Die komende Israel-Iran-oorlog?

  • 0

Inleiding

Vrese oor die moontlikheid van ’n volskaalse oorlog tussen Israel en Iran kring uit. Sodanige vrese spruit voort uit ’n ongekende direkte Iranse lugaanval op 13 April 2024 op Israel in weerwraak op ’n Israeliese lugaanval op 1 April 2024 op Iran se konsulaatgebou in Damaskus, Sirië, én Israel se vergeldingsaanval op 19 April 2024, waartydens ’n aantal missiele (waarskynlik drie) ’n Irannese militêre basis in die Isfahan-provisie getref het. ’n Kettingreaksie, waarin die omvang, intensiteit en geweld van so ’n oorlog met elke aanval en teenaanval onkeerbaar uitkring, word onder beide Jan Publiek en waarnemers van die internasionale politiek voorgehou as ’n uiters realistiese gebeurlikheid. Die uitkring van ’n Israel-Iran-oorlog tot ’n streekoorlog of, soos sommige waarnemers vrees, ’n derde wêreldoorlog word dus nie buite rekening gelaat nie. In ieder geval sal die Verenigde State van Amerika (en waarskynlik een of ’n paar Westerse liberale demokrasieë) aan die kant van Israel veg, onderwyl ’n groot groepering van lande en groepe hul by Iran sal skaar. In hierdie skrywe sal ek graag etlike aspekte rondom die vraag na ’n Israel-Iran-oorlog wil aanroer, sowel as hoe en in welke mate die moontlikheid van ’n streekoorlog of wêreldoorlog op hande is. Die beskrywing “’n volskaalse, direkte Israel-Iran oorlog” suggereer iets meer as die huidige aanval-teenaanval kettingreaksie wat Israel-Iran betrekkinge tipeer – in die besonder, die beskrywing dui op die gebruik van georganiseerde en, belangrik, voortgesette geweld (as die primêre instrument van dwang) deur beide lande ten tyde van ’n situasie van verklaarde oorlog, één waarin ten minste 1000 soldate per jaar sterf. Dit is hierdie beskrywing van oorlog (met inbegrip van die beskrywings “’n Israel-Iran oorlog”, “’n streekoorlog”, en “’n derde wêreldoorlog”), wat onder die vergrootglas geplaas sal word. Dit is egter vanselfsprekend, dog noemenswaardig, dat ek hier géén voorspelling oor die “waar” en “wanneer” van ’n toekomstige oorlog of oorloë maak nie. Nogtans kan ons aan die hand van bepaalde tendense, historiese kragte en teoretiese uitgangspunte bepaalde gebeurlikhede uitwys en sinvol daaroor dink.

Waaroor gaan die Israel-Iran-stryd nou eintlik?

Die gebeure van onderskeidelik 1 April en 13 April, soos hierbo uiteengesit, skets ’n ietwat misleidende prentjie. Enersyds is dit weliswaar so dat hierdie kettingreaksie, en die moontlikheid van ’n volskaalse Israel-Iran-oorlog, in direkte verband tot die Hamas-terreuraanval op 7 Oktober 2023 op Israel staan. Laasgenoemde aanval bied die onmiddellike konteks vir enige begrip van die Israeliese lugaanval op die Iranse konsulaatgebou – vir Israel is hierdie aanval bloot in weerwraak op die onbetwisbare rol van Iran se Revolusionêre Wagkorps (en die betrokke Wagkorps-generaals in die konsulaatgebou) in die Hamas-terreuraanval. Op sy beurt beroep Iran sigself op die internasionale reg in sy weerwraak op Israel, in die besonder sy reg tot selfverdediging. Tegelykertyd, in sy aanval op Iran se Isfahan-provinsie op 19 April 2024, voer Israel eweneens aan dat dié aanval bloot in weerwraak vir die Irannese lugaanval (13 April 2024) was, en dat Israel binne die bestek van die reëls van die internasionale reg (in die besonder, die reg tot selfverdediging) optree. Dit is egter uiters belangrik om te verstaan dat die Hamas-terreuraanval van 7 Oktober 2024 en die voortspruitende kettingreaksie van aanval en teenaanval in ’n veel breër konteks geplaas en beskou moet word.

Israel se aanval op 1 April 2024 was in vele opsigte uiters voordelig vir Iran. Waarom dít die geval is en om die breër konteks van die huidige Israel-Iran-konflik te verstaan, vereis ’n diepgaande begrip oor die visie en aspirasies van Iran. Allereers moet ons verstaan dat Iranse strydkrete soos “death to Israel” wél letterlik verstaan moet word (dit is ’n diepgaande begeerte om Israel van die landkaart te verwyder), desnieteenstaande besware deur Iranse leiers dat Iranse animus jeens Israel teen die Netanyahu-regering en nié Israel as nasiestaat gemik is nie. Hiernaas moet ’n ander werklikheid verreken word, een wat in wese die primêre dryfkrag van Iran se buitelandse beleid is. Sedert Iran se Islamitiese Revolusie van 1979, het Iran ten doel gehad om soortgelyke revolusies in die Midde-Ooste te inspireer. Soos Suzanne Maloney onlangs in Foreign Affairs vermeld, reeds sedert 1979 het Iran “uitbreidende aspirasies” gehad, te wete, om die opperste mag in die streek te wees. Aanvanklik het Ayatollah Ruhollah Khomeini, die stigter van die Islamitiese Republiek van Iran, gehoop dat ’n revolusionêre golf deur die Midde-Ooste sal spoel met die Islamitiese Revolusie as baken en besieling vir ander lande in die streek.

Dié grootskaalse revolusie het egter nooit tot sy volle reg gekom nie. Nietemin, Iran het wel, soos Maloney voorts uitwys, groot inspirasie geput deur die verskyning van eendersdenkende militante groepe wat Iranse ondersteuning (op allerlei wyses) begeer en eindelik verkry het. ’n Militante teenkantingspil (“axis of resistance”), waartydens ’n betreklik ongebonde netwerk van militante groepe in die streek ten diepste deur Iranse veiligheids- en godsdienstige instellings ondersteun word, het eindelik die hoeksteen van Iran se strategie in die gebied gevorm. Wat uiters belangrik is, is dat sodanige strategie, beskou vanuit die Iranse perspektief, gedy in toestande van chaos en ongestadigheid, toestande wat Iran met groot sukses uitbuit en poog om aan te wakker. Iranse ondersteuning van Hezbollah en ’n groot aantal ander groepe het dikwels groot vrugte afgewerp en dié groepe se dodelikheid met rasse skrede vergroot. Dit is geen groot geheim dat Iran die wêreld se voorste ondersteuner van terreurgroepe is nie. Dit is insiggewend om te noem dat Iran jaarliks ongeveer $700 miljoen tot $1 biljoen aan Hezbollah voorsien, bykomend tot diepgaande militêre ondersteuning van dié groep. Hetsy in die gevalle van Hamas in Israel (op 7 Oktober), Hezbollah, die Palestynse Islamitiese Djihad en ander soortgelyke groepe, het Iranse ondersteuning eindelik ten doel om sy invloed in die gebied te vergroot en om uit die stryd te tree as die oorheersende land in die streek. Vandag, soos vantevore in die geskiedenis, blyk die strewe na mag ’n besondere sterk dryfveer van lande se optrede te wees, maar in hierdie konteks word die prentjie weliswaar verder ingekleur deur Iranse animus jeens Israel.

Die komende Israel-Iran-oorlog? ’n Streek- of wêreldoorlog?

Israel en Iran is reeds vir etlike jare, veral seder die Islamitiese Revolusie van 1979, in ’n oorlog gewikkel, hoewel dié gewapende stryd uitsluitlik ’n lae-intensiteit een was. Die ongekende direkte aanval op Israel op 13 April het die dekades-oue Iranse gebruik van ’n strategie van ’n militante teenkantingspil verbreek en die moontlikheid van ’n direkte en volskaalse oorlog vergroot. Wat is die moontlikheid dat die kettingreaksie van aanval-teenaanval wat tans voor ons oë uitspeel, tot ’n volskaalse oorlog (soos hierbo omskryf) sal eskaleer? Wat van ’n streek- of wêreldoorlog, met ’n Israeliese of Iranse aanval of teenaanval as die kruitvat? Myns insiens is die moontlikheid van enige van hierdie gebeurlikhede betreklik laag. Waarom dan? Hoewel ek van mening is dat ons meer konflik in die streek sal sien (in die besonder meer konflikte waar Iran en sy netwerk van terreurgroepe saamwerk om Israel, sowel as Amerikaanse soldate in die streek aan te val), is daar etlike redes om te glo dat die konflikte (veral dié met betrekking tot Israel) nie die drempel van grootskaalse konvensionele oorlog sal oorskry nie. Mits ek verkeerd verstaan word: Ons sal waarskynlik meer konflikte in die streek sien, maar veral konflikte wat onder die drempel van grootskaalse konvensionele oorlog geskied. Dus, meer Iran-geïnspireerde aanvalle deur Hezbollah, Hamas, die Houthi-rebelle en verskeie groepe in Sirië sal myns insiens aan die orde van die dag wees, met meer lande (veral Rusland) wat toenemend indirek betrokke sal raak.

