So nodig soos kamele: ’n lesersindruk van Marthie Momberg se 21 Voices from Israel and South Africa

  • 1

...
Vir haar gaan dit oor onreg wat spesifiek aan die Palestyne in die Israel-Palestina-konteks gedoen word, en wat hierdie konflik dryf. Sy vra vir ’n bepaalde sensitiwiteit, respek en begrip en dat ons nie mense, hetsy Moslems, Christene of Jode, vanuit ons gemaksones sal stereotipeer nie.
...

21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters
Marthie Momberg

Naledi
9781928530794

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Lank gelede het ek die volgende hervertelling van ’n ou Bedoeïene-volksverhaal gelees. Die Bedoeïene is ’n Arabiese halfnomadiese groep wat afstam van nomades wat histories die Arabiese en Siriese woestyne bewoon het.

Voor die uitvinding van meganiese voertuie het kamele, soos ons weet, vervoer verskaf vir baie mense van die Arabiese woestyne en kamele se waarde is bepaal deur hul melk, vleis en velle. Só belangrik was hulle vir die woestynekonomie dat ’n Bedoeïen sy rykdom gemeet het aan die aantal kamele wat hy besit het.

Die verhaal vertel van ’n sekere ryk Bedoeïen wat met sy dood 17 kamele nagelaat het om onder drie erfgename verdeel te word. Die eerste erfgenaam moes die helfte van die kamele kry, die tweede een ’n derde en die derde erfgenaam een-negende.

Nou weet ons dat 17 nie deur twee, drie of nege gedeel kan word nie. Gevolglik het die situasie onmoontlik gelyk om op te los. Nie een van die erfgename was bereid om sy deel aan ’n ander te gee/verkoop/verruil nie, en boonop wou nie een van hulle van die kamele doodmaak nie, want die diere was lewendig veel meer werd as dood. Humeure het opgevlam. Kwaai woorde is geuiter.

In die omgewing het daar egter ’n ryk, wyse Arabiese vrou gewoon. Ontsteld oor die rusie het sy die erfgename een van háár kamele aangebied in die hoop om die dispuut op te los.

Nóú het hulle 18 kamele gehad om te verdeel. Gevolglik het die eerste erfgenaam sy helfte, naamlik nege kamele, ontvang. Die tweede erfgenaam ses kamele – met ander woorde sy derde. En die laaste erfgenaam het twee kamele ontvang – een-negende van 18.

Tot hulle verbasing het hulle gevind dat daar een kameel oorbly. Want as die verdeelde kamele bymekaar getel word, gee nege plus ses plus twee net mooi 17.

Toe het hulle besluit om hierdie 18de kameel met groot dankbetuiging aan die Arabiese vrou terug te gee.

Sonder háár kameel sou die erfporsie nie vreedsaam verdeel en afgehandel kon word nie. Alhoewel dit wil voorkom asof hierdie ryk, wyse Arabiese vrou niks wesenlik gedoen het nie – want sy het nie ’n dier verloor of bygekry nie – was sy nodig vir ’n vreedsame oplossing. Haar optrede was meer werd as enige rykdom wat sy aan die drie erfgename kon gee.

Met haar boek 21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian struggle matters bring Marthie Momberg in haar wysheid en op grond van haar ryke ervaring en waarneming so ’n 18de kameel na ons – oor waarom die benarde situasie van die Palestyne, oënskynlik onoplosbaar, ons elkeen behoort te raak.

Haar bydrae gaan daaroor dat ’n lewe van integriteit juis beteken om openlik aan die kant van die onderdrukte te staan – waar ook al in die wêreld. Vir haar gaan dit oor onreg wat spesifiek aan die Palestyne in die Israel-Palestina-konteks gedoen word, en wat hierdie konflik dryf. Sy vra vir ’n bepaalde sensitiwiteit, respek en begrip en dat ons nie mense, hetsy Moslems, Christene of Jode, vanuit ons gemaksones sal stereotipeer nie. Jy kry goeie en regverdige mense onder almal.

Tog is ons ook bewus van die gevaarlike/ontstellende misbruik van godsdiens en ideologie (asook sosiale media) om hierdie “misdaad teen die mensdom” (soos verwoord in een van die definisies van apartheid in die boek) te regverdig. Baie mense ervaar hierdie kwessie as ’n “konflik” tussen gelyke partye, wat dit egter nié is nie.

Breyten Breytenbach beskryf sy rit op hierdie 18de kameel so treffend: “In a long life of having read poems and novels and reports of so many kinds, many of them of deep insight and value, I cannot remember ever having been moved as profoundly, as searingly and as painfully, as I am by this book ... Please permit me to thank you [Marthie] – I cannot tell you how much – for making it possible to believe that we can also be capable, as you illustrate here so strikingly, of empathy and of comprehension and commitment. And, above all, of the transforming acceptance of and respect for the other.”

21 Voices gaan oor onderhoude wat die skrywer met Suid-Afrikaanse en Joods-Israeliese aktiviste, wat hulle vir Palestynse regte beywer, gevoer het. Sommige mense mag aktiviste as sinies of selfs venynig beskou, maar dis glad nie die indruk wat ’n mens by hierdie 21 persone kry nie.

...
Hulle reken af met vals inligting en illusies wat deur wydverspreide propaganda gekweek word en wys dat hierdie kwessie tog nie so moeilik is om te verstaan ​​nie.
...

Soos dit in die voorwoord van hierdie boek so treffend beskryf word, breek hierdie aktiviste se sienings deur die konvensionele grense van godsdiens en kultuur, ras en nasionaliteit. Hulle reken af met vals inligting en illusies wat deur wydverspreide propaganda gekweek word en wys dat hierdie kwessie tog nie so moeilik is om te verstaan ​​nie.

Baie van hierdie aktiviste praat van die noodsaaklikheid van onderhandeling, van konfrontasie binne die dieptes van menslike ongemak en ’n uiteindelike ontwaking tot ’n gevoel van bevryding gebore uit integriteit, volharding en veerkragtigheid.

Hulle insigte en ervaring bepleit ’n nuwe mensheid, nie net in Israel-Palestina nie, maar wêreldwyd. Geïnspireer deur hierdie visie, beliggaam hierdie aktiviste ’n verbintenis tot iets dieper maar ook breër. Hulle vertrekpunt is nie ’n nasionale staat nie, maar eerder ’n interpersoonlike morele staat.

21 Voices word in drie afdelings ingedeel. Dit begin met ’n kort weergawe van die skrywer se eie skuif van passiewe onderdrukker na kundige aktivis. Dit sluit ook ’n paar algemene mites in, asook die redes vir en kriteria wat betref die spesifieke onderhoude.

Die tweede en hoofgedeelte bestaan ​​uit die onderhoude met die 21 aktiviste.

Die laaste afdeling maak gevolgtrekkings en besin oor die insigte van die aktiviste. Dit ondersoek ook hoe hul sienings ’n gedeelde stryd in ’n wêreld wat moeilike uitdagings in die gesig staar, aanwakker. Die kwessie op die spel gaan oor meer as een stryd.

Hierdie boek bied ’n interdissiplinêre en kontekstuele lens vir huidige globale uitdagings en beklemtoon die noodsaaklikheid van morele vernuwing op beide plaaslike en internasionale vlak. Bo alles voeg die navorsing sosiale waarde toe deur alternatiewe vir die ellende van staatsgeweld in die vooruitsig te stel – en te demonstreer.

Soos Momberg in ’n artikel op Netwerk24 (2021) skryf: “Uiteindelik is dit ’n keuse tussen onreg en geregtigheid, tussen eerlikheid en valsheid, en tussen integriteit en dubbele standaarde.”

Teen die einde van hierdie mooi versorgde boek, vind ’n mens handige en uitgebreide eindnotas, uiters bruikbare verduidelikings van terme wat dikwels in hierdie verband gebruik word, asook ’n gedetailleerde indeks.

Ek is seker dat hierdie sienings oor gebeure in hierdie konflik-geteisterde area, soos oorgedra deur elke aktivis, tesame met goeie analise en insiggewende argumente deur die skrywer, beide kritiese refleksie, asook morele en geestelike introspeksie sal ontlok. Hierdie boek word aangebied vir elkeen wat belangstel in die soort leierskap wat daarop gemik is om gesonder samelewings te vorm.

Ek twyfel nie dat hierdie boek – die spreekwoordelike 18de kameel – mense se harte en koppe met deernis, hoop en morele verbeelding sal draai nie. En dat die seën hiervan veelvoudig na die skrywer sal terugkeer.

Nora Carmi skryf in 2022 vanuit Jerusalem: “Thank you, dear Marthie, and the twenty-one activists, for calling upon human beings to be courageous, vocally and in actions, so that we too – Palestinians, liberated and free – can welcome you and introduce you to the beautiful peoples of this land. Together, we can preserve the dignity of all, to live and flourish.”

Die kernaspek van bogenoemde Bedoeïene-volksverhaal is dat die 18de kameel daarin geslaag het om gemeenskaplike grond te bewerkstellig. Dít impliseer dat opinies en belange deur elk van twee of meer partye gedeel word. Die oomblik wat dít gebeur, los die probleem homself op.

21 Voices wil juis híérmee help.

Lees ook:

  • 1

Kommentaar

  • Sakkie Spangenberg

    Dankie Chris! Dis 'n treffende lesersindruk. Dankie dat jy ons ook bekend gestel het aan daardie mooi storie van die 17 kamele en die 3 erfgename. Mag mense deur jou vertelling besluit om hierdie boek te koop, te lees en om saam met ander op te staan teen onreg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top