Die USAN-kongres vir jong navorsers het van 24 tot 26 Januarie 2024 plaasgevind. Elodi Troskie praat met Naomi Meyer oor haar navorsing en haar aanbieding by die kongres.
Wie is jy, en waaroor handel jou navorsing?
Hallo Naomi! Baie dankie vir jou belangstelling.
Ek is ’n MA-student in Afrikaans & Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad. Ek vryskut as skrywer en is werksaam as die inhoudsredakteur van die onafhanklike Afrikaanse webjoernaal Klyntji.com.
My akademiese navorsing handel oor die verwantskap tussen trauma en plek/ruimte in die Afrikaanse letterkunde. Die primêre navorsingsvraag van my verhandeling is hoe traumatiese ervaringe – beide persoonlik en histories – gesetel is in karakters se verhoudinge met plek en ruimte, met spesifieke verwysing na twee romans en twee digbundels, nl Dominique Botha se Valsrivier en Donkerberg, en Ronelda S Kamfer se Kompoun (2021) en grond/Santekraam (2011).
Wat het jou geïnspireer om navorsing oor jou onderwerp te doen?
Ek was aanvanklik van plan om my gekose literêre tekste vanuit ’n ekokritiese perspektief te bespreek. Ek het navorsing oor bioregionalisme en ingeplaaste skryfpraktyke begin doen, en het my fokus mettertyd na plek- en ruimtestudies vernou. My studieleier, Bibi Burger, se navorsing op hierdie gebied was besonders nuttig. In ons vroeë gesprekke het sy voorgestel dat ek ook oor traumastudies oplees om my te help om my idees oor Botha en Kamfer se werk te verwoord. Op die oomblik poog ek dus om ’n teoretiese raamwerk te formuleer waarvolgens plek/ruimtestudies en kulturele traumastudies (twee navorsingsrigtings wat tot op hede nog selde met mekaar in verband gebring is in die Afrikaanse akademie) tegelykertyd ingespan kan word vir die lees en ontleding van bogenoemde tekste.
Hoekom navorsing in Afrikaans doen?
Hoe dan anders? Afrikaans het die mooiste prosa en poësie, die mees daring skrywers, die mees briljante akademici. Ek raak nooit moeg daarvoor om in Afrikaans te lees en skryf nie. En met soveel ongelooflike nuwe literatuur wat in Afrikaans gepubliseer word, is daar onuitputbare moontlikhede vir navorsing.
In my ervaring is die Afrikaanse akademiese gemeenskap besonder gasvry en aanmoedigend, veral teenoor jong navorsers. Boonop is daar ’n aansteeklike energie en entoesiasme vir die akademie in hierdie netwerk. Om dus jou vraag te beantwoord: Omdat dit so lekker is!
Is daar werk en toekomsmoontlikhede in 'n Afrikaanse omgewing?
Dit is beslis nie maklik om ’n lewe uit die tale en kunste te maak nie; dit verg moed en harde werk en ondernemingsgees om die ligte aan te hou. Maar ja, natuurlik is daar werk en toekomsmoontlikhede in Afrikaans.
Sien jy die ontwikkeling van al die variëteite van Afrikaans as jy 'n geleentheid soos die USAN-kongres bywoon?
By USAN was dit geweldig positief om te sien watter belangrike werk deur dosente en jong navorsers verrig word om beter verteenwoordiging aan Kaaps in die akademiese ruimte te bied. Tydens die kongres is daar insiggewende gesprekke gevoer oor die skryf, redigering, vertaling en ontvangs van Kaapse navorsing en literatuur.
Daar is egter nog baie werk wat gedoen moet word – ek glo nie daar is oral al genóég ontwikkeling in hierdie opsig nie. Ek is bevoorreg om in ruimtes te werk en leef waar die diversiteit van taal gevier en aangemoedig word, en daarom is dit altyd ’n nare skok wanneer ek herinner word aan die elitisme waarmee algemene Afrikaans dikwels (deur sommige sprekers daarvan) hanteer word in vergelyking met die wyse waarop daar dan op ander variëteite van die taal neergekyk word.
..........
Ek is bevoorreg om in ruimtes te werk en leef waar die diversiteit van taal gevier en aangemoedig word, en daarom is dit altyd ’n nare skok wanneer ek herinner word aan die elitisme waarmee algemene Afrikaans dikwels (deur sommige sprekers daarvan) hanteer word in vergelyking met die wyse waarop daar dan op ander variëteite van die taal neergekyk word.
..............
As ’n spreker en skrywer van algemene Afrikaans is my perspektief op hierdie taalervaring egter beperk; ek is dus nie die mees gekwalifiseerde kandidaat om kommentaar te lewer oor die ontwikkeling van die vele variëteite van die taal nie. Daar is byvoorbeeld ‘n menigte streeksvariante van Afrikaans wat dikwels onder dieselfde sambreelterm van “Kaaps” beskou word. Afrikaans is só ruim. Dit is fantasties. Ek sien uit daarna om aan te hou leer uit nuwe akademiese navorsing oor en ín al die variëteite van die taal. Dit is natuurlik nie beperk tot die akademie nie – dit is verblydend dat daar in onlangse jare aansienlik meer diversiteit te bespeur is in die taalaanbiedinge van nuwe letterkunde en ander leesstof wat in Afrikaans gepubliseer word.
Aan wie voel jy behoort Afrikaans, indien enigiemand?
Táál diskrimineer nie; ménse diskrimineer. Afrikaans is vir almal wat daarin praat en lees en luister en leef. Hier is nie plek vir mean girls nie!
..........
Táál diskrimineer nie; ménse diskrimineer. Afrikaans is vir almal wat daarin praat en lees en luister en leef. Hier is nie plek vir mean girls nie!
..............
As jy en/of jou werk die selfaangestelde hekwagters van die taal ongemaklik laat voel, dan doen jy iets reg. Moenie stop nie; breek sommer die hele hek en die heining af.
Wat het jou opgeval van die ander navorsingsreferate by die kongres?
Oor die algemeen was ek beïndruk deur die wye omvang van navorsingsonderwerpe en die kreatiewe navorsingsbenaderings. Daar is byvoorbeeld heelwat gesprekke gevoer oor die gebruik van tegnologie en KI-toepassings in die akademie. In ’n hele paar referate is daar melding gemaak van digitale programme wat vir data-insameling en -verwerking gebruik is, selfs in kwalitatiewe studies wat met die letterkunde te make het. In haar aanbieding het Dalene Joubert die nuttige onderskeid getref tussen die verkeerde en gevaarlike gebruik van KI as ’n hulpbron teenoor die positiewe gebruik daarvan as ’n gereedskapsmiddel om produktiwiteit te verbeter en navorsingsprosesse te vergemaklik. Dit het my dus bygeval hoe vinnig die akademiese veld by tegnologiese ontwikkeling aanpas, en hoe die twee mekaar beïnvloed.
Enige algemene gedagtes oor vanjaar se USAN-kongres?
USAN was ’n uiters positiewe ervaring. Dit was die eerste akademiese byeenkoms waar ek oor my eie navorsing gesels het (en dit was op die ou end toe nou glad nie so erg as wat ek gedink het dit sou wees nie!). USAN bied ’n veilige ruimte om idees uit te ruil en terugvoer op jou werk te ontvang. Ons het baie om te leer by ervare dosente en navorsers. Ek is besonders dankbaar vir die geduld waarmee ons as jong navorsers gelei word, en vir die aanmoediging van my studieleier om myself vir sulke verrykende ervaringe beskikbaar te stel.
Lees ook:
Chase Rhys se Misfit: Jy het nog nie voorheen só iets gelees nie