Omvormie norm: Standaardafrikaans als voertaal

  • 0

I

“Nou wat gaan gebeur met Afrikaans-onderrig in Orania?”

Ek sit oppie balcony en roek ’n entjie. Dis al sieke mee as ’n jaa narat ’n juffrou dai gesêrit toe ek voostel dat ôs Kaapse Afrikaans deel maak van Afrikaans-onnerig. Haa woorde het ’n rhythm wat ek met elke trek anie entjie probee namaak. Ek trek wee oppie beat van haa woorde en vestik anie roek. Tewyl ek soe narie as oppie entjie kyk, beginne ek te lag. “Jarrie, wit mense is am anneste.”

Vi lank kon ekkie vestaan hoerat die juffrou vi ha ytgie oo Afrikaans in Orania as my vraag geganit oorie kinnes in haa klas nie. Ek kan nie vestaan hoerat haa kommer geplant is in grond waa’oo ek ennie kinnes in haa klas nie ees kan loepie. Dais waarit by my opkom: Sy beskou my voorstel as ’n bedreiging virrie homogeniteit van Standaardafrikaans; sy sien my voostel as ’n bedreiging virrie opvoeding vannie Afrikanerkind; sy sien my voorstel as ’n bedreiging virrie tong vannie Afrikanerkind.

Destyds toe Langenhoven van Afrikaans-moedertaalonnerrig droem, het hy gedroem van ’n wêreld waarie Afrikanerkinders se hystaal hulle skooltaal is en hulle skooltaal hulle hystaal. Soe, die juffrou se rol is sieke vi haa baie dydelik: Orals waa daa ’n “hys” is en Afrikaans moet gebryk wôd, is sy die ienagste moeder wat mag praat. Anie ynde vannie dag issit haa wêk ommie kinnes reg te lee praat, want hulle ma’s lee vi hulle vekeed.

Dis haa wêk om sieke te maak wanne die kinnes eendag vir ’n wêksonnehoud gan, hulle soe praat dattie mense nie dink hulle is gangsters nie. Sy moet vesieke dattie kinnes nie soes Jeremy idiome gebryk wat daartoe lei dat djy jou wêk veloo nie. En laastens moet sy oek kyk dattie kinnes nie soes Nathan inne gangstertaal skryfie. Dit is hoeko sy soe swaa dra anie rooi krys in haa Space Case.

II

Alhoewel ek steeds gloe dattie juffrou goed bedoel en sieke maa ’n joke gemaakit, het iets omtrent Afrikaans en Orania soes ’n doring onne my vel gevoel. In dai oomblik het ek die Koeksistermonument voo my oë gesien. En dis asof die koeksister ’n ytstaling is van een string van Afrikaans se DNS of ’n kettang wat ommie taal se nek hang. Dit het my an Srhir (2012) se siening van ’n standaardtaal herinner. Volgens Srhir (2012:58) moet ’n mens an ’n standaardtaal dink as ’n vewysingspunt van ’n magsentrum. En die magsentrum is ’n verteenwoordiging van ’n identiteit, ’n plek of ’n staat wat hulle eie political en economic belange het. As ons Srhrir (2012:58) se siening van ’n standaardtaal anie juffrou se vraag koppel, dan wôd Standaardafrikaans ’n verwysingspunt na Orania – ’n dorp wat ’n fisiese herinnering is vannie veliede.

“Afrikaans is ’n witmanstaal.”

In 1914 het Langenhoven dai woorde gesê en dai siening hettie fondasie gevorm vir Standaardafrikaans soes ôsit vandag ken. Dit is die doeke waarmee Standaardafrikaans toegevou is. Dit is hoekô die juffrou se vraag vi my soe vi my pla. Ek wiet sy is eintlik min gespin oorie onnerig van Afrikaans in Orania. Haa vraag gan aire oo wat sy sieke maa as ’n bedreiging sien vi haa siening vannie aard van Afrikaans en Standaardafrikaans. Ek moet oek vestaan: Die taal is gestandaardiseer in ’n anne tyd en sy het groot gewôd in ’n anne tyd. Soe dit is ’n swaa pil vi haa om te sluk. Maa dit is oek ’n swaa pil vi my om te sluk.

