
Mercia Coetzee in 2025
Vir die derde opeenvolgende jaar het ek die afgelope naweek die Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba (Cradock) bygewoon.
In 2022 het ek saam met Ria Winters van Amersfoort, Nederland, na Cradock gegaan om met Sandra Antrobus oor haar vriendskap met Karel Schoeman te gesels. Winters skryf tans (en publiseer eersdaags) ’n omvattende biografie oor Karel Schoeman en ek was bevoorreg om ’n deel van haar navorsing met haar te kon meemaak. Sandra Antrobus is op 8 April vanjaar oorlede – een van die ongelooflikste vroue wat ek nóg ontmoet het. Haar rol in die gemeenskap van Cradock is onoortreflik: ’n bewys van hoe baie een mens kan bereik as jy bereid is om hande te vat met jou gemeenskap en om sonder ophou en moed-opgee, net aan te hou en aan te hou gee.

Sandra Antrobus in 2022
As gevolg van my ontmoeting met Sandra het ek in 2023 op haar aanbeveling die Veldsoirée se prosaskryfskool as “wannabe”-skrywer bygewoon. Die aanbieder was die legendariese wyle Hans du Plessis wat met soveel humor sy kennis aan ons oorgedra het dat ek oortuig was dat ek my eerste boek binne weke sou kon voltooi. (Dit is steeds nie voltooi nie – maar dit is ’n storie vir ’n ander dag.)

Mercia Coetzee en Jayden Kukari in 2024
Verlede jaar, 2024, was ek bevoorreg om as spreker die Veldsoirée by te woon en kon ek een van my studente, die begaafde Jayden Kukari, saamneem om sy eerste jeugboek daar bekend te stel. Ek het ook die poësieskryfskool van Bernard Odendaal bygewoon en kon meeleef in die kuns van poësieskryf soos net Odendaal dit kan aanbied. Die ervaring was weer eens groots en ongelooflik.
Ek het verlede jaar ook die voorreg gehad om op Sandra se bed te sit met haar sagte hand in myne, en te luister hoe sy aan Darryl David verduidelik wat haar planne vir die toekoms van die Veldsoirée is. Maer en siek was sy nietemin net so positief soos die dag toe ek haar ontmoet het – met ’n intense liefde vir haar dorp en vir die skryfgemeenskap van Suid-Afrika. Sy het gevra dat ons Jayden na haar venster bring – hy het brongitis opgedoen en wou eerder nie naby haar kom nie – en sy het hom deur die venster aangemoedig om aan te hou skryf sodat sy volgende boeke ook by die Veldsoirée bekendgestel kon word. ’n Groot stuk van my hart het daardie dag op haar bed agtergebly.
Vanjaar was ek weer daar, met ’n moeilike opdrag aan my opgedra deur Izak de Vries en Etienne van Heerden (oor vryheid van spraak en politiek), maar met die begaafde sanger, digter en skilder, Christof van der Berg en 30+ van sy skilderye in my kar. ’n Uitdagende reis. Om al die skilderye in die Suzuki in te pas, betyds te wees vir die opstel van die uitstalling, én nog my praatjie te voltooi, was uitdagend en baie uitputtend. Maar die Veldsoirée was elke druppel sweet werd.

'n Deel van Christof van der Berg se uitstalling
Volgens my beperkte ervaring was vanjaar se soirée volmaak. Elke lesing, ete en aanbieding was spesiaal. Lisa Ker en haar personeel laat elke gas soos ’n Hollywood-ster voel; Pieter de Kock van DiRosie is geduldig, hulpvaardig en boonop ’n fantastiese kok. In Die biblioteek aan die einde van die wêreld, waar ek geslaap het, is die kamers ruim, die atmosfeer tipies van die ou Karoo – daar is selfs ’n spook wat met nagrok snags gang-af loop om mense te pla ... of so hoor ek.
Al die lesings was uit die aard van die saak fantasties – daarom al die goeie en positiewe terugvoer van verskeie mense. Ek wil nie op die lesings kommentaar lewer nie. Ek wil wel ’n paar mense uitsonder op grond van my persoonlike ervaring (wat moontlik nie altyd objektief is nie):
- Izak de Vries: Niemand, niemand anders wat ek ken, kan vasvat, organiseer en bestuur soos Izak nie. In my lewe het ek groot konferensies gereël en ek weet wat dit verg. Izak is altyd in beheer. Ongelooflik kalm en georganiseerd. Vra hom iets terwyl hy 10 ander krisisse hanteer – en hy help jou met ’n glimlag.
- Darryl David ... Darryl Earl David: die Graaf van die Suid-Afrikaanse skryfwêreld. Meer hoef ek nie te sê nie.
- Lisa Ker (en haar personeel): professioneel, vriendelik, in beheer. Hulle verwelkom gaste met gasvryheid en liefde – nie een maal het ek hulle ongeduldig of ongelukkig gesien nie – selfs al was die klomp maar moeilik en woelig.
- Christof van der Berg: Omdat ek hom ken en saam met hom werk, het ek gedink ek weet wat om te verwag. Maar Christof het tydens sy vertoning my asem weggeslaan. Ek het vergeet van die oplaai van sy skilderye en my rug wat pyn en die wondergom wat alles bymekaar moet hou. Christof se vertoning was meesterlik. Ek het na die mense om my gekyk: Die verbasing, verstomming, oorweldiging was oral sigbaar. Elke noot en woord van sy aanbieding was sprekend van wie hy is: ’n uiters talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaar.
- Luna Paige met haar Om die sterflikheid van blomme en mense: Ek is (ongelukkig) nie ’n groot aanhanger van Afrikaanse musiek nie, maar Luna se musiek is pure poësie en ’n verrassende toevoeging tot my musiekbiblioteek.
- Burgert Senekal: “Afrikaanse doods- en swartmetaalmusiek?” – wérklik? Kru taal en ’n onderaardse gegrom? Burgert doen navorsing oor die Afrikaner as mens en sy navorsing sluit ook die verskillende genres van musiek in. Sy aanbieding het heelwat mense verstom en heelparty na hulle asems laat snak. Sy navorsing is beslis noodsaaklik inligting vir die geskiedenis van Afrikaanse musiek.
As persoonlike menings geld, dink ek vanjaar was die begin van ’n nuwe era vir Suid-Afrikaanse skrywers en kunstenaars. In Nxuba (Cradock) in die Karoo by die Etienne van Heerden Veldsoirée. My dank aan almal wat dit moontlik maak.
- Fotografie: Izak de Vries
Lees ook:
Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld

