Die lasbriewe van die Internasionale Strafhof en die kontinuïteit van die internasionale politiek

  • 0

Foto: Kris op Pixabay

........
"Hoewel die versoek om lasbriewe teen Israelse staatsamptenare ’n nuwe verwikkeling is, moet die verwikkeling naas een van die konstantes van die internasionale politiek gelees word: Die opkoms en ondergang van groot moondhede het daadwerklike uitwerkings op die beoefening van die internasionale politiek."
........

Inleiding

In die bestudering van die internasionale politiek word daar telkemale verwys na hoe en in welke mate die wêreld deur verandering getipeer word. Die koms van industrialisasie, dekolonisasie, die ontwikkeling van kernwapens, die einde van die Sowjetunie, die ontwikkeling en inspanning van KI, en die moontlikheid van kuberoorlog – dié en dergelike ontwikkelinge word dikwels voorgehou as synde ingrypend en rigtinggewend vir die bestudering en beoefening van die internasionale politiek. Dat sodanige gebeure ’n diepgaande uitwerking op die internasionale politiek uitgeoefen het (en steeds uitoefen), is ongetwyfeld waar. Maar hoe indrukwekkend hierdie veranderinge ongetwyfeld is, en nieteenstaande hul diepgaande uitwerking op die verlede en hede van die internasionale politiek, is daar ’n sterk saak uit te maak dat die kontinuïteit van die internasionale politiek eweneens – of dalk selfs meer – opvallend is. Die herhaling van oorlog, die opkoms en ondergang van state (veral die groot moondhede), die kompetisie in en nabootsing van die militêre en tegnologiese gebruike van die mees suksesvolle lande, die voorkoms en herhaling van magspolitiek, die betreklike ondoeltreffendheid van internasionale instellings om die probleem van oorlog te elimineer – dié is slegs ’n paar, dog belangrike, verskynsels en uitkomstes kenmerkend van die verlede en hede van die internasionale politiek. Uiteraard is die geskiedenis van die internasionale politiek – en die mensdom – een van verandering en kontinuïteit, met laasgenoemde (dit is, die kontinuïteit van die internasionale politiek) wat uiters swaar weeg.

’n Kort oorsig van die Internasionale Strafhof

Een oënskynlike verandering in die internasionale politiek wat hier tersaaklik is, is die koms en, mettertyd, stigting van ’n permanente internasionale strafhof om internasionale misdade te vervolg. Gedurende die 20ste eeu, soos die regskenner Max du Plessis aanvoer, het verskeie gebeure die momentum vir die stigting van ’n permanente internasionale strafhof aangewakker (oa pogings om die Duitse Keiser voor ’n internasionale tribunaal te daag in die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog; pogings om Turkse oortreders van die Armeense volksmoord te vervolg; en die straf van Kroatiese nasionaliste na afloop van die sluipmoord op die Joego-Slawiese heerser, koning Alexander, in 1934) én gekelder (oa die koms van die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog). Die toename in internasionale misdade gedurende die 1980’s, die einde van die Koue Oorlog, en die volksmoorde in Rwanda en Joego-Slawië, het hernude stukrag vir die stigting van ’n permanente internasionale strafhof verleen. Alhoewel verskeie ad hoc- internasionale tribunale in die 20ste eeu gestig is, het die idee van ’n permanente internasionale strafhof eers in die laaste dekade van die vorige eeu ’n werklikheid geword. Die Statuut van Rome, die stigtingsdokument van die Internasionale Strafhof (IS), is op 17 Julie 1998 aanvaar, met 120 lande wat ten gunste van die stigting van dié hof gestem het. Tans is daar 124 lande wat die Statuut van Rome onderteken het. Rusland, China, die VSA, Indië en Israel is nié ondertekenaars van die verdrag nie. Die IS (wat in 2002 in werking getree het) het ten doel om oortreders (met inbegrip van regeringshoofde) van die ernstigste misdade in die internasionale politiek (te wete volksmoord, misdade teen die mensdom, oorlogsmisdade, die misdaad van aggressie) te vervolg.

