
Die Etienne van Heerden Veldsoirée en die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad het van 25 tot 27 Julie 2025 plaasgevind in Nxuba, die Karoodorp wat beter bekend is as Cradock. Die ATKV-skryfskool was weer deel van die geleentheid.
Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van die vooraand van die fees hier.

Die ruimteborge vir hierdie geleentheid is Die Tuishuise & Victoria Manor in Markstraat (wat ook bekendstaan as die Storiestraat), asook Buffelshoek DiRosie Lodge, ’n plaas wat net meer as 16 km van die hotel af geleë is.

Die ATKV-skryfskool het op 25 Julie om 09:00 afgeskop.

Prosa is aangebied deur Hannes Barnard in die Biblioteek aan die einde van die wêreld, een van die Tuishuise in Markstraat.

Poësie is aangebied deur Bernard Odendaal in die raadsaal van die Victoria Manor.

Terwyl die skryfskool aan die gang was, het Nolwazi Mahlangu met ’n groot aantal kinders by een van die voorbereidingskole in die dorp gewerk. Sy het ’n kwalifikasie in toegepaste drama en sy leer mense van alle ouderdomme om stories en emosies met hul liggame te vertel. Ek kon nie daar wees nie, maar dié wat haar dopgehou het, was verstom oor wat sy met die kleintjies reggekry het. (Foto deur Menán van Heerden)

Christof van der Berg, beter bekend as sanger, het ons verras met sy kunsuitstalling wat gehang is by Buffelshoek DiRosie Lodge.

Om 13:50 op 25 Julie het Darryl David die verrigtinge geopen in die groot saal by Buffelshoek DiRosie Lodge. Darryl is die stigter van die Etienne van Heerden Veldsoirée. (Lees gerus sy indrukke van die fees.)

Frederik de Jager was die eerste spreker. Hy was betrokke by die skryf van ’n draaiboek vir Boendoe, ’n film wat gebaseer is op Chris Barnard se roman met dieselfde titel.

Albert Grundlingh het ’n boek geskryf oor die oudpolitikus Frederik Van Zyl Slabbert. Grundling het gekyk na Slabbert se siening van homself binne ’n diskoers oor Afrikaner-identiteit.

Darryl David het daarna vertel watter boeke hy as die 30 grootste romans in Afrikaans beskou.

PJO Jonker, die skrywer van die opspraakwekkende roman Die onsigbare, het meer kom vertel oor sy skrywersloopbaan en oor die roman self. Hy skryf al lank, en hy het male sonder tal sy werk herskryf voordat sy debuut, hierdie roman, die lig gesien het. Lees gerus sy indrukke van die dorp.

Peter Vale is in 1947 gebore. Hy het daardie jaar gaan navors en het met interessante idees oor sy eie identiteit vorendag gekom, maar ook oor die groot gebeure in sy geboortejaar. Vale het die gehoor uitgedaag om ook, soos hy, meer uit vind oor hul eie geboortejaar en die argiewe wat tot hulle beskikking is.

“‘Haal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels’ – vroeë Arabies-Afrikaanse tekste” was die titel van Hein Willemse se lesing. Hy het verduidelik hoe Arabiese Afrikaans geskryf is en hoe daardie tekste tot stand gekom het.

Hein Viljoen het oor die kanon gesels aan die hand van die verskil tussen ’n cappuccino en ’n flat white. Viljoen het verduidelik dat die maak van ’n cappuccino ’n baie ou tradisie is, en dat die naam afgelei is van die kleredrag van monnike uit die Kapusyne-orde. Hulle het ’n bruin py gedra, met wit bo, baie soos ’n oorspronklike cappuccino wat met slagroom bo-op koffie bedien is. Die flat white is ’n moderne uitvindsel. Op dieselfde manier is daar akademici wat nog waarde heg aan die akademiese resensie, terwyl smaakmakers nuut en anders na boekgesprekke kyk.

Fogarty’s Bookshop het oudergewoonte die boekverkope hanteer. Die winkel is reeds in 1946 in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gestig en is dus 80 jaar oud in 2026. Hulle diens is fantasties, ook in die verkryging van skaars of vreemde boeke.

Rory Riordan, wat pas ’n boek geskryf het oor Athol Fugard en sy verbintenis met die Serpent Players, het verduidelik waarom hy nie sy boek sien as ’n gewone biografie nie. Sy manuskrip plaas Fugard binne ’n bepaalde konteks en hy het nie noodwendig gaan delf in moontlike skunnighede of sappige staaltjies rondom Fugard se persoonlike lewe nie.

Burgert Senekal het vergoed vir Riordan se gebrek aan skunnighede deur meer te vertel oor Afrikaanse doods- en swartmetaal, musiekgenres wat soms redelik kru taal bevat. Aangesien bitter min mense in die gehoor hierdie genre ken, het hy ons vergas met ’n paar snitte uit die diskografie van ’n aantal groepe wat hierdie genres beoefen. Dit het mense nogal laat regop sit.

Andile Bhali het almal gekalmeer deur ’n aantal Afrikaanse volksliedjies in sy suiwer sopraanstem te sing.

Luna Paige het ’n staande ovasie vir haar vertoning getiteld Om die sterflikheid van blomme en mense gekry. Die Asteke het baie nagedink oor sterflikheid. Paige het weer baie diep nagedink oor die manier waarop woorde en musiek mekaar beïnvloed. ’n Hele aantal mense het haar vertoning as ’n hoogtepunt gesien. Dit was sonderling. Lees gerus haar indrukke van die fees hier.
Daarna was dit slaaptyd. Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van dag 1 hier en ook hier.
Selfs slaaptyd is ’n interessante ervaring tydens die Veldsoirée.

Die Tuishuise van Markstraat is liefderyk gerestoureer deur Sandra Antrobus wat vroeër vanjaar oorlede is. Een vir een het sy die huisies opgeknap en gemeubileer. Dit is ’n unieke verblyfopsie in die dorp.

Buffelshoek DiRosie Lodge, wat aan Dirkie en Rosie Visser behoort, is weer bekend vir die stilte. Om hier wakker te word, is net die regte medisyne vir iemand wat wil wegkom uit die alledaagse gedruis.

Die meeste sprekers, gaste en deelnemers aan die ATKV-skryfskool het by een van hierdie ruimtes oorgebly tydens die Veldsoirée. Hier is Anthony Akerman en André Hattingh op pad na ontbyt.
Al was die luggie maar dun, het deelnemers aan die ATKV-skryfskool om 08:00 Saterdag 26 Julie weer begin werk. Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van die ATKV-skryfskool hier.

Vir diegene wat nie aan die skryfskool deelgeneem het nie, was dit ’n geleentheid om die sonnetjie op te soek vir ’n gesprek, soos Hein Willemse en Clinton V du Plessis hier gedoen het.

Om 10:30 het Alywn Roux vertel van ’n reeks lesings wat hy en Yves T’Sjoen uitgewerk en voorberei het, getiteld “Brief en repliek: Beeldvorming van (Suid-) Afrikaanse digters in die Lae Lande”. Daardie lesings is op Voertaal beskikbaar. T’Sjoen, wat graag die Veldsoirée self wou bywoon, maar dit moes misloop om administratiewe redes, het uit België ’n videoboodskap gelewer as deel van Roux se lesing.

Ena Jansen het onlangs Multatuli se beroemde roman Max Havelaar in Afrikaans vertaal. Dit is ’n teks wat koloniale Nederland se fondamente geskud het weens die openbaring van erge misbruike in die kolonies. Jansen het ook meer vertel oor die tegniese sake waaraan sy tydens haar vertaling moes aandag gee.

Ingrid Glorie het die gehoor ingelig oor die kulturele brûe wat sy en ander uit Nederland na Suid-Afrika, en dan veral Afrikaans, gebou het oor vele jare.

Nolwazi Mahlangu bestudeer die migrerende liggaam, en die invloed van migrasie op die liggaam. Tydens haar praatjie het sy die teorie verduidelik van die werkswinkels wat sy aanbied. Die pedagogie van denkers soos Fanon en Freire, wat glo dat die leerling ook kennis het wat tydens kontaksessies in ag geneem moet word, het ter sprake gekom.

Luan Staphorst is nog jonk, maar trap diep spore in die akademiese diskoers. Hy studeer tans aan Oxford en het daardie universiteit se Griekse wêreldbeskouing vergelyk met die filosofie van Suid-Afrika se eerste inwoners. Dit was ’n praatjie wat talle mense na die tyd aan interessante gesprekke laat deelneem het.

Andries Bezuidenhout was een van die mense wat aan die gesprek deelgeneem het uit tydens vraetyd.

Bernard Odendaal het ’n lesing gelewer oor die manier waarop digkuns lank nie meer op papier alleen aangebied word nie. Poësie gedy tans op talle vorme van die elektroniese media.

Anthony Akerman was daarna in gesprek met André Hattingh oor sy biografiese werk Lucky bastard, an adoption memoir.

Mputhumi Ntabeni het die waarde van orale geskiedenis ondersoek, asook die uitdagings verbonde aan die navors daarvan.

Selwyn Milborrow het tematiese verkennings in Clinton V du Plessis se poësie ondersoek. Du Plessis, wat in Nxuba woon en groot dele van die Veldsoirée bygewoon het, was in die gehoor.

André Hattingh het op die ouderdom van 13 jaar reeds as professionele sanger saam met Groep Twee deur die land gereis. Sy het ook heelwat teater- en filmrolle vertolk. Die bekendstelling van haar digdebuut, My leaves stay green, was dus ’n vertoning van toneelspel en sang.

Heindrich Wyngaard se gesprek oor identiteit het die gehoor diep geraak. Hy het verduidelik hoe hy sy politieke betrokkenheid by Afrikaanse gemeenskappe sien as ’n manier om ’n beter toekoms vir sy vierjarige dogtertjie te skep.

Anthony Akerman, wat bekend is as ’n dramaturg en regisseur, het ’n lesing gehou oor Guy Butler. Of nee. Dit was nie ’n lesing nie. Dit was ’n opvoering. Die gehoor het dit geniet.

Andile Bhali het weer volksliedjies gesing.

Die Orde van die Windpomp is oorhandig. Darryl David en Etienne van Heerden het vertel dat hierdie prys, wat gewoon ’n draadwindpomp is, telkens gaan aan iemand wat diep spore trap in die Afrikaanse letterkunde.

Toe Hein Willemse se naam genoem word, het hy eers bly sit.

Selfs op die verhoog het hy gewoon net “dankie” gesê. Hy het later aan AJ Opperman van Netwerk24 gesê hy was “totaal oorbluf”, aangesien hy nie as akademikus gedink het dat hy in aanmerking sou kom vir so ’n prys nie. Lees die berig hier.

Die sanger Christof Berg, ook bekend as Christof van der Berg, het die gehoor toe op ’n besonderse reis geneem. Hy het, deur sang en vertellings, staaltjies gedeel oor sy kleintyd-oppasser en sy verhouding met sy pa. Lees ook sy indrukke oor die fees hier. Na hierdie vertoning, diep uit die hart, was dit slaaptyd.
Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van dag 2 hier.

Dit was bitter koud by Buffelshoek DiRosie Lodge op Sondag 27 Julie, maar o so mooi toe die son begin opkom.

Gelukkig kon ons later slaap – die eerste gesprek het eers om 09:00 begin. Ek het met Anschen Conradie gesels oor haar regsloopbaan, haar liefde vir perde, en ook oor die groot rol wat sy speel in boekgesprekke op Lekkerleesboekrak en haar eie ruimte, bedryf onder die hutsmerk #uitdieperdsebek. (Foto deur Andile Bhali)

Hannes Barnard het ons daarna vertel van die unieke uitdaging om die skryf van jeugboeke.

Mercia Coetzee het NP Van Wyk Louw se “oop gesprek” onder die loep geneem. Was die gesprek altyd so oop? het sy gevra. En nou? Kan ons ons nou werklik sê wat ons graag wil? Die Nasionale Dialoog, soos aangekondig deur president Ramaphosa, het ook aandag gekry.

AJ Opperman het in Cradock grootgeword. Hy het ons vertel hoe hy ’n joernalis geword het, wat ’n kunsjoernalis doen en hoe hy en sy kollegas die skuif van papier- na aanlyn joernalistiek gemaak het. Sy gereelde Facebook-plasings op mense se verjaardae is baie gewild en die gehoor het heelwat daaroor uitgevra. (Foto: Andile Bahli)

Riana Scheepers het die gehoor op ’n reis deur haar skrywersloopbaan van 35 jaar geneem. Dit was heerlik om saam met haar te wandel.

Ons is die middag met viertrekbakkies teen Buffelskop op. Olive Schreiner se sarkofaag lê bo-op die Buffelkop, wat op die plaas Buffelshoek staan. Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van die rit na die sarkofaag hier.

Hoewel die rit rof en stamperig is, kan ’n mens nie anders as om die uitsig te waardeer nie.

Daar was ook genoeg tyd vir selfies. Hier is Tammy Southby, die skepper van Sunshine Simplicities, aan die werk. Lees gerus haar mooi beskrywing van die rit na bo.

Na die bakkierit is daar nog ’n klim na die laaste rusplek van Schreiner. Lees gerus hoe mooi Melvin Iverson die besoek aan die sarkofaag beskryf het.

Ons het Anthony Akerman gevra om iets oor Schreiner se herbegrafnis te sê. Hy het ook Roy Campbell se gedig oor Schreiner se sarkofaag voorgelees. Die gedig, en Akerman se ervarings in die navors van Campbell, is hier te lees.

Elsabé Brits is genooi om op 27 Julie 2025 die slotrede van die Etienne van Heerden Veldsoirée bo-op Buffelskop, by die sarkofaag van Olive Schreiner, te voer. Brits is baie kort voor die tyd daarvan weerhou om self die rede voor te dra, maar sy kon die geskrewe toespraak aan Anschen Conradie oorhandig, wat dit namens haar voorgelees het. Lees Brits se toespraak hier.

Andile Bhali het twee gewyde liedere gesing voor ons weer die tog na onder aangepak het.
Daardie aand was ek pootuit, maar het ’n heerlike aandete in die hotel gaan nuttig saam met vriende. Dit is die lekker van hierdie fees. Ons kuier saam.

Tammy Southby wou Etienne van Heerden ontmoet, en ek het haar aan hom gaan voorstel. Hier is hulle saam met Andile Bhali en Lisa Ker, die bestuurder van Die Tuishuise & Victoria Manor. Lees Southby se indrukke oor die fees.
Lees en kyk ook Jaco de Waal se opsomming.
Ons het die meeste gesprekke opgeneem. Deelnemers sal ook hul referate aan LitNet stuur. Diegene wat nie by die Veldsoirée kon wees nie, sal dus die geleentheid kry om van die praatjies te beleef. Diegene wat daar kon wees, sal dit weer kan beleef.
Ons werk reeds aan 2026 se Etienne van Heerden Veldsoirée. Kom kuier saam. Dis lekker.
- Fotografie deur Izak de Vries, tensy anders vermeld
Lees ook:
’n Gedetailleerde program van die Etienne van Heerden Veldsoirée
Emily Hobhouse en Olive Schreiner: Twee koppiges in die Karoo
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor



