
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met brandende kwessies op die oomblik. Hierdie onderhoud handel oor die akademiese artikel “Sionistiese propaganda (hasbara) of morele integriteit? President Joe Biden oor die Israel-Hamas-oorlog van 2023” deur Marthie Momberg wat in Julie 2024 op LitNet Akademies verskyn het.
Gegewe die snelveranderende nuus, stel die onderhoud ten doel om Trump se uitlatings oor Gaza en sy outoritêre vergrype (kriminalisering van pro-Palestynse studenteaksie, sensuur, onttrekking van befondsing aan universiteite, ensovoorts) te meet aan Biden (en die tradisionele Amerikaanse beleid teenoor Israel) se benadering tot / gebruik van sionistiese propaganda, soos uiteengesit in bogenoemde artikel.
Hasbara en Biden
Jannike Bergh: Hallo, Marthie. Jou artikel lê uiteen hoe die VSA-Israel-verhouding geskiedkundig steun op sionistiese propaganda, of hasbara, waarvolgens dié twee lande se leiers en publieke verteenwoordigers se boodskappe (PR-veldtogte) daarop gemik is om die publiek te manipuleer deur die onderdrukking van Palestyne onversteurd te laat geskied. Jy skryf:
Die toon en aanslag van hasbara is ontwerp om gebalanseerd, objektief en empaties te klink, maar die doel is om die Palestyne en hulle saak verdag te maak. Hasbara word gebruik om enige verset teen Israel te stigmatiseer. Selfs vreedsame protes soos optogte, openbare kritiek en die BDS-veldtog is in die visier.
Jou artikel plaas spesifieke klem op die voormalige Amerikaanse president Joe Biden, vanweë sy onfeilbare steun aan Israel – met uitlatings soos: “You don’t have to be a Jew to be a Zionist, and I’m a Zionist” – wat in praktyk vertaal word as miljarde dollars in wapens en militêre steun aan Israel om hulle oorlog op Gaza voort te sit – vandaar sy bynaam “Genocide Joe”.
’n Skietstilstand is op Biden se voorlaaste dag as Amerikaanse president aangekondig. Die skietstilstand-ooreenkoms is intussen verbreek en is gevolg deur die dodelikste aanslag op inwoners van Gaza.
My vraag is dus: Waarom is die skietstilstand van so ’n korte duur gewees? Wat hou dit in vir toekomstige vredesooreenkomste? Sou ons ’n skietstilstand vroeër gesien het as dit nié Biden was wat aan die stuur was nie?
Marthie Momberg: Die lot van die Palestyne was nog nooit vir Amerika ’n prioriteit nie. President Biden se slaafse gebruik van hasbara sedert Oktober 2023 was skokkend, maar nie onverwags nie.
Biden het voortborduur op die Israel-is-goed-en-Palestyne-is-verdag-tema en Israel voorgehou as ’n onskuldige, hulpbehoewende slagoffer en die Palestyne as ’n spul wrede terroriste sonder enige regte. Oor die kritiese verskil tussen Israel se reg op verdediging en oorlogvoering versus Israel se reg op wetstoepassing in die konteks van ’n besetting, het hy geswyg. Sy administrasie veto die eerste vier voorstelle vir ’n skietstilstand en aanvaar eers in November 2023 ’n kort, tydelike verposing sodat Hamas en Israel gevangenes kon uitruil. Daarna woed die verwoesting voort en Amerika hou aan om wapens aan Israel te stuur vir ’n onwettige oorlog. Alles was in Israel se visier: universiteite, biblioteke, skole, kommunikasienetwerke, die openbare infrastruktuur, hospitale, besighede, huise, kerke, moskees, die eko-stelsel én die waarheid. Tienduisende is dood, vermink, vermis of ontvoer. Die oorlewendes was ontheem, honger, dors en nêrens veilig nie. Die dokumentêre film Al-Shifa Hospital: the crimes they tried to bury ontbloot byvoorbeeld Israel se vernietiging van hierdie hospitaal en die massagraf met mediese personeel onder die voorwendsel van verdediging teen Hamas-tonnels.
Meer as ’n jaar later, ’n dag voordat Trump se termyn aanbreek, laat Biden op 19 Februarie 2025 ’n tweede, tydelike skietstilstand toe. Teen daardie tyd het die Internasionale Geregshof maande tevore reeds bevestig dat Israel waarskynlik volksmoord pleeg. Ook Suid-Afrika se tweede saak by die Wêreldhof – hierdie keer dat Israel wél volksmoord pleeg – is ingedien.
Hierdie tweede, langer skietstilstand was ook nie ’n poging om die oorlog te beëindig nie. Eintlik was dit nooit ’n volledige skietstilstand nie, want Israeliese skerpskutters het steeds byna daagliks ongewapende Palestynse burgerlikes in Gaza gewond en vermoor. Daarby het Israel die geweld van stadige dood op 2 Maart ingestel – in weerwil van die ooreenkoms én internasionale reg. Daar was daar nie eens meer gesprekke oor of en hoeveel vragmotors met vrag na Gaza deurgelaat mag word nie, of ’n tydelike hawe nodig is of nie, en of voorrade deur vliegtuie afgelewer moet word nie. Israel het summier alle lewering van noodsaaklike water, kos, brandstof en medisyne aan Gaza gestaak. Nou, meer as twee maande later terwyl ek hierdie stuk skryf, geld dié verbod steeds. Intussen verdiep Israel se geweld teen die Palestyne ook in die Wesoewer in plekke soos Betlehem, Hebron, Jenin, Nablus, Ramallah, Susiya, Tubas, Tulkarm, Qalandiya en Qalqiliya steeds.
Toe Israel vroegoggend op 18 Maart die tweede skietstilstand formeel verbreek met uitgebreide lugaanvalle op Gaza, was Trump omtrent ’n maand lank aan bewind. Israel se staking van voorrade en die hernude oorlog in ’n winterlandskap van massagrafte, puin en verhongerde mense in die grootste opelug tronk ter wêreld, het alles gebeur in konsultasie en met die ondersteuning van die Trump-administrasie.
........
Sou daar vroeër ’n skietstilstand gewees het as Kamala Harris die nuwe president was? Onwaarskynlik. Soos Biden, het Barack Obama en ander voormalige Amerikaanse leiers almal wat gemeen het dat Amerika tog uiteindelik Israel se wandade sou stop, vir die gek gehou.
........
Sou daar vroeër ’n skietstilstand gewees het as Kamala Harris die nuwe president was? Onwaarskynlik. Soos Biden, het Barack Obama en ander voormalige Amerikaanse leiers almal wat gemeen het dat Amerika tog uiteindelik Israel se wandade sou stop, vir die gek gehou. Biden het byvoorbeeld nooit Trump se verskuiwing van die Amerikaanse ambassade vanaf Tel Aviv na die besette Oos-Jerusalem in 2018 – ’n stap om ook Oos-Jerusalem te annekseer – omgekeer nie. Harris sou dit ook nie doen nie. Onder haar sou die proses meer uitgerek gewees het en op die oog af meer diplomaties. Sy sou egter ook wapens aan Israel stuur en niks doen om die Palestyne se onderdrukking te beëindig nie. Daar was sedert 1948 eenvoudig nog geen tasbare bewyse dat Amerika die ongelyke verhouding tussen die Palestyne en Israel erken, of eerlik gaan wees oor Israel se voortgesette menseregteskendings nie. Nòg die Republikeinse Party, nòg die Demokratiese Party het ooit daadwerklike druk uitgeoefen of beduidende aksies onderneem om Israel se grondvergrype te halt nie.
Dit het nog nooit regtig saak gemaak wie in Amerika aan bewind was nie. Daar was vir die Palestyne net een opsie: Maak soos ons sê en vergeet dat julle regte het en ooit ’n eie land of volle burgerskap in ’n gesamentlike staat sal kry. Selfs daardie presidente wat in gloeiende terme oor menseregte gepraat het, het Israel se onderdrukking van die Palestyne toegelaat en nie internasionale wetgewing afgedwing nie. In plaas daarvan, het hulle voortgegaan met finansiële, militêre, ideologiese en diplomatieke steun aan ’n regime wat staatsgeweld pleeg. Hulle het Israel voorgehou as ’n eerlike demokrasie en die dinamika tussen die twee partye as ’n “konflik” tussen twee “gelyke” partye omskryf, terwyl die een party ’n militêre supermoondheid is en die ander nie ’n weermag mag hê nie. Al die praatjies oor “vrede” en ’n “tweestaat-oplossing” sonder daadwerklike aksie het vir Israel net meer tyd gegee om soveel moontlik van Palestina oor te neem met so min moontlik mense.
Toe Obama byvoorbeeld in September 2011 in die VN betoog het teen Palestina se aansoek om as ’n staat erken te word, het hy uitgebrei oor die Europese Jode se geweldige lyding en behoefte aan ’n eie staat. Oor die Palestyne het hy gepraat asof hulle geen geskiedenis, geen lyding en geen regte het nie. Hy was tjoepstil oor Amerikaanse belange, ’n militêre supermoondheid, die asimmetriese verhouding en Israel se magsvergrype. Kortom, hy het die Palestyne se onderdrukking met die hulp van hasbara genormaliseer. Toe ’n Britse kollega en ek destyds na dié toespraak op haar draagbare radio in die internasionale huis in Yanoun (in die noorde van die Wesoewer) geluister het, het ek gewonder of Obama ook die voormalige anti-apartheidstryd in Suid-Afrika as ’n “botsing” of ’n “konflik” beskou wat “beskerming” en die “verdediging” van die staat genoodsaak het.
Gaza deur die oë van ’n eiendomsmagnaat
Jannike Bergh: Donald Trump het sedert sy inhuldiging in Januarie 2025 dadelik weggetrek met onrusbarende stellings oor Gaza – dat Amerika die huidig onleefbare Gaza gaan omskep in ’n “riviera van die Midde-Ooste” – en op 5 Maart, voordat Israel die skietstilstand verbreek het later daardie maand, het hy die volgende dreigement teenoor “the people of Gaza” op sosiale media gemaak:
Also, to the People of Gaza: A beautiful Future awaits, but not if you hold Hostages. If you do, you are DEAD! Make a SMART decision. RELEASE THE HOSTAGES NOW, OR THERE WILL BE HELL TO PAY LATER!
Die Palestynse skrywer Mohammed El-Kurd het in ’n gesprek oor sy nuwe boek Perfect victims aan Democracy Now gesê:
What I think Donald Trump is doing is that he is dropping the script of the State Department, the official American script, and just saying things as they are without a filter. And that is helping people understand the long-term American project, because as disgusting and as abhorrent as Trump’s comments were about creating property on the Gaza Strip, it would have never been possible had it been not for the Democratic Party and President Biden flattening Gaza and allowing the flattening of Gaza in the first place.
Met bogenoemde aanhalings van onderskeidelik Donald Trump en Mohammed El-Kurd ter agtergrond, het die verdagmaking van Palestyne aan die hand van sionistiese propaganda die abjektheid van Trump se stellings bewerkstellig? Is daar in terme van Israel se ambisies ’n wesenlike verskil tussen Amerika-die-bondgenoot van 2024 en die een van 2025, met verskuiwende geopolitieke belange op die spel?
Marthie Momberg: Trump se styl verskil ooglopend van dié van sy voorgangers. Die hoflik-redelike styl van hasbara wat Biden en sy voorgangers gebruik het, het onder Trump se leiding verdwyn. Hy stel nie daarin belang om die VSA as ’n betroubare vennoot en onderhandelaar voor te hou nie en gee eenvoudig nie om vir hierdie soort konvensies nie. Maar al het hy die leë mantras van “rede” en “vrede” laat vaar, het Trump nogtans nie die wese van Amerika se posisie oor die kwessie, naamlik dat Israel en nét Israel tel, verander nie.
........
Trump gooi hout op die vuur. Sy kru uitsprake en sy openlike minagting vir internasionale reg het gevolge. Onder sy bewind versnel die dinamika en die gruwelhede word op die spits gedryf. Daar is egter ook – vanuit Trump en sionistiese ondersteuners se perspektief – onbedoelde gevolge.
........
En tog het die dinamika op ’n skrikwekkende wyse verander. Trump gooi hout op die vuur. Sy kru uitsprake en sy openlike minagting vir internasionale reg het gevolge. Onder sy bewind versnel die dinamika en die gruwelhede word op die spits gedryf. Daar is egter ook – vanuit Trump en sionistiese ondersteuners se perspektief – onbedoelde gevolge. Dis nie asof hasbara se wêreldwye invloed oornag gaan verdwyn nie, maar Trump se wrede en aanstootlike aanslag verbreek die illusie dat Amerika wel eendag teen Israel sal optree en ’n volhoubare oplossing in gedagte het. Dink byvoorbeeld aan sy opmerking teenoor Netanyahu dat hy kan doen wat hy wil. Of aan sy eiendomsaansprake op Gaza en die KI-video op sosiale media waarin hy en Musk daar vakansie hou en pizza eet. Al hoe meer mense begin verstaan wat vir ingeligtes lankal onafwendbaar lyk: Amerika het géén planne om Israel se besetting van Palestina te beëindig nie.
Hasbara in die tyd van KI
Jannike Bergh: Slavoj Zizek het op 25 Februarie op sy Substack (blog) geskryf oor “Trump’s hasbara”, waarin hy onder andere verwys na die KI-video van Trump en Netanyahu wat vakansie hou in die nuwe Trump Gaza.
Zizek se uitgangspunt is as volg: Israel se hasbara-veldtog het so uitgebrei dat dit begin steun het op KI:
One of the new AI bots, which was reported in the press, was branded as FactFinder AI. It was designed to “correct” misinformation, reconcile the paradoxes of hasbara, automate and expand hasbara campaigns, and reinforce Zionist narratives. However, when exposed to the real data landscape, the bot encountered undeniable realities – Israel’s history of occupation, apartheid, and war crimes – and, instead of ignoring them (as Zionist hasbara does), the AI bot began processing them into responses. Israel’s AI hasbara campaign backfired spectacularly, because even AI, when confronted with historical records, existing media narratives, and empirical data, could not fabricate a coherent pro-Israel stance because there is no coherent pro-Israel stance.
My vraag is dus: Het die betekenis van hasbara – weergawe 2025 – geskuif? Kan ons nog ’n onderskeid tref tussen “tradisionele” prosesse van manufacturing consent, hasbara en blote postmoderne trolling?
Marthie Momberg: Die meeste van Amerika se kiesers het nog altyd met die valse en verdelende propaganda van hasbara geïdentifiseer. Teen April 2024 het 28 van die 50 Amerikaanse state byvoorbeeld vreedsame protes teen Israel se wandade deur middel van boikotaksies gekriminaliseer en daarmee die Palestyne se wêreldwye oproepe sedert 2005 om hulp met nie-gewelddadige verset verwerp. Dié vorm van protes teen staatsgeweld, soos ook disinvestering en sanksies, is volgens internasionale reg aanvaarbaar. In hulle verkiesingsveldtogte het Biden, Harris en Trump al drie aanvaar dat Amerikaanse kiesers, met die uitsondering van ’n klein minderheid, bankvas agter Israel staan. Talle Demokrate het egter in die 2025-verkiesing buite stemming gebly juis omdat hulle binne die konteks van die oorlog op Gaza net nie kans gesien het om vir ’n president te stem wat die Palestyne se verguising toelaat nie.
In die afgelope paar maande het die menings van die Amerikaanse publiek merkbaar begin verskuif. Mondoweiss bespreek drie onlangse meningspeilings wat elk ’n beduidende swaai weg van steun vir Israel en die oorlog aandui. As hierdie drie meningspeilings gesamentlik ontleed word, wys die analise dat hoofsaaklik nog net ouer Republikeine die Israel-projek steun. Trump (en sionistiese drukgroepe soos die American Israel Public Affairs Committee, oftewel AIPAC en ander befondsers en beïnvloeders) verstaan die groeiende burgerlike protes in die strate van die VSA as ’n bedreiging. Die Amerikaanse regering reageer met dwang deur toe te slaan op universiteite, studente, groenkaarthouers, immigrante, toeriste en andere deur befondsing te staak, kantore en blyplekke te ondersoek, visums te weier of terug te trek en tronkstraf uit te deel. Kortom, in sy eerste 100 dae van presidentskap het Trump vreedsame protes teen Israel en die oorlog op drakoniese wyses gekriminaliseer tot die mate waartoe vryheid van spraak en akademiese integriteit in Amerika bevraagteken kan word.
........
Anders as Biden wat ’n front van empatie en lojaliteit aan internasionale reg wou voorhou terwyl die wêreld toekyk hoedat volksmoord lewendig gebeeldsend word, sanksioneer Trump die gruwelhede skaamteloos.
........
Anders as Biden wat ’n front van empatie en lojaliteit aan internasionale reg wou voorhou terwyl die wêreld toekyk hoedat volksmoord lewendig gebeeldsend word, sanksioneer Trump die gruwelhede skaamteloos. Sedert die einde van die tweede skietstaking in Maart 2025 het Israel Rafah uitgewis, ’n vyfde van Gaza omskep in ’n reusebuffersone en voortgegaan om die inwoners van een na die volgende area te verskuif net om hulle daar te bombardeer. Israel gee nie eens meer voor dat hulle net Hamas of militêre teikens aanval nie. Eksterne kontrole oor Gaza is nou vervang met die strewe na volledige beheer en waarskynlik ook anneksasie. Dit, saam die strategie van verhongering en ontbering, skep die indruk dat Israel van soveel moontlik mense in Gaza ontslae wil raak. Soos die +972 Magazine dit stel in ’n artikel met die titel Israel’s latest vision for Gaza has a name: concentration camp:
Perhaps the government and the military believe that a “voluntary departure” of Gaza’s population will erase Israel’s crimes – that once Palestinians find a better future elsewhere, past actions will be forgotten. The sad truth is that while forced transfer of this scale is not practically feasible, the methods Israel might use to implement it could lead to even graver crimes – concentration camps, systematic destruction of the entire enclave, and possibly even outright extermination.
Ook in Israel eskaleer burgerlike opstande en ook hier raak die staat ’n vyand van sy eie burgers. Derduisende reserviste weier om verder deel te neem aan die oorlog en die regering besef dat die staat se gevestigde sionistiese orde deur die binnelandse protes bedreig word. Soos Amerika, gebruik die Israeliese staat geweld, dubbelsinnige wetlike beperkings, afdankings en arrestasie as afskrikmiddels om kritiek te onderdruk. En dis nie meer net Arabiese Israeli’s wat krimineel vervolg word nie. Vir die eerste maal word ook Joodse Israeli’s krimineel aangekla as hulle empatie toon met Palestynse burgerlikes of matige kritiek opper teen die oorlog. Hulle telefoongesprekke en sosiale media word deur KI gefynkam vir enige steun vir sogenaamde terrorisme. Foto’s van Palestynse kinders of Israeliese gyselaars en die woord volksmoord op plakkate is verbode. Daarby lei enige publieke vertoon van simbole van Palestynse nasionalisme, soos die vlag, keffiyehs, waatlemoene en verwysings na Gaza, daartoe dat mense in Israel hulle werk verloor, nie mag studeer nie, of aan polisie-ondervragings en vervolging onderwerp word. Die pretensies van ’n demokrasie en vryheid van spraak is dus ook in Israel aan die verdwyn, terwyl die staat sy eie burgers se protes teen ’n immorele en onwettige oorlog kriminaliseer.
........
Onder Trump het Amerika se posisie as ’n dominante wêreldmoondheid en ’n prominente hulpverlener, asook die illusie dat Amerika aan die kant van internasionale reg is, verkrummel. Wêreldwyd, maar veral in die VSA, ondersteun ’n groeiende aantal Jode nie meer Sionisme en Israel nie.
........
Onder Trump het Amerika se posisie as ’n dominante wêreldmoondheid en ’n prominente hulpverlener, asook die illusie dat Amerika aan die kant van internasionale reg is, verkrummel. Wêreldwyd, maar veral in die VSA, ondersteun ’n groeiende aantal Jode nie meer Sionisme en Israel nie. Soos die Joodse Israeli’s en die Suid-Afrikaanse Jode in 21 voices: why the Palestinian struggle is a global matter (Naledi, 2023) verduidelik, is Israel besig met ’n proses van self-vernietiging. Intussen betaal die Palestyne die prys.
As regerings weier om internasionale reg konsekwent toe te pas en as mense onder die vaandel van ’n ideologie of godsdiens die uitwissing van ’n groep mense probeer regverdig, dan word dit die verantwoordelikheid van die burgerlike samelewing in elke land om die sirene te lui. Gewone burgers, kerke, joernaliste en juis ons as Suid-Afrikaners moet dan openlik kritiese vrae vra en druk op instansies en regerings plaas om die onreg te stop.
Jannike Bergh: Het jy enige raad of advies vir akademici, skrywers, joernaliste, kunstenaars, asook die burgerlike samelewing, wat verkies om te swyg eerder as om werklik hulle gewig agter die saak te gooi, weens die vrees dat dit hul in hulle professionele of private lewens kan belemmer?
Marthie Momberg: Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om te onderskei tussen propaganda en die werklikheid en om mekaar te sensitiseer. Om stil te bly of net te bid terwyl mense afgemaai word, is eenvoudig nie goed genoeg nie. Dis nodig vir diepgaande, teologiese besinning saam met kundigheid oor die konteks. Dis nodig om met mekaar te praat om ’n eetkamertafel, en om nie produkte uit Israel te koop nie. Ons sal eendag terugkyk na hierdie tyd. Dan sal ons onsself moet vra of ons tussen vlae en groepe mense gekies het, of eerder tussen gereg en geregtigheid, en onreg, en vir of teen die toepassing van internasionale reg. Het ons die moeite gedoen om onsself behoorlik in te lig voordat ons oorvereenvoudigde uitsprake aanvaar het? Daar is soveel wat ’n mens kan doen, soos elkeen van die 21 mense met wie ek onderhoude gevoer het verduidelik. Dis nie net die Palestyne, Israel en die veiligheid van die wêreldgemeenskap wat op die spel is nie – dis ons elkeen se integriteit.
- Marthie Momberg (PhD) het nagraadse kwalifikasies in teologie, Afrikaanse en Nederlandse letterkunde, en hoër onderwys. Haar interdissiplinêre navorsing fokus op die dinamika tussen etiek, identiteit en die openbare lewe. Marthie het in 2011 namens die Wêreldraad van Kerke menseregte-oortredinge in Israel en Palestina gemonitor, en in 2017 opgetree as konsultant by die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se 26ste Algemene Vergadering in Leipzig. Sy is die skrywer van verskeie akademiese publikasies, en haar boek 21 voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters (Naledi, 2023) is as ’n finalis benoem vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys in teologie. Sy dien op die teologiekomitee van Kairos vir Globale Geregtigheid en is ’n navorsingsgenoot in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie.
Lees ook:
21 Voices: ’n oorsig oor die boekgesprek met Marthie Momberg
So nodig soos kamele: ’n lesersindruk van Marthie Momberg se 21 Voices from Israel and South Africa
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?
A voice from within: Decolonising the Palestinian mind | A conversation with Haidar Eid
Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma
Die lasbriewe van die Internasionale Strafhof en die kontinuïteit van die internasionale politiek
The ICC and Palestine: an analysis of the case and its geopolitical implications

