydens die Tweede Wêreldoorlog onmoontlik geword het. Dit het daartoe gelei dat die Pretoriase uitgewer JL van Schaik twee reekse Nederlandse boeke op die mark gebring het. Die agste deel van die reeks “Van stamverwante bodem” was Bloemlesing uit die werke van E. Douwes-Dekker (Multatuli) (1942).
Van toe af sou Multatuli toegankliker wees in Suid-Afrika en is hy gereken tot die klassieke Nederlandse outeurs wat universiteitstudente sekerlik sou moes lees. Die bloemlesing van 282 bladsye bevat gedeeltes uit die Max Havelaar, die tweede bedryf van Vorstenschool en enkele dele uit die Ideën, terwyl Woutertje Pieterse die meeste ruimte kry. Die boek is ingelei deur TJ Buning. Hy omskryf Multatuli as “een van die grootste Nederlandse prosaskrywers” en “’n man wat ’n ontsaglike invloed op sy volk sou uitoefen”. Buning keur die “onsmaaklikhede” in Dekker se liefdeslewe af, maar bespreek sy werk volgens Van Zyl wel “vanuit een professionele neutraliteit”. TJ Heyns spreek in ’n resensie sy teleurstelling uit, omdat die “Minnebrieven” in die bloemlesing ontbreek.
Multatuli is destyds ook op skoolvlak gelees. In 1942 verskyn ’n bloemlesing, getiteld Land en zee. Nederlandse verhale vir Afrikaanse skole (samesteller SJ du Toit). Die boekie bevat twee verhale van Multatuli: “Saïdjah en Adinda” – wat uiteraard ’n sentrale onderdeel van Max Havelaar is; sien hoofstuk 17 (ble 305–33) – en “Het sprookje der Inca’s”. Ook in die jaar 1942 neem Jan Greshoff die Multatuli-gedig “Ik weet niet waar ik sterven zal” op in sy bloemlesing Nieuwe Nederlandsche Dichtkunst I, Rondom Tachtig. Scholtz en Lategan neem “De Japanse steenhouwer” – ook afkomstig uit die Max Havelaar (hoofstuk 11, ble 204–6) – op in ’n Bloemlesing van Nederlandse verhale (1954). PC Schoonees sluit ook “De Japanse steenhouwer” in in sy Uit de Nederlandse verhaalkunst (1954) wat in 1972 herdruk word. Hierdie bloemlesings is veral voorgeskryf vir matriekklasse.
Dit alles dui daarop dat Multatuli nie ’n onbekende in Suid-Afrika is nie en dat ’n mens mag aanneem dat ’n weg tydens die 20ste eeu met hierdie bloemlesings voorberei is vir my vertaling van Max Havelaar, en dat dit hopelik ’n welkome plek in die Afrikaanse taalgebied sal verwerf.
3.
Ek het doelbewus daarvoor gekies om die mees gesaghebbende weergawe van Max Havelaar te gebruik en dit nie te vereenvoudig nie. Daarom het ek dus nie voorgestel om die sogenaamd soepel-lesende en met 20 000 woorde ingekorte Max Havelaar-teks wat Gijsbert van Es in 2010 gepubliseer het, as bron te gebruik nie.19 Waarom nie? Miskien sou ’n Afrikaanse vertaling van so ’n korter teks dan meer lesers vir Multatuli se beroemde boek gewen het?
Dit is in ieder geval al onduidelik wie in Suid-Afrika die Max Havelaar in Afrikaans sou wil lees. Maar ás daar ’n Afrikaanse Max gepubliseer kon word, dan wou ek dat die uitgawe “klassiek” moes wees. Gelukkig was my uitgewer Nicol Stassen dit met my eens en my vertaling van die volledige teks kon in 2025 verskyn, die jaar waarin herdenk word dat Afrikaans 100 jaar gelede ’n amptelike taal van Suid-Afrika geword het.
Sit iemand nou en wag op ’n Afrikaanse vertaling van die Max Havelaar? Nie regtig nie. Die oorspronklike Nederlandse boek word reeds dekades lank van tyd tot tyd voorgeskryf aan ’n paar Suid-Afrikaanse universiteite en baie mense wat Afrikaans en Nederlands as BA-hoofvak gehad het, ken dus die naam Multatuli. Min mense het egter goeie herinneringe aan die beroemde boek, gewoon omdat hulle min daarvan begryp het.