Waarom verwag ek nie ’n volskaalse konvensionele oorlog tussen Iran en Israel of ’n streek- of wêreldoorlog nie? Ek moet bieg dat ek hoegenaamd nie ’n pasifis is nie en voorts verstaan ek dat oorlog onlosmaaklik deel van die mens se geskiedenis is. Soos die titel van ’n artikel deur die Kanadese historikus, Margaret MacMillan, treffend aandui: “It would be stupid to think we have moved on from war. Look around.” Maar daar is veral twee redes wat aangevoer kan word wat die moontlikheid van bogenoemde oorloë teenwerk. Een: Israel is ’n kernwapenstaat, ’n werklikheid wat beide Iran en alle ander state in die streek goed verstaan. Vandag, soos vantevore in die geskiedenis van die kernera, is daar geldige redes om te glo dat lande met groter omsigtigheid optree wanneer die moontlikheid van die gebruik van kernwapens ter sprake is. Hiér moet ek noem dat kernwapens nie noodwendig ’n konvensionele oorlog sal keer nie, maar dat dit die koste van enige optrede wat Israel se oorlewing bedreig, met rasse skrede sal verhoog. Lae-intensiteitoorloë en ’n beperkte konvensionele oorlog (dit is ’n konvensionele oorlog met beduidende grense) teen Israel is miskien moontlik; enige optrede wat Israel se oorlewing en voortbestaan as nasiestaat bedreig, is myns insiens onwaarskynlik. Die tweede rede sluit aan by die eerste: Ongeag strydlustige Iranse openbare uitsprake (onder andere “death to Israel”) en die regime se streekaspirasies, blyk die Iranse regime uiters koste-sensitief te wees – kortliks, Iran is uiters strategies in sy optrede, weet waar en wanneer om aanvalle te loods en verstaan die grense wat nie oorgesteek moet word nie. Hoewel Iran groter streekaspirasies koester, blyk Iran ’n rasionele en koste-sensitiewe staat te wees. Met verwysing na pogings om die territoriale landskap van die Midde-Ooste te verander, blyk Iran eerder ’n status quo- as ’n revisionistiese staat te wees. Bowendien, om ’n kerngewapende land (te wete, Israel) tot op die drempel van uitwissing te druk, is nasionale selfmoord, ’n feit wat Iran terdeë verstaan. Hierdie redes besweer tegelykertyd ook die moontlikheid van ’n streek- of wêreldoorlog.

Ten slotte

Daar is vandag opnuut kommer oor die moontlikheid van oorlog in die Midde-Ooste, veral een waarin die Iranse en Israeliese aanvalle en teenaanvalle as kruitvat kan dien. Dat daar rede tot kommer is, is verstaanbaar. Tog is daar verskeie redes wat aangevoer kan word wat optimisme inboesem dat enige verdere verwikkelinge in die Midde-Ooste, veral dié tussen Israel en Iran, waarskynlik nie die drempel van ’n grootskaalse vernietigende oorlog jeens Israel sal oorskry nie. Dis die goeie nuus. Die slegte nuus is dat ek voorsien dat ons meer oorlog (buiten ’n grootskaalse vernietigende oorlog jeens Israel) sal sien – meer staatsondersteunde (lees: Iranse) geweld deur groepe in die Midde-Ooste, met ’n groeiende aantal lande wat indirek betrokke raak in die politiek van die streek.

Ten laaste kan ek dalk net noem, op ’n diep, persoonlike vlak, dat ek as medegelowige – as iemand “wat net so ’n kosbare geloof as ons verkry het” (2 Petrus 1:1) – weliswaar bewus is dat daar gebeure in die Heilige Skrif van die Christendom (te wete, die Bybel) uiteengesit word wat myns insiens van toepassing is op sommige van die vrae wat ek hier aangeroer het. Ek het egter gepoog om hier vir die leser ’n akademiese eerder as ’n persoonlike (of skriftuurlike) toekomsblik te gee, met die uitgangspunt dat die toekoms van die Midde-Ooste nou verweef is met kragte, magte en faktore wat veel wyer en dieper as die omvang van my analise strek. Laat ons, ongeag die hoedanigheid (akademies, al dan nie) waarin ons skryf en dink, “waak en bid”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top