Kragtens die Statuut van Rome beskik die hoofaanklaer oor die reg om onafhanklike ondersoeke van stapel te stuur waar inligting rakende ’n moontlike oortreding (en oortreder) vanaf ’n betroubare bron ontvang is. Indien die hoofaanklaer oortuig is dat daar voldoende regsgronde is om ’n saak teen ’n beskuldigde te bring, en die uitreik van ’n lasbrief aangevra word, kan die hoofaanklaer die voorverhoorkamers van die hof nader, waarna die regters van die voorverhoorkamers daaroor sal beslis. Indien die regters van die voorverhoorkamers ’n lasbrief goedkeur, sal al 124 ondertekenaars van die Statuut van Rome onder regsplig staan om dié individue aan wie lasbriewe uitgereik is, aan te keer en te vervolg of aan dié lande uit te lewer, wat sodanige oortreders kan en sal vervolg. Ofskoon die voorgaande bespreking moontlik die indruk kan skep dat die vervolging van internasionale misdade die ou orde van magspolitiek, oorlog en vergrype teen die mensdom vervang het én ’n doeltreffende internasionale strafregstelsel daargestel het, moet dié indruk sterk gekwalifiseer word, ’n onderneming wat meer aandag hier onder sal geniet.

Die IS-lasbriewe – konteks en betekenis

Die aanvraag van lasbriewe vir die inhegtenisneming van die premier van Israel, Benjamin Netanyahu, die Israelse minister van verdediging, Yoav Gallant, en drie leiersfigure van Hamas deur Karim Khan, hoofaanklaer van die IS, het groot omstredenheid in die plaaslike en internasionale politiek tot gevolg gehad. Die klagstaat behels die beweerde pleging van twee internasionale misdade: oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom. In sommige kringe is die lasbriewe vir veral Benjamin Netanyahu en Yoav Gallant verwelkom. Ander groeperinge het gejuig dat beide “kante” van die Israel-Gaza-konflik verantwoordbaar vir hul (beweerde) oortredinge gehou sal word en dat die normatiewe ideale van die internasionale strafreg eindelik tot sy volle potensiaal kom. Ander waarnemers van die internasionale politiek het dit as betreurenswaardig beskou dat die hoofaanklaer op dieselfde tydstip lasbriewe aangevra het vir beide die leiers van Israel én die leiersfigure van Hamas, so byna asof die twee groepe ’n soort van morele gelykwaardigheid geniet. Hoe dit ook al sy, indien die voorverhoorkamers van die IS die lasbriewe goedkeur, sal Suid-Afrika en al 123 ander ondertekenaars van die Statuut van Rome verplig word om die beskuldigdes aan te keer indien hulle aan een van hierdie lande besoek aflê. Israel kan egter die hele IS-aansoek laat ontspoor deur self sy eie leiers te ondersoek (dit is, ’n geloofwaardige ondersoek moet van stapel gestuur word), en indien daar voldoende regsgronde bestaan, hulle te vervolg.

........
 Vanuit die perspektief van Israel beskou, is die versoek vir ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Netanyahu en Gallant bloot ’n verdere eskalasie in die uiters troebel verhouding tussen Israel en die internasionale (straf)reg.
........

Die aansoek vir en toestaan van lasbriewe vir regeringshoofde en ander leiers (van onder andere rebellegroepe) vir die pleeg van internasionale misdade is hoegenaamd nie ’n nuwe verskynsel nie. Soos die leser waarskynlik sal weet, het die IS gedurende Maart 2023 ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die Russiese president, Wladimir Poetin, uitgereik. Voorts word daar dikwels sterk argumente aangevoer dat die voormalige leier van die VSA, George W Bush, en verskeie Amerikaanse staatsamptenare verantwoordbaar gehou moet word vir die daarstel van beleide in die oorlog teen terreur wat indruis teen die beginsels van die internasionale reg (oa die gebruik van marteling by Gauntánamobaai in Kuba). Israel self het al vantevore byna swaarde met die IS gekruis en dit is dus geen nuwe verskynsel dat die IS Israel onder die vergrootglas plaas nie. Reeds in 2014 voer Navi Pillay, ’n voormalige Verenigde Nasies Hoëkommissariaat vir Menseregte, aan dat beide Israel en Hamas (maar, volgens Pillay, veral Israel) hulself aan oorlogsmisdade gedurende die 2014-Gaza-oorlog skuldig gemaak het. Daar is aangevoer dat Israel se optrede tydens laasgenoemde oorlog, waartydens byna 3 000 missiele deur Israel afgevuur is, oordrewe was en die beginsels van die internasionale humanitêre reg oortree het. Vanuit die perspektief van Israel beskou, is die versoek vir ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van Netanyahu en Gallant bloot ’n verdere eskalasie in die uiters troebel verhouding tussen Israel en die internasionale (straf)reg.

