
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 25 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Inleiding
My titel vir hierdie bydrae1 is deels ’n aanhaling uit Bayān al-Dīn (Uiteensetting van die Geloof), die boek oor Moslemgeloofspraktyke van die 19de-eeuse Koerdiese teoloog Abu Bakr Effendi. In ’n paragraaf oor kleding beskryf hy watter klere vir die gelowige veroorloof is en watter nie. Onder meer verduidelik hy hoe die bande van die tulband (zoerbân) geleidelik afgehaal moet word: “[H]aal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels, maar moenie afhaal die zoerbân met een slag gooi weg op die gront nie.” Wat ons hier regstreeks uit 1869 in die gesig staar, is die spraak van die Kaapse onderklas wat eertyds bespot is as die taal van die “onbeschaafde volksklasse” (Davids 2024:109, 115).

In die een sin is taalverskynsels aanwesig wat ons in hedendaagse Afrikaans herken. In “bitsje bitsje” herken ons reduplikasie, kenmerkend van tale in die Indiese argipel, uitspraakverskille (“bitsje” ipv die Nederlandse “beetje” en “ope” ipv “openen”), dubbele negering (“moenie ... nie”), die vervanging van die Nederlandse lidwoorde “de” en “het” met “die”, en die nuutskepping “omwoelsels”. Die gekursiveerde frase hier bo is ook aanduidend van Abu Bakr se aanleerder-Kaaps-Hollands.
Hierdie sin is ook ’n metafoor vir die aanvanklik ontoeganklike Arabies-Afrikaanse tekste wat met kundige leiding, transliterasie, en taalkundige en historiografiese studie toegankliker gemaak kan word. Ten opsigte van Arabies-Afrikaanse tekste is twee skryfstelsels gevolg, die een in Arabiese grafiese skrif en die ander in Arabiese fonetiese skrif wat die klank van Afrikaanse woorde weergegee het (Davids 2024:145). In die bygaande illustrasie gee ek ’n aanduiding van laasgenoemde leeshandeling in Arabiese skrif wat vir tradisionele Afrikaanse lesers vreemd en verwarrend mag voorkom.
Drie begrippe
Dit is sinvol om ’n aantal begrippe te verklaar.
Ten eerste, die begrip Arabies-Afrikaans. Adrianus van Selms, eertydse professor in Semitiese tale aan die Universiteit van Pretoria, het die term Arabies-Afrikaans in 1951 in sy baanbrekerpublikasie Arabies-Afrikaanse studies gemunt vir “letterkundige werke wat in Afrikaans geskrywe is met Arabiese letters” (Van Selms 1951:7). Hoewel oor die jare verskeie ander terme vir die verskynsel voorgestel is, blyk sy term die standhoudendste te wees en het dit sedertdien ingeburger geraak.
Die term letterkundige werk(e) wat dikwels in besprekings oor die Kaapse Moslem-skryftradisie gebruik word, moet eweneens verklaar word. Die term word in hierdie opsig in die wydste sin van die woord gebruik met verwysing na handgeskrewe manuskriptekste én gedrukte tekste. Die enger term literatuur, waarmee kreatiewe belles lettres bedoel word, is hier grotendeels nie ter sake nie. Ten opsigte van die kreatiewe nalatenskap van dié breë gemeenskap moet die Kaapse populêre en mondelinge kultuur in beskouing geneem word, soos die musiek, mondelinge verhale, en die goël- en magiese stories. ID du Plessis, wat ’n proefskrif oor “Die bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse volkslied” voltooi het, het byvoorbeeld dié nalatenskap onder meer in verskeie van sy boeke geboekstaaf, onder meer The Cape Malays (1944), Tales from the Malay Quarter (1981) en Sapen Sewekop en ander Kaapse stories (1971).
’n Derde begrip wat ons aandag verdien, is kitaab (ook kietaab) met die meervoud kitabe (ook die Engelse meervoud kitaabs), afgelei van die Arabiese woord vir boek, naamlik kitāb, onder meer met verwysing na die “geopenbaarde Boek”, die Koran. (Terloops, nie-Moslems soos Jode en Christene, wat ook aanspraak maak op ’n “geopenbaarde Boek”, word deur Moslem-gelowiges as Ahl al-Kitāb, “Mense van die Boek”, beskou.) Plaaslik, veral in die Kaapse Moslem-skryftradisie, verwys kitaab na handgeskrewe manuskripte of gedrukte boeke in Arabiese ortografie. Die woord is terug te voer na skoolboeke soos in die madressa, die Moslem-skool, gebruik (Jappie 2011:375). Hierdie geskrifte kan teoreties in enige taal en uit enige tydperk wees, maar in ’n historiese verband verwys dit na tekste wat in die koloniale tydperk aan die Kaap tot stand gekom het.
Aanvanklik is hierdie tekste in Maleis in Arabiese skrif geskryf wat as Jawi bekendstaan, en mettertyd, sedert die vroeë 19de eeu, in Kaaps-Hollands in Arabiese skrif. Na dié soort tekste, waar Arabiese ortografie vir ander tale aangewend word, word as ajami-tekste verwys. Die belang van dié tekste in ’n era waar algemene geletterdheid beperk was, is dat dit opvattings bevat van mense wat oor hul onderwerp nagedink het (Haron 2001:12, 13). In ’n koloniale omgewing, waar slawe deel van ’n onderklas was wat as onbetaalde arbeiders sonder morele of intellektuele substans gereken is, dien dié tekste ook as aanduiding van die geloofs- en morele oortuigings van dié tot slaaf gemaakte mense. Van die belangrikste navorsers oor hierdie skriftelike kultuur is Adrianus van Selms (1906–1984), Hans Kähler (1912–1983) en Achmat Davids (1939–1998) (Haron 2001:1–14).
Die kitabe ontstaan in ’n konteks waar mense van Nusantaran (dus die Suid-Indiese Oseaan-argipel en die Maleise Skiereiland) en die Indiese subkontinent as slawe in die Kaap ingevoer is. Van dié mense het verskeie tale gepraat en was selfs geletterd daarin. In die veeltalige omgewing van die Kaap is naas Europese en Afrikatale ook Suid-Asiatiese tale soos Boeginees, Javaans, Makassaars, Maleis en Soendanees, en Indiese tale soos Bengaals en Tamil gehoor (Davids 2024:52–3). Inderdaad beweer die historikus Robert Shell (1997:50) dat die slawebevolking aan die Kaap meer heterogeen was as in enige ander slawesamelewing.
Hierdie mense, onder dwang ingevoer uit die Nederlandse nedersettings in Suidoos-Asië, was van kindsbeen bekend met Islam soos beoefen in daardie streke. Selfs gedurende die Vereenigde Oostindische Compagnie-periode tussen 1652 en 1795, toe die Christelike godsdiens as die enigste openbare geloofsuitdrukking aan die Kaap bedryf en ander tradisies verbied is en massageletterdheid onbekend was, is daar aanduidings dat vorme van alternatiewe, ondergrondse geloofsbeoefening en geletterdheid bestaan het. Shell (1997:356–7) meld dat tydens dié besettingsperiode sommige terdoodveroordeeldes hulle voor teregstelling “tot Allah” gewend het. Meer as ’n derde van die bevolking van Kaapstad het teen 1842 as Moslem geïdentifiseer.
Sommige politieke gevangenes asook slawe was geletterd in hul tradisionele tale. ’n Prins van die eiland Tidore, Abdullah ibn Kadi Abdus Salaam oftewel Tuan Guru (1712–1807), ’n politieke gevangene, is ’n sprekende voorbeeld van ’n leier wat ’n vorm van alternatiewe geletterdheid later in die eerste madressa (omstreeks 1793) aan die Kaap oorgedra het. Die opkoms van die kitaab as ’n onderrig-en-leer-middel kan toegeskryf word aan die vestiging van Islam en Moslemonderwys, en sou dit in die vroeë 19de eeu deel word “van ’n florerende, Arabies-gebaseerde skryfkultuur in Kaapstad, waarin [die kitabe] aktief gelees, gekopieer en versprei is” (Jappie 2011:371).
Saarah Jappie verdeel kitabe in haar navorsing oor Kaapse kultuurobjekte in drie hoofkategorieë, naamlik godsdienstige, talisman- en alledaagse tekste, waarvan die meerderheid in die eerste kategorie val (Jappie 2011:375–9). Die talismantekste hou regstreeks verband met die mistiese tradisies van mense uit die Indiese Oseaan-gebied. Jappie (2011:378) onderskei veral die azeemat of amulettekste wat mense teen onheil moes bewaar. Die laaste kategorie, waarvan min oorgebly het, is die “alledaagse” tekste van sosiale verkeer, soos briewe, verkiesingspamflette (Versteegh 2014), notas, inkopielyste en persoonlike rekordhouding wat waarskynlik vanweë hul niegodsdienstige aard en “alledaagsheid” nie behoue gebly het nie.

Die Turkse navorser Halim Gençoglu verwys onder meer na die beskrywing van Ömer Lütfi, ’n reisgenoot van Abu Bakr Effendi, waarin hy die plaaslike bevolking se gebruik van Kaaps-Hollands noem en ’n voorbeeld van ’n brief insluit. Van die ander reeds bekende geskrifte is ’n brief wat Achmat Effendi geskryf het nadat hy in 1894 in ’n verkiesing vir die Kaapse parlement verslaan is, en die brief van Awaldien, die fes-maker (Davids 2024:83–5).
Godsdienstige kitabe

Gegee die tydsbeperking vir hierdie bydrae word uitsluitlik aandag aan die godsdienstige kitabe gegee, wat gekopieerde weergawes van die Koran insluit, asook studiegidse, voorligting oor godsdienstige praktyke en die sogenaamde koplesboeke. Laasgenoemde, waarvan ’n aantal bestaan, is notaboeke waarin leerlinge die huiswerk van hul khalipha, hul godsdiensleermeester, in Arabiese skrif aangeteken het en wat hulle van buite moes leer. Die meeste van dié soort kitabe spruit uit die periode ná 1804 toe godsdiensvryheid in die Kaap toegelaat is en Islam openlik gepropageer kon word.
In The Afrikaans of the Cape Muslims (1991, 2011), onlangs heruitgegee as The Arabic-Afrikaans writing tradition, 1815–1915 (2024), dui Achmat Davids aan dat die onderrigmetodes van die madressa uit die koplesboeke waargeneem kan word. (’n Afrikaanse verwerking van dié teks is gratis op die webblad van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans beskikbaar.) Hy het van dié notaboeke (in Jawi) uit 1806 en 1808 in sy besit gehad (Davids 2024:67, 89).

Hy noem ’n verdere voorbeeld uit 1860 wat duidelik aantoon dat daar ’n geleidelike verskuiwing na Kaaps-Hollands in die voorafgaande ses dekades was (2024:110, 213n). Dié praktyk het tot teen die einde van die 19de eeu in Arabiese skrif voortbestaan en daarna oorgegaan na Afrikaans in die Romeinse skrif (Haron 2014). Hoewel sulke kitabe in die Erfenismuseum in Simonstad te sien is, noem navorsers soos Muhammed Haron (2001:7) dat toegang vir ondersoek daartoe besonder moeilik is:
No concerted effort was made to collect, collate, and catalogue them; the main reason for this is that the community at large is oblivious of the importance of preserving these mss and texts. Therefore, it is not surprising to find them hidden away in cupboards of individuals without the proper care being taken to preserve them.
Naas die notaboeke van leerders is daar formele godsdienstige tekste, waarvan daar spore in die akademiese debat is. Reeds in 1830 word in die Cape of Good Hope Literary Gazette opgemerk dat die Hollandssprekende “Moslem Maleiers” nie ’n geskikte drukpers in Kaapstad gehad het om ’n teks in Arabiese skrif te druk nie (Davids 2024:83, 89). In 1955 identifiseer Van Selms (1955:61–103) in sy opstel “Isjmoeni se Betroubare Woord” as die oudste Afrikaanse boek, en vermoed hy dat dit ’n herdruk is van Gablomaliem waaroor Het Volksblad ’n eeu tevore, in 1856, berig het.
