
Andréa Müller (foto: verskaf)
Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Andréa Müller praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Ek is ’n MA-student aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands. In my navorsing ondersoek ek die literêr-kritiese diskoers en beeldvorming wat rondom die resepsie van Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Lynthia Julius en Ryan Pedro se werk bestaan. Die beeld van ’n skrywer beïnvloed hoe die skrywer se werk ontvang en interpreteer word, en is grootliks verwant aan die posisionering van ’n skrywer binne die literêre kanon, veld of sisteem. Ek kyk daarom in my navorsing spesifiek na hoe hierdie digters enersyds deur agente van die literêre institusie (resensente, joernaliste, literêre kritici en akademici) in die Afrikaanse literêre sisteem posisioneer word, en, andersyds, hoe hierdie digters hulself in (of teenoor) die Afrikaanse literêre sisteem in onderhoude en in hulle werk posisioneer. Om dít te doen werk ek met ’n datastel van 119 tekste bestaande uit resensies, onderhoude en ander metatekste, soos rubrieke, commendatio’s vir pryse, aankondigings van pryse, ens wat ek met behulp van kwalitatiewe programmatuur, ATLAS.ti, analiseer.
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
Benewens my waardering vir die literêre teks self, stel ek ook baie belang in daardie prosesse wat “rondom” ’n teks plaasvind: wat alles gebeur vóórdat ’n literêre werk as ’n boek op ’n boekrak beland, en wat alles daarná met ’n teks gebeur – en natuurlik ook wie almal by hierdie prosesse betrokke is. Vir my MA-studie wou ek hierdie prosesse, eerder as die literêre werk in isolasie daarvan, van nader bekyk. Ek fokus veral op dít wat met ’n teks gebeur nadat dit gepubliseer is: watter diskoerse vanuit die resepsie van ’n teks “rondom” daardie teks ontstaan, hoe ’n beeld van ’n outeur en werk ontstaan en funksioneer, en hoe dít alles ’n invloedryke rol in die resepsie en kanonisering (al dan nie) van ’n teks en skrywer speel.
.......
My spesifieke onderwerp is geïnspireer deur die dinamika wat ek tussen sogenaamde bruin Afrikaanse digters en die literêre establishment oplet. Die opbloei in uitstekende debute én opvolgbundels deur hierdie digters is opwindend, en beslis ’n aanduiding van ’n literêre sisteem wat evolueer,
.......
My spesifieke onderwerp is geïnspireer deur die dinamika wat ek tussen sogenaamde bruin Afrikaanse digters en die literêre establishment oplet. Die opbloei in uitstekende debute én opvolgbundels deur hierdie digters is opwindend, en beslis ’n aanduiding van ’n literêre sisteem wat evolueer, maar Kamfer, Trantraal, Julius en Pedro (en ander digters ook) spreek in onderhoude en in hulle werk temas rakende uitsluiting en stereotipering in die kanon aan. Ek wou juis hierdie dinamika onder die vergrootglas plaas. Ander navorsers en literêre akademici se waarnemings hieroor bevestig myne, maar niemand het dit al ondersoek op die wyse (en skaal) waarop ek dit doen nie.
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Omdat Afrikaans my moedertaal is, en omdat ek ’n belangstelling in beide die taal- en letterkunde het, voel dit bloot vir my natuurlik om navorsing in Afrikaans te doen. Ek dink ook dat die Afrikaanse taal- en letterkunde fassinerende gevallestudies in die breër velde van Suid-Afrikaanse taal- en letterkunde bied, veral in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. Die veranderinge en evolusie van die taal en die identiteite wat daarmee geassosieer word, is vir my opwindend, en ’n aanduiding dat daar nog baie interessante navorsing in beide die Afrikaanse taal- en letterkunde is om te doen. Daarbenewens wil ek graag ’n bydrae lewer tot die instandhouding van Afrikaans as wetenskapstaal.
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing?
Daar is beslis werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing. Die kongres byvoorbeeld het my inderdaad gewys dat daar ’n baie lewendige en gewillige spul innoverende en kreatiewe jong akademici is wat beslis nog werk en toekomsmoontlikhede in Afrikaans kan en/of gaan beklee, en dalk nog self sal skep.
........
Die kongres het my gewys dat daar ’n baie lewendige en gewillige spul innoverende en kreatiewe jong akademici is wat beslis nog werk en toekomsmoontlikhede in Afrikaans kan en/of gaan beklee, en dalk nog self sal skep.
........
Ek glo ook egter ook dat ’n mens realisties moet wees en oop moet bly vir geleenthede wat buite ’n Afrikaanse omgewing lê. Ek glo sterk dat Afrikaanse navorsers ’n belangrike rol in Suid-Afrika kan speel as brugbouers oor taal- en kultuurgrense heen.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy ’n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
Die referate en hulle opsommings is hoofsaaklik in Standaardafrikaans aangebied, maar die onderwerpe van heelwat van die referate het op die ontwikkeling van verskeie variëteite gedui. Ek dink byvoorbeeld aan Carla Lindt se referaat oor die gebruik van Kaaps in graad 10- Afrikaanse leerders se opstelle, en Annie Burger se navorsing oor gewone taal. Die groep navorsers wat by die kongres was, was verteenwoordigend van die diversiteit van Afrikaans. ’n Mens kon dit ook hoor in die teetye tussen referate wanneer almal informeel gesels het.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Die taal “behoort” aan enige moedertaalspreker van Afrikaans. As jy jou tande geslyp het in Afrikaans, is dit jou taal – ongeag of daardie Afrikaans ánders klink as ’n ander spreker se Afrikaans. Anders gestel: As jy in Afrikaans vloek en jy jou diepste liefde aan ’n ander slegs in Afrikaans kan verklaar, dan is Afrikaans joune.
........
As jy in Afrikaans vloek en jy jou diepste liefde aan ’n ander slegs in Afrikaans kan verklaar, dan is Afrikaans joune.
........
Ek glo wel ook dat hierdie voorreg gepaardgaan met die verantwoordelikheid om respekvol te wees teenoor al die ander wyses waarop Afrikaans gepraat en uitgeleef word, al verskil dit van joune. Ek wens meer Afrikaanssprekendes wil gewillig wees om by mekaar te leer oor al die fasette van hierdie taal wat ons deel.
Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?
Hoe uiteenlopend en kreatief al die onderwerpe is. Soos ek reeds gesê het, daar is nog baie om na te vors en te ontdek in die veld van die Afrikaanse taal- en letterkunde. Dit was ook opvallend hoe passievol almal oor hulle werk is.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
Dit was my eerste kongres, en ek was baie op my senuwees. Maar ek het baie gou besef dat die kongres werklik ’n veilige en ondersteunende spasie gebied het waarin ek en die ander jong navorsers ons navorsing met mekaar kon deel. Dit was ook heerlik om met ander navorsers in die veld te gesels. Die navorsingsproses kan baie allenig wees, en om met ander jong navorsers te gesels en hulle interessante referate te hoor was baie opbouend en inspirerend. Almal se passie en nuuskierigheid was aansteeklik. Ek sien reeds baie uit na volgende jaar se kongres!
Lees ook: