
Die aftelling het begin!
LitNet en LitNet Akademies kondig met trots aan dat die 7de Etienne van Heerden Veldsoirée van 24 tot 26 Julie 2026 in Nxuba/Cradock sal plaasvind.
Al die 7de een?
Jip. Ek en Etienne het nou die aand getel.
Geen Veldsoirée wat ek al bygewoon het, was al ooit soos enige ander een nie. Daar is ooreenkomste, ja. Dit is altyd ’n saamkoms van interessante mense, kenners op hulle gebied. Die gesprekke is interessant en dikwels uitdagend, maar die omgewing maak dit moontlik om te vra, te verskil en te gesels.
Wat meer is, doodgewone mense sit met elke sessie langs geleerdes en bekendes. Almal luister saam, almal gesels saam. Ons eet saam en les bes vind baie interessante diskoerse (groot woord) ook ná die amptelike verrigtinge in die kroeg plaas.
Aan die einde van die fees klim ’n paar dapper mense agterop bakkies en ry teen Buffelskop op vir ’n besoek aan Olive Schreiner se graf. Van daar is die uitsig asemrowend.
Maak ’n plan. Sit julle musse op en trek warm klere aan. Die winterluggie kan snerpend wees, maar julle harte sal warm klop!
Ons is besonder bevoorreg en dankbaar dat ’n aantal borge, beide privaat en korporatief, die Etienne van Heerden Veldsoirée moontlik maak.

Die program sal binnekort bekendgestel word.
Dit is nog nie nodig om nou al te bespreek vir die gespreksessies nie, maar enige een wat belangstel om die Veldsoirée by te woon, word aangemoedig om vroegtydig hulle verblyf te bespreek by buffelshoek.gamelodge@gmail.com of reservations@tuishuise.co.za.
Voorlopig kan diegene wat belangstel, solank die volgende neerskryf:
- Alle gespreksessies by die Etienne van Heerden Veldsoirée is gratis.
- Die ATKV-Skryfskool word weer vanjaar tydens die Veldsoirée aangebied. Hannes Barnard bied ’n prosakursus aan, terwyl Bernard Odendaal ’n poësiekursus aanbied. Elke kursus (prosa of poësie) kos slegs R380 en kursusgangers kry outomaties toegang tot alle gespreksessies van die Veldsoirée. Kursusgangers hoef dus slegs vir eie verblyf en maaltye te sorg. Afskoptyd vir albei kursusse is 09:00 Vrydagoggend 24 Julie. Om deel te neem die ATKV-Skryfskool (prosa of poësie) kan inskrywings en navrae gestuur word na reservations@tuishuise.co.za. Die ATKV is die hoofborg van die skryfskool.
- Die amptelike opening van die Etienne van Heerden Veldsoirée word tans beplan vir 14:00 op Vrydag 24 Julie.
- Daar is ’n baie vol program wat sal aanhou tot ongeveer 12:00 Sondag 26 Julie.
- Sondagmiddag 26 Julie sal diegene wat graag wil, met 4x4-bakkies na Olive Schreiner se graf ry. Belangstellendes kan by buffelshoek.gamelodge@gmail.com bespreek om ’n sitplek op ’n bakkie, teen R250 per persoon, te bevestig.
Vir verblyf
Daar is goeie verblyfopsies in Nxuba/Cradock, maar deelnemers word aangemoedig om verblyf by Die Tuishuise & Victoria Manor of by Buffelshoek DiRosie Lodge te ondersoek. Beide instansies verskaf ruim borgskappe om die Etienne van Heerden Veldsoirée moontlik te maak.
- Besprekings by die Tuishuise kan geskied by https://tuishuise.co.za of reservations@tuishuise.co.za.
- Besprekings by Buffelshoek DiRosie Lodge kan geskied by https://buffelshoekcradock.co.za of buffelshoek.gamelodge@gmail.com.
Waarom Nxuba/Cradock?
Diegene wat nog nie ’n Etienne van Heerden Veldsoirée bygewoon het nie, sou dalk wonder waarom dié Karoodorp, in die middel van die land, elke jaar ’n fees van hierdie aard aanbied.

Ek het vir Darryl David, die stigter en naamgewer van die Veldsoirée, gevra. Hy sê Etienne van Heerden het ’n baie noue band met Nxuba/Cradock:
Op ’n intellektuele vlak het Etienne van Heerden heel verstaanbaar geweier om as ’n Karoo-skrywer gekategoriseer te word. Maar met elke opeenvolgende Veldsoirée en elke nuwe roman lyk dit asof Van Heerden besig is om die stryd te verloor teen dit wat Van Morrison “the inarticulate speech of the heart” noem.
Ek het ook vir Menán van Heerden, bestuurder, webmeester en senior inhoudsbestuurder van LitNet en LitNet Akademies, gevra waarom die dorp so ’n bekoring inhou. (Al die foto’s wat ek hier gebruik, is deur Menán geneem, net so terloops.) Sy het soos volg geantwoord:
Die jaarlikse Veldsoirée in Nxuba/Cradock se veldbakkierit, waar ons tussen die Karoo-koppies invaar, is altyd ’n hoogtepunt. Die doel? Om die skrywer en aktivis Olive Schreiner (The story of an African farm) se sarkofaag te besoek. Hoe hoër die bakkies opdraand beur, hoe meer kameelperde sien mens wat in die verte wei. Die omringende groen plase se lewensaar, die Groot Visrivier, blink in die skerp Karoo-son, omring deur ’n landskap wat tot doer strek.
Buiten Schreiner se sarkofaag is daar nog Nxuba/Cradock-erfenisterreine en -museums, byvoorbeeld die Cradock Vier-erfenisroete en Garden of Remembrance; die Great Fish River Museum (wat uitstallings van die Cradock Vier asook van Karoo-skrywers insluit); die ouwêreldse (dink Matjiesfontein) Victoria Hotel (waarin Mark Twain op ’n stadium gebly het); Markstraat se 19de-eeuse tuishuise; en die Schreiner House, ’n Nasionale Monument waarin Schreiner op ’n stadium gebly het en wat tans uitstallings oor haar lewe huisves.
Een dorp met ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse geskiedenisse en verhale!
- Fotografie: Menán van Heerden

Die Tuishuise & Victoria Manor

Lees en kyk ook:
Slegs R380 vir die ATKV-Skryfskool van 2026 én skouers skuur met skrywers
Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld
Emily Hobhouse en Olive Schreiner: Twee koppiges in die Karoo



Kommentaar
Ek dink ek moet gaan. Ek wou nog altyd saam met bekendes en geleerdes eet en skouers skuur.