Daar is ’n voortdurende debat oor die bestaan van hierdie eerste tekste, wat nie nou ter sake is nie. Wat wel duidelik is, is dat omstreeks 1830 daar reeds ’n inheemse skryfkultuur in die moskees en onder die imams en gelowiges ontwikkel het. Hoewel Davids (2024:109) dit stel dat “Dutch orthography [had an influence] on the early Arabic Afrikaans writing”, kan geredelik aanvaar word dat van die vroeë plaaslike skrywers van Kaaps-Hollands nie noodwendig die Romeinse skrif gelees of geskryf het nie, en dat hulle weergawe in Arabiese skrif uitsluitlik op gehoor gebaseer was.

Die bekendste teks in dié verband is Bayān al-Dīn wat Abu Bakr Effendi in 1869 voltooi en in 1877 in opdrag van die Turkse minister van onderwys in Konstantinopel (Istanboel) uitgegee het. Gençoglu (2013:97–100) wys daarop dat die teks uit twee dele en agt onderafdelings bestaan: eerstens “Uiteensetting van die Geloof” of “Verduideliking/Verklaring van die Geloof” – Bayān al-Dīn – wat handel oor ghoesl of woedoe, dit is rituele reiniging; salat, die rituele gebede; zakat (letterlik: suiwering) of die godsdienstige belasting en die vas tydens Ramadan. Die tweede gedeelte, “Waarnemings van die Geloof” – Merasid al-Dīn – handel oor die slag van offerdiere, godsdienstige verbodsbepalings, en die godsdienstige bepalings oor drank en jag.

Vandag word Bayān al-Dīn as een van die oudste Kaaps-Hollandse (Afrikaanse) tekste gereken. Dit is sekerlik die eerste 19de-eeuse teks waar Afrikaans sonder ’n sweem van hekeling of ambivalensie gebruik is. As ’n mens in ag neem dat Abu Bakr Effendi op 13 Januarie 1863 vir die eerste keer in die Kaap voet aan wal gesit het (Gençoglu 2013:58) met kennis van Engels, maar met geen kennis of ervaring van Nederlands of Kaaps-Hollands nie, is dié omvangryke optekening wat in 1869 voltooi is, merkwaardig. Hoewel Davids (2024:109, 115) aanvoer dat Abu Bakr se taal nie tipies van die Kaapse Moslems van die 1860’s was nie, is daar genoeg aanduidings dat die weergawe van Kaaps-Hollands van Bayān al-Dīn uit die onderklasse, die “onbeschaafde volksklasse” van Kaapstad kom. Hoewel daar linguistiese verskynsels aanwesig is wat dui op Abu Bakr se persoonlike taalvoorkeure (Stell 2007:89–107), is dit ook redelik om aan te voer dat plaaslike sprekers in sy onmiddellike kring hom in sy werksaamheid bygestaan en dat hulle spraak in die teks beslag gekry het (Morton: 2022:100).
“Mohammedaansche propaganda”
Die belang van Bayān al-Dīn is indertyd nie in die Kaap na waarde geskat nie, enersyds omdat dit uit ’n ander denkskool as die heersende Shāfi’ī-tradisie gespruit het en andersyds omdat dit nie buite die Kaapse Moslem-gemeenskap vir ander Afrikaanssprekendes bekend was nie.

(Gençoglu het vyf briewe opgediep waarin plaaslike imams hulle verskille met die leerstellings van Abu Bakr uiteensit. Sien ter illustrasie twee van hierdie briewe.)
Daar was wel eietydse buitelandse belangstelling. Michael Jan de Goeje, ’n bekende Nederlandse Arabis en Oriëntalis, gee in 1881 in De Nederlandsche Spectator (1856–1908), ’n literêre tydskrif, ’n kort beskouing van drie boeke. Onder die titel “Mohammedaansche propaganda” meen hy dat dié boeke tekenend is “van den onvermoeiden ijver, waarmede de uitbreiding van den Islam naar Oost en Zuid word voortgezet”. Van die drie boeke beskou hy die derde as “veel merkwaardiger” (De Goeje 1881:1–2). Hy som die boek soos volg op: Na ’n opdrag in Turks en ’n voorwoord in Arabies volg die hoofteks, “eene vertaling of liever verklaring … in eene taal, die ik eerst moeite had te herkennen in het Arabisch schrift, maar die bij nadere beschouwing bleek Kaapsch Hollandsch te zijn” (1881:1–2).
De Goeje noem nie een van die boektitels wat hy bespreek nie, maar die boek wat hy merkwaardig vind en in meer besonderhede behandel, is inderdaad Abu Bakr Effendi se Bayān al-Dīn. Benewens sy opsomming van die teks is De Goeje se opmerkings aangaande “de eigenaardigheden van het dialect” noemenswaardig. Hy noem onder meer ’n aantal verskille tussen Kaaps-Hollands en Nederlands. Sonder om uitgebreid verslag te doen, noem hy die volgende: In Kaaps-Hollands het die -en-uitgang van Nederlands verval: “krij” (in plaas van krijgen), “wrij” (wrijen), “lè” (leggen), “boo” (boven) en “onstrij” (ontstrijden) wat “ontken” beteken.
Hy merk dat ’n -g toegevoeg word by Nederlandse woorde wat op -en eindig, soos “koreng” (koren), “horeng” (horen) en “goedereng” (“zaken” of “dingen” soos in die frase “die goedereng wat groei uit die gront”). Hy merk die weglating van -t op, soos in gers(t), kos(t), vaas (vast), ach(t), nag (nacht) en bees(t). Verkleinwoorde word aangedui met -tsje in plaas van die Nederlandse -tje, en hy noem onder meer “rasijntsjes” (rosyntjies), “kenijntsje” (konyntjies), “peperpotsje” (peperpotjie) en “bitsje” (beetje).
Hy vind die tydsaanduiding wat vir Moslem-gelowiges belangrik is, interessant veral waar die slot-n ’n -t bykry, soos in die uitdrukkings “zont kom uit” (zonsopgang), “zont gaat hoog”, “zont gaat weg”, “zont zak” of “zont set” (zonsondergang).
De Goeje spreek hom ook uit oor die vermoedelike etimologie van bepaalde woorde. Die gebruik van “teeroog” of “olieoog” vir aardlijmput (teerput) en petroleumbron onderskeidelik voer hy terug na die Arabiese gebruik van “oog” vir “bron”. Engels vind hy minder as wat hy verwag het en noem onder meer “trevelaar”, “kwarie”, “babetsje” en “robber” vir reiziger, quarry of mijn, kindje en roover onderskeidelik. Hy noem ’n aantal woorde wat uit Frans kom, maar vermoed dat dié deur die Hollandse koloniste oorgebring is, soos ook die woorde “bakelei” (vechten), “koeligelt” (loon) en “amper” (bijna). Uit die taal van die inheemse mense vermoed hy woorde soos “asgaai”, “labaraan”, “bajaang” en “sambeli” (slachten) met die afleidings “sambelier” (slagter) en “gesambeliede skaap”. Van dié leksikale items wat hy noem, is slegs “asgaai” terug te voer na Zoeloe, maar die res het, anders as wat hy oordeel, hul oorsprong op die eilande van die Indiese Oseaan-argipel, vandag se Indonesië.
In die 19de eeu het subjektiewe oordele dikwels taalbeskrywing beïnvloed. De Goeje boekstaaf sy kort waarnemings op grond van ’n geskrewe teks wat dit uitsonderlik maak. Wat wel beklemtoon moet word, is dat hierdie teks grotendeels ’n weergawe van die gesproke woord is. De Goeje se bekendstelling van hierdie Arabies-Afrikaanse teks het skaars in die Nederlandse (en by uitbreiding die ontluikende Afrikaanse) akademiese wêreld geregistreer. Dit mag wees dat sy artikel en opmerkings oor taal gewoon net geïgnoreer is. Wat ook al die rede, dit sou eers met verskeie van Van Selms (1951, 1955) se vroeë studies, Mia Brandel-Syrier se Engelse vertaling van die Bayān al-Dīn in 1960 en Piet Muller se populêre artikels van 1960 en 1962 wees dat akademiese belangstelling en belangstelling in dié skryftradisie groter aandag sou begin geniet. Algemene bewustheid sou egter uitbly tot die laat 1980’s, en veral die eerste dekades van die 21ste eeu, meer as ’n eeu na die verskyning van die Bayān al-Dīn en die publikasie van De Goeje se artikel.
Ten besluite
Die Kaaps-Hollands van Bāyan al-Dīn het uit ’n taalpolitieke hoek twee belangrike funksies gehad. Eerstens het dit as ’n standaardiseringsteks gedien. Davids wys daarop dat waar die geskrewe Arabiese Afrikaans in vroeë koplesboeke en kitabe onvas was, skrywers ná die verskyning van Abu Bakr se gedrukte teks sy weergawe van die omgangstaal nagevolg het. Tweedens kry die gesproke omgangstaal in Arabiese ortografie ’n verhewe status: “[T]he Arabic script dignified the mode of language” (Davids 2024: 84, 98; kyk ook Stell 2007:116), ’n perspektief wat Davids (2024:84) só verwoord:
Muslims regard the Arabic script as a sacred script, selected by God for the writing of their Holy Qur’an, and it thus has a place of reverence in their socio-religious life. The Cape Muslims therefore did not view Afrikaans as a language of inferiority or coin its negative names of kombuistaal or hotnotstaal. They saw Afrikaans as an inherent part of their psyche and were prepared to transmit it in writing, using their sacred script.
Hoewel verskeie skrywers vóór Abu Bakr die Arabies-Afrikaanse skryftradisie gevestig het, is die bydraers wat bekend is, dié wat ná sy publikasie gepubliseer het. Onder die betrokke publikasies tel Abdullah ibn Abdurauf se Die Boek van Tougeed wat in 1890 verskyn het, waarskynlik die tweede oudste bekende Arabies-Afrikaanse teks (Davids 2024:91; Stell 2007:116) en ’n kinderleesboek van Abu Bakr se seun, Hisham Nimatullah. Toeganklike werke waaroor reeds in die 1990’s Afrikaanse linguistiese studies gedoen is, sluit in Abdurakib ibn Abdul Kahaar se “Die wonderlike tuin” en Achmad Behardien se Su’āl was Jawāb en “Dit is een ‘Kitaab van Towheed’ af vraag en Antwoordt Manier” (Waher 1994). Naas hierdie skrywers behoort ook die name van Ghatieb Magmoed en Abdurahim ibn Muhammed al-Iraki genoem te word, wat ten spyte van die afwesigheid van ’n geskikte plaaslike drukkery hul godsdienstige tekste gepubliseer het (Davids 2024:83, 117). Van die bedrywigste in dié verband was sjeik Ismail Hanif Edwards (1906–1958), wat ’n oeuvre van 35 godsdienstige tekste in Arabiese Afrikaans (16), Afrikaanse geskrifte in Romeinse skrif (15) en in klassieke Arabiese skrif (3) nagelaat het (Stell, Luffin en Rakiep 2007).
*
Hein Willemse is ’n besoekende professor in die Sentrum vir Kreatiewe Skryfwerk en Afrikatale aan Sol Plaatje Universiteit, Kimberley.
Bibliografie
Brandel-Syrier, Mia. 1960. Religious duties of Islam as taught and explained by Abu Bakr Effendi. Pretoria: Oriental Studies.
Davids, Achmat. 2024. The Arabic-Afrikaans writing tradition 1815–1915. Johannesburg: Jacana Media.
De Goeje, MJ. 1881. De Nederlandsche spectator, 51:1–6. https://opendata.uni-halle.de/handle/1981185920/99528.
Du Plessis, ID. 1944. The Cape Malays. Kaapstad: Maskew Miller.
—. 1971. Sapen Sewekop en ander Kaapse stories. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.
—. 1981. Tales from the Malay Quarter. Kaapstad: Howard Timmins.
Gençoglu, Halim. 2013. Abu Bakr Effendi. A report on the activities and challenges of an Ottoman Muslim theologian in the Cape of Good Hope. MA-verhandeling. Universiteit van Kaapstad.
Haron, Muhammed. 2001. The making, preservation and study of South African Ajami mss and texts, Sudanic Africa, 12:1–14. https://www.jstor.org/stable/25653354.
—. 2014. Revisiting Al-Qawl al-Matīn: a sociolinguistically engineered Arabic-Afrikaans text. The Arabic Script in Africa, ble 343–64. https://doi.org/10.1163/9789004256804_017.
Jappie, Saarah. 2011. From the madrasah to the museum: the social life of the “kietaabs” of Cape Town. History in Africa, 38:369–99.
Morton, Shafiq. 2022. The crescent at the Cape, the true story of Shaykh Abu Bakr Effendi 1814–1880. National Awqaf Foundation of South Africa, IRCICA.
Muller, PJ. 1960. Eerste skool met Afrikaansmedium in die Slamse buurt. Die Burger, 28 November.
—. 1962. Die Maleier-Afrikaanse Taalbeweging, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal XVIII(1).
Shell, Robert. 1997. Children of bondage. A social history of the slave society at the Cape of Good Hope 1652–1838. Johannesburg: Witwatersrand University Press.
Stell, Gerald. 2007. From Kitaab-Hollandsch to Kitaab-Afrikaans: the evolution of a non-white literary variety at the Cape (1856–1940). Stellenbosch Papers in Linguistics, 37:89–127. DOI: 10.5774/37-0-16.
Stell, Gerald, Xavier Luffin en Muttaqin Rakiep. 2007. Religious and secular Cape Malay Afrikaans: literary varieties used by Shaykh Hanif Edwards (1906–1958). Bijdragen tot de Taal-, Land- en Volkenkunde, 163(2/3):289–325. https://www.jstor.org/stable/27868383.
Van der Merwe, Chris, Hester Waher en Joan Hambidge (samestellers). 1994. Rondom Roy. Studies opgedra aan Roy H Pheiffer. Kaapstad: Departement Afrikaans en Nederlands, ble 112–22.
Van Selms, Adrianus. 1951. Arabies-Afrikaanse studies – Tweetalige (Arabies en Afrikaans) kategismus. Amsterdam: NV Noord-Hollandsche Uitgewers.
—. 1955. Die oudste boek in Afrikaans: “Isjmoeni se Betroubare Woord.” Hertzog Annale, II(3):61–103.
Versteegh, Kees. 2014. A remarkable document in Arabic-Afrikaans: the election pamphlet.
Waher, Hester. 1994. Vernederlandsing en die Afrikaanse afleidingsaffikse: getuienis uit Kaapse Moeslim-Afrikaans. In Van der Merwe, Waher en Hambidge (samestellers) 1994.
Nota
1 ’n Praatjie op uitnodiging gelewer by die Etienne van Heerden Veldsoirée, Nxuba, 25 Julie 2025. My opregte dank aan die Veldsoirée-span, met name Izak de Vries, Darryl David en Etienne van Heerden.
Lees en kyk ook:
Menán van Heerden: Die Bo-Kaap: Arabiese Afrikaans en die Kaapse Moslemgemeenskap
Hein Willemse: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems (Achmat Davids): Bekendstellingstoespraak
Menán van Heerden: Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling
Izak de Vries: Die veelrassige storie van Afrikaans
Elvis Saal: ATR-komvandaan-seminaar 2019: Van “brokwa” tot “broodgoed” – op reis met Oranjerivierafrikaans (Gariep-Afrikaans)
Hans du Plessis: Herkomsseminaar: Afrikaans sonder grense
Naomi Meyer en Danie Marais: Die stories van Afrikaans op kykNET: ’n onderhoud met Danie Marais
Earl Basson: Omvormie norm: Standaardafrikaans als voertaal
Michael le Cordeur: Afrikaans se talle tonge
Hans du Plessis: Oor Griekwa-Afrikaans
Johan Fourie: Agterstories – Ideesmouse
Menán van Heerden: Afrikaans: the language of dissent
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