III

’n Standaardvariëteit issie net ’n gemeenskaplike kommunikasiemiddel, soes wat ons deesdae aanvaar, nie. As dit die case was, sou Langenhoven nie in sy pleidooi virrie standaardisering van Afrikaans die taal as ’n witmanstaal beskryf het nie. ’n Standaardvariëteit vanne taal is ’n simbool watte groep mense saambind. Dit issie net eenvormige taalreëls nie; dit is ’n refleksie vannie norm. Dit reflek die sosiopolitieke oortygings en waardes vanne samelewing. Soe die Standaardafrikaans waamee die juffrou grootgewôd het en wat sy gelee is om te onnerrig, reflek die norm van ’n bepaalde tyd innie land se geskiedenis – ’n tyd van onnedrukking, spesifiek ’n tyd toe die ontologiese pluralisme van Afrikaans toegepleiste is. Anie annekant het ek grootgewôd in ’n tyd van demokrasie; in ’n tyd waa djy die hele tyd hoo Afrikaans issie somtotaal vannie variëteite, maa min is gedoen anie variëteit wat ’n refleksie vannie niewe Suid-Afrika moet wies. Daa is min gedoen ommie demokratiese beginsels vannie nuwe Suid-Afrika innie standaardtaalvorm van Afrikaans te reflek.

Oorie afgeloepe 30 jaa lies djy elke kee ’n niewe artikel waarie Afrikaanse “huis” uitgeturn wôd en djy hoo die hele tyd van Afrikaans issie somtotaal vannie variëteite, maa daa wôd nooit niewe furniture innie huis ingebringie. Leonard Newell (1991:45) sê dat “The lexicon reflects the culture of a people: their world view, values, taboos, aspirations, intercultural and intracultural relationships, their history.” Ek stem saam as ’n mens na die leksikon van Standaardafrikaans kyk. Dai is hoekal die probleem – die leksikon van Standaardafrikaans reflek net ôs veliede, nie ôs hede of toekoms nie. Dit is oek hoekô die juffrou vi my oo Afrikaans-onnerig in Orania kon vra. My voostel sal die norm (hie: taalvorm en -beeld) van Standaardafrikaans wattie kinnes in Orania ken, ontwrig. Maa dis mos wat ôs wil hê? Of ôs moet wil hê? Ôs wil tog sieke hê dat Standaardafrikaans genoeg ve’anne darrit ’n sleutel tot ’n bietere liewe is vi ammal wat Afrikaans praat? Dat Standaardafrikaans innie niewe Suid-Afrika in vorm en in beeld ’n refleksie is vannie waardes waavoo mense geveg het en hulle liewens veloorit? Ôs wil tog sieke ’n gemeenskap wies wattie bang is om ôs foute te erken en reg te maakie? Ôs moet wil hê dat Standaardafrikaans anneste lyk as die Standaardafrikaans wat in ’n dorp beskerm word waanatoe die meeste Suid-Afrikaners nie kan gaanie.

Afrikaans is oor ’n paa maande 100 jaa ’n amptelike taal van Suid-Afrika. Ek het gesien die horoscopes sê die syfe 100 simbolisee ’n positiewe ve’annering of ’n rebirth. Dalk is ek idealisties, maa ek dink ôs is nou oppie plek waa Standaardafrikaans deur die antie af innie pad uitgesmee moet wôd tewyl generasies van ma’s hyl oorie pyn ennie afval vannie veliede, maa oek excitedly praat oo hoe mooi gesond Standaardfrikaans nou gan opgroei.

Bibliografie

Newell, LE. 1991. Philippine lexicography: the state of the art. International Journal of the Sociology of Language, 88(2):45–57.

Srhir, AM. 2012. Language planning, standardization and dynamics of change in Moroccan Arabic. Dialectologia, 9:53–69.

Lees ook:

Earl Basson: “Kaaps issie hie om te kô afbriekie”: Rolspelers in Afrikaansonderrig se siening oor die insluiting van Kaapse Afrikaanse idiome vir die herstandaardisering van Afrikaans

SteedsDink met LitNet Akademies: Earl Basson

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top