
Voornemende skrywers kan solank hulle dagboeke skoonmaak, want van 24 tot 26 Julie 2026 gaan die ATKV-Skryfskool weer tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba/Cradock aangebied word.
Bernard Odendaal (poësie) en Hannes Barnard (prosa) sal die skryfskool aanbied.
-
- Sien Menán van Heerden se visuele opsomming van die ATKV-skryfskool by die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 hier.
-
- Hierdie kort video toon grepe uit 2024 se ATKV-Skryfskool toe Bernard Odendaal en Hans du Plessis die leiers was.
Bernard Odendaal is ’n digter, letterkundige en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy debuutbundel Onbedoelde land verskyn in 2007, waarna ’n rubriekbundel in 2016 die lig sien (Woorde hul stories sien ken) en sy tweede digbundel, Nootvat. Kwashaal. Stapel, in 2021 verskyn. ’n Bundel vertalings van Franse chansons, Piaf & Brel. Luisterryk!, het in 2023 uit sy pen die lig gesien (met Naòmi Morgan as medevertaler). In 2015 ontvang hy ’n ATKV-SA Akademie-prys vir gehaltenavorsingsartikels in Afrikaans.
Hannes Barnard het met Halley se komeet gedebuteer. Daarna het hy ook ’n reeks jeugboeke (Wolk, Roet en Vuur) en ’n krimi geskryf. Van sy tekste is vertaal en begin nou ook naam maak in die VSA.
Enigeen wat daarin belangstel om deel te neem, kan solank hulle naam en kontakbesonderhede aan Die Tuishuise & Victoria Manor verskaf deur ’n e-pos aan reservations@tuishuise.co.za te stuur.
Dit kos slegs R380 om hierdie skryfskool by te woon, en dit sluit alle kursusmateriaal in. Kursusgangers hoef dus slegs vir hul eie etes en verblyf te betaal.
Die prosaskrywers word aangemoedig om ’n eie kortverhaal na die skryfskool te bring, en die digters word versoek om een of twee eie gedigte saam te bring.
Wat meer is, hierdie R380 gee ook aan deelnemers gratis toegang tot die gespreksessies tydens die veldsoirée. Verskeie van ons land se kommentators en skrywers sal by die veldsoirée teenwoordig wees.
Die kursus word aangebied by die Victoria Hotel op Nxuba/Cradock en begin om 09:00 Vrydagoggend 25 Julie.
Die ATKV is die hoofborg van die ATKV-Skryfskool.
Daar is goeie verblyfopsies in Nxuba/Cradock, maar deelnemers word aangemoedig om verblyf by Die Tuishuise & Victoria Manor of by Buffelshoek DiRosie Lodge te ondersoek. Beide instansies verskaf ruim borgskappe om die Etienne van Heerden Veldsoirée moontlik te maak.
Om saam te vat: R380 betaal vir die skryfkursus, die kursusmateriaal en al die gespreksessies tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée.
Bespreek nou vir die ATKV-Skryfskool by reservations@tuishuise.co.za.
Vir verblyf:
- Besprekings by die Tuishuise kan geskied by https://tuishuise.co.za of reservations@tuishuise.co.za.
- Besprekings by Buffelshoek DiRosie Lodge kan geskied by https://buffelshoekcradock.co.za of buffelshoek.gamelodge@gmail.com.

Die Tuishuise & Victoria Manor

Kyk en lees ook:
Bespreek nou vir die Etienne van Heerden Veldsoirée wat van 24 tot 26 Julie plaasvind
Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld

