USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Jané de Wet

  • 0

Jané de Wet (foto: verskaf)

Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Jané de Wet praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.

Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?

Ek is tans in die voorleggingsfase van my doktorale studie en ’n deeltydse dosent in die Opvoedkunde- en Geesteswetenskappe Fakulteite aan die Nelson Mandela Universiteit. Die tye wat jy my nie in ’n lesingslokaal of tussen die boeke (met ’n goeie koppie koffie in die hand) kry nie, is die kans groot dat ek my iewers op ’n verhoog bevind of doenig is met ’n kultuur- of gemeenskapsprojek.

Met my navorsing poog ek om die kantlynkinders van die letterkunde deel te maak van die gesprek. Om dit beter te verwoord, haal ek graag die rocklegende David Bowie aan om my navorsingsgebied op te som. Tydens sy 50ste verjaarsdagvieringe in New York in 1997 het Bowie (blykbaar) gesê: “Wat nog voorlê, dit weet ek nie, maar wat ek wel kan belowe, is dat ek jou nooit sal verveel nie.” Dié woorde vorm die grondslag van my navorsing in die veld van alternatiewe letterkunde, waarin die fokus geplaas word op verskynsels soos Instagrampoësie, kultusfiksie, lirieke as letterkunde en die sogenaamde letterkunde buite die boek.

Tydens USAN 2024 het ek ’n referaat gelewer met die titel “Die kantlynkinders, revolusiebeginners – ’n ondersoek na die verskynsel van kultusliteratuur in Afrikaans”. Die studie was daarop gemik om die sosiokulturele status van kultusliteratuur (as die letterkunde se kantlynkinders of revolusiebeginners) te ondersoek en vas te stel waarom sekere publikasies juis as kultusliteratuur beskou word. Ek het ook vlugtig verwys na die ikone van die Afrikaans “kultuskanon” en ’n historiese oorsig van die verskynsel gebied.

Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?

Dit het begin met ’n waarneming vanuit my M-verhandeling. Tydens my navorsing rondom Instagrampoësie het ek opgelet hoeveel van die aanlyn digters verwys na ikoniese literêre figure in hul poësie. Een van die gewildste figure na wie daar verwys word, is Ingrid Jonker, maar dit is nie haar digkuns wat op die voorgrond geplaas word nie, maar eerder haar geestesgesondheid en verhoudings – op dié manier word daar van haar ’n soort kultusfiguur gemaak. En dit het my aan die dink gesit oor kultusfigure, kultusskrywers en kultusfiksie binne die Afrikaanse literêre landskap. Daar is ’n spul kantlynkinders en revolusiebeginners in ons midde.

Hoekom navorsing in Afrikaans doen?

Hoekom nie?

Is daar werk en toekomsmoontlikhede in ’n Afrikaanse omgewing?

Absoluut! Daar is talle toekomsmoontlikhede en werksgeleenthede op die gebied van Afrikaanse taal- en letterkunde. Dit is ’n omvattende werksomgewing (wat so dikwels onderskat word) en sluit almal van skrywer, redakteur en uitgewer tot resensent, onderwyser en akademikus in. Daarbenewens kan individue loopbane as vertalers, redigeerders of tolke volg, en met die tempo waarteen tegnologie ontwikkel, is daar selfs nog meer moontlikhede van digitale inhoudskepper tot beïnvloeder – en hier dink ek veral aan die impak wat iets soos BookTok op die uitgewersbedryf het. Ek is oortuig daarvan dat daar, soos wat die taal en die literêre landskap aanhou ontwikkel, nuwe geleenthede sal ontstaan vir diegene met ’n passie vir die taal, letterkunde en al die fasette wat daarmee saamgaan. En as daar nie deure oopgaan nie, spring ons by ’n venster in – niks keer ons om vir onsself geleenthede te skep nie!

Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy ’n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?

Definitief. As ek dit nie mis het nie, het Ampie van Straten beklemtoon dat woorde op die lippe van mense leef, nie in woordeboeke nie. En dit is beslis hoe ek dit by USAN ervaar het en waarom dié soort kongres so belangrik is. ’n Mens kon die variëteite van Afrikaans (en sommer maar net die verskillende streeksuitsprake) vinning opmerk tydens koffiekuiers, die poësievoorlesing en die aanbiedings. Daar was enkele referate wat verwys het na Kaaps in beide die taal- en letterkunde en ’n referaat wat verwys het na die wyse waarop Afrikaans in streke van Namibië ontvang word. Daar is egter nog ruimte vir verdere akademiese ondersoek na die vele variëteite van Afrikaans en hoe dit in die taal- en letterkunde neerslag vind.

Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?

Die heelal! Afrikaans (of enige ander taal) is nie iets wat iemand kan besit of waaroor daar eienaarskap geneem kan word nie. Die taal is, soos die heelal en suurstof, daar vir elkeen wat daarin wil leef en dit broodnodig het vir oorlewing. Hoe sê hulle – Afrikaans bly Afrikaans, maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie.

Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?

Die passie, progressiewe denke en diversiteit het my uit die staanspoor opgeval. Daar was passievolle gesprekke rondom taalaanleerstrategieë en vertaalkunde; kwantum- en metateorieë is onder die loep geneem; ons het dieper gedelf in die temas van kwesbaarheid en broosheid; en het kuns as produk waargeneem. Elke referaat wat gelewer is en elkeen van die jong navorsers dra by (en het bygedra) tot die bevordering van kennis en vooruitgang op verskeie terreine. Hulle bring vars perspektiewe, aanpasbaarheid (vernuwing) en diversiteit én inklusiwiteit na hul werk, wat beslis bydra (en nog sal bydra) tot vernuwende oplossings en deurbrake in hulle onderskeie velde. In die woorde van (tannie) Patricia Lewis, die jong navorsers se sterretjies skitter nog helder!

Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?

Die advies en ondersteuning wat die jong navorsers aan mekaar gebied het, was wonderlik om waar te neem, van die uitruil van idees tot “jy moet dit gaan lees” en elke klop op die skouer. Die organiseerders en personeel van die Departement Afrikaans en Nederlands is topklas!

Die impak wat dié kongres op akademiese ontwikkeling en die vooruitgang van navorsing op die gebiede van taal- en letterkunde het, is onmisbaar. Deur in jong navorsers te belê, word volhoubaarheid van navorsing verseker en kan ons begin bou en beitel aan ’n meer inklusiewe en verteenwoordigende akademiese gemeenskap, want uiteindelik speel jong navorsers ’n deurslaggewende rol in die aandryf van vernuwing, vooruitgang en die toekoms van navorsing. En dit is ’n voorreg om deel daarvan te wees. Dankie USAN, mag 2026 net groter en beter wees!

Lees ook:

Was Ingrid Jonker ’n slagoffer van die rooi skoene?

Liefde, seks, Vlam in die sneeu en Tristia

Is Afrikaans Literature a World Literature? New Notes on an Old Field

Oor Bob Dylan en sy Nobelprys vir letterkunde

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Elodi Troskie

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Allison Matroos

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Asembese Mkumatela

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Nicolette Steyn

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Anke van der Merwe

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Danie Stander

USAN-kongres 2024: ’n onderhoud met Andréa Müller

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top