Waarom nou?

Soos hier bo vermeld, is daar reeds vir ’n geruime tyd diep ongelukkigheid in die internasionale politiek (veral in sommige kringe) oor Israel se optrede tydens vorige oorloë. Dít is nie nuut nie. Wat wél uiters interessant is, is die vraag na waarom daar juis nou indringend versoek word dat ’n lasbrief teen Israelse leiers en staatsamptenare uitgereik word. Dus, hoekom nou, en nie in vorige oorloë of in die konteks van die breër Israel-Palestina-konflik nie? Een rede hiervoor is ongetwyfeld die hoë en stygende sterftesyfer in Gaza en die dood van Israeliese burgers (op 7 Oktober 2023). Vergeleke met vorige oorloë is die sterftesyfer aansienlik hoër.

........
Die tydsberekening van die aansoek vir lasbriewe vir die inhegtenisneming van Netanyahu en Gallant vertel óók die storie van die veranderende struktuur van die internasionale politiek.
.........

Hierdie verklaring vertel egter nie die hele storie nie. Die tydsberekening van die aansoek vir lasbriewe vir die inhegtenisneming van Netanyahu en Gallant vertel óók die storie van die veranderende struktuur van die internasionale politiek. Vir ’n geruime tyd in die post-Koue Oorlog tydperk was die VSA die onbetwisbare hegemoon (dominante mag) in die internasionale politiek. Hoewel die VSA nie ’n ondertekenaar van die Statuut van Rome is nie, en sy invloed in die hof derhalwe ietwat beperk is, is dit beswaarlik vergesog dat gedurende die kruin van die VSA se mag en invloed in die wêreldpolitiek, dit uiters onwaarskynlik sou gewees het dat enige optrede teen Israel, ’n gekoesterde bondgenoot van die VSA, sou plaasvind. Enige sodanige optrede sou ’n verwoestende reaksie ontketen het van die VSA, wat ’n dekade of twee gelede steeds genoegsame politieke, ekonomiese, kulturele en militêre instrumente tot sy beskikking gehad om die aansoek vir of uitreik van ’n lasbrief teen Israelse leiers met oortuiging en mening te beveg. Die VSA is egter ’n kwynende mag – verby is die dae dat internasionale instellings hul knieë voor dié eens magtige land buig. Dit is noemenswaardig dat hoog aangeskrewe Amerikaanse akademici soos John J Mearsheimer en Stephen Walt toenemend daarop aandring dat Amerikaanse ondersteuning van Israel in die huidige oorlog nié in die VSA se nasionale belang is nie. Trouens, argumente dat die VSA in die geheel veel minder ondersteuning aan Israel moet gee, is hoegenaamd nie nuut nie.

Hoewel beswaarlik die hele storie, skets die wisselwerking tussen die hoë sterftesyfer saam met die kwynende magsposisie van die VSA ’n prentjie waarin optrede teenoor Israel veel meer waarskynlik geword het. Hoewel die versoek om lasbriewe teen Israelse staatsamptenare ’n nuwe verwikkeling is, moet die verwikkeling naas een van die konstantes van die internasionale politiek gelees word: Die opkoms en ondergang van groot moondhede het daadwerklike uitwerkings op die beoefening van die internasionale politiek. Eindelik word die reëls van die spel van die internasionale politiek deur die groot moondhede bepaal – én die VSA is ’n kwynende mag, wat beduidende implikasies inhou vir dié land se vermoë om sy sin in internasionale aangeleenthede te kry én sy bondgenote te beskerm.

Die kontinuïteit van die internasionale politiek en implikasies vir die Internasionale Strafhof

Ofskoon die aansoek vir lasbriewe vir (veral) Israelse leiers en staatsamptenare ongekende gebied karteer, is dié verandering meer skyn as werklikheid. Trouens, soos wyd bekend, beskik die IS oor geen regsafdwingbare kapasiteit nie – kortom, inhegtenisneming deur die hof is nie afdwingbaar nie, met die gevolg dat veral Netanyhau en Gallant, soos Wladimir Poetin, bloot enige lasbrief (indien dit uitgereik word) sal ignoreer. Sodanige lasbriewe (weer, indien dit uitgereik word) kan die toekomstige reisplanne van hierdie leiers bemoeilik – maar sal nie noodwendig nie – maar daar is geen werklike vooruitsig dat dit ’n beduidende uitwerking op die verloop van die oorlog self sal meebring nie. Voorts is daar ook geen realistiese vooruitsig dat Israel sy eie leiers aan die IS sal uitlewer in die geval waar lasbriewe wel uitgereik word nie. Lande wat simpatiek staan teenoor die saak van Hamas-vegters, sal ook onwaarskynlik die Hamas-leiersfigure aan die IS uitlewer. Eindelik bevind die internasionale gemeenskap hom wéér op vertroude terrein – dit is, in ’n internasionale politieke situasie van anargie (dws nie chaos nie, maar ’n strukturele konsep wat dui op die afwesigheid van enige oppergesag bo state), is elke staat die arbiter van sy eie saak en belange, en is daar weinig voldoende instrumente om die internasionale reg af te dwing, veral in gevalle waar die internasionale reg teen die belange van state indruis.

.......
Eindelik bevind die internasionale gemeenskap hom wéér op vertroude terrein – dit is, in ’n internasionale politieke situasie van anargie [...], is elke staat die arbiter van sy eie saak en belange, en is daar weinig voldoende instrumente om die internasionale reg af te dwing, veral in gevalle waar die internasionale reg teen die belange van state indruis.
........

Die uitreik van lasbriewe en die waarskynlikheid dat dit deur beide Israel en die Hamas-leiersfigure geïgnoreer sal word, sal beduidende implikasies vir die toekoms van die IS inhou. Dit is vanselfsprekend dat die Israel-Gaza-oorlog groot aandag geniet, waarskynlik selfs meer as die oorlog in Oekraïne, wat die kostes verbonde aan minagting van die IS-lasbriewe (indien dit wel uitgereik word) geweldig verhoog. Trouens, die IS gaan reeds vir ’n geruime tyd gebuk onder kritiek, veral betreffende die hof se selektiewe vervolging van regeringshoofde en leiers van rebellegroepe. Die voortdurende minagting van die IS, veral in sake wat groot aandag geniet, sal die betreurenswaardige uitwerking hê om die legitimiteit van die IS verder te laat kwyn. Terselfdertyd sal die dieper wordende polarisasie van die wêreld (oor die oorlog in Oekraïne, die Israel-Gaza-oorlog, en verskeie ander kwessies) voorts ook meebring dat die uitreik van enige IS-lasbriewe as polities gemotiveerd (selfs meer as vantevore) uitgekryt sal word. Derhalwe is een van verskeie verloorders indien die legitimiteit van die IS verder kwyn, die hof self.

Gevolgtrekking

Ofskoon daar wel diepgaande veranderinge plaasvind, is die kontinuïteit van die internasionale politiek eweneens opvallend. Vandag, soos vantevore in die geskiedenis, kan ons verwag dat lande hul eie belange sal vooropstel en dat die reëls en howe van die internasionale reg as legitiem beskou word mits dit nie indruis teen die gevestigde belange van die lande nie. Die aansoek vir en moontlike uitreik van lasbriewe deur die IS sal weinig enigiets in die internasionale politiek verander (met inbegrip van die Israel-Gaza-oorlog) en kan, soos hier bo uiteengesit, beslissende implikasies vir die hof teweegbring. Ek is bevrees dat argumente dat die lasbriewe enorme implikasies vir die internasionale politiek inhou en op die triomf van reg en geregtigheid dui, uiters oordrewe is. My versigtige voorspelling is eerder dat die uitreik van enige lasbrief of lasbriewe teen Israelse leiers tot groter polarisasie in die wêreldpolitiek sal lei en dat die strydende partye selfs meer onversetlike posisies sal inneem. Dít voorspel niks goed vir die moontlikheid van vrede in die wêreldpolitiek nie.

Lees ook:

How to consider the ICC prosecutor’s requests for arrest warrants

Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma

Die komende Israel-Iran-oorlog?

The dangers of the two-state solution

The Israel-Gaza war – war or genocide?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top