
Prent van boeie: Pixabay
- Bettina Wyngaard skryf ’n gereelde rubriek op LitNet.
Israel het tans ’n hofsaak wat deur Suid-Afrika begin is, hangend in die Internasionale Geregshof, hierna na verwys met die afkorting ICJ (vir International Court of Justice). Dis ’n saak wat alreeds maande aan die gang is en na verwagting eers oor ’n paar jaar afgehandel sal wees.
Die ICJ hanteer sake tussen state as partye.
Op 21 November 2024 het die Internasionale Strafhof hierna na verwys as die ICC (International Criminal Court), ’n lasbrief vir die arrestasie van Benjamin Netanyahu, eerste minister van Israel, en sy voormalige minister van verdediging, Yoav Gallant, uitgereik. Interessant is dat die hof terselfdertyd ook ’n lasbrief vir die arrestasie van Mohammed Deif, Hamas se militêre hoof, uitgereik het. Die ICC, anders as die ICJ, tree op teen individue.
Al drie word daarvan beskuldig dat hulle oorlogsmisdade gepleeg het. Netanyahu en Gallant word aangekla omdat hulle na bewering hongersnood as oorlogswapen gebruik het deur nie toe te laat dat besendings voedsel, medikasie en ander middele burgerlikes in Gaza bereik nie. ’n Tweede aanklag is dat hulle na bewering burgerlikes in aanvalle geteiken het.
Deif word daarvan aangekla dat hy na bewering op 7 Oktober 2023 die meesterbrein was agter die aanvalle op Israeliese burgerlikes. Die lasbrief vir sy arrestasie is interessant, aangesien Israel ’n ruk gelede gespog het dat hulle Deif doodgemaak het. Deur die uitreik van die lasbrief sê die ICC in effek dat hulle nie Israel se weergawe glo nie. Hoekom sou Israel jok oor Deif se dood? Om hulle oorlog beter en meer suksesvol te laat lyk te midde van internasionale veroordeling, sou een antwoord wees.
Wat beteken die uitreik van die lasbrief vir Netanyahu? In politiese terme beteken dit dat hy aansien op die wêreldverhoog verloor het. Hy is die eerste Westerse leier (as Poetin buite rekening gelaat word) teen wie die ICC optree. Hier wil ek stilstaan. Verskeie berigte in die media lui dat hy die eerste leier van ’n demokrasie is teen wie opgetree word. Ek is nie oortuig dat Israel wel ’n demokrasie is nie, en daarom kan ek nie op dieselfde wyse na Netanyahu verwys nie.
Daar is 126 lande wat lid is van die ICC en gebonde is deur hulle besluite. Die Europese Unie is deel daarvan. In praktiese terme beteken dit dat Netanyahu maar vakansies in Europa kan vergeet. Kanada, Ierland, Switserland en Nederland is van die lande wat alreeds aangedui het dat hulle die lasbrief sal uitvoer indien hy hulle grondgebied sou betree.
........
Die aanvalle en die moorde in Gaza gaan nie ophou nie. Die lasbriewe is ten beste ’n simboliese veroordeling van Netanyahu se optrede.
........
Behalwe Amerika is nie een van die ander lande wat ten gunste van Netanyahu uitspraak lewer, bekend as demokrasieë nie. En natuurlik ontstaan die vraag nou of Biden, deur die militêre en finansiële hulp wat hy verleen het, nie ook aan die ontvangkant van ’n lasbrief vir arrestasie behoort te wees nie. Dit sou ’n kragtige boodskap uitstuur dat niemand verhewe bo die reg is nie.
Maar wat is die realiteit? Die aanvalle en die moorde in Gaza gaan nie ophou nie. Die lasbriewe is ten beste ’n simboliese veroordeling van Netanyahu se optrede. Totdat hy uit Tel Aviv gehaal word en tot by die ICC gesleep word om verantwoording te doen vir sy dade, help die lasbriewe niks.
Dalk het dit tyd geword dat die ICC sy eie polisiemag kry wat in staat is om lasbriewe uit te voer. Tans is hulle effektiwiteit afhanklik van die bereidwilligheid van lidlande om op te tree. Soos wat ons destyds ervaar het met die debakel rondom Omar al-Bashir, president van Soedan, toe Suid-Afrika hom nie gearresteer het nie, sal sommige lande oop en bloot weier om die ICC se besluite te eerbiedig, afhangend van hoe polities gerieflik dit vir hulle is.
Dit het tyd geword dat die ICC tande kry.
Lees ook:
Suid-Afrika se tweede klag by die Wêreldhof: Israel pleeg volksmoord
How to consider the ICC prosecutor’s request for arrest warrants
The ICC and Palestine: an analysis of the case and its geopolitical implications
Die lasbriewe van die Internasionale Strafhof en die kontinuïteit van die internasionale politiek
Kommentaar
Jy het dalk vergeet dat Netanyahu en Israel opgetree het uit selfverdediging. En ook dat hulle legio bewyse het dat trokke met voedsel en noodhulp toegelaat word in Gaza. Die ICC wen, ICJ se saak is swakker as swak.