Van ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria wat my onlangs geluk gewens het met my vertaling, het ek gehoor dat sy desondanks steeds aan haar studente die Max Havelaar in Nederlands wil voorskryf. Ek het haar aangemoedig om tog liewer die uitgewer te ondersteun wat die durf gehad het om so ’n duur vertaalprojek aan te pak. Uit eie ervaring as student aan die Universiteit Stellenbosch en as dosent aan Wits in Johannesburg weet ek immers dat Afrikaanstalige lesers met hulle geringe kennis van Nederlands en selfs minder van die kwessies wat in die boek aan bod kom, baie min van die Nederlandse boek begryp.
Ek probeer my kollega in Pretoria dus daarvan oortuig om aan haar studente die Protea-vertaling voor te skryf. Hulle kan dan uiteraard gedeeltes vergelyk met die Nederlandse teks wat in baie uitgawes gratis aanlyn op DBNL beskikbaar is.20 Danksy die vertaling sou studente nou tog baie makliker kan deurdring tot die essensie en die problematiek van die boek; kan hulle baie beter snap watter tipe mens die onvergeetlike, benepe Droogstoppel is; hoe kordaat Max hom opstel teen sy meerderes; hoe briljant die roman gestruktureer is.
Ek baseer my advies aan Suid-Afrikaanse universiteitsdosente mede op die positiewe reaksies van Afrikaanse lesers wat Nederlands wél goed beheers. Voertaal-medewerker Willem de Vries beskryf die vertaling as “natuurlik en vloeiend”.21 Die skrywer Kirby van der Merwe sê op Facebook: “Ek lees met dieselfde genot soos toe ek Multatuli die eerste keer gelees het.” Guus Balkema, ook op Facebook, meen selfs dat Afrikaans méér geskik is vir ’n boek wat in Indonesië afspeel as Nederlands! Antjie Krog het groot waardering vir die Afrikaanse Max Havelaar en het my reeds in 2024 genooi om ’n lesing daaroor aan haar honneursstudente aan die Universiteit van die Wes-Kaap te gee. Soos bekend is sy ’n vurige voorstander van die krag van vertaling.

Tydens die simposium “Multatuli Internationaal” (Foto: Elize Zorgman)
Tydens die simposium “Multatuli Internationaal” wat op 18 Junie 2025 aan die Vrije Universiteit in Amsterdam plaasgevind het, het ek ’n lesing oor my vertaling voor ’n waarderende internasionale gehoor gehou. Op die program was sprekers uit Indonesië, terwyl vertalings in onder meer Frans, Chinees, Japans, Koreaans, Russies, Pools, Grieks en Duits bespreek is. Kunsmatige vertalings, sosialistiese transnasionaliteit, Max en Marxisme was ander onderwerpe wat op die belang en veerkragtigheid van die teks wys.22
4.
Behalwe aan universiteite waar die boek hopelik voorgeskryf sal word, is daar ook baie potensiële “gewone” lesers. Toe dit bekend geword het dat my Afrikaanse vertaling in 2025 sou verskyn, is ek baie gou deur ’n paar leeskringe uitgenooi om oor die boek te kom praat. Reeds vanjaar, maar ook in 2026. Die organiseerders van boekfeeste in Pniël, Cradock en Richmond het my ingesluit op hulle programme. Die belangstelling van gehore is oral opvallend groot. Veral ook omdat ek dit telkens belangrik vind om daarop te wys dat hierdie boek uit 1860 juis nóú, 165 jaar later, spesifiek in ons land wat bol staan van nepotisme en korrupsie, gelees moet word. Ek benadruk steeds die aktualiteit daarvan.
In die Suid-Afrikaanse literatuur is ons, veral in verband met boeke wat voor 1990 gepubliseer is, daaraan gewoond dat die eis van betrokkenheid en maatskaplike noodsaaklikheid swaar weeg wanneer ’n boek se “waarde” bepaal word. In die Nederlandse literatuur was en is dit minder die geval, alhoewel daar ook belangrike romans is wat uitgesproke gekant was teen byvoorbeeld kinderarbeid en ander sosiale misstande. Die Tweede Wêreldoorlog is natuurlik ook altyd ’n belangrike tema in die Nederlandse letterkunde.
Dit is vir ons verfrissend en onthutsend om ín Afrikaans oor ander lande se probleme te lees. Max Havelaar is onbeskaamd betrokke literatuur. Die Max Havelaar het dít wat as normaal beskou is tydens die 19de eeu, ernstig bevraagteken. Vrae oor vanselfsprekendhede is natuurlik ’n uitstekende manier om lesers te ontwrig, om hulle nuut na die vertroude wêreld te laat kyk. Nederlanders is danksy Multatuli gedwing om anders te dink oor kolonialisme.
Die roman dien steeds as inspirasiebron vir moderne skrywers, vrydenkers, sosialiste, feministe en humaniste wat hulle teen magsdrif en hebsug verset. Jacqueline Bel, Multatuli-hoogleraar aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, het dit in 2023 weer eens beklemtoon in haar Bert van Selm-lesing, getiteld “Schrijven, drukken, schrappen? Max Havelaar in tijden van sensitivity reading, laaggeletterdheid en ontlezing”.23

Amitav Ghosh (Foto: Gage Skidmore, CC BY-SA 3.0)
Ek verwys daarom dan ook in my inleiding na The nutmeg’s curse (2021) waarin die Indiese skrywer Amitav Ghosh aantoon dat die 21ste-eeuse geo-politieke wêreldorde en die uitbuiting van arm lande deur multinationals gewortel is in die magsmisbruik van Nederlanders op die Molukse eilande tydens die 16de en 17de eeue. Ghosh se meer onlangse boek Smoke and ashes (2023), wat veral handel oor die gewetenlose opiumhandel-praktyke in Indië en Nederlands-Indië, sluit naatloos aan by die uitbuiting en korrupsie wat in die Max Havelaar beskryf word.24
Ek wys wel daarop dat selfs al het die beroemdste Indonesiese skrywer, Pramoedya Ananta Toer, die Max Havelaar in 1999 in The New York Times beskryf as “the book that killed colonialism”,25 dat Multatuli nie gepleit het vir die volledige afskaffing van die koloniale sisteem nie – trouens, as hý maar goewerneur-generaal was! – maar wel oortuigend op ernstige misstande gewys het. Multatuli het immers daarvoor gepleit dat Nederland beter toesig moes gehou het op die plaaslike bestuurslaag wat deur middel van die sogenaamde “cultuurstelsel” in die lewe geroep is.
Verset teen magsmisbruik en uitbuiting is dikwels ’n tevergeefse stryd, soos wat Max tot sy verdriet moes ervaar toe hy ’n vernederende neerlaag gely het in die koloniale bestuurstelsel van Nederlands-Indië. Tog is sy kreet om geregtigheid steeds aktueel. Die feit dat soveel mag deesdae in hande is van enkele superryk wit mans, onder andere Trump en Musk, word daarom deur baie as ’n uiters gevaarlike oligargie beskou. Vir baie mense lyk die krag van kapitalisme onomkeerbaar; voel hulle magteloos.

Multatuli-museums in Amsterdam en Rangkasbitung (Foto’s: Ena Jansen)
Ursula K le Guin (1929–2018) het in een van haar laaste toesprake daarvoor gepleit dat skrywers in die naam van vryheid hulle stemme teen mag moet gebruik. Sy het gesê: “Any human power can be resisted by human beings. Resistance and change often begin in art, the art of words.”26 Multatuli se boek is so ’n kunswerk wat inspireer en oproep tot weerstand. Selfs al is Max Havelaar nie ’n perfekte literêre held nie, is Multatuli se oproep om op te staan teen onreg hard en duidelik. Ook in ons tyd. En in ons land.
Vanaf nou, in die jaar 2025, neem Multatuli sy pen op ook in Afrikaans: “Om te protesteer teen die eindelose ekspedisies en heldedade wat onderneem word teen arme ellendige skepsels wat deur mishandeling gedwing is om uiteindelik in opstand te kom” (bl 377). Multatuli dreig in die slotbladsye van sy boek dat indien hy nie in Nederland gehoor kry nie, dat hy sy boek sal vertaal in alle tale wat hy ken en wat hy nog sal leer. “Dan sou ek my boek vertaal in Maleis, Javaans, Soendanees, Alfoers, Boeginees, Bataks” (bl 377). Baie vertalers het Multatuli sedert 1860 gehelp om te appelleer aan die gewete van maghebbers. Nou dus ook ek, in Afrikaans.
Notas:
1 Ek het die boek op versoek aan die biblioteek van die Multatuli-museum op 1 Junie 2025 oorhandig.
2 https://multatuli.online/vertalingen
3 Sien Pratt, M.L. 1992. Imperial Eyes. Travel Writing and Transculturation. Londen en New York: Routledge, bl 4.
4 Raidt, E.H. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou Beperk.
5 Hein Willemse se artikel oor tekste in Arabies-Afrikaans gebaseer op sy lesing tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée op 25 Julie 2025 (geraadpleeg op 18 Augustus 2025)
6 Sien byvoorbeeld https://afrikaans100.org/afrikaans-geskiedenis/ vir ’n kort oorsig (geraadpleeg 18 Augustus 2025).
7 https://www.youtube.com/watch?v=WBUNKS30y24 (geraadpleeg 18 Augustus 2025). Sien ook https://voertaal.nu/die-talle-vertalings-van-riet-de-jong-goossens-n-tuiste-vir-afrikaans-in-nederlands/ (geraadpleeg 18 Augustus 2025).
8 Riet-de-Jong-Goossens-Dankwoord-Nijhoffprijs-2010.pdf (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
9 Projectsubsidies voor literaire vertalingen (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
10 Eerste Afrikaanse uitgawe. Pretoria: Protea Boekhuis, 2025.
11 Uitgeefgeschiedenis van Max Havelaar (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
12 Verantwoording over Max Havelaar. Deel 1 (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
13 Amsterdam: Elsevier, 1979.
14 Sien ook die proefskrif van Sötemann (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
15 Bladsynommers, ook verder op in die teks, verwys na die Afrikaanse vertaling.
16 Miles se Moleko en Multatuli se Max. Tydskrif vir Letterkunde, 31(1):22–42, Februarie 1993.
17 John Miles (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
18 Wium van Zyl. Genie en vijand. Multatuli in het land van de Apartheid. Over Multatuli, 29:58–9 (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
19 dwmult001maxh088.pdf (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
20 Max Havelaar of de koffiveilingen der Nederlandsche Handelmaatschappy, Multatuli (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
21 Multatuli se grote Max Havelaar nou in Afrikaans, danksy Ena Jansen se vertaling (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
22 Later vanjaar sal die simposiumreferate in die Jaarboek van die Multatuli Genootschap verskyn, onder redaksie van Jacqueline Bel en Elsbeth Etty.
23 Sien Bel, J. 2023. Schrijven, drukken, schrappen? Max Havelaar in tijden van sensitivity reading, laaggeletterdheid en ontlezing. Bert van Selm-lesing, 32. Leiden: Primavera Pers.
24 Amitav Ghosh (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
25 Soos aangehaal deur Bel (2023)
26 Ursula le Guin National Book Award Acceptance Speech (geraadpleeg 18 Augustus 2025)
Lees en kyk ook:
Ena Jansen en Willem de Vries: Multatuli se grote Max Havelaar nou in Afrikaans, danksy Ena Jansen se vertaling
Jean Oosthuizen: Bekendstelling van Max Havelaar: Jaap Goedegebuure in gesprek met Ena Jansen
Willem de Vries en Ena Jansen: Die tienduisend dinge: Ena Jansen vertel van haar Afrikaanse vertaling van Maria Dermoût se groot werk
SJ Naudé: In watter saal word gepraat? Hoe ver trek die klank?
Ingrid Glorie: Memoires van een hoofmeisie
Luna Paige: I was at the Etienne van Heerden Veldsoirée
Asambese Mkumatela: ’n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaanstaalverwerwingstudente
Amanda Marais: LitNet Akademies: Vertaling as oortekening
Willem de Vries en Riet de Jong-Goossens: Die talle vertalings van Riet de Jong-Goossens – ’n tuiste vir Afrikaans in Nederlands
Yves T’Sjoen en Tom Lanoye: Tweespraak met Tom Lanoye #1: "Eigenlijk vraag ik vertalers om op een respectvolle manier respectloos te zijn"
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor



